wordpress visitor



Terug

Van Seniorisitus na Nepokrasie

Augustus 2010

Twee vriende – 'n boer en 'n professor – gaan kamp. In die middel van die nag maak die boer die proffie wakker en vra hom wat hy sien.

“Miljoene sterre,” antwoord die proffie deur die slaap.

“En wat sê dit vir jou?”

Die proffie begin 'n uitleg van die sterrekunde gee, maar na 'n oomblik vlieg hy regop, wawyd wakker.

“Nee man,” sê hy ontsteld. “Dit sê vir my iemand het ons tent gesteel!”

Dit laat my dink aan al die kommentare oor die Springbokke se “vertonings” Doer Onder. Die manne sien miljoene redes raak sonder om die kern van die probleem raak te sien: Seniorisitus.

Seniorisitus het ook voorheen by die Proteas ingesluip. Hier het 'n spesiale spesie geëvoleer, Senior Speleris. Dis nou ouerige wesens vir wie goed speel moeite is, en moeite is vir ander gereserveer. Toe dit by die krieket bietjie genees is, slaan dit by die rugby uit.

Van wanneer af word sulke moeite soos duikwerk, springwerk, kruisverdediging en ander tipiese rugby-aksies gedelegeer aan jonger spelers wat gewoonlik nie eens in die omgewing is nie? G'n wonder nie 'n Aussie skryf die Springbokke het nou te veel ou vetsakke wat dringend aftreekontrakte met Japanese klubs moet gaan sluit.

Van sport na politiek. Suid-Afrika was seker nog nooit korrupsievry nie. Oorle ouma het tot haar dood gebrom oor die eerste teerpad uit Bloemfontein wat van alle plekke na Koffiefontein gebou is. Maar kort voor Koffiefontein, by die afdraaipad na 'n minister se plaas, daar het die teer opgeraak.

En Nepokrasie is ook nie deur die ANC uitgevind nie, ook net vervolmaak. Maar as borge begin brom en “xpose” dat 'n groot instansie in onse mense se hande nou al met gesinsfoto's by die HAT se definisie van baantjies vir boeties (of nou vir die dogter en die seun) opgeneem moet word, wil-wil ens se blikore begin gloei.

En dan kla die instansie dat besigheid Saterdae so sleg is, al staan OVS nie meer vir Ons Verloor Saterdag nie.

Wie Blik Ore het, laat hom hoor.

Sjoe, hoe kry ek nou 'n blikoorveeg. Klang!

Tot wederom
Blik Oor