Briewe van lesers - 07/2010
Sin van geregtigheid
Terwyl die Gautengse provinsiale regering die besluit geneem het om 'n amptelike begrafnisdiens vir die ontslape teoloog, dr. Nico Smith, te hou, het 'n regstryd om parool vir 'n veroordeelde nie ver daarvandaan nie gewoed.
Smith word nou wyd geroem as stryder teen apartheid, en niemand stry nie.
Hy is as filantroop voorgehou, en koerantbladsye vol deugde het sy lof besing. Hy is onder meer deur 'n rubriekskrywer saam met 'n lys ander sogenaamde verloopte Afrikaners geprys.
Smith was 'n klassieke voorbeeld van 'n negrofilis, en sy uitsprake het sterk herinner aan die uitsprake en optredes van Phillips, Reid en Van der Kemp. In wese kom dit daarop neer dat almal wat anders na Christelike liefde en geregtigheid kyk as hulleself, net boos kan wees. Eie subjektiwiteit van Smith het onlangs nog geblyk toe hy deel van 'n groep invloedrykes was wat blankes prontuit gewaarsku het om nie die ANC so te kritiseer nie, omdat dit as kritiek op swart vertolk kan word en tot 'n bloedbad kan lei.
Hierdeur het hy hom gedistansieer van openlike standpunte wat ander, sg. verloopte Afrikaners ingeneem het wat ontnugter geraak het met die korrupsie, grypsug en wanbestuur van die ANC. Breyten Breytenbach, wat in 'n stadium vir die ANC in die tronk was, dr. Van Zyl Slabbert, die digter-skrywer Barend Toerien wat verlede jaar oorlede is, en selfs Max du Preez het al gereeld hul monde oor die verval in die nuwe bedeling uitgespoel.
Clive Derby Lewis is aan moord op Chris Hani skuldig bevind. Nico Smith het nie self moord gepleeg nie. Tog is dit nie so eenvoudig nie. Die party wat nou vir Smith 'n amptelike begrafnis aanbied, is dieselfde organisasie onder wie se vaandel McBride 'n bom in 'n Durbanse vrouekroeg geplaas en dood en verminking gesaai het. Dié lys kan veel langer gemaak word.
McBride en Clive Derby-Lewis, wat nie self die sneller op 'n suiwer politieke teiken getrek het nie, het altwee die doodstraf gekry.
McBride het amnestie gekry en is daarna op 'n koninklike lewe gelanseer. Derby-Lewis moet egter, selfs as bejaarde modelgevangene, sy lewenslange gevangenisstraf uitdien – of minstens nog lank agter tralies bly volgens die DA.
In 'n land waar nasiebouers kliphard na versoeningsmiddele soek, word egter dikwels uiters lomp met die realiteite omgegaan.
Om nou 'n amptelike begrafnis vir Smith te hou en Derby-Lewis die rug toe te keer, herinner aan die stompsinnigheid om groot versoeningsverwagtinge van die sokkertoernooi te koester, maar terselfdertyd appèl aan te teken oor 'n hof beslis het Julius Malema se singery “Skiet die Boere” kom op haatspraak neer.
Solank die regering en sy meelopers die bevolking verdeel tussen oorwinnaars en diegene wat die oorlog sou verloor het, en solank nuwe Slagtersnekke geskep word, so lank gaan nasiebou 'n hersenskim bly.
Herman Toerien
Langenhovenpark
Bloemfontein
Dankie Pick n Pay, Lhp, Spitskop en Bainsvlei!
'n Paar jaar gelede het ons gedink om Pick n Pay Langenhovenpark te nader om ons te help met 'n waentjie waar kliënte vir ons nie-bederfbare produkte kan insit. Dit was omdat die nood daarbuite so groot geword het, en ons as Kerklike Maatskaplike Diens (KMD) net eenvoudig nie aan almal se behoeftes kon voorsien nie. Dit is ongelukkig so dat ons baie afhanklik is van die publiek vir skenkings en donasies en hierdie was 'n noodkreet.
Groot was ons verbasing toe Peter Papenfus van Pick n Pay so opgewonde vir ons vertel het dat ons nie net 'n trollie voor in die winkel kan plaas nie, maar ook by van die kasregisters blikkies vir kontant kan plaas.
Nodeloos om te sê – Peter ken duidelik die gemeenskap van Langenhovenpark, Bainsvlei en Spitskop! Die reaksie is verstommend en dit is elke week net vir ons wonderlik om te sien hoe ruimhartig die mense van die omgewing is en hoe baie hul vir die mense in nood omgee. Julle maak dit vir ons moontlik om baie mense daarbuite te help wat regtig sukkel om kop bo water te hou.
Daarom wil ons dan al die mense van Langenhovenpark, Bainsvlei en Spitskop opreg bedank vir jul groot bydrae week in en week uit, maar dan 'n baie spesiale dank aan Pick n Pay Lhp en spesifiek Peter Papenfus dat jul altyd so gewillig is om hande te vat en te help ook by Huis van Omgee in Bainsvlei.
Amanda de Wet
Kerklike Maatskaplike Dienste
Bloemfontein
Erkenning vir strewe van Afrikaners
Dr. Pieter Mulder se onlangse verkiesing op die dagbestuur van UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Organisation) is besonder belangrik vir die suksesvolle voorsetting van die Afrikaner se stryd om selfbeskikking en die handhawing van minderheidsregte.
Teen die agtergrond van die Afrika-konteks waar die toepassing van minderheidsregte en -belange deur Afrikastate slegs in teorie bestaan, is hierdie verwikkeling noodsaaklik vir die voortbestaan van die Afrikaner en ander minderheidsvolksgroepe in SA.
Aangesien dr. Mulder ook in die Kabinet van die regerende party in SA. dien, kan hy eweneens op nasionale vlak 'n waardevolle bydrae in hierdie verband lewer.
Die veelgeroemde demokrasie kan in die praktyk slegs werk as daar werklike begrip en toepassing deur die regerende party is m.b.t. eie taal, kultuur en ander verbandhoudende sake wat minderheidsgroepe raak. Die aard en omvang van die huidige probleme in SA roep om 'n spoedige koersverandering in hierdie opsig. Solank die kwessie van selfbeskikking van minderheidsgroepe verontagsaam word, solank sal die land voortgaan op 'n pad van selfvernietiging en solank sal die stroom van Afrikaners na die buiteland voortduur.
Dit beteken ook dat hoe sterker die Afrikaner die praktiese verwesenliking van groepsminderheidsregte in aansluiting by UNPO kan bewerkstellig, hoe beter kan die strewe van die Afrikaner na selfbeskikking bevorder word. Terselfdertyd kan noodsaaklike stabiliteit op die breër staatkundige terrein in SA te weeg gebring word.
Pieter F Smith
Langenhovenpark