wordpress visitor



Terug

Diaspora

Volkgenote in diaspora

• Herman Toerien

‘n Oppervlakkige analise van beduidende bevolkings in diaspora is dat hulle in die lande waarheen hulle of hul voorouers uitgewyk het, geneig is om radikaler te wees as hul volksgenote op die tuisfront. Hierdie siening kan gevorm word aan die hand van die wapens en morele ondersteuning wat die Ierse Republikeinse Leër uit veral die VSA gekry het, die jongste verwikkelinge rondom Sri Lanka en die Tamils, en Armeniërs in diaspora ten opsigte van onder meer die bedrywighede in die 70’ger en 80’ger jare van ASALA.

Wat dan, met bykans ‘n miljoen Afrikaners in diaspora?

Maar alvorens ‘n mens hierdie verskynsel ontleed, is dit nodig om te kyk of dit altyd so geldig is. Word na Israel en die Jode in diaspora gekyk, is die boodskap baie gemeng. Jode dra wel baie tot Israel se ontwikkeling by, en via hul stemkrag in onder meer die VSA, ook op regerings om minstens verdraagsamer teenoor die Israelse saak te staan. ‘n Gemengde boodskap kom uit die geledere van Palestyne in diaspora. Terwyl niemand kan betwis dat sogenaamde vlugtelingkampe in onder andere Libanon niks meer as Hamas-teelaardes is nie, is die Palestynse lobby in die VSA meer afgerond en beredeneerd. Verskeie faktore bepaal die georganiseerde aard van volksgenote in diaspora, en nog te meer hoe radikaal hulle is.

Maar selfs dan verskil hulle. So het Suid-Afrikaners hulle in ‘n stadium om elke hoek en draai in winkelassitente en ander mense vasgeloop wat nie Afrikaans magtig is nie, en flink aangevoer: “I come from Rhodesia.” Hierdie Rhodesiërs in diaspora het hulle gou teen die hele politieke spektrum hier bevind, soos Clive Derby-Lewis in die KP en daarna die gevangenis, Cherryllyn Dudley in die ACDP as parlementslid, en Mary Metcalfe binne die ANC. Metcalfe se bande met Rhodesié staan ook meer in die dampkring van ‘n vlaag Zimbabwiese vlugtelinge.

Dit is moeilik om die dinamika te verstaan wat onderliggend was aan die Amerikaanse Iere se fiksasie met die IRL se stryd. In Ierland self was die IRL verbied, maar die Amerikaanse Iere het wapens, geld en ander hulp na dié organisasie en die meer radikale INLA aangestuur asof dit uit die mode raak.

Die Iere in die VSA is ook ongeveer vier keer meer as die Iere in Ierland self. (‘n Tikkie ironie in die lig van ou Keltiese verwysings na die mistieke land in die Weste as “groot Ierland.)” In die VSA kon hierdie groep, as Rooms Katoliek in ‘n oorwegend Protestantse omgewing, hul identiteit betreklik goed behou. In Ierland, veral Noord-Ierland, is die “inheemse” Iere minderwaardig geag deur Protestantse immigrante uit veral Skotland. Dit is hierdie Skotse nasate wat op bande met Brittanje bly aandring het.

Die Armeniërs in ballingskap is hoofsaaklik afstammelinge van die kernbevolking wie se hartland in die huidige Turkye was. So volledig is hulle vroeg in die 20ste eeu deur die Turke uitgemoor dat min ensiklopedieë eers Armeens as ‘n taal noem wat in Turkye gepraat word. Die Armeniërs was die oudste Christenvolk in die wêreld, en het eeue lank as Christenbolwerk teen Mosleminvalle gedien. Hulle het in die proses dikwels erg die spit afgebyt.

Danksy nou bande tussen ‘n ‘n Armeense ekskalwe aan die Turks-Meditireense kus en die Franse koningshuis, het baie van hierdie Armeniërs na onderdrukking begin het hulle in Frankryk gevestig, maar ook elders in Europa en ‘n beduidende groep in die VSA. In hierdie lande moes hulle toesien hoe dié lande via Navo in ‘n bondgenootskap met Turkye tree. ‘n Groep wat hulle in Libanon gevestig het, het ten spyte daarvan dat hulle aansluiting by die Libanese Christene gekry het, in noue aanraking met die radikale Palestynse groepe gekom en ASALA (Armenian Secret Army for the Liberation of Armenia) gevorm.

Om die Tamil Tiere se stryd in Sri Lanka in isolasie te sien, is ‘n fout. In Indië maak die Tamils met sowat 65 miljoen sprekers ‘n groot deel van die bevolking uit, en is ‘n belangrike komponent van die land se Drawadiese bevolking wat grootliks deur Indo-Germaanse taalgroepe oorheers word. Trouens, Indië se amptelike taal, Hindi, is ‘n Indo-Germaanse taal en bykans dieselfde as Oerdoe, die amptelike taal van Pakistan. Wêreldwyd is die getal Tamilsprekers sowat 70 miljoen, wat dit getallegewys bo van die wêreld se gerekende tale plaas. Dit het ‘n ou, opgetekende literêre geskiedenis waarop die Tamils baie trots is. Maar In Sri Lanka is die Tamils ‘n minderheid, nie net in taal nie, maar ook in die Hindoe-godsdiens teenoor die meerderheid Singalese wat hoofsaaklik Boeddhisties is.

Buite Sri Lanka en Indië is sowat ‘n miljoen Tamils in diaspora – met ander woorde Tamils wat in die lande waar hulle nou woon, steeds met die Tamilsaak in Sri Lanka identifiseer. Veel meer praat nog Tamil as oorblyfsel uit die koloniale tydperk toe hulle wêreldwyd “uitgevoer” is as arbeid op suikerplantasies soos in Suid-Afrika, Guyana en eilande in die Stille Oseaan.

Na raming het sowat $300 miljoen aan geld en wapens die Tamil Tiere jaarliks in hul 26 jaar lange stryd teen die Singalese bereik.

Van baie bevolkings in diaspora word bykans nooit gehoor nie. ‘n Interessante voorbeeld is die Assiriërs wat nie net in Sirië ‘n Christen-minderheid vorm nie, ook in Australië ‘n beduidende gemeenskap in stand hou.

Oor hoe die meerderheid Suid-Afrikaners in diaspora, die sogenaamde eksas, voel, is daar nie eenstemmigheid nie. ‘n Groot groep het duidelik geëmigreer met die doel om burgers van hul nuwe vaderlande te word, ander werk tydelik daar met die idee om terug te keer, en ander bekyk die kat uit die boom.

Hierdie saak sal waarskynlik eers behoorlik onder die loep geneem kan word wanneer ‘n volgende algemene verkiesing gehou word. Met die vorige is op kort kennis via ‘n hofbevel magtiging verkry om te mag stem, maar tyd om die nodige dokumentasie te bekom en as kiesers te registreer was te min, en die logistiek om te stem was dikwels ontoereikend. Wat egter duidelik is, is dat die ANC weinig steun onder die “eksas” geniet. Wat dit betref, is die algemene “hulle” en “ons” karakter van Suid-Afrikaners in diaspora nie anders as ander gemeenskappe in diaspora nie.


Beste Johann,

Ek is `n apteker werksaam vir CVS Pharamcy, die grootste apteek kettinggroep in die VSA, met ongeveer 6400 apteke. Ons woon in die voorstad, Menomonee Falls, met die groot stad Milwaukee wat die groot sentrum hier in suidoos Wisconsin is. Ek werk in die stad en is my pendelafstand omtrent 15 myl eenrigting. Neem my so 35-40 minute om by die werk te kom elke oggend. Milwaukee op sy beurt, is so `n uur sy ry noord van Chicago hier teenaan die Michigan meer. Pragtige wêreld. Net te plat na my sin, maar hoe meer oos jy ry, hoe meer heuwelagtig word nie topografie. Lang en koue winters en eintlik maar net drie maande van die jaar regtig somerweer. Baie sneeu en ys, wat sy eie uitdaging meebring. Iets waaraan ons Afrikaners nie gewoond was nie. Ons het in 2003 vanuit Bloemfontein van die VSA verhuis. Ons is dankbaar om hier te kan woon en werk. Alhoewel die ekonomie swaar trek aan die kant is ons werkloosheid slegs op 7.4%, maar tog `n bron van kommer vir die owerhede. Ons praat steeds Afrikaans in die huis, alhoewel ons twee jonger seuns die tale baie meng. Die kinders is geneig om die kultuur hier te omarm, wat in `n sin `n goeie ding is, want dan voel jy deel van die gemeenskap. Dit is hulle toekoms en voorsien ons nie dat ons ooit na SA sal terugkeer, tensy iets hier drasties verkeerd gaan en ons moet weer hiervandaan moet vlug nie !!

Wat heerlik is, is die veilige omgewing waarin ons woon. Geen vrees nie. Stap buite rond en kan ons ontspan. In Bloemfontein was jy bevrees as die honde in die nag buite blaf of as iemand jou voordeurklokkie lui en vir `n "peace job" vra of selfs as jy by die robot stop en hordes staar jou met honger oë aan. Altyd die gedagte gehad wanneer word ons beroof of gekaap of aangerand met `n onbevoegde en ongemotiveerde polisiediens . Hier is die beheer goed, die polisie flink en streng en suksesvol en word wette toegepas. Ek geniet ook die werksetiek en die feit dat niemand hulle neus optrek vir die tipeise "arbeider-werk" soos ons dit in SA geken het nie. Ons grootste fout was (en is) dat ons nie ons eie sleurwerk in SA gedoen het nie. Goedkoop vreemde arbeid is `n pes en die volk-eie arbeid gedagte is uitstekend. ORANIA en Kleinfontein (PTA) stel vir ons `n baie goeie voorbeeld. Skaal af, moet nie alles eksie-perfeksie wil hê nie, doen jou eie werk en beplan beter. Betrek die hele gesin en skep `n ander kultuur wat dit betref.

Ons waardeer jou maandelikse koerant. Ons moet noodgedwone Naspers publikasies lees as ons daaglikse nuus in Afrikaans wil lees, maar ons besoek ook gereeld PRAAG se nuwe webkoerant en natuurlik jou publikasie. Ons volg jou poging met belangstelling. Baie geluk.

Groete

Riaan Röscher en gesin
Oordenkinge op 'n groot eiland

Boela

Ná drie jaar uit Suid-Afrika is dit tyd om stil te staan, terug te kyk en voorraad op te neem. Dit is ook tyd om oor die toekoms te peins en te besluit wat ek met my lewe gaan maak. Gaan ek bly of gaan ek terug?

Hierdie gedagtes is nie vreemd vir my nie. Daar is nie 'n week wat verbygaan waar die bly- of glygedagtes tog maar in jou kop rondmaal nie. Want sien, ek is nie hier gebore nie en die mense hier is nie "my" mense nie. Hulle sal ook nooit wees nie want hulle het nie van dieselfde sak sout geëet wat ek geëet het nie.

Ek het as emigrant hier aangekom en ek sal as een hier doodgaan. My aksent sal altyd by my bly soos Paulus se doring in sy vlees. Ek probeer hard om te glo dat Paulus se beloofde genade vir my ook genoeg sal wees.

Die lewe op die Groot Eiland is eintlik sorgeloos. Dit is 'n wonderlike land met ontelbare geleenthede. Amper net so goed soos waar ons vandaan kom.

Die lewenservaring wat 'n mens in Afrika optel staal jou vir enige omgewing in die wêreld.

Jy raak sommer geïrriteerd as jy mense hoor kla oor beuselagtighede. Die politieke debat hier gaan oor watter party is bevoeg om die begrotingsurplus die beste te spandeer!

Hier is die lewe is amper eentonig. Die krag is altyd aan, die vullis word altyd gehaal, die munisipaliteit sny gereeld die gras, die skelms word altyd gevang, die bus is altyd betyds, ens.

Dit is net die weer wat mense partykeer verhinder om hulle werk te doen. Hier in Adelaide in die suide is dit regte Kaapse weer. Dit is maklik reënerig vir 3 dae aaneen en as jy na die reënmeter kyk is daar maar 4 of 5 mm in. Jy verlang na 'n lekker donderstorm en sonskyn 'n uur of twee daarna.

Hier sien jy nou eintlik in watter abnormale gemeenskap jy gebly het. Hier ry kinders nog sorgeloos met fietse in die straat rond. Oumense gaan stap laataand met hulle honde in die parkies. Verliefdes loop houtgerus hand aan hand op 'n verlate strand.

Hier ry skoolkinders nog met die trein skool toe. Nie een kind is bang sy beursie, Ipod of selfoon word gesteel nie. Huise het nie diefwering nie en karre slap oornag in die straat.

Hier's minder moorde in 'n jaar as 'n naweek in Pretoria. Mense ken nie vrees nie omdat hulle dit nog nooit ervaar het nie. Jy weet instinktief dat jy nooit hier vrees sal ervaar nie omdat hier niks met jou kan gebeur wat erger is as wat jy alreeds deur is nie. Vrees het hier sy vrees verloor.

Die daaglikse bestaan hier is maar dieselfde as op enige ander plek. Jy staan op, stort, eet, gaan werk toe, terug huis toe, eet, doen huiswerk en weereens bed-toe. Die verskil tussen jou en jou Aussie buurman is wat jy alles tussen-in druk.

Elke oggend word die rekenaar bestorm en word daar gekyk of daar nie 'n e-pos van 'n bekende is nie. Jy voel so opgewonde soos 'n laerskoolkind wat 'n geskenk oopmaak.

Die verskyning van 'n bekende en geliefde se naam op die rekenaarskerm laat jou weer die gevoel beleef toe jy 'n troep was en jou eerste brief na twee maande se "basies" op jou bed gekry het.

Dit voel soos gister al het Vader Tyd sy groot wasem geblaas op die venster van die verlede. As die rekenaar geen nuwe boodskappe baar nie voel dit asof almal jou vergeet het en jy stoksielalleen op hierdie aarde is. Maar gou skep jy moed.

Dalk is daar net 'n vertraging met die e-pos en 'n boodskap sal vanmiddag op jou wag!

In die aande as dit stil word skryf jy gou vir al die vriende en geliefdes wat oral oor die wêreld is. Die internet word onafskeidbaar deel van jou. Elke dag verslind jy die kuber-Beeld vir nuus "by die huis". Meer en meer ontstel die nuus jou as jy besef, die wat in beheer is glad nie omgee vir diegene wat hulle beheer nie.

As jy goed "home-sick" is "Search" jy Afrikaans op Google. Of jy tik doelloos woorde soos biltong, beskuit, koeksisters, Voortrekkers of Boer en word deel van 'n wêreld sonder grense. Jy kyk na bewerige video-clips op Youtube van jou dae in die Army. Jy sien vir die eerste keer in jare weer die SAW leuse-Steeds Wenners en dan kyk jy na jou verslete boshoed op die kapstok en wonder hoekom jy dit saamgetrek het. Tog sal jy die hoed vir geen geld in die wêreld verruil nie. Ons is saam deur diep waters: Ons sal lewe, ons het ampter gesterwe, ons vir jou Suid-Afrika!

Dan is daar die onverwagte dinge wat jou hartsnare roer. Jy sit vroegoggend voor die TV en wag vir die rugby om te begin.

Die kamera fokus op die uitbundige blou skare tuis en skielik weet jy jy sal nou alles wat jy besit gee om net 10 min daar tussen "jou" mense te wees.

Of jy stap die volgende dag verby die TV-kamer waar die kinders die rugby-opname weer kyk en jy hoor in 'n breukdeel van 'n sekonde Gé sing "Liefling".

Dan gryp iets jou skielik vas diep hierbinne wat jy nie kan beskryf nie. Gelukkig los die "Ding" jou darem weer na 'n paar sekondes. Die paar sekondes wat dit neem vir die Ding om sy greep te verswak voel egter soos 'n ewigheid. Ek wonder altyd as ek "Liefling" hoor of Gé Korsten saam met sy maters daar in die Hemel sit en rugby kyk. Ek glo hulle doen so. Ek lees dan in die Groot Boek die Hemel is 'n wonderlike plek.

Om te trek na 'n ander land is om weer van voor te begin. Dit is baie moeilik, maar ook tog bevrydend. Skielik het jy nie meer 'n verlede nie. Jy is tussen mense wat nie jou verlede ken, verstaan of daarin belang stel nie. Net die toekoms is al wat belangrik is. Jy kan kies waar jy wil bly. Jy kan kies wat jou naam moet wees. (Gewoonlik moet jy jou naam verander want niemand kan dit hier uitspreek nie).

As jy nooit van jou bynaam kon ontslae raak, is dit nou jou kans. Worsie Visser, met respek gesê, sal hier nie deug nie.

Jy gaan doen weer jou bestuurslisensietoets. Dit is geen probleem om jou "Learners" te gaan skryf nie, want hier hoef jy geen afspraak te maak nie. Daar is geen toue om in te wag nie. Ja, julle lees reg. GEEN TOUE NIE. Jy daag net op gedurende kantoorure as dit jou pas en dan skryf jy.

Die uitslag is binne 5 min beskikbaar en as jy gedruip het word jy soos 'n stout kind op jou foute gewys. Jy word tog vriendelik daaraan herinner dat jy dadelik weer die toets kan oorskryf nadat jy weer die aansoekfooi betaal het. 'n Bestuurskool toets jou dan en verklaar jou geskik of nie. Wat 'n eenvoudige proses. Moet asb. nie die betrokke inligting gee aan enige tiener in SA wat al 5 maande wag vir 'n afspraak nie!

By die werk stap jy vol bravade in vir jou eerste dag, reg om die wêreld te versit. Gou kom jy terug aarde toe en voel soos 'n standersessie op sy eerste dag in die hoërskool.

Jy besef met 'n skok jy ken niemand nie, jou beste Ingels hou net 10 min en dan is jou woordeskat op, en gou vind jy uit dat hier hou hulle van baie papierwerk en dat die proses net so belangrik is as die werk wat daaruit volg. Dit vat maar 'n rukkie vir jou om "hulle" gewoond te raak en vir "hulle" om jou te verstaan. Gelukkig is die meeste Aussies baie vriendelik en voel jy gou tuis.

Naweke kuier jy maar oor en weer. Jy probeer jou bes om nie net met oud-Suid-Afrikaners te meng nie maar as jy jou weer kry kuier julle weer saam. Daar is 'n oombliklike band tussen julle wat gewoonlik eers kom na jare se vriendskap. Gou kuier julle soos pelle wat 20 jaar terug saam op skool was. Julle ry na die slaghuis op die hoek en vra vir 'n pakkie "Boor-wors-sausage".

By die huis haal jy met trots jou pakkie Iwisa-mieliemeel uit wat jy by die Suid-Afrikaanse winkel gekoop het. Jy dink glad nie daaraan dat die 1kg meel jou gemiddeld $7 / kg kos as jy die posgeld byreken nie. Die prys is egter nie belangrik nie. Selfs teen $50 / kg sal dit nog steeds op die spyskaart wees. Dit word tog net vir spesiale geleenthede gebruik. Op Sondagskool het ons geleer van "Gewyde Offers". Ek kan nie mooi onthou wat dit was nie maar ek dink die mieliemeel hier val in daardie kategorie, gewy, uiters gewyd.

"Elke huis het sy kruis" was een van die spreekwoorde wat ons in die laerskool geleer het. Wat dit beteken net kon ons toe nie snap nie. In die gewone gesprekke met oud Suid-Afrikaners hoor jy elkeen se storie en besef jy, jy het baie om dankbaar voor te wees. Party het maar grondpad gery tot hier. Nie almal wou trek nie.

Party kinders moes aanskou hoe hulle geliefdes voor hulle oë doodgeslaan word. Party ouers se kinders is in hulle eie huis wreed verniel en dra littekens waaroor net gefluister kan word. Die wat in beheer is het geen oog daaroor geknip nie.

Ek weet dat dit amper onmoontlik is om objektief te wees oor jou eie omstandighede. Ek troos my met die wete dat ek nie alleen is nie. Daar het nagenoeg 'n miljoen mense voor my getrek en daar sal seker nog 'n miljoen na my kom.

Omstandighede verander en mens moet daarby aanpas of vir die res van jou lewe bitter bly. Dit sal Boetman niks help as hy vir die res van sy lewe die b#@$%*m in bly nie. Eens was wit, Afrikaans en manlik bates gewees, nou is dit 'n las. Hier in Down Under is dit neutraal soos dit behoort te wees.

Vir die wat nog kom wens ek sterkte toe. Ek glo dat dit die regte besluit is. Dit is aan die begin maar 'n geween en 'n gekners van tande. Dit vat baie lank voor jy jou kop kan "afskakel" en weer lekker slaap. Almal hier sê dit vat ten minste 2 jaar. Party sê egter dit vat 3 jaar, ander sê 5.

Per slot van sake verg alles in die lewe wat die moeite werd is tog so 'n bietjie inspanning. Vir die wat bly wens ek ook sterkte toe. Dit is ook die regte besluit. Familie, vriende en kultuur weeg net so swaar indien nie swaarder as vrede, veiligheid en stabiliteit. Die tyd sal leer na watter kant die weegskaal oorleun. Of beweeg die weegskaal stadig heen en weer soos 'n wipplank? Is daar in hierdie lewe 'n balans…? En nou is al wat vir my oorbly… om te besluit.

Jo-Rina van der Merwe
Tel. 95 278601 (h)
Cell: 043 998 5877
Perth, Australië
E-mail: jorinavandermerwe@gmail.com