wordpress visitor



DitsemDiepte


Wat as kleure omgeruil was? - 04/2010

• Ditsem politieke redaksie

Einde verlede maand is mnr. Boet van Vuuren (80) en sy vrou Francine (77), met hul seuns Marius (44) en Marthinus (35) en broerskind Juan (13) in hul huis in Jagersfontein uit die bloute deur ses mans met grawe en messe aangeval. Die aanvallers het geen genade gehad nie en het 'n huis vol bloed agtergelaat. Selfs Boet en Marius is erg aangerand, al is albei in rolstoele. Hulle is onderskeidelik deur 'n rugmurgvirus aangetas en in 'n motorongeluk beseer.

Die familie is met messe gesteek, met grawe geslaan en geskop. Marius is met 'n graaf uit sy rolstoel geslaan. Die aanvallers - almal swartes - het met R38 000 uit die huis en ander artikels laat spat. Mev. Van Vuuren was in 'n koma en met bloeding op die brein in die intensiewesorg-eenheid van Pelonomi-hospitaal, terwyl Marius in dieselfde hospitaal vir 'n gebreekte linkerarm behandel is. Juan is na die hospitaal op Jagersfontein gebring nadat hy vermoedelik weens die skok inmekaargesak het. Mnr. Van Vuuren is vir sy wonde behandel en wil nie meer in die huis van die aanval bly nie.

Nou die vraag: Wat sou die situasie gewees het as dit ses blanke mans was wat by die huis van 'n bejaarde en gestremde familie ingebars het, hulle flenters geslaan het met grawe en met messe gesteek het, R38 000 geroof het en spore gemaak het?

Die antwoord is waarskynlik: Pres. Zuma en van sy kabinetskollegas sou die slagoffers besoek het; so ook definitief premier Magashule en sy kollegas; die Minister van Polisie sou gal gebraak het; duisende ander in prominente posisies sou onophoudelik tantrums gegooi het; wanneer die beskuldigdes gevang word, sou hulle voor die Landdroshof, Hooggeregshof, Gelykheidshof en Grondwethof gesleep word; koerante, radio- en TV-stasies nasionaal sowel as internasionaal sou dit histeries as hoofnuus aangebied het; die VN Algemene Vergadering sou 'n spesiale sitting geroep het...

Maar toemaar, dis net swart op wit.

Kommer oor VSA met Obama-rigting - 03/2010

• Redaksie

Daar is toenemende kommer in die VSA en ook elders in die wêreld oor die rigting wat pres. Barack Obama en sy administrasie met die VSA inslaan.

Die VSA was in die 20ste eeu die hand wat die veiligheidsambreel oor vryheid, demokrasie en ander Christelike waardes oor grotendeels die res van die wêrld gehou het, maar die afgelope dekade het sake drasties negatief gedraai.

Sake het natuurlik onder die Republikeinse Bush-regering skeef begin loop en het Obama 'n bankrot regering geërf.

Die laaste 15 maande onder Obama lyk dit egter of dit van kwaad na erger gaan. Die redes waarom gesaghebbende waarnemers baie bekommerd is oor die huidige rigting wat die VSA onder Obama inslaan, is o.m. die volgende:
  • Die grandiose nasionale gesondheidsplan van Obama wat sukkel om van die grond af te kom en wat selfs gevaar loop om te sneuwel - met gepaardgaande verlies aan geloofwaardigheid. 'n CBS-peiling toon dat Obama slegs 36 % steun vir die plan het, met 56 % wat daarteen gekant is.
  • Bedenklike binnelandse beleidsrigtings - meer liberale aborsies, wettiging van gays en lesbiërs die eerste keer in die geskiedenis van die VSA, wetgewing met meer beperkinge op beoefening van Christelike godsdiens in openbare plekke, ens.
  • Onttrekking van die VSA kernafweerskild uit Pole en Tsjeggië.
  • Vermindering van die VSA kernwapenarsenaal met 80 % (1 000 wapens), met die klem eerder op 'n groter konvensionele wapenmag.
  • Groter toegeeflikheid teenoor Rusland en vriendeliker gesindheid teenoor die Groot Beer.
  • Ander bedenklike inisiatiewe, o.a. goedgesinde uitsprake teenoor Moslems.
  • Dit alles vind plaas teen die agtergrond van die rekord Amerikaanse begrotingstekort en staatskuld, wat onder Obama steeds aan die toeneem is.
Teen hierdie agtergrond toon huidige meningspeilings op 46 % steun vir Obama as president – die eerste keer dat dit tot onder 50 % gedaal het.

'n Belangrike rede hiervoor is dat Obama se liberale denke en uitsprake indruis teen toenemende konserwatisme wat oor die VSA spoel. Die konserwatiewe belangegroep, die Teeparty (“Tea Party”) wat enkele maande gelede tot stand gekom het, doen in peilings reeds beter as die Demokratiese Party en die Republikeinse Party, hoewel die Republikeine waarskynlik meer gaan baat omdat die Teeparty nie planne het om self as party betrokke te raak nie.

Die Christian Coalition of America (CCA), 'n drukgroep met 4 miljoen ingeskrewe lede, sê dat talle Amerikaners in hul euforie vir Obama gestem het en eers daarna tot hul skok uitgevind het wat hulle meen sy ware kleure is. Die CCA, hoewel dit 'n eie beleid soos 'n politieke party het, kies nie kant tussen die Republikeine en Demokrate nie, maar is besig om teen Obama te draai.

In globale konteks word die supermoondheidstatus van die VSA tans ook deur China bedreig, hoewel laasgenoemde groot interne probleme van sy eie het.

Die punt is dat indien die VSA met die waardes wat die meerderheid van sy bevolking nog altyd voorgestaan het, sou struikel, sou dit ernstige implikasies vir die res van die vrye wêreld inhou en ook vir die Christelike beskawing. Van hierdie verwikkelinge moet Suid-Afrika en in besonder die Afrikaner / Boerevolk deeglik kennis neem.



Morgan Tsvangirai - “tussen die duiwel en die diep blou see” - smag na betroubare politieke vennote.

Politieke landskap in SA verander vinnig

• Redaksie

Die politieke landskap in Suid-Afrika - en ook in Suidelike Afrika - is besig om grondverskuiwend te verander. Dit sal waarskynlik meebring dat die toneel oor twee jaar heel anders daaruit gaan sien.

Gevalle waarna verwys word, is die volgende:

Die ANC met sy drieparty-opset is besig om te splits - pres. Jacob Zuma het ten gunste van die linkse/sosialistiese/kommunistiese faksie onder leiding van Ebrahim Patel, Cosatu, Ndzimande en Malema beslis, ten koste van Trevor Manual, Joel Netshitenzhe en gematigde vryemark kapitaliste.

Hierdie linkse faksie is besig om die land op sleeptou te neem na sosialisme/kommunisme, soos bv. met vrygewige toelae aan meer kinders, beoogde grondgrypwette, vasstelling van die randwisselkoers, al groter staatsinmenging, ens.

Suid-Afrika as 'n staat in sy huidige vorm is in ’n bedenklike toestand - korrupsie brand hoog en wydverspreid, regstellende aksie/swart bemagtiging word te te ver gedryf, plaaslike regering het gevou, die watersituasie en omgewingsbesoedeling is feitlik onomkeerbaar, ens. Die belangrikste: In die geskiedenis het nog geen land/volk/nasie wat God doelbewus uit sy bedeling gehaal het, oorleef nie.

Die haglike toestande van werkloosheid, armoede en geen dienslewering in swart lokasies / “townships”, soos te Standerton, Harrismith, Reitz, Jagersfontein en talle ander dorpe het kookpunt bereik en geen ANC vetkatpraatjies help meer nie. Die Polisie sal nie onbepaald die klippe en brande kan onderdruk nie.

Opposisiepartye is besig om hul staanplekke te herevalueer - koalisie, Cope wat "wegraak", Pieter Mulder wat hom tussen die linkse ANC-faksie bevind, ens.

Gematigde leiers in Suidelike Afrika wat 'n nuwe koers begin inslaan in terme van werklike vryheid en vooruitgang vir hul mense - Tsvangirai van Zimbabwe, Khama van Botswana, opposisiepartye in Namibië, ens. Hulle skram weg van die ANC / Zanu PF / Swapo, ens.

Duidelike tekens dat Boere-Afrikaners gesond trots raak op hul identiteit en die bul by die horings begin pak vir 'n eie, selfstandige, volhoubare toekoms. Die inisiatiewe van Solidariteit, Orania, AfriForum, Afrikaanse studente op Afrikaanse universiteitskampusse, die 2009 Reddingsdaad-kongres, 'n nuwe Afrikaanse televisiekanaal, ens. verwys.

In die lig hiervan, waar staan die Boere-Afrikaner? Verdeeld soos selde, indien ooit, tevore? Gaan hulle bymekaarkom, hul verootmoedig en verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie lot?


Los die geflikvlooi, minister


Minister Tina Joemat-Pettersson.
• Alwyn Mouton - soos op www.praag.co.za

Tussen Julius Malema en ons nuwe minister van Landbou, Bosbou en Vissery, Tina Joemat-Pettersson, saai hulle verwarring onder die boere in die land. Elke week verander hulle hul sienswyse oor die toekoms van die handjievol boere wat nog ons landbousektor aan die gang hou deur produktiewe boerderye te bedryf. Hulle praat met gesplete tonge en doen niks goeds vir die alreeds mislukte grondhervormingsbeleid nie.

Die een oomblik wil hul die boer se plaas vat en gee aan mense wat nie 'n benul het van hoe om te boer nie en die volgende oomblik wil hul weer hê ons boere moet iewers in donker Afrika gaan boer.

Joemat-Pettersson se mees onlangse uitlatings lui as volg: “Ons sal julle uitverhuur, maar ons sal julle nie verkoop nie. Ons wil julle nie wegjaag nie, maar wil hê dat julle jul boerderybelange na ander lande in Afrika uitbrei. Ons wil hê boere wat 'n positiewe bydrae kan lewer, moet gaan help. Ons wil nie ons probleme uitvoer nie, maar 30% van die landbougrond in die land moet binne die volgende vyf jaar aan swart boere oorgedra word. Hierdie is 'n ideale geleentheid vir Suid-Afrika om 'n vastrapplek te kry in Afrika soos die Brasiliane en die Chinese reeds begin doen het.”

Nou as dit nie die grootste klomp snert is nie, wat is dit dan? Miskien moet al die boere 'n sjebeen en bordeel op hulle plase oopmaak soos die Boer van die Jaar iewers in die Vrystaat. Sy is egter intussen van haar plaas afgejaag deur iemand wat gesien het waarop die eens spogplaas afstuur.

Ons eie landbousektor het oor die afgelope 10 jaar met meer as die helfte gekrimp. Die boere wat sonder staatshulp bankrot gespeel het, moes noodgedwonge vanaf hulle plase gee pad.

Die wat dit nog kon maak is vermoor en hulle erfgename sien eenvoudig nie kans om voort te gaan met hierdie dobbelspel nie. Om met 'n miljoen in 'n casino in te stap is 'n kleiner risiko as om dit in die grond te plant. Boonop het ons regering soveel laegraadse invoere toegelaat dat die prys van gewasse sodanig verswak het dat die insetkoste baie boere na ander heenkome gelei het.

So, me. Joemat-Pettersson, om nou by boere te flikflooi om in meer politiek onstabiele lande te gaan boer met jou mooi beloftes en jêm-om-die-bek praatjies, is belaglik. Glo my, baie sien deur jou en die mense namens wie jy praat. Nêrens elders is ons boere meer nodig as juis hier in Suid-Afrika nie. Hoe kan ons kos produseer in ander Afrikalande as miljoene van ons eie mense nie eers een keer per dag 'n ordentlike en voedsame maal kan nuttig nie.

Of praat jy net in jou eie belang? Hoekom besig jy jouself nie eerder met vissake nie want die is in net so 'n groot gemors gelaat deur jou voorganger.

Jy sê ons moet nie slaap nie, maar jy moet ook nie droom nie. Word wakker want jy leef in 'n droomwêreld, ons broodblik is amper leeg en die mense vir wie julle plase wil gee, gaan dit nie volmaak nie.


Vure aangeblaas vir rassehaat teen blankes

Onlangse uitsprake op hoë vlak dui dat rassehaat teen blankes in SA openlik aangeblaas word.

Pas het die Minister van Grondhervorming Gugile Nkwinti, te Vryheid in KZN gesê dat die staat nie meer geld het om vir grondhervorming in die land te betaal nie en dat indien boere nie grond gratis aan swartes oordra nie, “Zimbabwe” in SA gaan gebeur. Te Midrand het die leier van die ANC Jeugliga Julius Malema gesê dat grond kan nie gekoop word nie, omdat wittes dit gesteel het. Nie een van hierdie uitsprake is deur die regering of die ANC gerepudieër nie.

Inmiddels word die Reitz-saga deur swart radikales, liberaliste en kommuniste van alle kleure en die Illuminati doelgerig en met venyn misbruik om haat teen die blanke aan te blaas. Aan die een kant is wat die Reitz 4 aan die skoonmakers gedoen het soos op die video vertoon word - wat nietemin geen fisiese leed behels nie en weinig of geen geestelike letsel. Daarvoor is die 4 geskors, 'n hele koshuis van die kampus afgejaag en word die Afrikaner onophoudelik in die media gekruisig.

Nou probeer die nuwe rektor Jonathan Jansen om versoening te bewerkstellig deur die UV se saak teen die 4 terug te trek en twee van hulle toe te laat om hul grade te kom behaal.

Die reaksie hierop is dat Jansen uit talle oorde verguis word omdat hy durf waag om vergifnis na jong blanke mans uit te reik: Swart studente op kampus betoog en dreig met geweld, die Vrystaatse ANC (met veronderstelde goedkeuring van Premier Magashule) het hom beskuldig van die ergste rassisme en die nasionale kabinet het geeïs dat Jansen sy besluit onmiddellik herroep. Hoeveel van Malema se paaiery tereg gaan kom, moet nog gesien word.

Intussen, op die anderkant van die skaal:

Jacques Moll, eens 'n inwoner van Pres. Reitz-kamerwonings en later 'n suksesvolle boer in die Ficksburg-distrik en 'n pilaar in die Vrystaatse ekonomie en gemeenskap, word koelbloedig in sy plaashuis deur onbekende aanvallers doodgeskiet en wat daarop in Lesotho invlug. Vandag, bykans 18 maande later, nog geen poging om die moordenaars terug te kry, tereg te laat staan en die treurende familie afsluiting te laat kry nie.

Drie mans word in die Vrystaatse Hooggeregshof skuldig bevind en gevonnis omdat hulle 'n vrou op Naval Hill op die mees barbaarse wyse verkrag het, nog een probeer verkrag het en ander onskuldige mense ernstig aangerand het.

'n Inbreker breek verlede maand goedsmoeds in 'n woonhuis op Kwaggafontein in en doen sy bes om 'n vrou en haar kinders te vermoor, maar sy veg so verbete terug dat albei haar arms gebreek word voordat die geweldenaar vlug.

Drie voorbeelde van talle soortgelyke gevalle.

Oor nie een van hierdie piep die ANC-regering - provinsiaal en nasionaal – of een van die sosialiste, liberaliste en kommuniste 'n geluid nie, of bied die slagoffers enige meegevoel of bystand aan nie.

Hoekom nie?

Omdat in al hierdie gevalle die geweld swart op wit is. Dít maak klaarblyklik nie saak nie.

Hemelskreiende diskriminasie en blatante aanblaas van rassehaat.

Soos Jansen gevra het, hoekom die saak dryf tot 'n situasie van bloedvergieting?


"Jy kan traai, prof, maar die wind waai wes”


Emosies in die verlede op die Kovsie-kampus.
• Johann Dannhauser

In die media is 'n golf van ondersteuning vir die stappe aangekondig deur die nuwe UV rektor, prof. Jonathan Jansen, om swart en wit studente op die UV hoofkampus te dwing om in die woonplek te integreer.

Die stappe is hoofsaaklik drieledig: 50/50 vermenging in koshuise, strafregtelike dreigemente teen enige vorm van ontgroening en verbanning van alkoholgebruik in koshuise. Laasgenoemde kan net 'n goeie ding wees, maar die ander twee...

Eers, geen ontgroening. Wie kan stry dat dit daaroor gaan dat 'n wit senior student onder geen omstandighede sy stempel op 'n swart/bruin eerstejaar mag afdruk nie en vice versa, dat 'n swart senior student sy geluk op 'n blanke eerstejaar probeer nie. Die potensiaal van rassekonflik is te groot - en daarom uit by die deur met tradisies wat, as dit reg bestuur word, oor meer as 'n eeu hul opbouende waarde bewys het.

Dan, koshuisintegrasie. Dit vorm inderdaad deel van 'n groter werklikheid - dié van die praktiese, Godgewilde bevolkingsverskeidenheid van die Vrystaat, van Suid-Afrika en van die mensdom. Vir 'n groot groep mense gaan dit om rassisme, apartheidsmeerderwaardigheid, bekrompe lewensbeskouing en ander goggas.

In werklikheid - en dit is die punt - gaan dit oor behoud, koestering en uitlewing van jou eie geskape bevolkingsidentiteit. Hierdie identiteit - in sy sterkste vorm nasionalisme - kon deur al die eeue tot vandag nie onderdruk word nie. Nie in die destydse Sowjet Unie nie, nie in die hedendaagse Chinese ryk nie, nie in Europa nie, nêrens nie.

Volgens die Woord sal dit bestaan tot die laaste dag - elke stam, taal, volk en nasie sal voor die Regterstoel verskyn.

Dus, prof, jy kan traai, maar die wind waai wes.