DitsemStyl

Moenie moed opgee nie!
Hierdie artikel deur Pieter Bingle van die Gereformeerde kerk is geneem uit Kruispunt, 25 – 27 Maart 2004, maar is steeds uiters relevant.Moenie moed opgee nie, veral nie wanneer jy voel dat jy geen tree meer vorentoe kan gee nie. Want dalk, net die volgende oomblik, keer die gety om, sien jy die land, sien jy die volgende baken. Beweeg daarheen en soek van daar af na die volgende baken. As jy daar kom, sal ook die volgende een in sig kom. Gaan van baken tot baken, één op 'n keer.
Môre moet my elke keer verder vind as wat vandag my agtergelaat het. Verder uit die depressie. Ook die storms en die muitery van jou gees sal verbygaan. Moet net nie die seile laat sak nie. Moenie dat vrees en dadeloosheid jou oorrompel en beetpak nie. Seil voort! Verder uit die moedeloosheid. Verder uit die dryfsand of die pakys van jou mikrowêreld. Verder uit die uitsigloosheid.
Net ná die laaste eb keer die gety en word dit hoogwater. Seil voort! Strek jou uit na wat voor is. Ná laagwater kom weer hoogwater. As jy vandag daardie één tree gee, sal more jou verder vind as waar vandag jou agtergelaat het. Die toekoms is nie 'n hopelose einde nie, maar eindelose hoop! Seil voort!
Daar is merkwaardige en aangrypende voorbeelde van mense wat besef het dat die pad na die sporte van die lewe en sukses nie met 'n hysbak is nie, maar met trappe klim moet word:
Beethoven was so lomp en onhandig met 'n viool dat sy pa nie wou luister toe hy as jong seun die musiek wat hy self gekomponeer het, wou speel nie. Sy musiekonderwyser het sy komposisies “hopeloos” genoem.
Hy het aanhou komponeer.
Die wêreldberoemde opera sanger Enrico Caruso se sangonderwyser het gesê die kwaliteit van sy stem is só power dat hy enige gedagte aan 'n sangloopbaan uit sy kop moes sit. Hy het aanhou sing.
Charles Darwin, vader van die evolusieteorie, kon nie sy mediese studie baasraak nie en moes dit staak. Darwin sê in sy outobiografie dat sy pa hom as “baie gemiddeld” beskryf het. Sy onderwysers het hom “heelwat onder die gemiddelde intelligensievlak” genoem. Dit het hom nie ontmoedig nie.
Walt Disney was so “onpersoonlik en sonder nuwe idees” dat hy ontslaan is by die koerant waar hy joernalis was. Nadat hy met sy strokieskarakters begin het, is hy vier keer bankrot verklaar voordat hy Disneyland gebou en 'n multimiljoenêr uit sy rolprente geword het. Hý het geglo in sy tekenprente.
Die uitvinder Thomas Edison se onderwysers het sy pa aangeraai om hom uit die skool te haal, want “hy is te onnosel om ooit enige vordering te maak”. Hy was die skepper van die gloeilamp.
Die briljante denker en skepper van die relatiwiteitsteorie, Albert Einstein, het eers op vier jaar begin praat en op agt begin lees. Sy onderwysers het gesê: “Hy is verstandelik agterlik, asosiaal en hopeloos verdwaal in sy belaglike droomwêreld”. Hy het bly droom.
Louis Pasteur, uitvinder van die destydse wondergeneesmiddel penisillien, het nooit uitgeblink op universiteit nie. Sy chemiepunte was onder die gemiddelde, maar hy het 'n ideaal gehad.
Die pa van Frankryk se beroemde beeldhouer August Rodin het gesê: “Ek het 'n volslae idioot vir 'n seun; hy is heeltemal 'onopvoedbaar'.” Op skool was hy bekend as “ons swakste leerling” en hy is drie maal toegang tot 'n kunsskool geweier, maar hy was mal oor beeldhou en het volgehou.
Leo Tolstoi, skrywer van onder meer die beroemde romans Anna Karenina en War and Peace, het op universiteit gedruip en toe opgeskop. “Hy is nie gewillig óf in staat om akademies te presteer nie,” was sy enigste getuigskrif. Hy het bly glo dat hy kan skryf.
Henry Ford het jare lank geen vordering gemaak met sy ontwerp van 'n “outomobiel” nie. In dié tyd is hy vyf keer bankrot verklaar. Hy het sy droom bly najaag.
Richard Bach se boek Jonathan Livingstone Seagull is deur vyftien uitgewers afgekeur voordat Macmillan dit aanvaar het. Sewe miljoen eksemplare daarvan is uiteindelik in die VSA alleen verkoop.
Winston Churchill, beroemde staatsman, het matriek gedruip. Hy het eers op die ouderdom van 62 premier van Engeland geword ná talle mislukkings en terugslae. Hy het vasgebyt.
Bid dié bede:
“Ek vra nie om ver te sien nie, Heer, net tree vir tree, nog net een tree. Bly by my Heer.”
Jou liggaam wanneer jy sigarette weggooi

As jy 'n tipiese twintig-sigarette-per-dag-roker is en jou gewoonte staak, sal jou liggaam waarskynlik soos volg reageer:
Twee uur nadat jy opgehou rook het, is daar nie meer nikotien in jou bloedstroom nie. Dit neem 'n verdere twee dae vir al die nikotienprodukte om jou liggaan te verlaat. Binne ses uur sal jou hart stadiger klop en jou bloeddruk effens val.
Dit neem drie tot dertig dae vir jou bloeddruk on na normaal terug te keer. Binne 12 tot 24 uur sal die koolstofmonoksied uit jou liggaam wees. Jou longfunksie sal verbeter, jy sal minder kortasem wees en jou stamina sal verbeter.
Binne 'n paar dae sal jy varser voel en ruik. Jou smaaksintuig sal herstel en jou reuksintuig verbeter. Binne dae sal die slym wat in jou longe opgebou het, loskom en jy sal dit oor die volgende paar weke uithoes.
Die liggaam sal skoner word deurdat die fyn haartjies in die longweë herstel. Dit kan tot drie maande neem voor dié haartjies heeltemal herstel het en die longe heeltemal skoonmaak. Binne drie weke sal jou longe beter werk en oefening sal makliker wees.
Binne twee maande sal die bloedvloei na jou limfvaatstelsel verbeter. Jy sal meer energie hê en 'n gevoel van trots en oorwinning ervaar. Jou tande sal witter wees. Die bloed en selle wat jou longe uitvoer, sal na normaal terugkeer, hoewel dit lank neem.
Ná twaalf maande is die risiko vir koronêre hartsiektes byna die helfte as dié van rokers.
Ná vyftien jaar is die risiko vir koronêre hartsiektes amper dieselfde as vir nie-rokers.