Reitz 4 saga skrei ten hemele
Foto: Verskaf
Hoe langer die saga van die sg. Reitz 4 duur, hoe erger skrei dit ten hemele. Vier bona fide blanke studente, midde-in studentepret en hoogspanning oor gedwonge koshuisintegrasie en raskwotas, tas in 'n video vir interne doeleindes die waardigheid van vier swart universiteitswerknemers in 'n ligte graad aan.
Die Universiteit van die Vrystaat oorreageer, skors die studente en sluit die koshuis, Pres. Reitzkamerwonings, summier.
Die vier studente word in die wêreldwye media verguis, terwyl hulle strafregtelik aangekla word in 'n saak wat jare sloer. Hulle word ook deur die Menseregtekommissie in die sg. Gelykheidshof gedagvaar.
Die vier voormalige studente vra verskoning, maar dit is nie genoeg nie. Hulle word deur hul regsverteenwoordigers aangeraai om in die landdroshof skuldig te pleit en om weereens om verskoning te vra.
Die hof lê hulle 'n boete van R20 000 elk op of gevangenisstraf van 12 maande, opgeskort vir vyf jaar. Die swart landdros roskam hulle oor sg. rassehaat en -diskriminasie.
Daarby moet die vier nog in die Gelykheidshof teregstaan op 'n eis van skadevergoeding vir 'n bedrag van R1 miljoen elk.
Intussen word duisende blankes in die land vermoor en vermink deur in meer as 90% van gevalle swart mense, dikwels op die mees wreedaardigste wyse. Mense is met voorwerpe doodgeslaan dat die bloed letterlik tot teen die plafon spat, vingers word met snoeiskêre afgeknip, slagoffers word met kookwater gemartel, vrouens word in hul wonings verkrag, ens. In talle van die gevalle gaan die wandade gepaard met uitgesproke rassehaat teen blankes.
Een van duisende voorbeelde: Die aand van die openingswedstryd van WB 2010 word mnr. Rudolph Terblanche (47), sy lewensmaat, me. Elrene Jones (40) en hul vriend, mnr. Gerhard van Jaarsveld (48) op 'n kleinhoewe in Willowbray in die ooste van Pretoria oorval. Van Jaarsveld is doodgeskiet, terwyl Terblanche in die nek en Jones in die skouer en in die kuit geskiet is. Terblanche het net gevoel tot bo sy borsbeen en in sy arms tot by sy polse. Die dele wat gevoel het, kramp permanent.
Watter verskoning word vir Terblanche en die ander duisende gevra? Watter vergoeding is daar vir hulle? Wat sê die regering hiervan? Hoe presies hanteer die regstelsel sulke gevalle? Wat sê die Menseregtekommissie? Waar staan die Gelykheidshof? Wat is die boodskap wat in die hoofstroommedia gedra word?
’n Jongste kersie op die koek: ‘n Groep swart studente in die UV koshuis Villa Brabado ontgroen onwettig vier blanke studente in erge graad. Die Universiteit bestuur straf hulle ligtelik maar skors hulle nie, verswyg die voorval en verder gebeur niks met die swart oortreders nie.
Watter ongelooflike dubbele standaarde en blatante rassediskriminasie!
Dit is onder hierdie omstandighede dat die Reitz 4 saga ten hemele skrei.
Wat is die oplossing? Moontlik geld o.a. die volgende:
- Reg en geregtigheid moet eenvoudig by uitgekom word. Wraak is nie die antwoord nie, maar reg en geregtigheid is 'n Bybelse vereiste. Dit moet net op die regte manier geskied.
- Rassehaat is ook nie die antwoord nie en is inderwaarheid 'n duiwelse strik. Alle swart mense is nie boos nie en is daar diesulkes met wie 'n sinvolle toekoms vir alle goedbedoelendes uitgewerk kan word. Die bevolkingsverskeidenheid van SA, met sy verskillende identiteite en kulture, is 'n realiteit, wat volgens Bybelse opdrag erken en uitgeleef moet word.
- Vlug is ook nie 'n opsie nie, maar die aanduidings is oorvloedig dat 'n finale breuk met die huidige SA rassekookpot op hande is. Dit is net 'n kwessie van die breukproses effektief bestuur - in die lig van Gods genade.