adendorff bannier

Annatjie Boshoff, sekretaresse van Verwoerds: Onderhoud

Sy is nou 89 jaar oud, haar verstand is nog glashelder en sy woon sedert 1991 op Orania. Vanaf 1959 tot 1966 was sy die privaatsekretaresse van mev. Betsie Verwoerd en het sy nóú met haar en haar man dr. HF (Hendrik) Verwoerd, eerste minister van Suid-Afrika vanaf 1958 - 66, saamgeleef. Dis Annatjie Boshoff, behalwe vir die bloedfamilie, die laaste intieme skakel met die veelbesproke, geëerde en verguisde Verwoerd-egpaar. Ná die sluipmoord op dr. Verwoerd op 6 September 1966 in die Parlement, was Annatjie nog privaatsekretaresse vir mev. Verwoerd tot die einde van 1966, voordat sy dieselfde pos vir mev. Tini Vorster vervul het tot 1979. In 1994 het mev. Verwoerd haar ook op Orania gevestig en het sy en Annatjie weer ‘n pad saam gestap totdat mev. Verwoerd in 2000 op die ouderdom van 99 jaar oorlede is. Annatjie, wat nooit getroud was nie, het twee boeke oor die Verwoerds die lig laat sien - Sekretaresse vir die Verwoerds in 1974 en Betsie Verwoerd, Die Vrou, in 1993. As jy dus eerstehandse kennis wil opdoen oor die Verwoerds en 'n kritieke tydperk in ons geskiedenis, is Annatjie die een om mee te praat. Dit is hoekom ek haar in haar aftreehuis op Orania gaan besoek het en bietjie met haar gesels het. Ruimte ontbreek hier om enigsins reg te laat geskied aan ons gesprek en aan alles wat wat daaroor kan en behoort gesê te word. Daarom word hier slegs enkele sleutelpunte aangestip. Eerstens, Annatjie Boshoff is 'n hoogs intelligente, belese, ingeligte, berese en diep gelowige mens. Vriendelik en sjarmant, maar sy weet waar sy staan en wat sy wil hê. Vanweë die aard van haar pligte, het sy 'n kantoor binne die ampswonings van die Verwoerds, Libertas en Groote Schuur, asook in ander wonings van die egpaar, gehad. Hoewel sy die privaatsekretaresse van mev. Verwoerd was, het dr. en mev. Verwoerd so 'n hegte persoonlike verhouding in hul huwelik gehad en het mev. vir doktor só ondersteun, dat Annatjie dikwels ook vir dr. Verwoerd by geleenthede sekretariële en administratiewe take verrig het, sommige waarvan hoogs vertroulik was. Soos Annatjie sê: “Ek het waarskynlik 'n uitsig op die Verwoerds gehad soos selfs hul kinders nie altyd gehad het nie.” Kom ons gee, ter wille van perspektief, 'n raps meer agtergrond. Annatjie Boshoff is in 1925 op die plaas Doornfontein in die distrik Waterberg gebore. Haar pa het sewe kinders by sy eerste vrou gehad, wat oorlede is en toe is hy weer getroud met Annatjie se ma. By haar het hy ses kinders gehad, waarvan Annatjie die oudste was. Een van haar broers was prof. Carel Boshoff, wat getroud was met Anna, een van die sewe kinders van dr. en mev. Verwoerd. Annatjie het in die staatsdiens in Pretoria as tikster / administratiewe assistent begin werk en deur buitemuurse studie by Unisa haar BA-graad verwerf. In 1953 het sy mev. Verwoerd in Kaapstad ontmoet toe dr. Verwoerd Minister van Naturellesake was. In 1958 word dr. Verwoerd Eerste Minister en in 1959 is Annatjie amptelik aangestel as privaatsekretaresse van mev. Verwoerd. Een ding wat baie duidelik is en ook uit haar boek blyk, is dat Annatjie haarself nooit op die voorgrond gedruk het of selfs nou nog doen nie. Sy het 'n innige respek vir dr. sowel as mev. Verwoerd elk in eie reg gehad. Selfs in hierdie onderhoud het sy benadruk dat dit nie oor haar as persoon moet gaan nie. Die beste opsomming oor die hele aangeleenthede word miskien die beste soos volg gegee in die stofomslag van die boek Betsie Verwoerd, Die Vrou in 1994: "Benewens die feite oor mev. Verwoerd as mens en vrou voor, tydens en na haar lewe saam met dr HF Verwoerd, is hierdie boek ook 'n unieke oorsig oor negentig jaar van Afrikanervolksgeskiedenis en die reuse in ons volkstryd. Dis 'n stuk volkshistorie wat 'n mens nêrens anders ooit dieselfde formaat aangebied sal kry nie. "Dit verskyn ook in 'n tyd wat die Afrikaner nodig het om ewewigtig na sy verlede, veral sedert die begin van hierdie eeu, te kyk. Vir dekades nou al word hy gedissekteer, met skuldgevoelens belas en as muishond van die wêreld voorgehou. Die volk is, aangehits meesal deur sy eie mense, byna op die drumpel van selfvernietiging. "Hierdie biografie sal die volk weer sy kop laat oplig: Mev Verwoerd en haar tydgenote lééf in hierdie boek en die leser wéét: hierdie mense - my mense - het alles feil gehad vir volk en vaderland." Ter voorbereiding van my onderhoud met haar, het Annatjie uit haar eie die volgende neergeskryf en vir my gegee: “As ek aan dr. en mev. Verwoerd se lewens dink oor die amper agt jaar wat ek hulle in my ondergeskikte rol as privaatsekretaresse vir mev., maar ook in die persoonlike verhouding waarin ek hulle beleef, leer liefkry, vertrou en bewonder het, dan kan ek nie anders as om God se wil - en nie hul eie wil - in hul lewens raak te sien nie. Hoe 'n mens dit ook al verstaan, of nie wil verstaan nie, wil verdedig of veroordeel en verdoem - hulle het gesoek na God se wil om hul gawes te gebruik.” Omdat ekself in my universiteitsjare indirek die ampstermyn van dr. Verwoerd beleef het, wil ek hierdie artikel afsluit met die volgende persoonlike samevatting: Die beleid van dr. Verwoerd was afsonderlike ontwikkeling waarvolgens vir die verskillende bevolkingsgroepe in die land na eie, gelyke selfbeskikking gewerk is, sonder dat die een oor die ander heers en sonder dat gediskrimineer word. Hy was op die punt om hierdie beleid op 'n visionêre wyse 'n groot stap vorentoe te neem, toe hy in die Parlement doodgemaak is. Hierdie beleid verskil hemelsbreed van die vroeëre “apartheid”, asook van die politieke gedrog wat vanaf die Vorster-era ingevoer is. Onder dr. Verwoerd het Suid-Afrika sy beste jare ooit tot vandag toe beleef. Die feite sê in daardie jare was daar geen plakkershut in die land, die ekonomiese groeikoers was 11%, inflasie 0%, R1 het $6 betaal, SA het hoë agting op internasionale gebied geniet, die destydse Suidwes-Afrika hofsaak in die Internasionale Geregshof is in SA se guns beslis, ens. In nabetragting het dr. Verwoerd moontlik twee swakplekke gehad: Hy was sy tydgenote te ver vooruit en hy het mense te veel vertrou. Annatjie Boshoff is eerstehandse getuie van die goue jare van SA en haar feite weerspreek die ontsaglike leuen vandag wêreldwyd omtrent die Verwoerd-era. Wat 'n belewenis om van hierdie merkwaardige vrou eerstehands die ware prentjie van daardie bewoë tydperk te kry.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Tridor Banier web

wow kitsblits