Print this page

Afrikaans – My Taal, My Toekoms

Chairman, I cannot begin to describe my sorrow and bitterness to you because,  because..? You see, since we are not allowed to braai anymore and the butcheries are out of boerewors and biltong and since you get two types of donuts- the sweet one with the hole in the middle and the one with mince that tastes like a vetkoek, and since Afrikaans fell – I don’t know who I am anymore.

Dames en here, dit gaan die gevolg wees van ’n ry domino’s wat opgestel is om te val. Ons gaan sit met ’n identiteitskrisis. Gaan ons wag totdat alles verby is voordat ons besef dat ons die wrede kinderhande moes keer wat die eerste domino in die ry omgestoot het? En omdat ons nie het nie, het Afrikaans in die werksplek, op tersiêre gebied en in skole ... geval.

Kom ons kyk na die domino’s in die ry.

Die eerste domino is klaar omgestoot.  Afrikaans is uit in die besigheidswêreld en werkplek. Wanneer laas was daar ‘n Afrikaanse stem aan die ander kant van die gehoorbuis, toe u Vodacom, Multichoice of die plaaslike hospitaal geskakel het? Die “grootmenswêreld”, die besigheidswêreld het al lankal verengels.


Naomi Meyer, skrywer van jeugromans en voltydse lid van LitNET se Taalsekretariaat, het ‘n artikel, “Taallandskap en taalpolitieke karakter”, geskryf vir LitNET oor die sensus van 2011.  Sy sê dat Suid-Afrika gekenmerk word deur linguistiese ongelykhede. Engels, wat toe die 4de grootste taal was, en deur 9.6% van die land se bevolking, oftewel 4,9 miljoen burgers, as eerste taal gebruik word, was die taal van mag: opvoedkundig, ekonomies, polities en sosiaal.  Dit is nou die stert wat die hond swaai!


Ek verstaan dit nie! Die land het tog nie honger gely toe Afrikaans as besigheidstaal gebruik was nie, en ek dink die regte mense het tronk toe gegaan toe dit nog in die howe gebruik is. My oupa, ‘n voormalige dosent aan die Universiteit van Fort Hare, sê dat Afrikaans ‘n unieke inheemse kennissisteem opgebou het met dieselfde innoverende wetenskaplike vermoë as ander Europese lande, maar die verskil is dat Afrikaans Afrika se probleme verstaan en kan oplos.  En nou is hierdie vermoë in die werksplek en besigheidswêreld prysgegee.

Die volgende domino in die ry is tans besig om erg te wankel, dit bibber en beef en is op die randjie om te tuimel.  Ons moet hier keer dat dit klap.


Die taalstryd woed by ons universiteite.  Op 3 Desember 2015 skryf Tom McLachlan, lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, in ’n essay “Oor Afrikaans en die toekoms daarvan”, dat daar net skaduwees oorbly van die histories Afrikaanse universiteite.  Nog net drie bly oor wat voorgee dat hulle ’n wesenlike Afrikaanse aanbod het – Pukke, Kovsies en Maties.  (Niemand weet meer van die bestaan van die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit nie, en Tukkies het net ’n tikkie Afrikaans wat gebruik word.)


Nou, agt maande na hierdie artikel, vra ons hoe lank daardie aanbod nog staande gaan bly?  As dit nie vir AfriForum se dringende hofbevele was wat ’n verandering in die taalbeleid by die Universiteit van Stellenbosch en  die Universiteit van die Vrystaat tydelik gekeer het nie, was Afrikaans daar ook al na die maan. Wat my verstand te bowe gaan is hoekom jy jou uitverkore universiteite se taalbeleid aanvaar as jy inskryf, en dan ewe skielik ál die eende op die water met jóú brood wil doodgooi? 

’n Mens gaan soek mos na iets wat ten volle aan jou behoeftes voldoen; as jy dit nie kry nie, skep dit vir jouself.  Maar nee, in Suid-Afrika breek jy eerder iemand anders se goed af, totdat almal ewe ongelukkig is...

Van die laaste domino’s in die ry, is Afrikaanse skole. Adv. Anton Alberts, parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys van die VF Plus, sê  in Gauteng is daar net 168 Afrikaanse skole teenoor 1 539 Engels.  Net in Gauteng is ’n kwart van Afrikaanse skole sedert 2002 na Engels-medium verander.  En soos ’n luislang wikkel die owerhede hulself om die oorblywende Afrikaanse skole.  Met elke draai word hulle gedwing om dubbel- of parallelmediumskole te word en die proses van verengelsing lei na die stadige, martelende dood van Afrikaans.


Die Franssprekende taalkenner en taalsosioloog, Jean Laponce, waarsku dat ’n tweetalige skool of universiteit bloot die skyn van taalgelykheid skep.  Verder sê hy dat tweetaligheid in ’n opvoedkundige instelling in die praktyk ’n oorgangsproses na taalinlywing is en uiteindelik na eentaligheid in die wêreldtaal lei.

Voorsitter, dames en here, gaan ons luister na hierdie waarskuwing?  Of gaan ons ons taal en toekoms in die hande van wrede owerheidshande oorgee en toelaat dat hulle ons taal vermoor? 


Wat kan ons doen om Afrikaanse se voortbestaan te verseker?


Wees lief vir Afrikaans.  Praat jou taal, bid in jou taal, sing in jou taal.  Praat Afrikaans.  Ons is nie Amerikaners, Britte of Aussies nie.  Afrikaans is uit Afrika, ons tuiste.    Afrikaans is die bloed van ons kultuur.  Watter een van die land se 11 tale is die beste vir jou?  Jou moedertaal!  Jou moedertaal vorm die grein van jou persoonlikheid, dit is die bus na jou toekoms.  Moenie dié bus verpas nie!

                                                                            

Gradeer die artikel
(0 stemme)