ditsem website banner no 1 2017

Glybanier

-►Ditsem Nuus webwerf www.ditsem.net handhaaf tans sowat 21 000 besoekers per maand -►Matjila van OBK sê nou SAA mag moontlik geld leen -►Beweerde renosterstroper David Mahlobo nou Minister van Energie -►Internasionale besoekers aan Kaapstad groei 27% in eerste semester 2017 -►Adj-pres. Ramaphosa blykbaar moontlik volgende vir Zuma-valbyl
Stem teen grondgryp! southafricatoday.net

Beide die Wetsontwerp op Onteiening en die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit spruit uit die bekruipende sug van radikale swartmense om grond en die besittings van blankes sonder vergoeding te mag ontneem. Dit het in Zimbabwe gebeur, maar ANC politici het jare gelede gesê dit sal nooit in Suid-Afrika gebeur nie.

In 2013 het pres. Jacob Zuma egter tydens die verjaardagviering van die ANC gesê dat 'n wet nodig is om grond en eiendom te mag vervreem sonder vergoeding. Hy het ook gesinspeel daarop dat blankes die grond van swartmense in SA “gesteel” het.

Mettertyd het hierdie wekroep al sterker geword en het Zuma openlik begin verklaar “dat blankes die grond van swartmense in die land gesteel het en dat dit sonder vergoeding aan die regmatige eienaars terugbesorg moet word.” Hy het ook gesê dat al die moeilikheid in SA het begin die dag in 1652 toe Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het.

Spoedig het 'n koor van radikale swart aktiviste vir Zuma al sterker begin steun, met Julius Malema en sy EFF die voorsangers. Vir laasgenoemde het blatante grondgryp sonder vergoeding formele beleid geword en sê hulle “blankes is besoekers wat op hul plek gesit moet word.”

Die gevolg was dat die Wetsontwerp op Onteiening in 2013 die lig gesien het as monsterwet wat die Wet op Onteiening van 1975 moes vervang. Laasgenoemde wet was bedoel om te help om openbare infrastruktuur te bestuur en het markverwante vergoeding in die geval van onteiening voorgeskryf.

Die nuwe wetsontwerp verander die bepaling van vergoeding volgens markwaarde na “billike en regverdige” vergoeding soos dit in artikel 25 van die Grondwet uiteengesit word. Verder bekragtig die huidige wetsontwerp ook die vermoë van die staat om in die “openbare belang” te onteien. In dié opsig sluit die openbare belang grondhervorming en gelyke toegang tot die land se hulpbronne in – dus duidelik polities-gedrewe.

Die reg op private besit van grond en eiendom, regmatig verkry op die basis van gewillige-verkoper-gewillige-koper en gedokumenteer in die aktekantoor, vorm sedert die vroegste beskaafde tye in SA en in die res van die vrye wêreld die hoeksteen van 'n vrye markekonomie. Dit is dan ook uitdruklik verskans in die huidige Grondwet van SA, 108/1996, artikel 25, wat soos volg lui: “25 (1) Niemand mag eiendom ontneem word nie behalwe ingevolge 'n algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie. (2) Eiendom mag slegs ingevolge 'n algemeen geldende regsvoorskrif onteien word – (a) vir 'n openbare doel of in die openbare belang; en (b) onderworpe aan vergoeding, waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling òf deur diegene wat geraak word aanvaar is of deur 'n hof bepaal of goedgekeur is.”

Die wetsontwerp van 2015 is dus in stryd met die Grondwet en boonop word in die wetsontwerp gesê: “Property is not limited to land and includes a right to such property.” Die Wetsontwerp op Onteiening bevat dus 'n sluwe, verreikende voorsiening dat enige eiendom – ook persoonlike besittings, huisinhoud, voertuie, aandele, ens. – sonder vergoeding ontneem kan word.

Daarenteen voer die regering aan dat die nuwe wet nodig is om onteiening landwyd op 'n eenvormige, prosedureel korrekte en nie-arbitrêre wyse te bestuur. Daar word voorts aangevoer die doelwitte van grondhervorming en gelyke toegang tot hulpbronne, as deel van die sogenaamde openbare belang, word ook sterk nagestreef. Die regering ag dus die regverdiging om te onteien breër as bloot net die bou van openbare infrastruktuur.

Volgens kritici van die wetsontwerp, soos verskeie opposisiepartye, Agri SA, Solidariteit, die Instituut vir Rasseverhoudinge, ens., is die bewoording van die teks so wyd dat dit inderdaad 'n Trojaanse perd vir onteiening van eiendom is sonder vergoeding. Hulle sê 'n gevolglike verswakking van private besitregte van ekonomiese hulpbronne en bates sal katastrofale gevolge vir die ekonomie inhou.

Sonder eiendomsekerheid sal plaaslike belegging en kapitaalaanwending ernstig gestrem word en kan kapitaalwaardes van eiendom intuimel. Verder bestaan die moontlikheid natuurlik ook dat die onteiening met korrupsie vervleg sal word.

Inmiddels word die gedreun uit radikale politieke geledere al harder dat “blankes die grond gesteel het en dat dit sonder vergoeding teruggevat moet word. "Dit word gestel as sleutel tot “radikale ekonomiese transformasie, volvoering van die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) en kitsoplossing vir grootskaalse swart armoede in die land.”

Zuma is die voorbok in hierdie verband en wil nou hê dat 'n splinternuwe wet aanvaar moet word wat grondonteiening sonder vergoeding maklik maak en dat die Grondwet dienooreenkomstig gewysig word. Hierin word hy gesteun deur die feitlik 24/7 stroom propaganda uit DStv kanaal 405 van ANN7 van die Guptas.

Inmiddels is die Wetsontwerp op Onteiening in 2016 deur die Parlement goedgekeur en na pres. Zuma verwys vir ondertekening en bekragtiging as wet. Zuma het dit egter, eienaardig genoeg, nie geteken nie en dit terugverwys na die Parlement met die kommentaar dat iets van die wetsontwerp of iets prosedureels strydig met die Grondwet is en dat die wetsontwerp weer hersien moet word. Vir die volle teks van hierdie wetsontwerp, kliek hier.

Met die debat oor hierdie wetsontwerp in die Parlement het Malema van die EFF 'n mosie ingedien dat alle swart Parlementslede, insluitende die ANC, moet saamstaan en goedkeur dat 'n wet geformuleer en aanvaar word wat grond- en eiendomsontneming magtig. Die mosie is egter met 261 teen 33 stemme verwerp.

Dit was 'n wonderbaarlike slag vir voorgenome grondgryp en het bewys dat daar 'n formidabele element van swartes in die land is wat grondontneming sonder vergoeding afwys – 'n bemoedigende teken. Desondanks word die eise om grond in blanke besit al skerper en is as gevolg hiervan is die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit in Maart 2017 deur Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Gugile Nkwinti in die Staatskoerant gepubliseer vir openbare kommentaar - slegs tot en met 17 April 2017. Hierdie wetsontwerp het duidelik ten doel om grond van blankes met 'n steelhou in te palm, inderwaarheid om blankes te ontneem van die reg om grond te besit.

Volgens die wetsontwerp sal, indien dit aangeneem word, geen blanke meer eerste die keuse hê om grond te koop nie en sal blanke boere eers wanneer die minister en moontlike swart grondkopers nie belangstel nie, landbougrond kan koop. Selfs landbougrond uit bestorwe boedels word ook aan die beoogde wet onderwerp en moet dit eerste aan die minister en potensiële swart kopers aangebied word voordat dit deur blanke erfgename of ander blankes uit die boedel aangekoop kan word.

Die minister sal ook ingevolge die wetsontwerp landbougrond kan onteien in gevalle waar nie op 'n bedrag tussen die departement en die grondeienaar ooreengekom kan word nie. Vir die volle teks van die wetsontwerp, in Engels, kliek hier.

 http://www.gov.za/documents/regulation-agricultural-land-holdings-bill-draft-17-mar-2017-0000

Midde-in die rumoer oor grond en die kontroversie rondom die Wetsontwerp op Onteiening en die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit staan die feite van die breë aangeleentheid kortliks soos volg:

  • Volgens historiese vestigingspatrone in wat later Suid-Afrika sou word sedert die 17de eeu, het blankes op onbewoonde grondgebiede gevestig en nêrens grond onregmatig beset nie.
  • Blankes het beskawing in SA ingebring deur wet en orde toe te pas, die wiel bekend te stel, plase en dorpe op te meet, geboue op te rig, paaie, brûe en spoorlyne te bou, mynbou toe te pas en 'n Christelike staatstruktuur te vestig.
  • Die vermoë om grond produktief te benut in die algemene belang, is 'n sleutelfaktor.
  • Sowat 33 000 kommersiële, meesal blanke, boere maak dat SA 'n netto uitvoerder van voedsel is - die enigste op die vasteland.
  • Die mislukkingskoers van grond wat ingevolge “grondhervorming” aan swart boere gegee is, is nagenoeg 95%. Boonop verkies swart begunstigdes meesal geldelike uitbetaling bo grond as sulks.
  • Daar is baie meer grond in staatsbesit en gereserveer vir tradisionele swart gebiede soos die Transkei, QwaQwa, ens., ens. as wat die aanvraag huidiglik onder swart mense is vir produktiewe benutting. Dit op sigself maak dit oorbodig dat grond by blankes gevat moet word om aan sg. “grondhonger” swartes te gee.
  • Sedert die nuwe SA bedeling na 1994 het almal toegang tot grond in SA wat nie vir swart en bruin mense gereserveer is nie, d.m.v. die vrye mark meganisme van vrywillige-verkoper-vrywilige-koper.

Dit is waar die saak tans staan en voel Ditsem Nuus as Afrikaanse koerant dat 'n petisie teen beplande grondgryp soos vervat in die Wetsontwerp op Onteiening en die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit, so sterk as moontlik ondersteun moet word en by die Parlement ingedien behoort te word ter ondersteuning van Parlementslede wat albei wetsontwerpe geskrap wil hê. Sonder om reaksionêr te wees, meen ons dat die 1975 Wet steeds voldoende voorsiening maak vir die kwessie van onteiening in die openbare belang.

Derhalwe vra ons ons lesers drie sake:

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Ora betonwerke proef Sept 2017

Artistia Food

Renosterberg lodge