ditsem website banner no 1 2017

Glybanier

-►Ditsem Nuus webwerf www.ditsem.net handhaaf tans sowat 21 000 besoekers per maand -►Matjila van OBK sê nou SAA mag moontlik geld leen -►Beweerde renosterstroper David Mahlobo nou Minister van Energie -►Internasionale besoekers aan Kaapstad groei 27% in eerste semester 2017 -►Adj-pres. Ramaphosa blykbaar moontlik volgende vir Zuma-valbyl

Ander misdaad (28)

Nog net een verdagte is in hegtenis geneem na die aanval van 'n groep betogende jeugdiges Maandagnag verlede week op 'n luukse Greyhound toerbus met 46 passasiers en bagasiewa tussen Welkom en Allanridge. In die voorval is die bus tot stilstand gedwing, die passasiers aangerand en beroof en toe die bus en wa aan die brand gesteek dat dit uitgebrand het. Gelukkig kon die passasiers die bus betyds ontruim, maar baie is beseer, hoewel daar geen ongevalle was nie.

Welkom, soos die res van die Vrystaatse Goudvelde, is in die slegste sosio-ekonomiese toestand in sy geskiedenis, met die Matjhabeng Munisipaliteit wat bankrot is en alle infrastruktuur vervalle is. Werkloosheid vier hoogty.

Die betrokke nag moes die bus om 23:00 noodgedwonge weens groot klippe in die pad stilhou en is dit toe deur sowat 300 jillende jeugdiges met klippe toegetakel. Die deure van die dubbeldekker bus is oopgeruk en die passasiers op die onderste vlak eerste aangeval. Selfone, beursies geld, baadjies, handbagasie en padkos is met geweld by passasiers afgeneem. Passasiers is geslaan en geskop en selfs van hul skoene beroof.

Die passasiers was angsbevange, maar genadiglik het hulle met hul lewens daarvan afgekom. Die bagasiewa is met pikke en grawe oopgebreek en die bagasie gesteel, voordat die twee voertuie met 'n petrolbom aan die brand gesteek is.

Die getraumatiseerde passasiers is daarna met verskillende geleenthede na hul bestemmings geneem. Oorsee sou die aanval as terroristies van aard beskryf gewees het, maar in SA word dit as net nog 'n roof afgemaak.

Inmiddels is Welkom feitlik in 'n staat van beleg, met bykans alle toevoerroetes na die stad wat deur oproeriges geblokkeer word, soos bv. die paaie na Odendaalsrus-Allanridge-Bothaville, na Theunissen en na Kroonstad. Die plofbare situasie ontvang opvallend min mediadekking.

42 beeste ter waarde van R609 000 is op een slag van Johan Snyman (45) van die plaas Denopark in die Barkley-Wes-distrik helder oordag gesteel. Volgens Snyman, wat tydens die voorval by sy onderneming in Hartswater was, het die veediewe omstreeks 09:30 'n gat deur sy drade geknip waarna hulle vermoedelik die beeste aangejaag het. Die diere is volgens hom toe op 'n voertuig by 'n drukgang op 'n nabygeleë plaas gelaai. Die Polisie volg nog leidrade op.

Uit 'n geskrewe antwoord op ʼn Parlementêre vraag van die VF Plus sê die Minister van Verdediging en Militêre Veterane Nosiviwe Mapisa-Nqakula dat daar in 2016 altesame 417 voorvalle van diefstal (272) en inbrake (145) by verskillende eenhede van die SA Nasionale Weermag (SANW) plaasgevind het. In reaksie hierop sê dr. Pieter Groenewald van die VF Plus: “Die plundering van bates van die SANW, insluitend wapens en ammunisie, terwyl daar byna geen suksesvolle vervolging is nie, is skokkend en dui op ʼn verval in die bevelstruktuur in die SANW. “Tot dusver was daar net 14 gevalle van suksesvolle vervolging, waarvan 11 vir diefstal en drie vir inbraak was, terwyl nie 'n enkele persoon suksesvol vervolg is vir die diefstal van wapens nie. ʼn Wye verskeidenheid items is gesteel, maar veral kommerwekkend is die groot voorkoms van die diefstal van wapens en ammunisie. Die diefstal van rekenaartoerusting kom ook wyd voor, maar letterlik alles word gestroop waarop diewe hul hande kan lê - van kos, batterye, petrol, drank, kontant, fietse, tuintoerusting tot kampeertoerusting, klere, motoronderdele, uniforms en dokumente.”
Afgelope Sondagaand is Irma van Deventer (22) van Bethlehem in haar ouerhuis waar sy alleen was, deur 'n aanvaller met 'n mes verskeie kere in die kop, nek en een long gesteek. Haar hande is ook erg gesny toe sy die aanval probeer afweer het. Sy is geopereer nadat haar long platgeval het en is tans in 'n ernstige toestand in die waakeenheid van die Hoogland MediClinic in Bethlehem. Ten tye van die voorval was haar ouers oppad terug van Sasolburg waar hulle gekuier het. Irma het 'n ruit gehoor breek en haar broer Ruan gebel, wat die TLU Vrystaat Veiligheidsafdeling sowel as 'n veiligheidsmaatskappy geskakel het. Die aanvaller het haar met die mes oorval en gesteek, maar die reaksie van die veiligheidsinstansies was so vinnig dat die aanvaller nog in die huis aangetref en in 'n worsteling deur 'n veiligheidswag doodgeskiet is.

Met kinderhandel as 'n onderwerp waarin fyn onderskei moet word tussen waarheid en verdigsel, is die volgende waarskuwings waarvan met vrug kennis geneem kan word: 

  • Daar word op 'n daaglikse basis kinders in SA gesteel en weggevoer na die seksbedryf.
  •  Die gewildste ouderdomme is 4 tot 12 en dan 16 tot 21.
  • Wanneer ‘n kind gesteel word, verwissel hy/sy van hande blitsvinnig in 'n kort tyd, totdat die kind in 'n “onsigbare” netwerk, binnelands of buitelands, verdwyn.
  • Kinders word verlam deur ‘n inspuiting en verder onder verdowing gehou vir hanteringsdoeleindes.
  • Dikwels word kinders in skeepshouers “uitgevoer” na die buiteland in omstandighede wat talle nie oorleef nie – die eindbestemmings is meesal China, Thailand, die Verre Ooste en ook ander lande wêreldwyd.
  • Dit word beweer dat ‘n kind, meesal dogters, vir haar “eienaars” tot R7 miljoen in 'n vyfjaartydperk kan verdien. Dit is in 'n toestand van voortdurende gedwonge dwelmverslawing en wanneer die kind as prostituut uitgedien is, word sy na die see as haaikos afgevoer.

Aanbevelings:

  • Moenie jou kind alleen kafee toe stuur nie.
  • Moenie jou kind ooit uit die oog verloor in ‘n mall nie.
  • Moenie dat ander kinders jou kinders oppas nie – kinders het nie daardie verantwoordelikheid nie.
  • Bewaar jou gesinstuktuur soos goud.
  • Die mees weerlose kinders, is dié uit vaderlose gesinne.

Die gewildste tye en plekke om kinders te steel is soggens oppad skool toe, middag na skool, naweke in kuierplekke en malls. Laasgenoemde is veral baie gewild. 

Die skokkende wyse waarop ʼn bejaarde hoësorg-pasiënt in die staatshospitaal op Belfast behandel is, is deur die VF Plus in Mpumalanga onder die aandag gebring in 'n mediaverklaring, wat verder lui: “Mnr. Hennie de Beer (76) het Vrydagaand 'n week gelede uit sy bed geval en moes hy feitlik die hele nag op die vloer lê, waar personeel hom eers die volgende oggend aangetref het. Sy drup is egter nie teruggeplaas nie en daar was ook nie die suurstof wat hy benodig het nie. Die drup is eers die middag weer teruggeplaas.

“Toe mnr. De Beer se seun, Hennie de Beer jnr. by die hospitaal navraag gedoen het oor die voorval, is hy hardhandig uit die hospitaal verwyder en daarvan beskuldig dat hy ʼn rassis is. De Beer jnr. ontken dit.

“Hierdie voorval en optrede is totaal onaanvaarbaar. Wanneer mense met swak diens gekonfronteer word, raak dit toenemend ʼn maklike uitweg om die rassekaart te speel. Wat met mnr. De Beer gebeur het, getuig van skokkende swak diens deur die personeel. Die matrone in beheer was nie bereid om met die VF Plus oor die aangeleentheid te praat nie en het gister selfs versuim om haar foon te beantwoord.”

'n Voorval op Vrydag 25 Augustus 2017 tussen 13:00 en 14:00 in die Soetdoring wildreservaat 30 km noord van Bloemfontein het vrae laat ontstaan oor moontlike onwettige jag deur senior staatsamptenare. Wat na berig word gebeur het, is dat Tshepo Moremi, adjunk-DG van die Dept. van Omgewingsake, adv. Tumelo Phahlo, hoof van die Regsafdeling, Jeff Motsetse, hoof van Finansies, Kobus Willemse (64), assistent-direkteur Bewaringsdienste, ene Myburgh en ene Mofokeng van dieselfde departement in 'n departementele voertuig was waaruit op wild geskiet is. Daartydens het Willemse skielik 'n hartaanval agter op die bakkie gehad en toe hy val, het 'n skoot afgegaan en is Mofokeng beseer.

Die twee beseerde amptenare moes in die Life Rosepark Hospitaal opgeneem word. Aanvanklik het die LUR vir Omgewingsake Benny Malakoane gesê hy weet nie van die beweerde jagtog nie, maar later het hy gesê dit was wel gemagtig.

In 'n gesamentlike mediaverklaring vra die DA, VF Plus en EFF in die Vrystaat wat gewys kan word van bykans R120 miljoen wat na bewering bestee is om die ou Ramkraal-tronk in Batho, Bloemfontein, te omskep in 'n nuwe doelmatige gebou vir die Vrystaatse Wetgewer. Volgens hulle is hierdie bedrag gespandeer sonder dat 'n sooi gespit is of 'n steen gelê is.

Intussen het vandale die voormalige Ramkraal-tronk so geplunder dat feitlik net 'n murasie oor is. Tydens 'n besoek aan die perseel het die verteenwoordigers van die partye aan die media gesê dit is wat oor is nadat “Orkaan Ace” daardeur is, met verwysing na beweerde grootskaalse korrupsie onder premier Ace Magashule.

In reaksie sê die Vrystaatse Wetgewer in 'n mediaverklaring “dat geld tussen departemente geskuif is, dat ondersoek daarna ingestel word en dat verdere kommentaar nie gelewer kan word alvorens die ondersoek afgehandel is nie.”

Die stank van ANC-bewind oor die Vrystaat die afgelope 23 jaar hang letterlik oor die provinsie, met alle munisipaliteite disfunksioneel, die stank van riool wat feitlik oral hang en die provinsiale regering onder premier Ace Magashule wat korrup is tot in sy kern. Dit is die feite van die situasie. By dorpe en ook in die hoofstad Bloemfontein hang die stank van rou riool in die strate omdat rioolverwerkingsaanlegte nie werk nie en dit word aangevul deur die stank van vullis in strate wat slegs sporadies verwyder word, asook van stortingsterreine wat glad nie bestuur word nie en wat letterlik mislike reuse afvalhope geword het. Dit is letterlik die feitelike situasie indien bv. vanaf Qwa Qwa oor Thaba Nchu-Botshabelo-Bloemfontein na Jacobsdal gereis word of vanaf Jagersfontein na Frankfort en Villiers. Op feitlik elke dorp is daar 'n waterprobleem, met dorpe soos Fauresmith, Senekal Clocolan, Reddersburg, ens. wat soms vir weke aanmekaar geen munisipale drinkwater het nie. Eskom word miljarde rand geskuld vir onbetaalde elektrisiteitsrekeninge, terwyl alle munisipaliteite in die provinsie tegnies bankrot is. Met die laaste rondte van OG-verslae is bv. bevind dat die Ngwate Munisipaliteit (Parys) ongemagtigde uitgawes van R117 miljoen gehad het, Matjhabeng Munisipaliteit (Welkom) meer as R800 miljoen, Moqhaka Munisipaliteit (Kroonstad) R190 miljoen, Tswelopele Munisipaliteit (Tweeling) R9 miljoen, Nala Munisipaliteit (Bothaville) R100 miljoen en Tokologo Munisipaliteit (Boshof) R100 miljoen se ongemagtigde uitgawes gehad het. Dit sluit nie in onreëlmatige uitgawes en vermorste bedrae, wat meesal selfs meer as die ongemagtigde uitgawes beloop. Dan is daar nog die beweerde bedrog van sowat R180 miljoen van die Vrystaatse regering in die geval van die Gupta-beheerde Estina suiwelplaas in die Vrede-distrik, waarvan na bewering sowat R33 miljoen in 2013 aangewend is vir die omstrede Gupta-troue te Sun City. Voorts is daar ook korrupsie van miljoene rand met die omstrede visteelprojek van die provinsiale regering met China by Gariepdam. Die Vrystaatse Wetgewer lyk ook vir alle praktiese doeleindes disfunksioneel met sittings en komiteesittings wat nie gehou word of op kort kennisgewing uitgestel word. Die oprigting van 'n nuwe Wetgewergebou op die perseel van die Ou Tronk in Batho by Bloemfontein het ook nog nie gerealiseer nie, hoewel miljoene rand aan kontrakteursgeld reeds betaal is. Terwyl kommersiële landbou in die provinsie ondanks allerlei regeringsdruk voedsel produseer en ook bydra tot die grootste mielie-oes nóg in die provinsie, lê 42 plase wat vir doeleindes van grondhervorming oorgedra is, onproduktief. Sopas het 50 000 ha weiveld in die provinsie binne 48 uur afgebrand, met getuienis dat talle van hierdie brande met opset gestig is – nog 'n bydrae tot die stank wat oor die provinsie hang. Talle Polisiestasies in die provinsie is ook grootliks disfunksioneel, te midde van 'n stygende golf van misdaad soos plaasaanvalle en –moorde, gewapende rooftogte, dwelmhandel, inbrake, veediefstal, wangedrag teenoor vroue en kinders, ens. So bv. is die SAPD-stasie te Hennenman sedert Februarie vanjaar sonder elektrisiteit, die Mangaung Blitspatrollie het slegs twee bakkies beskikbaar vir 20 Polisiebeamptes, ander Polisiestasies ondervind 'n kroniese tekort aan voertuie, berigte van beamptes by aanklagkantore wat weier om dossiere vir nuwe klagtes te open, ens. Om egter die ondenkbare kersie op die koek te plaas, sê die ANC-besture in die Vrystaat en KZN in 'n gesamentlike verklaring: “Daar is 'n toename in arrogansie onder wit mense.”
Meer as 50 000 ha weiveld het die afgelope week in die Vrystaat afgebrand en geweldige skade aan vee, wild, heinings en ander boerdery-infrastruktuur aangerig. Veral die N1 deurpad by Kroonstad veroorsaak 'n groot probleem en is in die distrik sowat 5 000 ha deur vyf verskillende brande vernietig. Daar is onweerlegbare getuienis dat die brande opsetlik gestig word, veral by oorbrûe. Boere in die omgewing van Kroonstad, Heuningspruit en Koppies loop veral deur met die brande, soveel so dat boere self die N1 patrolleer, omdat die toesig deur die verkeerspatrollie en plaaslike polisiediens onvoldoende is. Die opsetlike brandstigting herinner sterk aan die situasie rondom die onlangse Knysna-brande, ten opsigte waarvan daar ook getuienis waas van opsetlike brandstigting, maar waarvan nie veel in die media gerapporteer word nie en ook nog geen vervolging ingestel is nie.
Bladsy 1 van 2

Ora betonwerke proef Sept 2017

Artistia Food

Renosterberg lodge