adendorff bannier

Die uitkoms van die sensuur van die DA op Helen Zille vanweë haar twiets oor kolonialisme is besonder insiggewend i.t.v. die SA politieke konteks. In die eerste plek het leier Mmusi Maimane en die party hulself in die voet geskiet met die storm in die teekoppie oor menings oor kolonialisme wat eintlik eenvoudig waar is. Al loop die leuen hoe snel, die waarheid haal hom wel. In die tweede plek het Zille, met 'n baanrekord van verbete en beginselvaste politikus of jy met haar saamstem of nie, met haar onvoorwaardelike verskoning en knieval voor die leier, 'n streep deur haar lewenslange reputasie getrek. Derdens is dit insiggewend dat Zille eens 'n ultra-linkse aktivis nou deur die bank as 'n verregse gebrandmerk word – 'n aanduiding hoe ver die pendulum oor die SA politieke spektrum geswaai het.
Minister van Polisie Fikile Mbalula het behoorlik die knuppel in 'n reeds erg verdeelde ANC-hoenderhok ingegooi met twiets dat Vrystaatse premier Ace Magashule 'n ramp sou wees as die volgende sekretaris-generaal van die party en dat Gauteng premier David Makhura eerder die ideale kandidaat vir die pos sou wees. Dit volg op die bekendmaking 'n paar dae gelede deur die ANC Jeugliga van die volgende persone as hul kandidate vir die top ANC-leierskap: Nkosazana-Dlamini Zuma as president, David Mabuza (Noordwes premier) as adjunk president, Ace Magashule as sekretaris generaal, Nathi Mthethwa (Minister van Kuns en Kultuur) as nasionale voorsitter, Jesse Duarte as een adjunk- SG en Fikile Mbalula as die ander adjunk-SG en Maite Nkoane-Mashabane (Minister van Internasionale Betrekkinge) as tesourier-generaal. Dit wys hoe diep die verdeeldheid in die ANC loop en is verbasend dat Mbalula so bereid is om sy kop uit te steek. Hy het nie aangedui of hy Ramaphosa as presidentskandidaat steun nie, maar dit lyk tog of dit afgelei kan word. Die kandidatelys van die Jeugliga, wat Zuma-lojaliste is, toon ook 'n lyn tussen radikales en gematigdes in die ANC.

Daar kan stellig verklaar word dat daar nie een munisipaliteit in die Vrystaat is wat nie deur korrupsie, onkapabelheid en nepotisme in chaos en disfunksionaliteit “bestuur” is nie. Die feite omtrent die Xhariep Distriksmunisipaliteit wat pas aan die lig gekom het, bevestig hierdie feit.

Die munisipaliteit, gesetel in Trompsburg, sluit in die plaaslike munisipaliteite van Letsemeng, Kopanong, Mohokare en Naledi. Die munisipale bestuurder is volgens die burgemeester op spesiale verlof geplaas nadat hy in een maand na bewering onregmatig sowat R300 000 bykomend tot sy salaris aan homself uitbetaal het. Die burgemeester het dit in 'n verskyning van die munisipaliteit voor die Vrystaatse Wetgewer se Komitee oor Openbare Rekeninge in Philippolis bekendgemaak.

Hierop het Wouter Wessels, VF Plus lid van die Wetgewer daarop gewys dat Xhariep die armste munisipale streek in die Vrystaat is en dat hy reeds finansiële steun van die provinsiale regering ontvang, maar dat sy salarisrekening 'n allemintige 80% van sy begroting bedra.

Die regerende Lesotho Congress for Democracy (LCD) van premier Pakalitha Mosisili in Lesotho het in die algemene verkiesing wat pas gehou is met 30 setels die onderspit gedelf teen die All Basotho Convention (ABC) van Tom Thabane met 48 setels. Dit is egter nog nie genoeg vir 'n volstrekte meerderheid nie en is die ABC, die Alliance for Democracy, die Basotho National Party en die Reformed Congress of Lesotho samesprekings betrokke, Lesotho was die laaste paar jaar deur onstabiliteit en militêre inmenging in die politiek geteister en terwyl die land skynbaar ná die verkiesing rustig is, het die SA Dept. van Internasionale Betrekkinge 'n waarskuwing uitgereik dat 'n staatsgreep in Lesotho nie geduld sal word nie. Intussen word die uitslag van die inter-party beraadslagings afgewag.

Tans is groot gebeure in die wêreld besig om af te speel - geskiedenis wat gemaak word - en wat onvermydelik ook die lewens van mense in SA gaan raak, in sonderheid Afrikaners. Die Britse verkiesing op 8 Junie het dramaties ontvou toe die Tories van eerste minister Theresa May veel swakker gevaar het as wat hulle gehoop het, terwyl die Arbeiders onder Jeremy Corbyn bo verwagting goed gevaar het. Die uitslag met die Tories op 318 setels en die Arbeiders 261 verkeer dus grootliks in ‘n skaakmatsituasie.

In die VSA woed 'n stryd om lewe en dood rondom pres. Donald Trump. Dit lyk of hy glad nie dieselfde pad loop as die Nuwe Wêreldorde (NWO) wat streef na wêreldoorheersing deur ekonomiese mag en tegnologiese beheersing binne afsienbare tyd nie. Dit lyk of president Vladimir Poetin van Rusland dieselfde siening huldig en dat dié twee dus aansluiting by mekaar probeer vind. Terselfdertyd steek nasionalisme al meer sy kop uit, soos bv. met Brexit.

Dit sou beteken 'n radikale herrangskikking van die tradisionele wêreldorde van die Weste vs Rusland en China en verskuiwing na nasionalisme vs globalisme. Daarom probeer die NWO baie hard om Trump te ontspoor deur sy skynbare uitreiking na Poetin in 'n negatiewe lig te stel en boonop te bewys dat aan die hand van getuienis van voormalige CIA-direkteur James Comey dat Trump sou gelieg het oor skakeling met Rusland.

Die VSA is in om homself verdeeld, met aanduidings dat bv. 99% van die State Department en 97% van die Justice Department verlede jaar gekant was teen die verkiesing van Trump. Dit wys net hoe Trump moet spook om sy beleidsveranderinge deur die Amerikaanse regeringstrukture gestuur en geïmplementeer te kry.

In Europa het Angela Merkel gekies ten gunste van globalisme en prontuit gesê dat die VSA en Brittanje nie meer as betroubare bondgenote beskou kan word nie. Ander EU-leiers het gesê die VSA is nou “'n groter gevaar as Rusland en China”.

China tree al meer as 'n wêreldmoondheid op, maar sukkel intern met grootskaalse werkloosheid, 'n brose Kommunistiese regeringstruktuur en selfs toenemende Christelike bekerings onder sy bevolking.

Hierdie is slegs enkele verfstrepe om aan te dui dat die wêreldtoneel vinnig besig is om ongekend te verander.

Kommentators is wyd eenstemmig dat te midde van tonele van geweldige lyding en ontbering in die wêreld, die grootste humanitêre krisis besig is om sigself in Jemen af te speel. Dit het alles in 2011 begin toe die Houthi-minderheid in hierdie relatief arm land in gewelddadige opstand gekom het teen die internasionaal-erkende regering van Jemen met Abd Rabbuh Mansur Hadi, wat die meerderheid Sunni’s in die land verteenwoordig. Die Houthi’s is Moslem-ekstremisties en het oor die volgende vier jaar m.b.v. regeringsmagte wat na hulle kant toe oorgeloop het, daarin geslaag om die grootste deel van Jemen onder hul beheer te kry en het Hadi, wat 'n redelike onstabiele regering gelei het, landuit gevlug. In 2015 het die magtige buurstaat Saoedi-Arabië, wat onder Sunni-regering staan, saam met 'n aantal ander Arabiese bondgenote ingegryp en die Houthi’s met hoofsaaklik lugaanvalle omtrent landuit gebombardeer. Hierin is hulle vanweë strategiese redes gesteun deur die VSA en Brittanje en dit alles het gelei tot die grootskaalse verwoesting van Jemen en onbeskryflike menslike lyding. Tans is 70% van die bevolking van ongeveer 29 miljoen, d.w.s. 19 miljoen mense in dringende nood vir humanitêre hulp om te oorleef. Hiervan is meer as die helfte of sowat 10,3 miljoen mense in hongersnood en op die rand om om te kom.

Tridor Banier web

wow kitsblits