ditsem website banner no 1 2017

-►Gesoek vir aanranding in SA – Grace Mugabe -►Zim-boere begin internasionale eiseproses oor hul gesteelde grond -►Pierre Spies groet rugby – wil werk vir minderbevoorregtes -►All Blacks legende Colin “Pinetree” Meads sterf op 81 -►Toestande in blanke plakkerskamp by Munsieville, Krugersdorp, uiters haglik -►Steve Hofmeyr sing Die Stem nogmaals in Bloem

Untitled 1

Dis hoekom jy besigheid in inheemse tale moet doen Untitled 2

Anton Rupert, die legendariese Afrikaanse sakeman en entrepreneur, het gesê die persoon wat nie droom nie, is nie ʼn realis nie. Die pad na suksesvolle entrepreneurskap is ʼn moeilike een, maar Suid-Afrika is immers ʼn land van mense met planne. Die grootste denkfout wat Suid-Afrikaners egter maak, is om bang te wees om te sê hulle wil ryk word, meen die ekonoom Mike Schüssler. “Alles is moontlik as 'n mens kreatief en groot dink. Wie uithou en aanhou, kan sukses behaal.” Suid-Afrika het entrepreneurs nodig soos nog nooit tevore nie en hoewel kenners meen dat die verband tussen taal en ekonomiese vooruitgang kompleks is, stem akademici saam dat taalgemeenskappe wat in hul eie tale investeer, ʼn daadwerklike bydrae maak in die ekonomiese waarde wat aan die spesifieke taal geheg word. Linguiste argumenteer dat taal die grondslag vir ekonomiese vooruitgang lê en dat daar spesifieke industrieë is waar taal as ʼn belangrike bemarkbare kommoditeit bestempel word. Die toerisme- en versekeringsbedryf is maar net twee voorbeelde van dié industrieë. Prof. Vic Webb, dosent in linguistiek en direkteur van die Universiteit van Pretoria se sentrum vir taalpolitiek (CentRePol), skryf dat dit veral van toepassing is op toerisme in Suid-Afrika danksy die land se ryke verskeidenheid van tale en kulture.

Webb verduidelik verder dat taal ook ʼn belangrike rol in die versekeringsbedryf en verwante industrieë speel omdat versekeraars die sosiologie van verbruikers moet verstaan om ʼn produk te bemark wat in die verbruikers se behoeftes voorsien. Taal speel ook ʼn beduidende rol in Suid-Afrikaanse entrepreneurskap. Luidens 'n opname in 2017 van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) is 14% van die land se bevolking wat 15 jaar en ouer is, Afrikaanse huistaalsprekers. Altesame 23% is Zoeloe-huistaalsprekers en 15% is Xhosa-huistaalsprekers. Dié verslag het verder getoon dat entrepreneurskap in Suid-Afrika vanaf 2015/16 tot 2016/17 met ongeveer 34% gegroei het. Daar is voorts bevind dat daar in 2013 altesame 1 517 ondernemings in die informele sektor was. Hiervan was 308 minder as 'n jaar terug gestig. Wat die internasionale entrepreneurskap-indeks betref, was Suid-Afrika in 2016 in die 52 ste plek. Dié indeks meet die gehalte en omvang van entrepreneursaktiwiteite in 132 lande. Volgens die Global Entrepreneurship Monitor (GEM), waar 400 navorsers 66 wêreldekonomieë meet, is bevind dat 72% van Suid-Afrikaners meen  entrepreneurskap is ʼn goeie loopbaankeuse. Hieruit kan afgelei word dat entrepreneurskap in Suid-Afrika groei. Dit is nie ʼn vreemde verskynsel as daar na die geskiedenis gekyk word nie. Vanaf 1939 tot 1950 het die getal Afrikaanse ondernemings van 3 710 tot 13 047 toegeneem. Vanaf 1948/49 tot 1954/55 het die aantal Afrikaanse ondernemings, landbou uitgesluit, met 40% gegroei.“Sprekers van alle inheemse tale in Suid-Afrika moet nou aangemoedig word om  voordeel te trek uit die groeiende entrepreneurslandskap”, sê Sanderien van der Walt, projekkoördineerder van AfriVriendelik.

Ook Mmusi Maimane, leier van die DA, meen entrepreneurskap hou groot voordele vir die land in. Hy meen dat in plaas daarvan dat die regering probeer om 5 miljoen werkgeleenthede te skep, die land eerder by 1 miljoen nuwe entrepreneurs sal baat. Die DA-regering in die Wes-Kaap het selfs administratiewe prosesse vereenvoudig om dit makliker te maak om 'n sakeonderneming te registreer wat aan wetgewing voldoen.Nóg ʼn inisiatief wat die stigting van sakeondernemings maklik maak en in ʼn inheemse taal bedryf word, is Afrikaans-Vriendelik. Dié veldtog het ten doel om entrepreneurskap in Afrikaans te bevorder deur gratis bemarking aan Afrikaanse ondernemings en diensverskaffers te bied. Dit is in 2016 bekend gestel en trek vandag  ʼn nuwe baadjie aan. Afrikaans-Vriendelik word een van vyf inisiatiewe van AfriVriendelik. Ander inisiatiewe sluit in ʼn aanlynkletskamer vir AfriForum-lede en entrepreneurs, bemarkingsopleiding, die jaarlikse Tinteltong toekennings asook ʼn entrepreneurskompetisie.

Untitled 4

Untitled 3

Die 11de uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) is op 3 Augustus 2017 bekendgestel – 100 jaar nadat vir Afrikaans hierdie standaardnaslaanbron vir spelling en skryfwyse die lig gesien het. Die jongste uitgawe is saamgestel deur die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, terwyl dit uitgegee is deur NB-Uitgewers onder die Pharos-handelsmerk.

Die 2017 AWS sluit talle nuwe woorde in wat die tydsgees en breër Afrikaanse taalgemeenskap weerspieël. Reëls is ook verander en vereenvoudig om Afrikaanse spelling en skryfwyse meer sistematies en dus makliker te maak. “Afrikaans is ’n dinamiese taal wat deurlopend ontwikkel en die jongste AWS is ’n opwindende, lewende bewys hiervan,” sê prof. Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie.

Onder die nuwe toevoegings tot die 2017-AWS tel woorde wat te make het met tegnologiese ontwikkelinge, soos googleloer, hommeltuig, meem, warsender, antispioenware, selfie en skermgreep; woorde wat ontwikkeling in die samelewing weerspieël, soos bewarea, BRICS-land of Bricsland, bystanddood en hidrobreking. Leenwoorde of nuutskeppings waarvoor daar nie Afrikaanse woorde is nie, soos brownie, Chanoeka, muffin, nurk (die geluid wat seekoeie maak), venue en flop is ook ingevoeg. Voorts is heelwat nuwe woorde uit gebruiksvariëteite van Afrikaans, soos sg. Kaapse Afrikaans en Oranjerivier-Afrikaans ook opgeneem, bv. antie, dhaltjie, gangster en poenankies (oulik).

Wat spelling en skryfwyse betref, is reëls wat verander onder meer dat afstandsamestellings voortaan slegs mét ’n koppelteken geskryf word (hoof- uitvoerende beampte, reuse- politieke vergadering), en dat die integriteit van multiwoordeiename in samestellings en afleidings behou word (Derde Wêreldse in plaas van Derdewêreldse; Konstitusionele Hof-regter of Konstitusionele Hofregter in plaas van Konstitusionelehofregter).

Nuwighede sluit in ’n hoofstuk oor leestekengebruik in Afrikaans, die bereëling van trappe van vergelyking, ’n lys Oosterse plekname, landname met geldeenhede en ISO-kodes, en die Afrikaanse name van elemente in die periodieke tabel. Skryfhulp word ook nou vir die SI-stelsel verskaf.

Die nuwe AWS is volledig omgeskakel in digitale formaat, met behulp van Pharos Woordeboeke, Tswane DJe en die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) van die Noordwes-Universiteit.

Vir meer besonderhede, volg hierdie skakel.

Die uitvoerende hoof van Maroela Media Susan Lombaard het 'n insiggewende verslag op die Internet gepubliseer oor Afrikaanse leserstalle, wat in die eerste plek daarop dui dat die Afrikaanse lesersmark die afgelope jaar aansienlik gegroei het. Dit is hoofsaaklik omrede daar 'n groeiende verskuiwing was van Afrikaanse lesers van die gedrukte media na Afrikaanse digitale platforms.

Sy sê in haar verslag: “Indien mens in isolasie na die nuutste ABC-sirkulasiesyfers vir Afrikaanse gedrukte media kyk, sien jy dat die sirkulasiesyfers van koerante en tydskrifte onrusbarend vinnig val, met koerante wat 'n daling van 9% toon. Neem jy egter digitale syfers van dieselfde publikasies ook in oënskou, is die prentjie vir Afrikaans uiters positief.” Lombaard wys daarop dat die tendens is dat Afrikaanse gedrukte media vir hulself digitale modelle skep, wat i.t.v. inkomste opmaak vir die verkiese van die gedrukte media.

Terselfdertyd het Maroela Media, met ‘n gemiddelde maandelikse unieke leserstal van 1 416 445 vir die eerste kwartaal vanjaar, ook geskep uit die lesers wat Afrikaanse media verlaat het. Daar het dus 'n kruisbeweging van Afrikaanse lesers na verskillende digitale digitale platforms plaasgevind, met terselfdertyd nuwe Afrikaanse digitale lesers wat bygekom het. Die somtotaal is dat daar meer Afrikaanse lesers is as ooit.

Vir die volledige verslag van Lombaard, volg hierdie skakel.

Uit 400 LPs moes die ondersteuners van die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma 'n meerderheid van 200 + 1 = 201 stemme ten gunste trek. Met dié wat afwesig was en buite stemming gebly het, het 177 vir die mosie gestem en 198 daarteen, wat beteken dat die mosie nie aanvaar is nie en dat Zuma dus in sy amp bly.

21 ANC LPs het ook teen die mosie gestem ondanks hul party-instruksie, terwyl nege uiteenlopende opposisiepartye verenig het in hul teenkanting teen Zuma en steun vir sy ontslag. Andries Plouhamma van Agang SA het gesê: “Met sy ontelbare skandale kan hy pryse in die tronk wen. Zuma is erger as diegene wat Ruth First en Chris Hani vermoor het. As pres. Zuma die mosie oorleef, is ons waarlik op die hoofweg na die hel.”

Die spanning in die Stille Oseaanstreek het die hoogte in geskiet met die nuus dat die Noord-Koreaanse leier Kim Jong Un sy dreigemente bewaarheid het en 'n mini-kernplofkop ontwikkel het waarmee hy minstens die Amerikaanse eiland Guam kan bykom, insluitende die Amerikaanse Andersen Lugmagbasis. Noord-Korea het die afgelope tyd telkens 'n inter-kontinentale ballistiese missiel getoets en is openlik besig om die VSA en Japan te tart.

Op die jongste aankondiging het pres. Donald Trump met opmerklike woede gereageer en gesê: "North Korea best not make any more threats to the United States. They will be met with fire and fury like the world has never seen." Japan het ook gesê dit is uiters bekommerd oor hierdie verwikkelinge, terwyl aandelemarkte skerp gedaal het.

Oor die algemeen word aanvaar dat Kim Jong Un en sy diktatoriale bewind ongeëwenaard in die wêreld self nie oor die vermoë beskik om gesofistikeerde wapentuig te vervaardig nie en dat hy onder die kombers deur moondhede en multinasionale korporasies van die nuutste tegnologie voorsien word. In hierdie verband word vingers veral na China en sekere Westers-gebaseerde maatskappye gewys.

Pres. Recep Tayyip Erdoğan van Turkye is besig om sy land met 'n spoed in 'n diktatuur te omskep in opvolging van die mislukte staatsgreep verlede jaar. Duisende staatsdienspersoneel, politieke opponente en straatbetogers is in hegtenis geneem en word steeds sonder verhoor aangehou. Die Turkse parlement is opgeskort, terwyl verskeie mediahuise gesluit is en beperkings geplaas is op openbare vergaderings. Die afgelope 12 maande is ook minstens 15 universiteite gesluit en hul eiendom gekonfiskeer. Erdoğan gebruik artikel 301 van die Turkse Strafkode wat beledigings van die “Turkse karakter” kriminaliseer om mense op allerlei aanklagte in hegtenis te neem. Hierdie ongekende outokratiese optrede van Erdoğan ontlok opmerklik min kritiek vanaf Westerse lande.

In 'n mediaverklaring sê die VF Plus: “Al is daar bewyse dat Bell Pottinger narratiewe soos ‘wit monopolie-kapitaal’ (WMK) geskep het en selfs daaroor om verskoning gevra het, misbruik die ANC dit nogtans om wittes die skuld te gee vir die ekonomiese krisis in die land en die skade wat aangerig word weens regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB). Terwyl swartmense lank reeds deur RA en SEB bevoordeel word ten koste van wittes, het die woord wit monopolie-kapitaal nou ongelukkig ʼn populistiese narratief geword.

“Die oogmerk hiermee was om verdeling te skep om te verseker dat persone en faksies in die ANC in beheer bly van die magshefbome om toegang tot die staatsbeursie te verkry en om die aandag af te lei van die staatstroping. Dit rig enorme skade aan, nie net wat rasseverhoudinge in die land aanbetref nie, maar dit stuur ook ʼn negatiewe boodskap aan enige voornemende wit belegger in Suid-Afrika.”

Minder as 'n week voor die stemming in die Nasionale Vergadering op komende Dinsdag 8 Augustus 2017 moet plaasvind oor die mosie van wantroue in die presidentskap van Jacob Zuma, het speaker Baleka Mbete nog nie gesê of dit per geheime stemming gaan plaasvind of nie. Vroeër het die Grondwethof gesê dat dit haar mandaat is om hierdie beslissing te neem.

Indien al die opposisiepartye vir die mosie stem plus 50 van die 249 ANC LP’s, sal die mosie slaag en moet Zuma en die hele kabinet summier bedank en word Mbete as speaker die waarnemende president totdat die voorgeskrewe grondwetlike proses gevolg is vir die verkiesing van 'n nuwe staatspresident. Inmiddels het EFF leier Julius Malema aangedui dat hy met ten minste 60 ANC LP’s gepraat het wat ten gunste van die wantrouemosie sou wees.

Vrystaat premier Ace Magashule en huidige voorsiter van ANC in die provinsie word uitgedaag deur sy adjunk Thabo Manyoni, voormalige uitvoerende burgemeester van die Mangaung Metro. Dit blyk dat die twee tans in 'n dodelike tweestryd gewikkel is om die nodige steun te verwerf wat betref politieke beheer oor die Vrystaat. Dit is so erg dat die ANC-leierskapkonferensie wat 10-13 Augustus in Parys sou plaasvind, uitgestel is omdat sg. takoudits nog nie voltooi is nie.

Intussen blyk dit dat bv. die Suid-Vrystaatse takke van die ANC op enkele uitsonderings na vir Manyoni steun. Dit word aanvaar dat Manyoni ook ten gunste van Cyril Ramaphosa is as volgende ANC-president. Magashule is natuurlik een van die hoofluitenante van Zuma.  

Te midde van die oorverhitte debat oor grond in SA, is die Wetsontwerp op Landbougrondbesit pas vir kommentaar gepubliseer. Die wetsontwerp het ten doel om o.m. grondplafonne vir kommersiële plase in te stel en beperkings te plaas op die besit van landbougrond deur buitelanders.

Ander bepalings van die wetsontwerp is dat grondeienaars van landbougrond gedwing kan word om inligting oor hul grond en hulself, soos hul ras, te verskaf. Grondplafonne is primêr gemik op die herverdeling van grond deur die hoeveelheid grond wat individue mag besit, te beperk.

Die voorstelle op die tafel vir grondplafonne is vir kleinskaal kommersiële plase 1 000 ha, mediumskaal kommersiële plase 2 500 ha en grootskaal kommersiële plase 5 000 ha. Daar is egter 'n spesiale kategorie vir wild-, bosbou- en hernubare energieplase van tot 12 000 ha.

Lande waar grondplafonne al toegepas is, maar in elke geval misluk het, is o.a. Egipte, die Filippyne, Indië en Pakistan.

Inmiddels toon statistieke van die WWF-SA dat 20% van plase in SA produseer 80% van alle voedsel in die land, terwyl slegs 69% van alle landbougrond geskik is vir weiding, slegs 13% geskik is vir gewasverbouing en slegs 3% word as besonder vrugbaar gekategoriseer. Insiggewend is dat tans meer as 20 000 kommersiële plase in die land in die mark is.

Bladsy 1 van 16

Barnard Bouers

wow kitsblits