Orastad 2

Glybanier

-►Gruwelike en Godskreiende rassistiese dubbele standaarde -►Plaasmoorde is terreur en nie bloot misdaad nie – AfriForum -►Opstand teen plaasterreur: Landswye vloedgolf -►Dave Miller vinnigste 100tal in T20 krieket – vanaf net 35 balle -►WP Curriebekerkampioene 2017 – steeds die beste SA rugbyreeks -►Nuwe boek “The President’s Keepers” onthul Zuma as “gangster” -►Groot vragmotor ploeg in Swart Maandag-optog in

Skreiende blanke armoede: Voorgestelde opheffing

Die ontsettende skreiende armoede waarin talle blankes, veral Afrikaners, in Suid-Afrika verval het, het grafies weer onder die aandag gekom met 'n verslag wat Daniël Lötter van Front Nasionaal in Pretoria oor die Munsieville blanke plakkerskamp getiteld Waar ‘n volk sy skaamte weggegooi het, geskryf het en wat op sosiale media versprei is.

Hierdie verslag is deur Ditsem Nuus op sy webwerf en Facebook-blad gepubliseer en het 'n stortvloed van reaksie ontlok dit het die besoekerstelling op elk van hierdie twee digitale media opgejaag van ongeveer 2 500 per maand na sowat 30 000 in vier dae. Die positiewe reaksie, wisselende vanaf diepe empatie tot daadwerklike aanbiedinge om hulpverlening, roep duidelik na 'n gekoördineerde en volhoubare oplossing vir die langtermyn.

Ten einde die aangeleentheid van Afrikaner-armoede en morele verval in perspektief te kry en dit op 'n effektiewe hanteerbare wyse aan te bied, het Ditsem Nuus hierdie beskeie gepoogde omvattende memorandum opgestel. Dit bevat 'n verkorte weergawe van die genoemde Munsieville-verslag, tesame met geag te word toepaslike bywerkings.

Die grootste oorsaak van die huidige tragiese verval van 'n groot deel van die Afrikanervolk is sg. regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat sedert 1994 stelselmatig in 'n veelvuldige, doelgerigte regeringsprogram verpak is, met die doel om die blanke uit die hoofstroom van die landsekonomie te druk. Dit het gelei tot ongekende sosio-ekonomiese verval onder groot dele van hoofsaaklik die Afrikaner-gemeenskap en die verskyning van talle blanke plakkerskampe en ander armoedige nedersettings.

Volgens Solidariteit Helpende Hand was daar enkele jare gelede reeds 600 000 blankes in armoede in die land, met 131 000 gesinne wat dringend hulp benodig en wat toeneem teen 'n koers van sowat 7 500 gesinne per jaar oftewel 650 gesinne per maand. Die situasie herinner onwillekeurig sterk aan die treurige sosio-ekonomiese omstandighede waarin die Afrikaner in die eerste vier dekades van die vorige eeu verkeer het, nadat die volk in wording moes herstel van die verwoesting van die Anglo-Boere-Oorlog, gevolg deur die nagevolge van die Eerste Wêreldoorlog en die Groot Depressie.

Destyds het leiers egter op verskillende terreine in Afrikanergeledere inisiatief geneem en in 1916 die Helpmekaarfonds gestig waardeur begin is om Afrikaners letterlik pennie vir pennie ekonomies en maatskaplik op te hef. In 1929 het die regering die Carnegie Kommissie benoem om ondersoek te doen na steeds haglike sosio-ekonomiese toestande en die Carnegie-verslag in 1932 het baie gedoen om rigting te gee aan opheffing op verskillende gebiede.

Dit het weer aanleiding gegee tot die hou van 'n Volkskongres in Oktober 1939, waaruit die Reddingsdaadbond met die leuse 'n Volk red homself twee maande later in Desember 1939 gestig is. Laasgenoemde het as voertuig gedien vir die sneeuballende opkoms van die Afrikaner in die tweede helfte van die 20ste eeu.

Wat baie gehelp het om momentum te gee aan die sosio-ekonomiese opstaan van die Afrikaner, was die gepaardgaande opkoms van Afrikaner-nasionalisme in die vorige eeu, en wat gekulmineer het in die konsolidasie van volkome politieke seggenskap in 1948 en veral in die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika in 1961. Die Afrikaner as volk het 'n bloeihoogtepunt onder dr. HF Verwoerd in 1966 bereik, maar met sy sluipmoord in dieselfde jaar het die Afrikaner eenvoudig op 'n afdraandepad begin gaan.

Dit het stelselmatig uitgeloop op die roemlose magsoorname aan ‘n ANC-regering in 1994, wat aanvanklik onder pres. Nelson Mandela gehuldig is as 'n wen-wen politieke skikking. Ná sy uittrede is die euforie van 'n reënboognasie geleidelik verwater deur 'n toenemende vyandiggesinde regering met sy toepassing van sg. regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en rassekwotas op elke terrein.

Onder pres. Jacob Zuma is sedert 2009 die remme van die anti-blanke veldtog losgemaak, terwyl eskalerende korrupsie en wanbestuur die eens trotse land in 'n moeras laat ingly het. Die res is geskiedenis en dit is waar ons vandag staan.

Teen hierdie agtergrond lees vir rekorddoeleindes 'n verkorte weergawe van die genoemde Munsieville-verslag soos volg:

Waar ‘n volk sy skaamte weggegooi het

  • Daniël Lötter

Nog nooit in my lewe het enigiets wat ek moes skryf, soveel van my geverg nie, dis wat in Munsieville by Krugersdorp aangetref word. Dit was op ‘n tyd ‘n ashoop – ‘n plek waar mense vuilgoed weggegooi het. Nou is dit mense wat daar weggegooi is.

 

Bejaarde mans met verrimpelde hande. Kinders met groot oë… net oë waarin daar niks uitdrukking meer is nie. Kinders wat na dinge kyk sonder om in te neem wat hulle sien, want dinge rondom hulle is maar net daar, dit het geen nut nie.

 

Uit die maalkolk van die menslike gang aan die Gautengse Wes-Rand het hulle hier uitgespoel. Die man in die sinkhok – wat op ‘n afstand lyk soos die tipiese hok wat op ‘n boereplaas staan vir die werfhond. Maar dis ‘n mens wat daarin skuiling maak.

 

Die man wat geopereer is vir ‘n breuk, maar die wond is nou oop. 13 cm lank, 5 cm wyd en stinkend van die verswering van septisemie. “Het jy vir my pleisters gebring?” vra hy. “Ek gee hom nog ‘n week,” sê die ou man wat saamloop. “Dis die vyfde een vanjaar. Hulle wonde raak septies en hulle sterf.”

 

Nie ver daarvandaan is ‘n skuiling waarin twee bejaardes woon. Hulle het albei meer as 70 lewensjare agter die rug. In Zimbabwe was hy ‘n welvarende man, ‘n loodgieter. Maar hy is daar verdryf en hy kon nie sy voete hier weer vind nie. Die vrou lê. Sy het nie meer voetsole nie, die onderkant van haar voete is ‘n gistende wond. Maar die klinieksusters kom nie na hierdie plek toe nie. Sy moet gestut word om aan te sukkel tot waar ‘n taxi haar kan oplaai en by ‘n staatshospitaal gaan los.

 

En die klinieksusters is nie die enigste wat hier wegbly nie. “Die vrou daar oorkant se man is ‘n rukkie terug dood,” sê die ouman wat saamloop. “Die predikante wou nie hierheen kom om te help nie. Ons het een van die swart pastore wat in die veld kerk hou gevra om hom te begrawe.”

 

Tussen die klippe speel ‘n klompie kinders. Dis ‘n moedelose spel, sonder doelwit of rede. Hulle ken selfs die mees basiese vaardighede nie, want wanneer anders kinders leer om te tel deur ‘n ma wat sê: “Gaan haal vir my 3 eiers” of “Hardloop gou kafee toe met hierdie R20 noot en koop ‘n brood. Kyk dat jy die regte kleingeld kry,” leer hulle dit nie aan nie. Hier is selde drie eiers om te gaan haal en R20 is ‘n fortuin wat hulle nie ken nie.

 

Die kinders speel in Afrikaans, dis asof die woorde van hulle spel wegskram van hierdie verrotte aarde af. Dis nie ‘n taal wat jy op ‘n ashoop wil hoor nie. Daar is geen skaduwee nie, geen bome of struike nie, geen vrugbare grond vir groente nie, geen water om dit mee nat te maak nie. Dis net die glansende wit son bo hulle wat hierdie spel waarneem. En tog speel hulle…

 

Dit is die teenstrydigheid, die harde afbakening van realiteite wat ‘n mens die diepste tref wanneer jy hier loop. Die opslaankaia wat pynlik netjies en skoon is met die handgeskrewe kennisgewing langs die deur: “Hier klop jy voor jy inkom”. Nie omdat daar iets in is om weg te steek nie – op hierdie ashoop van menslike verval kan niks weggesteek word nie. Maar omdat die enigste anker nog die laaste bietjie selfrespek en eiewaarde is.

 

“Voor een van die skuilings staan ‘n lamlendige houtbankie met ‘n dogtertjie daarop. Die krulle van die ligbruin, toutjieshare kleef aan haar voorkop en laag in haar nek vas. Miskien is sy drie, dalk al ses. Sy is vuil met die vuilheid van baie dae en sy hoes terwyl sy klaend na haar ma roep. “Die ma is netnou hier weg saam met die Nigeriërs, sy sal terugkom met geld en kos vir die kleintjie na vanaand se kant toe,” sê die ouman wat saamloop.

 

Wanneer sy vanaand terugkom sal sy oorstap na die saamgebondelde kaias en hop-huise waarin die swart inwoners van hierdie plek woon. Hulle het darem water en toilette. En daar sal sy ‘n kom water bedel om die stank van misbruik van haar liggaam af te was. Almal doen dit – want die lopende water en toilette wat hulle drie jaar gelede beloof is, het nog nooit gekom nie.

 

Sy sal haar liggaam daarmee was, maar die etterende sweer aan haar gees sal sy nie kan genees nie. Dit het al té stukkend geraak. En die dogtertjie sal volgende jaar 4 jaar oud wees, en dan 5 en dan 6 en niemand weet wanneer die eerste keer sal wees dat ‘n Nigeriër hom aan haar vergryp nie. Want daar is niemand wat dit sal kan keer nie.

 

‘n Mens ry nooit terug na ‘n ashoop om te gaan kyk wat het geword van die goed wat jy weggegooi het nie. En dit is dalk die verskriklikste aanklag van alles – niemand kom hierheen om te kyk wat het geword van sy broers en susters wat weggegooi is nie.

 

Ek ken my kollega, Lenel Cotty Wessels van Front Nasionaal, ‘n sakevrou, ‘n beplanner, ‘n doener, ‘n strateeg, maar toe sy my gisteraand bel kon ek hoor dat sy emosioneel hard getref is. Sy het gery na dié plek om te gaan kyk hoe lyk die realiteite van blanke armoede. En sy het ‘n kykie gehad in die ingangsportaal van hel op aarde….

Op die Internet is meer inligting oor Munsieville beskikbaar en het Ditsem Nuus aan die hand daarvan vir Amanda de Lange van Krugersdorp en VF Plus-raadslid van die plaaslike munisipaliteit per epos gevra vir haar inset, wat sy insiggewend en, verkort, soos volg gegee het:

Ek kom reeds die afgelope 11 jaar saam met die aanvanklike blanke inwoners van Munsieville wat voorheen eers in Kroningspark  gewoon het maar d.m.v.‘n hofbevel na Munsieville verskuif is einde van 2014.

 

Drie maande nadat die grootste gros mense na Munsieville verskuif is en in haglike omstandighede in papierdun 3 x 3 m sinkstrukture geplaas is, het ek ‘n afvaardiging van die MRK (Menseregtekommissie) daar gehad na ‘n klag wat ek ingedien het.  Die uitslag was dat Mogale City behoorlike behuising met water aan die gemeenskap moes verskaf.  Ongelukkig het die gemeenskapsleier dit op daardie stadium van die hand gewys met die bewering dat hulle nie probleem het met die situasie nie.

 

Die getal wit inwoners van Pongoville, soos die area bekend staan, het intussen drasties gegroei en die omgewing het van eens karig en ontoereikend na ‘n plakkerskamp in die ware sin van die woord verval met vullis, vuil kinders, vermaarde diere en dikwels siek inwoners.

 

Deur die jare was daar verskeie prominente hulporganisasies en vrywilligers wat gekom en gegaan het – om verskeie redes.  Ek was self aktief onder die inwoners, maar moes ongelukkig ook onttrek en op hierdie stadium hou ek slegs ‘n oog oor die verwikkelinge.

 

Daar is steeds groepe vrywilligers en skenkers wat deurgaans kos en klere neem en kerkgroepe wat na die emosionele sy omsien.  In hoe mate die geskenkte kos, klere en meubels die mense bereik, sal ek nie kan sê nie. In die gevalle waar skenkers die pakkies en ware self aan die inwoners uitdeel, word daar uiteraard meer waarde toegevoeg.

 

Irene (Abbott) van Niekerk wat saam met haar man Hugo, die afgelope 11 jaar as gemeenskapsleiers vir die wit ‘plakkers’ opgetree het, is onlangs oorlede.  Uiteraard het dit ‘n groot emosionele impak op die inwoners gehad, vir welke rede ookal, maar hulle stryd om oorlewing bly hul eerste prioriteit.

 

Ek het kort na hulle intrek gereël dat daar ‘n mobiele kliniekdiens beskikbaar is vir die siek- en oumense wat nie vervoer of fondse het om na ‘n kliniek of staatshospitaal te gaan nie.  Volgens Mogale City (Krugersdorp) gesondheidsdepartement verkies die mense egter om apteek en staatshospitale toe te gaan.

 

Onder die omstandighede oorleef die mense op hulle manier, maar hulle lewensomstandighede is werklik nie aanvaarbaar nie.  Daar is ongelukkig geen alteratief op die stadium beskikbaar nie en elkeen maak maar sy ‘huis’ en omgewing so gemaklik moontlik.  Hoewel daar ook heelwat struwelinge onder hulle heers, is dit tog ook ‘n groep mense wat saamstaan wanneer dit moet. 

 

Die aanvanklike vrese dat daar probleme met hulle anderskleurige mede-inwoners ondervind gaan word, is gelukkig niks meer as net vrese nie.  Daar heers ‘n tipe van gemeensaamheid tussen al die verarmdes in hulle gedeelde nood, behalwe as daar vuisgeslaan word by die sjebeens.

 

Daar is natuurlik ook diesulkes wat ‘n nederige werkie het en moeite doen met hulle woonplekke en sommiges het selfs ‘n klein tuintjie met groente en ‘n boompie of twee.  Dit is nou nie jou tipiese suksesstorie nie, maar hulle oorlewingsdrang en deursettingsvermoë onder omstandighede is merkwaardig. 

 

Ons maak seker dat die skoolgereed kinders by die naaste skole ingeskryf word aan die einde van die jaar en ek het kontak met die skole om uitsonderlike probleemgevalle te identifiseer vir hulp van watter aard ookal.  Baie van die kinders moet remediërende onderrig kry.  Die kinders is almal op die skole se ‘sopkombuis’ lyste om ten minste seker te maak dat hulle een basiese ete per dag kry.  Vakansies is natuurlik ‘n ander storie, maar daar is by tye groepe vrywilligers wat een of ander vakansieprogram aanbied om die kinders te stimuleer en besig te hou.

 

Die pogings mag klink na iets maar inderwaarheid is dit werklik nie veel of genoeg nie.  Ons kan ongelukkig nie wegkom van die realiteit dat toenemende verarming onder blankes ‘n realiteit is en daar eenvoudig nie ‘n plan B is om dit te bekamp nie.  Munsieville se ‘wit plakkers’ oorleef letterlik van dag tot dag op hulle besonderse manier terwyl fisiese en emosionele verwaarlosing sy tol eis.  Grootmense en kinders, hulle is almal vuisvoos van armoede en konstante swaarkry.

Munsieville is slegs 'n gevallestudie en is daar veel meer sulke voorbeelde van Afrikaner-verval, asook wat uit talle oorde gedoen word om dit teen te werk en mense maatskaplik op te hef. So bv. het Solidariteit Helpende Hand al groot werk gedoen, terwyl individue soos Gideon van Deventer van Welkom met sy Projek Nehemia ook feitlik voltyds daarmee besig is. Daar is ook ander projekte, maar dit is ongekoördineerd.

Die glansboek Gebroke Land deur Kraal Uitgewers met dr. Danie Langner as redakteur gee uitstekende inligting en foto’s van Afrikaner-armoede sedert 1902 tot en met 2009. In November 2015 het dr. André Dannhauser 'n insiggewende skripsie vir 'n honneursgraad in berading uitgebring getiteld Afrikanerarmoede: 'n Pastorale reaksie.

Dit is egter so dat hulpverlenigingsprojekte nie op 'n landswye basis gekoördineerd is nie, terwyl dit duidelik is dat die probleem tans eenvoudig onder die hulpverlening uitgroei. Daar is huidig nie betroubare syfers oor die omvang en graad van blanke armoede en verval nie, maar na raming kan die aantal blankes tans in armoede in die land tussen 800 000 en 1 miljoen, of selfs meer, beloop.

Met blanke armoede gedurende die eerste vier dekades van die vorige eeu was die Afrikaner egter in die gunstige posisie dat die politieke hefboom in sy hande was, maar vandag is hy polities ontmagtig. Toe kon die Afrikaner regeringshulp monster, maar vandag is hy op sy eie genade aangewese.

Die groter werklikheid in hedendaagse Suid-Afrika is natuurlik dat volgens 'n pasvrygestelde verslag van StatsSA leef sowat 30,4 miljoen mense in die land in armoede, oftewel 55,5% van die bevolking. Die getal mense wat onder die 2015-broodlyn van R441 per maand leef, het met 2,8 miljoen toegeneem - vanaf 11 miljoen in 2011 tot 13,8 miljoen in 2015.

Vir die huidige en die pad vorentoe is die volgende brandende vrae:

  • Wat nou gedoen om Afrikaner-armoede en sosio-ekonomiese verval volhoubaar en vir die langtermyn te remedieer?
  • Erken die Afrikaner homself nog hoegenaamd as 'n volk in eie reg?
  • Gaan ons die huidige situasie so laat voortdryf met die kanker al groter wordend en die Afrikaner as volk al hoe meer geërodeer?
  • Of gaan daar 'n omvattende en gekoördineerde inisiatief uit eie geledere kom om eietyds die bul by die horings te pak onder weereens die leuse 'n Volk red homself?
  • Watter ander voorstelle is daar ter oplossing vir die Afrikanervolk?

Na die mening van Ditsem Nuus lê die oplossing daarin om die groter prentjie ook raak te sien, nl. dat benewens blanke armoede, ook verbandhoudende aspekte daadwerklik soos die doelgerigte geweldsmisdaad teen blankes, veral wreedaardige plaasmoorde; aanslag teen Afrikaans; rassekwotas op elke terrein; skool- en tersiêre onderrig; beswaddering van die karakter van die Afrikaner deur elke Tom, Dick en Herrie; ens. – ja, die onverklaarde burgeroorlog teen blankes en in besonder die Afrikaner – daadwerklik aangespreek word.

Waarskynlik is die eerste stap 'n eietydse Volkskongres vir Afrikanerleiers wat kan, wil en opreg is. Dit alles benewens verootmoediging voor God alleen en onwrikbare geloof in Hom.

Destydse president van die Vrystaatse Republiek MT Steyn het gesê: “Kan de eene Afrikaner neutraal blijven wanneer de andere voor Afrika sterft?” Genl. CR de Wet het ná die Anglo-Boere-oorlog op besoek aan Brittanje en Europa om hulpverlening te werf vir die verwoeste republieke, gesê: “Ek sal eerder op die ashoop saam met my volk swaarkry as om in die paleise van koninklikes te wees.”

Ditsem Nuus self, in bedryf sedert 2008 en gebaseer te Orania sedert 2015, het in 2011 in Erlichpark, Bloemfontein, met Projek Opstaan begin om uiters behoeftige kinders, veral voorskools en laerskool, te help. Die projek is daarop gemik om mense te help om hulself te help. Die projek het as vertrekpunt die redding van siele vir die Koninkryk van Christus, terwyl die projek verder fokus op terapeutiese programme vir kinders, liefde vir hulle, ouerleiding, werkskepping en entrepreneurskap.

Terselfdertyd is ’n breër teoretiese model getiteld VIS oftewel Volksinisiatief vir Selfhelp opgestel. Dit is beskikbaar vir ontleding en moontlike verwerking.

Dit dien ook genoem te word dat te Orania as uitstekende model vir praktiese en volhoubare Afrikaner vestiging, die afgelope 26 jaar verskeie beste praktyke ontwikkel is en steeds in proses van ontwikkeling is. Uit hierdie ervaring kan met vrug geput word.

Dit bring die vraag na vore: Wat is die beste oplossing vir die huidige situasie van Afrikaner-armoede en morele verval in SA? Die antwoord lê voor die handliggend nie in pleisters plak op die simptome van ’n ernstige en uitgebeide siekte nie, maar in indringende behandeling van die oorsake.

Derhalwe die volgende basiese voorstelle:

  • Die uitgangspunt behoort vyfledig te wees: Eerstens, pak alles aan in Naam van God Drie-enig; tweedens, erken dat jy lid is van die Afrikanervolk, met respek vir ander identiteite; derdens, ’n volk red homself; vierdens, moenie net ’n vis gee nie, maar leer om self te vang; en vyfdens, Afrikaners moet hul kleinlike verskille los en begin saamstaan soos nooit tevore nie.
  • Die loods en koördinering van aksies op ’n streeks- en plekbasis ter noodleniging, hulpverlening en opheffing.
  • Die intensiewe bevordering van Afrikaner-entrepreneurskap en alles wat daarmee saamhang.
  • Die stigting van ‘n Afrikaner Ondersteuningsfonds, behoorlik gegrond en geoudit.
  • Die hou van 'n Volkskongres van alle bona fide belanghebbendes binne die volgende nege maande.
  • Die opstel van 'n 10-puntplan vir Afrikaner-maatskaplike opheffing en waaraan basiese relevante aspekte gekoppel word.
  • Implementering gekoppel aan begroting, tydskaal en getaaktes.

Kommentaar op hierdie memorandum kan gelewer word op www.ditsem.net of die Facebookblad van Ditsem Nuus. Deelname en aanbiedinge vir hulpverlening kan ook op hierdie platvorms bevestig word. Op www.ditsem.net is ook 'n spesiale afdeling getiteld Afrikaner-opheffing – volg hierdie skakel:

Johann Dannhauser
REDAKTEUR

051 436 0552 - 082 773 2150

Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. | www.ditsem.net

P de B Kockstraat 7 • Universitasrif • Bloemfontein

Oranje Eggo S39 • Orania

Gradeer die artikel
(1 Vote)

Ora betonwerke proef Sept 2017

Artistia Food

Renosterberg lodge