Tinus Nortje Eiendomme proef April 2017.jpg

Nee, hy lewe nog dat dit vrek, dankie. Só sou oom Frikkie altoos sê, sou jy hom vra hoe dit dan gaan. “Ek lewe nog dat dit vrek.” Of sou jy hom langs die pad raakloop en vra waarheen hy dan op pad is, sou oom Frikkie sê: “Nee, ek stap sommer vir 'n walk.”
Die sêgoed van ons mense gee aan hulle 'n unieke identiteit. Dit is die sêgoed wat ons onthou as ons aan die mense uit ons verlede en ook in ons hede dink. En hierdie taal, Afrikaans, leen hom by uitstek tot die skepping van pittige sêgoed deur die verbeeldingryke mense wat dit praat.
Of my vriend Louw se reaksie toe iemand hom op 'n dag daarop wys dat hy wat Louw is, totaal en al verkeerd is oor 'n sekere saak: “Jaa, maar jy moet onthou,” sê ou Louw,“dit is elke mens se onvervreembare reg om so nou en dan 'n gat van homself te maak.”
En as ek aan 'n gemeenskaplike vriend Keppies dink, dan onthou ek hoe hy homself destyds altyd aan meisies voorgestel het as daar bladgeskud word: “Louis Keppies Roux, as jy my nie glo nie, kan jy proe.”
Ewe pittig was vriend Proppie toe hy op 'n dag in 'n hotel gevra word hoe hy in die oggend van sy eiers hou: “Liggies gekrap met die naels, asseblief.
By die Johannesburgse skou loop ek eendag ná jare weer vir oom Attie by die beesbeoordeling raak. Toe ek wil weet hoe dit dan met hom gaan, kyk hy my stip aan met sy blou oë en sê: “Nee, vader tyd is maar 'n gemene ou bliksem, weet jy?”
Ek onthou ou Wim wat altyd gekla het dat daar “te veel maand oor is aan die einde van sy geld”. En ou Penne, my skooltydse houtwerkonderwyser wat tot vervelens toe gewaarsku het dat ons nie “veiligheidsreëls per ongeluk moet leer nie”.
My oorle oupa Boy het dit gehad teen iemand wat “só onnosel is, dat hy met sy vinger moet voel waar sy agterent is”. En dit was my oom Bob wat gesê het 'n sekere prokureur is so skelm dat hy onder 'n skuilnaam bid.
Oom Koot wat aan Pa gesê het: “Die mielies staan vanjaar so mooi, dit is eintlik lelik om te sien.”
Afrikaans en sy kultuur - enig van sy soort in die wêreld!

Die toekoms van Suid-Afrika én van Afrikaans is in die hande van toekomstige geslagte en daar moet moeite gedoen word om ‘n liefde vir die taal en die land by jongmense te kweek. Dít was die boodskap by die ATKV se algemene jaarvergadering wat verlede maand by ATKV-Klein-Kariba gehou is. Juis vanweë die fokus op jongmense is ‘n groot getal van die ATKV se projekte op die jeug en jong volwassenes gerig, aldus dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: Kultuur van die ATKV. “Kultuurprojekte, soos dié van die ATKV, slaag daarin om polarisasie natuurlik te deurbreek en om mense bymekaar te bring,” het hy gesê. Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, het in sy toespraak benadruk dat die ATKV ook sterk fokus op onderwys in die land. Volgens Gouws onderpresteer meer as 80% van SA se 24 000 privaat- en openbare skole, of hulle bereik nie die verwagte leeruitkomste nie. ATKV-projekte soos die 1000-skolestrategie, waar ʼn duisend skole oor vier jaar bereik word ten einde die gehalte van dié skole te verbeter, help om dié syfers te verander, het hy gesê. Die ATKV vier vanjaar sy 85ste bestaansjaar. “Hierdie merkwaardige mylpaal is bereik omdat die ATKV oor die jare belangrike strategiese aanpassings gemaak het om relevant te bly. En met meer as 1 000 projekte wat die afgelope jaar deur die ATKV se takke aangepak is, en ‘n 7% toename in ledegetalle, lyk die toekoms van die ATKV, Afrikaans en ‘n gesonde multikulturele samelewing rooskleurig,” aldus ‘n ATKV mediaverklaring.
Negentig jaar in die leeftyd van ’n taal is maar kort: ’n enkele geslag of twee, drie. Maar tog lank genoeg om met dankbaarheid en erkentlikheid terug te kyk. Die erkenning as amptelike taal het ’n dramatiese deurbraak verteenwoordig. Om die “Hollandse” skoene, ’n wêreldtaal, vol te staan, was uitdagend én betekenisvol. 1925 het die grondwetlike waarborg verskaf dat die taal en sy kunsuitinge die geleentheid gebied sou word om verder te ontwikkel, tot die beste wat dit kon bereik. Na 90 jaar, helaas, is grondwetlike waarborge nog net in lippetaal geskrywe. Vandag is dit grootliks die dinamiek en vitaliteit, die buidelende lewenskragtigheid van die Afrikaanse woord-erfenis in letterkunde, musiek en toneel wat die waarborg vir lewe en voortbestaan geword het. Die onus rus volledig op die hartsgebruikers van Afrikaans. As hulle nie bereid is om met daad eerder as met raad (en verwyte en dwarstrekkery) betrokke te raak om Afrikaans en sy strukture in stand te hou nie, is daar geen waarborg vir ’n volgende 90 jaar nie. NALN staan stewig gevestig as die unieke ryk geheue van die Afrikaanse letterkunde, musiek en toneel. Die staat voorsien die absoluut-basiese. Om an hierdie geheue ’n lewende, steeds-groeiende erfenis vir komende geslagte te maak, lê in die hande van die hartsgebruikers: van NALN se belangepubliek. Kom, maak gebruik van ons dienste; word Vriende; word donateurs; help as vrywilligers saam uitbou, opbou en in stand hou. Ons erfenis is die eeue werd!
Die opskrif klink kras, maar indien die volgende huidige toepaslike feite bymekaargesit word, dan is die gevolgtrekking nogal logies: • Die staatspresident van die land, Jacob Zuma, sing gereeld in Zoeloe op openbare byeenkomste “Bring my masjiengeweer, dat ons hulle kan skiet”, terwyl hy sê dat “die moeilikheid in SA begin het die dag toe Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het” en dat “die mense in suidelike Afrika pret gehad het totdat die ‘ander’ gekom het. Hy sê ook dat blankes die grond van swartes gesteel het. • Die veldtog om grond in blanke besit vir swartes af te neem onder die eufemisme “grondhervorming” word onverbiddelik gedryf, met die doelpale wat telkens verskuif word. Die jongste is die voorstelle vir plaasgrond, wat sonder om die georganiseerde landbou daarin te ken, deur die regering aangekondig is en behels dat grondplafonne vir die landbousektor vasgestel word op klein plase tot ’n maksimum van 1 000 ha, middelslagplase 2 500 ha en groot plase 5 000 ha, asook dat geen plaaseienaarskap 12 000 ha mag oorskry nie, uitgesonderd bosbou, wildplase en hernieubare energieplase. Dat hierdie voorstelle duidelik ongrondwetlik is, word deur die regering geïgnoreer. • ‘n Drakoniese stuk wetgewing wat tans in die Parlement ter tafel is, is die Onteieningswetsontwerp wat grondbesit in Suid-Afrika radikaal kan verander en tewens uiters gevaarlik is vir die hoeksteen van eienaarskap van onroerende bates soos gebaseer op die beginsel van vrywillige koper / vrywillige verkoper. Verder, soos dit tans geformuleer is, gee dit die staat feitlik ‘n vrye hand om nie net vaste eiendom, maar ook enige roerende bates, soos huishoudelike artikels, juweliersware, aandele, vervoermiddels, ens., te vervreem. • Nog ‘n soortgelyke voorgestelde wet is die Wetsontwerp oor die Bevordering en Beskerming van Beleggings wat enersyds daarop gemik is om SA se bilaterale beleggingsverdrae met verskeie Europese state te vervang, maar andersyds veel verder gaan en voorsiening maak vir beslaglegging in gevalle op eiendom van burgers sowel as buitelanders, ten einde dit in “voogdyskap vir benadeeldes” te plaas. • In sport word die skroewe teen vrye blanke deelname al stywer aangedraai. Behalwe dat kwotas geld op alle vlakke vanaf internasionaal tot skole, het die Proteas in die afgelope Krieketwêreldbeker die bus verpas omdat ‘n blanke speler op meriete gekies moes terugstaan vir ‘n speler van kleur. Voorts word verpligte kwotas tans uitgebrei van die hoofsporte in SA (sokker uitgesluit), tot nog 17 van die minder bekende sportkodes. Indien nie aan vasgestelde kwotas voldoen word nie, kan internasionale deelname verbeur word. • Die jongste weergawe van die Industrial Policy Action Plan (IPAP) maak voorsiening vir ‘n fonds van R1 miljard spesifiek vir die bevordering van swart nyweraars in SA. Die dokument konstateer dat in die finansiële jaar 2015/16 ‘n Black Industrialists Development Programme gerugsteun deur R1 miljard aansporingsbefondsing van die Department van Handel en Nywerheid van stapel gestuur sal word. • Meer nog, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling Ebrahim Patel het pas aangekondig het dat die Industrial Development Corporation (IDC) aangesê is om ‘n verdere R23 miljard opsy te sit ter ondersteuning van swart nyweraars oor die volgende vyf jaar. Dit vorm deel van R100 miljard pakket wat die IDC moet spandeer ter ondersteuning van nywerheidsontwikkeling teen 2020. • Die Dept van Handel en Nywerheid het onlangs ‘n kennisgewing gepubliseer ingevolge waarvan breë basis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) en werknemers se aandeelhouding in eienaarskapskemas vanaf 1 Mei 2015 ondergeskik gestel sal word aan persoonlike eienaarskap van aandele op die SEB-telkaart. Dit word beskou as ʼn groot terugslag vir maatskappye wat reeds op hierdie basis ʼn deel van die eienaarskap aan swart werknemers of gemeenskapsinstansies oorgedra het. • Volgens ‘n onlangse verklaring van die Kamer van Mynwese het die mynbedryf, danksy die Mining Charter wat geheel en al ingestel is op swart bemagtiging in mynbou in SA, die afgelope 12 jaar waarde van R159 miljard aan swart bemagtigingsvennote oorgedra. • Die werklike betekenis van sowat 1 800 plaasmoorde in die land die afgelope 25 jaar kan ook hier verreken word. • Die ooglopende veldtog om Afrikaans en die Afrikanerkultuur te marginaliseer, o.a. soos tans op universiteitsvlak, behoef geen verdere uiteensetting nie. Die onderwerp is vanselfsprekend wyd oop vir debat, maar hierdie feite uit die daaglikse nuus spreek vir hulself.

“Ons gaan ‘n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare deur die taalhistorikus, prof. J.C. Steyn, vertel die verhaal van Afrikaans as moderne taal. Dit ondersoek die taal se nederige begin in die 19de eeuse koerant, Die Afrikaanse Patriot en lei tot by vandag se trotse taalbakens soos kykNET, Naspers en LitNet.
Dit volg die ontwikkeling van die eerste beskeie Afrikaanse toneelopvoerings tot by hedendaagse kunstefeeste en van die ontstaan van die Genootskap van Regte Afrikaners tot by instellings soos die Solidariteit Beweging.
Die ernstige taalkwessies wat in “Ons gaan ‘n taal maak” ondersoek word, word deurlopend met humoristiese staaltjies en soms treurige anekdotes afgewissel.
Met meer as 200 foto's, 120 feitekassies en 17 hoofstukke waarin die geskiedenis van Afrikaans in ‘n eenvoudige, chronologiese formaat aangebied word, is “Ons gaan ‘n taal maak” enig in sy soort en moontlik een van die omvattendste boeke oor die ontstaan en ontwikkeling van die taal.
'n Uittreksel uit die boek: “Volgens Jan Schutte, skrywer van die radiovervolgverhale Die Du Plooys van Soetmelksvlei en Sondaarspoort, het dié verhale baie byval by luisteraars gevind. Op 'n dorpie naby Johannesburg het 'n ouerige dame tydens 'n biduur gebid dat die hoofkarakter tog gehelp moet word in haar tyd van beproewing. Toe 'n ander karakter in 'n ongeluk was, het talle luisteraars telegramme van meelewing gestuur. Biltong en bottels konfyt is vir die spelers van Sondaarspoort afgelewer.”
Plaas jou bestelling vir “Ons gaan ‘n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare direk by die uitgewer. SMS “Afrikaans” na 34388, stuur ‘n e-pos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of skakel 012 644 4329. (Prys: R395, R80-posgeld uitgesluit)

Dat Afrikaans onder druk verkeer, veral vanaf owerheidsweë, kan nie ontken word nie. Afrikaanse onderriginstellings moet hulle taalbeleid voortdurend verdedig, dienslewering deur staatsdepartemente in Afrikaans is selde beskikbaar en grondwetlike instellings wat die taal moet beskerm, is disfunksioneel.
Onder die omstandighede rus die verpligting op die burgerlike samelewing om ons taal op alle moontlike maniere uit te bou en ons taalregte te beskerm.
Dit is ʼn mite dat Engels die enigste taal is waarin internasionaal mededingend gestudeer en gewerk kan word. Moedertaalonderrig is die beste keuse vir enige student. Afrikaans as hoëfunksietaal is op dieselfde ontwikkelingsvlak as Engels en mense wat slegs in Afrikaans studeer het, beklee vandag van die mees senior poste in die wêreld. Instellings wat Afrikaanse onderrig aanbied, moet dus gekoester en ondersteun word.
Die Afrikaanse gemeenskap moet ook met selfvertroue diens in Afrikaans vra - op ‘n waardige manier, sonder om vyande te maak. Besighede moet weet dat die gebruik van Afrikaans kliënte werf en die staat (insluitend instellings soos die SAUK) moet bewus bly van sy plig om in Afrikaans diens te lewer.
Verder is die skep van eie instellings, byvoorbeeld onderriginstellings soos Sol-Tech en Akademia, asook nuuskanale, bv. Ditsem Nuus, noodsaaklik. Die toekoms van Afrikaans is te belangrik om dit bloot in die hande van owerhede te laat. Sterk onafhanklike instellings is die fondament van ons taal en gemeenskap. Die uitdaging is groot, maar suksesverhale soos bogenoemde bewys dat dit moontlik is. Laat ons met vernuf en passie die fakkel vir Afrikaans uit vorige geslagte se hande neem en die toekoms indra vir die geslagte na ons.

'n Reeks snelopvolgende gebeure die afgelope tyd dui onmiskenbaar daarop dat Suid-Afrika oppad is na 'n klassieke Kommunistiese staat waar die rewolusionêre regering al die sê het, private eiendomsreg nie meer bestaan nie en persoonlike vryheid drasties ingekort is.
Van hierdie rigtingsaanduidende verwikkelinge is 'n pakket van nuwe wette in die Parlement, met prominent daarin die wet op onteiening van eiendom; die sweep wat die staatspresident laat klap oor "radikale ekonomiese transformasie"; die huidige kabinet wat gepak is met geswore Kommuniste in sleutelposte; grondgryp wat die formele beleid is van die EVV as nuwe party in die Parlement; en die toekoms van sowat 25 miljoen werklose armoediges in die land wat fisies niks het om te verloor nie.
Die implikasie van die proses is dat die veelgeroemde Grondwet by die deur gaan uitwaai.
Let wel, die stelling is nie SA word of is 'n Kommunistiese staat nie, maar dat die aanduidings is dat daar 'n doelbewuste en gekoördineerde poging is om die land in daardie rigting te dwing.
Wat presies die huidige stand van sake in hierdie verband behels, is goed uiteengesit in 'n artikel deur Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake waarin hy o.a. sê:
"Politieke uitsprake word opgevolg met verskillende beleidsdokumente, wetgewings en selfs regsuitsprake wat, indien jy dit gesamentlik sou lees, die sekerheid van eiendomsreg ondermyn. Dit sluit o.m. die volgende in:
Die Nasionale Ontwikkelingsplan beoog om 20% van 'n distrik se landbougrond aan swart ontvangers oor te dra teen slegs 50% van 'n waarde wat deur die staat ingevolge die Wetsontwerp op Eiendoms-waardasie bepaal sal word.
Die Konstitusionele Hof se uitspraak in April 2013 in die saak tussen AgriSA en die Minister van Minerale en Energie het die begrip "ontneming" onderskei van "onteiening". Ná die hofuitspraak kan die staat eiendom afneem en dit vir 'n ander gee, solank die staat self nie eienaarskap daarvan bekom nie, maar net as 'n sg. bewaarder optree.
Die Groenskrif op Grondhervorming het ten doel om eiendomsreg radikaal te herontwerp, o.a. met 'n vorm van vrypag wat die eienaar se regte drasties sal inperk. Binne hierdie konteks word daar ook ‘n grondbestuurskommissie in die vooruitsig gestel wat diskresionêre magte rakende dispute oor titelaktes verkry.
Minister van Grondhervorming Gugile Nkwinti, se beleidsvoorstel vir die “Versterking van die regte van werkers wat die grond bewerk” beoog om tot 50% van 'n plaas te vervreem en aan werkers op grond van hulle arbeidstermyn toe te deel. Geen vergoeding word hiervolgens aan die eienaar betaal nie.
Die Wetsontwerp op Onteiening stel dat onteiening vir die openbare belang en doel kan plaasvind. Die wetsontwerp is nie net op grond van toepassing nie, maar dek alle vorme van eiendom. Openbare belang en doel word op 'n ad hoc-wyse bepaal en het herverdeling as doelwit.
Die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggings stel staatsingryping in die beleggingskonteks in. Die wetsontwerp maak uitdruklik voorsiening vir onteiening teen minder as markwaarde - dit alles in naam van sg. regstelling van ongelykhede. Enige eiendom wat vir kommersiële doeleindes gebruik word, is in die visier van die wet.
Die Wetsontwerp op Infrastruktuurontwikkeling beoog om sg. ongelykhede in infrastruktuur uit te wis. Die Presidensiële Infrastruktuurkoördinerings-kommissie verkry onteieningsbevoegdheid onderhewig aan die openbare doel en belang.
Die Wet op Ruimtelike Beplanning en die Bestuur van Grondgebruik beoog ‘n gesentraliseerde beplanning van grondeienaarskap. Dit stel sg. ruimtelike geregtigheid van residensiële ontwikkelings voor deur lae- en hoëkoste behuisingsgebiede te integreer.
Die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van die Sekerheid van Verblyfreg verbreed die inwoningsregte van okkupeerders en hul afhanklikes. Uitsettings word strenger bestuur en behels 'n beduidende verlies aan seggenskap oor eiendom.
Die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte skep verdere politieke en ekonomiese onsekerheid oor die toekoms van eiendomsreg.
Die Wysigingswetsontwerp op Huurbehuising staan groter regulering van die verhuringsmark voor. Huurtribunale word ingestel om dispute op te los en sal ook bepalings oor huurverhogings kan maak.
Die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Water & Beleidshersiening verbied die verhandeling van waterregte en stel ‘n gebruik-of-verloor-beginsel vir waterregte in. Gelykheid (insluitend rassetrans-formasie) word die kriterium vir die toedeling en hertoedeling van waterregte.

‘n Boek wat pas verskyn het en wat hoogs insiggewend is vir elkeen wat die toekoms van SA bona fide op die hart dra, is A Manifesto for Social Change deur Moeletsi Mbeki,in samewerking met sy niggie Nobantu Mbeki. As navorser, politieke kommentator en geleentheidspreker is Moeletsi Mbeki ‘n swart persoon wat in eie reg onwrikbaar staan vir reg en geregtigheid, nugterheid en balans in SA.

Hy is bekend dat hy nie doekies omdraai nie en meedoënloos kortpad vat na die waarheid. Hoewel hy ‘n broer van oud-pres. Thabo Mbeki is, is hy wat betref politieke sienswyse en optrede presies die teenoorgestelde.

In A Manifesto for Social Change, beslaande slegs 120 bladsye, takel hy die verwoestende impak van korrupsie in die land kaalkop en sê hy dat die werklose en halfopgeleide swartmassa ryp is vir rewolusie. Aan die hand hiervan skets hy vier verwagte toekomsscenarios vir SA wat enige realistiese leser sal skud.

Die boek is gepubliseer deur Picador Africa en kos R160.

In hierdie fokus word in ‘n enkele oogopslag NP van Wyk Louw as skrywer en digter aan die lig gestel wat vanaf die dertiger- tot die laat sestigerjare Afrikaans as ‘t ware oopgeskryf het en in die proses hoekstene gelê het vir die ontwikkeling van Afrikaanse literatuur tot wêreldstatuur. Van Wyk Louw word allerweë aangeslaan as ‘n Afrikaner-intellektueel by uitstek, terwyl hy ‘n besondere konnotasie met sy volk getoon het.

As sodanig is Van Wyk Louw steeds hoogs relevant vir die Afrikaner en verdien sy nalatenskap wel deeglik om voortgedra te word na die jong geslag.

As agtergrond word gemeld dat Nicolaas Petrus van Wyk Louw op 11 Junie 1906 te Sutherland gebore is, waar sy pa prokureur was. Hy was die tweede van vier seuns, met sy jongste broer WEG Louw wat ook ’n bekende digter was. Louw het sy skoolopleiding aan die South African College School (SACS) voltooi, voordat hy aan die Universiteit van Kaapstad studeer het, waar hy ook van 1929 tot 1949 dosent in Opvoedkunde was.

Van 1950 tot 1958 was hy professor in Afrikaans aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam en daarna hoof van die Dept. Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Van Wyk Louw het gedurende sy loopbaan monumentale werke geproduseer soos Die halwe kring (1937), die koorspel Die dieper reg (1938), die epos Raka (1941), die bundel Gestaltes en diere (1942), Nuwe verse (1954), asook dramas soos Dias (1951), Germanicus (1956), Dagboek van ’n soldaat (1961), Kruger breek die pad oop (1964) en Die pluimsaad waai ver, wat die eerste keer in 1966 met die Republiekfees opgevoer is. Dit is om slegs enkeles te noem.

By geleentheid van ‘n promosieplegtigheid by die Universiteit van Pretoria op 17 Maart 1961 het Van Wyk Louw gesê: “’n Intellektueel is iemand wat nie bang is vir die waarheid nie, al bring dit vir jou nadeel (waarom moet alle waarheid juis tot jou voordeel wees? Is die wêreld vir jou gemaak?). Dit is ‘n paar van die dinge wat ‘n mens jou moet voorneem as jy werklik ‘n intellektueel wil wees.”

Hy is op 18 Junie 1970 in Johannesburg oorlede.

Oor die impak van Van Wyk Louw skryf prof. Jaap Steyn: “Louw se invloed op veral die Afrikaner-intellektuele was groot as gevolg van die gehalte van sy werk. Sy gedagtes oor die ‘oop gesprek’, ‘voortbestaan in geregtigheid’ en ‘lojale verset’ het ’n beduidende rol in die politieke debat van die 1970er- en 1980erjare gespeel. Dat Louw as die grootste digter van sy tyd ‘onherroeplik verbind’ was met ‘dié ding wat ons ’n volk noem’ (sy eie woorde in later jare), het help sorg dat Afrikaner-intellektuele getrou gebly het aan hul taal en volk.”

Van Wyk Louw het verskeie toekennigs vir sy werke ontvang, o.a. die Hertzogprys. In 2005 het pres. Mbeki die Orde van Ikhamanga in Goud posthuum aan hom toegeken vir sy uitnemende bydraes tot literatuur en sy voorstand vir die regte van inheemse tale.

Tans funksioneer binne die FAK ‘n NP van Wyk Louw Sentrum wat o.m. navorsing doen en studies publiseer oor Afrikaanse literatuur in algemene verband.

 

Op 25 Maart 1998 het ’n jong, vars-gedebuteerde Afrikaanse digter – maar toe al lankal ’n deurwinterde akteur, sanger, liedjieskrywer, kultusfiguur onder baie (en sedertdien ook gepubliseerde prosaskrywer) – NALN besoek.

Hy het hom veral in die uitstalling oor NP van Wyk Louw verdiep. Goed bekend met Louw se literêre en filosofiese geskrifte en denkbeelde, het Steve Hofmeyr met pen en notaboek verwyl, gelees, geïnspireerd aantekeninge gemaak ...

Vandag is NALN die onbetwiste geheue van die totale Afrikaanse letterkunde, musiek en toneel. Maar toe NP van Wyk Louw in 1970 oorlede is, het NALN nog nie bestaan nie.

Louw se manuskripversameling is destyds na die Universiteit van Stellenbosch verskeep, terwyl die destydse Randse Afrikaanse Universiteit sy boekery gekoop het en daarmee saam sy studeertafel en stoel in bewaring geneem het. Te danke egter aan ruimhartige bydraes deur mev. Louw, die bekende Truida Pohl, hul seun, mnr. Peter Louw, Truida se suster, prof. Anna Neethling-Pohl, en andere, het prof. Petrus Nienaber vir NALN ’n indrukwekkende NP van Wyk Louw-versameling opgebou.

Dit bestaan onder meer uit meublement soos sy skryf-leunstoel waarin hy die meeste van sy gedigte gesit en skryf het, personalia (waaronder sy akademiese drag), boeke, manuskripte, kunswerke en allerlei tipes navorsingsmateriaal. Metterjare is dit steeds aangevul met Louw-relevante materiaal uit ander skrywers se nalatenskappe.

Met Steve se besoek in 1998 was hierdie kosbare materiaal reeds meer as twee dekades lank in NALN se koesterende sorg en vandag is dit al meer as vier dekades in veilige hande. Al kan alles nie altyd uitgestal word nie, sal NALN dit ook in die toekoms veilig bewaar en toeganklik stel as tasbare skakel met die trotse statuur wat NP van Wyk Louw tot die Afrikaanse letterkunde en geesteswêreld toegevoeg het en wat as inspirasie dien vir geslagte wat nog kom.

Bladsy 9 van 12

Tridor.jpg

Fabricia proef Maart web 2017.jpg

Die potensiële skadelikheid van die voorgestelde Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit word in 'n... http://fb.me/6u2XvqRsc     https://www.facebook.com/KimPrint-General-Printers-990694727706008/?fref=ts … http://fb.me/38IJKAb0D     Franse Ope: Maria Sharapova nie gekeur nie; Roger Federer onttrek t.w.v. Wimbledon    Paarl Boys High sit Grey Bloemfontein ore aan en bly beste skoolrugbyspan in die land    Naspers betaal R5,6 miljard vir aandeel in Duitse aanlyn kosbestellingsdiens Delivery Hero    Discovery Health in 2016 eiesestyging van 10,4% tot R36,6 miljard, maar premie-inkomste R54 miljard    Die boek The Republic of Gupta – A Story of State Capture gooi meer lig op Guptas in SA en verhouding met Tabo Mbeki    Trump onder skoot van NWO oor vriendelikheid jeens Rusland, met Putin skynbaar ook anti-NWO       DAG 3 @afriforum in hof #GodsdiensInSkole hofsaak @solidariteit @fedsas1 @Jaco_Deacon @SolidariDirk #religioninschoolspic.twitter.com/yfnjwdDAVi    Mei uitgawe van Ditsem Nuus is uiteindelik hier!! Laai die PDF hieronder af, of gaan na ons webwerf... http://fb.me/8BUPW3t9P              Blitsbokke wen Sewes Wêreldkroon 2017!    Ditsem Nuus druk nou 5 000 koerante maandeliks plus aanlynpublikasie    Voorbidding gevra vir saak Christelikheid in skole – Mei 2017 in Suid-Gautengse hooggeregshof    Met oorwinning oor Haaie wys Kings hulle moet in Super-reeks bly    Venezuela in wanorde teen gevolge van “radical economic transformation”    Pro-EU Macron nuwe Franse president; nasionalistiese Le Pen uitgeknikker

ATKV