adendorff bannier

Uit ‘n ontleding van sleutelsyfers oor di bevolkingsamestelling van Suid-Afrika soos gepubliseer deur Statistieke SA, kom die volgende dinamiese tendense na vore: • Daar is tans in SA in die ouderdomskategorie 4-24 jaar 22 557 106 swartes, 2 172 685 kleurlinge, 501 349 Asiate en 1 433 304 blankes wat ‘n persentasieverdeling gee van 84,6% swartes, 8,2% kleurlinge, 1,8% Asiate en 5,4% blankes. • Uit ‘n totale bevolking in SA van 54 miljoen is 80% swart, 9% kleurling, 2,5% Asiaties en 8,5% blank. • Sedert 1990 het die getalle vir swart jeug tussen die ouderdom 0-24 jaar met 11% gegroei, terwyl dié van kleurlinge, Asiate en blankes met onderkseidelik 1%, 9% en 15% gekrimp het. • Gebaseer op hierdie syfers kan aangeneem word dat teen 2030 vir die ouderdomsgroep 0-24 daar 91 swartes, 7 kleurlinge, 1 Asiaat en 1 blanke in elke groep van 100 jeugdiges sal wees. • Dit beteken voorts dat blankes teen 2030 slegs 2% van die totale bevolking sal uitmaak. Daar is tans 4,9 miljoen swart kinders tussen die ouderdomme 0-4, terwyl die totale blanke bevolking 4,5 miljoen is • Indien die werkloosheidskoers vir die ouderdomsgroep 15-24 in Suid-Afrika oor die hele spektrum geneem word op 48% soos wat Stats SA dit gee, dan beteken dit dat uit ‘n totale bevolking van 10,4 miljoen, 5 miljoen werkloos is waarvan 4,2 miljoen swartes is. • Dit op sy beurt beteken dat SA oor die volgende 15 jaar 26 miljoen werksoekers gaan hê, vir wie werksgeleenthede geskep sal moet word en wat in elk geval gevoed, geklee en versorg moet word – iets waaroor die land selfs nou al nie beskik nie. Dit toon die enorme sosio-ekonomiese en politieke uitdagings waarvoor SA staan.

Na 139 jaar is dit gepas om 'n bestekopname van Afrikaans te maak.
Niks is núút nie. Op 13 Augustus 1975, as een van die gassprekers by 'n glansdinee as deel van die Vrystaatse Taalfees wat in daardie jaar o.l.v. NALN georganiseer is, het Etienne Leroux gesê: “Die Afrikaanse taal word, geregverdig of nie, in terme van politieke protes as instrument gebruik. Die blote bestaan van die taal word verdag gemaak as synde die taal van die onderdrukker. 'n Mens speel nie só met jou moedertaal nie.”
Dit was nog vóór 1976 en alles wat sedertdien gebeur het…
Maar die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) was tóé al daar om as “geheue van die Afrikaanse letterkunde, musiek en toneel” te dien, sodat toekomstige geslagte hulself en hul verlede sal kan navors en herontdek en dat hulle die eb en vloed van hierdie kosbare taal se woordkuns kan peil en waardeer.
Vandag bestaan hierdie kultuurgemeenskap verspreid oor die aardbol heen - 'n realiteit wat nuwe eise stel, maar ook opwindende moontlikhede bied aan dié instelling wat as kollektiewe geheue moet dien.
20 jaar ná wat doemprofete as “die einde” voorspel het, gaan dit met NALN relatief goed. Die instelling het glansjare beleef, by tye deur diep waters gegaan, baie poste en kundigheid verloor, selfs aanslae uit 'vriendelike' oorde getrotseer. In die proses het níks in sy versamelings wat oor dekades opgebou is, verlore gegaan nie.
Die begroting dek wel net die allernoodsaaklikste, maar steeds befonds die Vrystaatse Provinsiale Departement Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning en is daar sedert 1994 na raming meer as R100 miljoen staatsgeld aan NALN en sy historiese gebou gespandeer.
Die tyd is nou ryp vir 'n konkrete samewerking tussen staat en NALN se Afrikaanse kultuurgemeenskap: Die staat voorsien die basiese en die burgery voeg daaraan toe om verdere ideale te verwesenlik.
Daarvoor is die Vriende van NALN-vereniging verlede jaar deur 'n loodskomitee geheraktiveer en word dit vandeesmaand op Saterdag, 16 Augustus, opnuut gekonstitueer om as gemeenskapsarm ter ondersteuning van NALN te funksioneer.
Elke gebruiker en liefhebber van Afrikaans en sy letterkunde, musiek en toneel se betrokkenheid word hiervoor gevra: Word 'n lid, laat u skool, gemeente, vereniging, leeskring, ens. lid word; help borg projekte, help werf donateurs; bied u dienste as vrywilliger aan, asb.
Die jaar 2015 - 140 jaar na die stigting van die GRA - kan en moet die begin van 'n nuwe positiewe era in die bestaan van NALN word. Mag die herlewing van die Vriende van NALN net so 'n invloedryke gebeurtenis wees!
Kontak my gerus by 084 621 7350 of (051) 405 4013 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..">Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

In 'n mediaverklaring het die FAK die agtergrond en betekenis van Die Stem soos volg pragtig saamgevat:
“CJ Langenhoven het in 1921 Die Stem van Suid-Afrika in sy bundel Eerste Skoffies op die pad van Suid-Afrika gepubliseer. Gedurende 1931 het die FAK 'n kompetisie geloods om 'n geskikte volkslied vir Suid-Afrika te vind. Uit die ingestuurde gedigte het die keuringskomitee eenparig Langenhoven se gedig Die Stem aanbeveel.
“Langenhoven het ML de Villiers versoek om die gedig te toonset. De Villiers beskryf die toonsetting soos volg: 'Ek onthou nog goed dat dit een van daardie goddelike dae was waarvoor die Boland bekend is. Daar sit ek in my studeerkamer in Simonstad. Ek kyk uit oor die blou van onse hemel, oor die diepte van die see - en aan die oorkant van Valsbaai sien ek die pragtige en magtige gebergtes, waar die kranse antwoord gee ... Voor my sien ek wat Langenhoven aangevoel het. Ja, ineens sien ek dit in een beeld. Die note van my musiek moes opgaan na die blou van onse hemel, en dit moes terug en afkom na die diepte van ons see ... en dan antwoord die berge.'
“In 1937 het die FAK-keurkomitee eenparig besluit dat ML de Villiers se toonsetting die beste uit 40 inskrywings was.

“DF Malan het die plek van Die Stem as volg verduidelik: 'Gelukkig het Suid-Afrika 'n Langenhoven te voorskyn gebring en kan die Suid-Afrikaanse volk in hul gemeenskaplike vaderlandsliefde hul eenheid vind ten spyte van hul tweeheid. Dit kan so gebeur: Daar is 'n stem ... Dit is geen stem van hierdie of daardie bepaalde persoon of groep nie, en komende uit hierdie of daardie bepaalde aard nie. Dit is die Stem van Suid-Afrika!'
Na volgehoue vertoë is Die Stem op 2 Mei 1957 tot enigste amptelike volkslied verklaar. Die kopiereg van Die Stem het aan die FAK behoort. In 1957 is dit oorgedra aan die Suid-Afrikaanse regering.
“Die Stem staan in die teken van Afrikaans wat na die Anglo-Boereoorlog gegroei het van huis, tuin en kombuistaal tot 'n hoëfunksietaal waarin gedig en gesing kan word. Lank voor apartheid het Die Stem Suid-Afrikaners oor taalgroepe heen verenig as Suid-Afrikaanse burgers wat fokus op Suid-Afrika eerste.
“Na 1994 het Die Stem, waarvan 'n paar reëls in die nuwe Nasionale Lied opgeneem is, weer 'n rol gespeel om Suid-Afrikaners te verenig. Die Nasionale Lied is ook opgeneem in die FAK se 2012-Sangbundel.
“Na 1994 het Die Stem se gewildheid nie afgeneem nie. Gedurende 2013 was Die Stem 'n kategoriewenner van Maroela Media/VirSeker se Grootste Afrikaanse liedjie-kompetisie. Soos wat Afrikaners die Nasionale Lied voluit sing, is Die Stem as kultuurlied steeds 'n kosbare kulturele erfenis vir baie Afrikaners. Die Stem behoort erken en gerespekteer te word soos wat die Ou Transvaalse en Vrystaatse volksliedere erken en respekteer word. Die sing van die ou volksliedere beteken tog geensins 'n heimwee na 'n Suid-Afrika voor 1900 nie.
“Kultuurliedere behoort 'n regmatige plek te hê by kultuurfeeste. Die óf ... óf standpunt soos verwoord in Beeld van 8/7/2014 is 'n fout. Kulturele onsensitiwiteit teenoor kulturele simbole sal Suid-Afrikaners verder verdeel en vervreem. Nasies word gebou deur respek en erkenning van beide nasionale en kulturele simbole.”
Onlangs by die Innibosfees te Nelspruit het Steve Hofmeyr spontaan Die Stem gesing en na berig word 45 000 mense saam met hom.
Daarna vra Amoré Bekker op RSG of luisteraars saamstem oor die sing van Die Stem. Die resultaat, binne 3 minute het 1 820 sms'e ingekom waarvan 94% “Ja” gestem het. Na berig word was Bekker “tjoepstil geskok”.

Daar is aangekondig dat die Zoeloevolk onder koning Goodwill Zwelithini 'n grondeis beplan onder die nuwe oopstelling van grondeise wat groot dele van nie slegs KZN nie, maar ook die aangrensende Oos-Kaap, Mpumalanga en die Oos-Vrystaat insluit. Die eis word behartig deur regter Jerome Ngwenya, die voorsitter van die Ingonyama Trust, namens die Zoeloe-koning.
Die waarde van die eis is miljarde rand en volgens die eisers is hulle van plan om steeds miljarde rand te eis vir enige grond wat i.t.v. die eis moontlik nie aan hulle toegeken gaan word nie. In die Vrystaat val Harrismith, Memel en Vrede binne die Zoeloe-eis.
Inmiddels het die Front-Nasionaal aangekondig dat dit as respondent gaan registreer teen die Zoeloe-eis en in die proses gaan navorsing doen oor geskiedkundige dokumente soos die Retief/Dingaan traktaat, Mpande/Cloete ooreenkoms, die ooreenkoms tussen Mpande en die stigters van die Kliprivier Republiek en die Dinizulu/Botha ooreenkoms oor gronde waarop die Nuwe Republiek later gevestig is.
Wat ook in hierdie verband interessant is, is dat die Openbare Beskermer adv. Thuli Madonsela steeds besig is met 'n ondersoek na 'n staatsbegroting van sowat R2 miljard vir 'n volledige dorp wat gebou staan te word sowat 3 km vanaf die omstrede Nkandla-kompleks van pres. Jacob Zuma. Die beplande dorp, genoem die Umlazi-Nkandla Smart Growth Centre, is geleë op sowat 200 ha en staan kortweg bekend as Zumaville.
Dit word ontwikkel in samewerking met Masibambisane, 'n landelike ontwikkelingsinstansie en nie-regeringsinstansie o.l.v. Sibusiso “Deebo” Mzobe, 'n neef van Zuma.
Masibambisane word verder deur die IDC bestuur in samewerking met die Dept. van Landelike Ontwikkeling en Grondsake, wat in 2011 in 'n verslag oor die haalbaarheid van die projek die volgende begrotingsriglyne gegee het: Veiligheidsentrums R58 m. / Landbou en nywerheidsfasiliteit R146 m. / Kommersiële fasiliteit R68 m. / Onderwysfasiliteit R178 m. / Omgewingsfasiliteit R454 m. / Regering-kompleks R68 m. / Behuising R136 m.
Die Sunday Times berig Zuma het aan sakelui in die omgewing gesê die sentrum sal die eerste dorp wees wat in sy geheel deur swart mense na die “demokratisering” van SA gebou is.
Op die Internet word die Dept van Handel en Nywerheid, die Dept. van Ekonomiese Ontwikkeling, die Dept. van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en die Dept. van Vroue, Kinders en Mense met Gestremdhede as “strategiese vennote” gelys.
As die doel van die projek word gestel om “die primêre dryfkrag van kommersieël-volhoubare nywerheids-ontwikkeling en innovasie tot die voordeel van Suid-Afrika en die res van die vasteland te wees”.

'n Reeks snelopvolgende gebeure die afgelope tyd dui onmiskenbaar daarop dat Suid-Afrika oppad is na 'n klassieke Kommunistiese staat waar die rewolusionêre regering al die sê het, private eiendomsreg nie meer bestaan nie en persoonlike vryheid drasties ingekort is.
Van hierdie rigtingsaanduidende verwikkelinge is 'n pakket van nuwe wette in die Parlement, met prominent daarin die wet op onteiening van eiendom; die sweep wat die staatspresident laat klap oor "radikale ekonomiese transformasie"; die huidige kabinet wat gepak is met geswore Kommuniste in sleutelposte; grondgryp wat die formele beleid is van die EVV as nuwe party in die Parlement; en die toekoms van sowat 25 miljoen werklose armoediges in die land wat fisies niks het om te verloor nie.
Die implikasie van die proses is dat die veelgeroemde Grondwet by die deur gaan uitwaai.
Let wel, die stelling is nie SA word of is 'n Kommunistiese staat nie, maar dat die aanduidings is dat daar 'n doelbewuste en gekoördineerde poging is om die land in daardie rigting te dwing.
Wat presies die huidige stand van sake in hierdie verband behels, is goed uiteengesit in 'n artikel deur Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake waarin hy o.a. sê:
"Politieke uitsprake word opgevolg met verskillende beleidsdokumente, wetgewings en selfs regsuitsprake wat, indien jy dit gesamentlik sou lees, die sekerheid van eiendomsreg ondermyn. Dit sluit o.m. die volgende in:
Die Nasionale Ontwikkelingsplan beoog om 20% van 'n distrik se landbougrond aan swart ontvangers oor te dra teen slegs 50% van 'n waarde wat deur die staat ingevolge die Wetsontwerp op Eiendoms-waardasie bepaal sal word.
Die Konstitusionele Hof se uitspraak in April 2013 in die saak tussen AgriSA en die Minister van Minerale en Energie het die begrip "ontneming" onderskei van "onteiening". Ná die hofuitspraak kan die staat eiendom afneem en dit vir 'n ander gee, solank die staat self nie eienaarskap daarvan bekom nie, maar net as 'n sg. bewaarder optree.
Die Groenskrif op Grondhervorming het ten doel om eiendomsreg radikaal te herontwerp, o.a. met 'n vorm van vrypag wat die eienaar se regte drasties sal inperk. Binne hierdie konteks word daar ook ‘n grondbestuurskommissie in die vooruitsig gestel wat diskresionêre magte rakende dispute oor titelaktes verkry.
Minister van Grondhervorming Gugile Nkwinti, se beleidsvoorstel vir die “Versterking van die regte van werkers wat die grond bewerk” beoog om tot 50% van 'n plaas te vervreem en aan werkers op grond van hulle arbeidstermyn toe te deel. Geen vergoeding word hiervolgens aan die eienaar betaal nie.
Die Wetsontwerp op Onteiening stel dat onteiening vir die openbare belang en doel kan plaasvind. Die wetsontwerp is nie net op grond van toepassing nie, maar dek alle vorme van eiendom. Openbare belang en doel word op 'n ad hoc-wyse bepaal en het herverdeling as doelwit.
Die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggings stel staatsingryping in die beleggingskonteks in. Die wetsontwerp maak uitdruklik voorsiening vir onteiening teen minder as markwaarde - dit alles in naam van sg. regstelling van ongelykhede. Enige eiendom wat vir kommersiële doeleindes gebruik word, is in die visier van die wet.
Die Wetsontwerp op Infrastruktuurontwikkeling beoog om sg. ongelykhede in infrastruktuur uit te wis. Die Presidensiële Infrastruktuurkoördinerings-kommissie verkry onteieningsbevoegdheid onderhewig aan die openbare doel en belang.
Die Wet op Ruimtelike Beplanning en die Bestuur van Grondgebruik beoog ‘n gesentraliseerde beplanning van grondeienaarskap. Dit stel sg. ruimtelike geregtigheid van residensiële ontwikkelings voor deur lae- en hoëkoste behuisingsgebiede te integreer.
Die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van die Sekerheid van Verblyfreg verbreed die inwoningsregte van okkupeerders en hul afhanklikes. Uitsettings word strenger bestuur en behels 'n beduidende verlies aan seggenskap oor eiendom.
Die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte skep verdere politieke en ekonomiese onsekerheid oor die toekoms van eiendomsreg.
Die Wysigingswetsontwerp op Huurbehuising staan groter regulering van die verhuringsmark voor. Huurtribunale word ingestel om dispute op te los en sal ook bepalings oor huurverhogings kan maak.
Die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Water & Beleidshersiening verbied die verhandeling van waterregte en stel ‘n gebruik-of-verloor-beginsel vir waterregte in. Gelykheid (insluitend rassetrans-formasie) word die kriterium vir die toedeling en hertoedeling van waterregte.

Onderhoud met Annatjie Boshoff, voormalige privaatsekretaresse van mev. Betsie Verwoerd

Sy is nou 89 jaar oud, haar verstand is nog glashelder en sy woon sedert 1991 op Orania. Vanaf 1959 tot 1966 was sy die privaatsekretaresse van mev. Betsie Verwoerd en het sy nóú met haar en haar man dr. HF (Hendrik) Verwoerd, eerste minister van Suid-Afrika vanaf 1958 - 66, saamgeleef.
Dis Annatjie Boshoff, behalwe vir die bloedfamilie, die laaste intieme skakel met die veelbesproke, geëerde en verguisde Verwoerd-egpaar.
Ná die sluipmoord op dr. Verwoerd op 6 September 1966 in die Parlement, was Annatjie nog privaatsekretaresse vir mev. Verwoerd tot die einde van 1966, voordat sy dieselfde pos vir mev. Tini Vorster vervul het tot 1979.
In 1994 het mev. Verwoerd haar ook op Orania gevestig en het sy en Annatjie weer ‘n pad saam gestap totdat mev. Verwoerd in 2000 op die ouderdom van 99 jaar oorlede is.
Annatjie, wat nooit getroud was nie, het twee boeke oor die Verwoerds die lig laat sien - Sekretaresse vir die Verwoerds in 1974 en Betsie Verwoerd, Die Vrou, in 1993.
As jy dus eerstehandse kennis wil opdoen oor die Verwoerds en 'n kritieke tydperk in ons geskiedenis, is Annatjie die een om mee te praat.
Dit is hoekom ek haar in haar aftreehuis op Orania gaan besoek het en bietjie met haar gesels het.
Ruimte ontbreek hier om enigsins reg te laat geskied aan ons gesprek en aan alles wat wat daaroor kan en behoort gesê te word. Daarom word hier slegs enkele sleutelpunte aangestip.
Eerstens, Annatjie Boshoff is 'n hoogs intelligente, belese, ingeligte, berese en diep gelowige mens. Vriendelik en sjarmant, maar sy weet waar sy staan en wat sy wil hê.
Vanweë die aard van haar pligte, het sy 'n kantoor binne die ampswonings van die Verwoerds, Libertas en Groote Schuur, asook in ander wonings van die egpaar, gehad. Hoewel sy die privaatsekretaresse van mev. Verwoerd was, het dr. en mev. Verwoerd so 'n hegte persoonlike verhouding in hul huwelik gehad en het mev. vir doktor só ondersteun, dat Annatjie dikwels ook vir dr. Verwoerd by geleenthede sekretariële en administratiewe take verrig het, sommige waarvan hoogs vertroulik was.
Soos Annatjie sê: “Ek het waarskynlik 'n uitsig op die Verwoerds gehad soos selfs hul kinders nie altyd gehad het nie.”
Kom ons gee, ter wille van perspektief, 'n raps meer agtergrond.
Annatjie Boshoff is in 1925 op die plaas Doornfontein in die distrik Waterberg gebore. Haar pa het sewe kinders by sy eerste vrou gehad, wat oorlede is en toe is hy weer getroud met Annatjie se ma. By haar het hy ses kinders gehad, waarvan Annatjie die oudste was. Een van haar broers was prof. Carel Boshoff, wat getroud was met Anna, een van die sewe kinders van dr. en mev. Verwoerd.
Annatjie het in die staatsdiens in Pretoria as tikster / administratiewe assistent begin werk en deur buitemuurse studie by Unisa haar BA-graad verwerf.
In 1953 het sy mev. Verwoerd in Kaapstad ontmoet toe dr. Verwoerd Minister van Naturellesake was. In 1958 word dr. Verwoerd Eerste Minister en in 1959 is Annatjie amptelik aangestel as privaatsekretaresse van mev. Verwoerd.
Een ding wat baie duidelik is en ook uit haar boek blyk, is dat Annatjie haarself nooit op die voorgrond gedruk het of selfs nou nog doen nie. Sy het 'n innige respek vir dr. sowel as mev. Verwoerd elk in eie reg gehad. Selfs in hierdie onderhoud het sy benadruk dat dit nie oor haar as persoon moet gaan nie.
Die beste opsomming oor die hele aangeleenthede word miskien die beste soos volg gegee in die stofomslag van die boek Betsie Verwoerd, Die Vrou in 1994:
"Benewens die feite oor mev. Verwoerd as mens en vrou voor, tydens en na haar lewe saam met dr HF Verwoerd, is hierdie boek ook 'n unieke oorsig oor negentig jaar van Afrikanervolksgeskiedenis en die reuse in ons volkstryd. Dis 'n stuk volkshistorie wat 'n mens nêrens anders ooit dieselfde formaat aangebied sal kry nie.
"Dit verskyn ook in 'n tyd wat die Afrikaner nodig het om ewewigtig na sy verlede, veral sedert die begin van hierdie eeu, te kyk. Vir dekades nou al word hy gedissekteer, met skuldgevoelens belas en as muishond van die wêreld voorgehou. Die volk is, aangehits meesal deur sy eie mense, byna op die drumpel van selfvernietiging.
"Hierdie biografie sal die volk weer sy kop laat oplig: Mev Verwoerd en haar tydgenote lééf in hierdie boek en die leser wéét: hierdie mense - my mense - het alles feil gehad vir volk en vaderland."
Ter voorbereiding van my onderhoud met haar, het Annatjie uit haar eie die volgende neergeskryf en vir my gegee:
“As ek aan dr. en mev. Verwoerd se lewens dink oor die amper agt jaar wat ek hulle in my ondergeskikte rol as privaatsekretaresse vir mev., maar ook in die persoonlike verhouding waarin ek hulle beleef, leer liefkry, vertrou en bewonder het, dan kan ek nie anders as om God se wil - en nie hul eie wil - in hul lewens raak te sien nie. Hoe 'n mens dit ook al verstaan, of nie wil verstaan nie, wil verdedig of veroordeel en verdoem - hulle het gesoek na God se wil om hul gawes te gebruik.”
Omdat ekself in my universiteitsjare indirek die ampstermyn van dr. Verwoerd beleef het, wil ek hierdie artikel afsluit met die volgende persoonlike samevatting:
Die beleid van dr. Verwoerd was afsonderlike ontwikkeling waarvolgens vir die verskillende bevolkingsgroepe in die land na eie, gelyke selfbeskikking gewerk is, sonder dat die een oor die ander heers en sonder dat gediskrimineer word. Hy was op die punt om hierdie beleid op 'n visionêre wyse 'n groot stap vorentoe te neem, toe hy in die Parlement doodgemaak is. Hierdie beleid verskil hemelsbreed van die vroeëre “apartheid”, asook van die politieke gedrog wat vanaf die Vorster-era ingevoer is.
Onder dr. Verwoerd het Suid-Afrika sy beste jare ooit tot vandag toe beleef. Die feite sê in daardie jare was daar geen plakkershut in die land, die ekonomiese groeikoers was 11%, inflasie 0%, R1 het $6 betaal, SA het hoë agting op internasionale gebied geniet, die destydse Suidwes-Afrika hofsaak in die Internasionale Geregshof is in SA se guns beslis, ens.
In nabetragting het dr. Verwoerd moontlik twee swakplekke gehad: Hy was sy tydgenote te ver vooruit en hy het mense te veel vertrou.
Annatjie Boshoff is eerstehandse getuie van die goue jare van SA en haar feite weerspreek die ontsaglike leuen vandag wêreldwyd omtrent die Verwoerd-era. Wat 'n belewenis om van hierdie merkwaardige vrou eerstehands die ware prentjie van daardie bewoë tydperk te kry.

Dames Perspektief het op Saterdag, 8 Maart 2014, hul 30-jarige bestaan gevier tydens `n stylvolle geleentheid by NALN, Bloemfontein. Die vereniging is op 20 September 1984 in Bloemfontein gestig met die doel “Om vroue wat polities en kultureel eendersdenkend is en 'n konserwatiewe standpunt huldig, saam te bring vir persoonlike studie en gesprek oor aktuele sake”.
Met die uitsondering van Ria Strauss, wat oorlede is, kon al die voorsitters deur die jare die geleentheid bywoon, waaronder een van die stigterslede Renè Lombard. Spesiale projekte was op die onthou-lysie: Die feesvierings tydens die Vrouemonument-huldigingsgeleentheid; die inrig van die Sarel Celliers-vertrek vir die gastehuis by Bloedrivier; die publikasie van boeke oor die Anglo-Boere-oorlog; 'n statige kultuuraand in die Ou Presidensie, en die eenvrouvertoning deur Wilna Snyman, “Dear Mrs Steyn”.
Verskeie en aktuele sake is oor die 30 jaar aangespreek: Die rol van die Broederbond; Islam; die kultuurhistoriese waarde van die Hugenote; wetgewing in Afrikaans; emigrasie; die Geelpers; sms-taalgebruik; wit armoede; misdaad; ens.
Die jaarlikse viering van die Afrikaanse Taaldag, of die GRA-dag, op 14 Augustus, was jaarliks 'n hoogtepunt, terwyl talle gespreksgeleenthede oor Langenhoven, Leipoldt, I D du Plessis, Eitemal, Kas van den Bergh en Etienne van Heerden gereël is. Nog 'n jaarlikse hoogtepunt was die dagtoere na die geskiedkundige terreine op die Vrystaatse platteland
Die geskiedenis en etos van Dames Perspektief word moontlik die beste saamgevat in die woorde van ds Willem Postma dekades gelede: “Die kleinnode wat sy bewaar het, was die Christelike geloof van haar vaders, die geloofstaal van haar kerk, die geskiedenis van haar land en die tradisies van haar volk”.

Op die foto hierbo, teenwoordig tydens die 30-jarige viering op 8 Maart 2014, vorige voorsitters van Dames Perspektief, voor, van links, Reza Britz, Renè Barnard en Helena Samuels, met agter, van links, Annatjie Fourie, Mariana Jacobs, Marleen Esterhuizen en Liesbet de Lange.

Jy sien hulle oral in SA, selfs in feitlik elke klein dorpie - Chinese winkels klein en groot. Daar moet eenvoudig baie van hulle in die land wees, maar met korrupsie in die regering wat hoogty vier, wie sal kan sê wat die korrekte statistiese situasie is?
Volgens inligting wat Ditsem Nuus ontvang het, wat uiteraard nie moontlik is om bo alle twyfel te verifieer nie, maar wat uit die blote aard daarvan as geloofwaardig geag kan word, is daar tans tot soveel as 500 000 Chinese onwettig in SA.
Hulle is hoofsaaklik afkomstig van die oorbevolkte Fujian-provinsie in China en word op georkestreerde wyse na SA verskeep in samewerking met sowel die Chinese as SA owerhede. Na skatting het reeds tussen 6 000 en 12 00 Chinese winkels in SA a.g.v. hierdie proses opgeskiet.
Prof. Colin McCarthy, afgetrede hoogleraar van die Universiteit van Stellenbosch, het die sg. "Chinese kolonialisering" die eerste opgehaal. Hy word soos volg aangehaal (vertaal): "Al die getuienis dui daarop dat die projek om so 'n uitgebreide netwerk van Chinese winkels, almal volgende dieselfde patroon en almal geteiken op dieselfde mark, deeglik nagevors, goedbepland, goedgeorganiseerd en goedgefinansierd moet wees."
Dit is meestal jong werklose egpare wat uit die Fujian-provinsie ingevoer word en in hul winkels verkoop hulle goedkoop Chinese plastiekware, klere en ander produkte, wat 'n florerende kleinhandelsbedryf daarstel veel groter as Pick n Pay, Pep of Edgars.
Om die kroon te span, is die meeste van hierdie winkels nie geregistreer vir BTW of enige ander belasting of oorbetalings nie en betaal hulle selfs nie eers invoer- of aksynsbelasting nie.
Amptelike Chinese syfers het klerasie-uitvoere na SA in 2010 op sowat R11,3 miljard gestel, terwyl die twyfelagtige syfer van die SA regering vir dieselfde kategorie slegs R6,7 miljard is, d.w.s. in een enkele jaar moes Chinese klerasie ter waarde van ongeveer R4,6 miljard die land onwettig binnegekom het.
Na bewering het die SA owerhede op 'n stadium regop gesit toe 'n beampte van die SAID tydens 'n klopjag op 'n Chinese winkel R1,2 miljoen in kontant onder die toonbank gevind het.
Janet Wilhelm van die WNNR, wat 'n studie van Chinese in SA gemaak het, skryf: "Dit is verstommend hoe soveel mense 'n land skynbaar onopgemerk kan binnekom." Volgens haar het die SAPD Eenheid vir Vreemdelinge-ondersoek verklaar: "Baie Chinese reis na SA via Mbabane, Maputo en Maseru, vanwaar hulle SA per pad met vals identiteitsdokumente binnegaan".
Patrick Chong, voorsitter van die Chinese Vereniging van SA, sê: "Talle Chinese kom SA binne op toeriste- of studentevisums en bly dan eenvoudig hier aan."
Die tydskrif Noseweek het 'n familie van Chens nagespoor waar een pionier onwettig in SA gevestig het en binne vier jaar 172 van sy familielede die land ingesmokkel het, hoofsaaklik deur Lesotho.
Wat die normale verstand te bowe gaan, is dat Chinese in SA deur die ANC-regering toegelaat en behandel word as "ere-swartes" en dat hulle vrygestel is van regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en kwotas. Dít terwyl blanke SA burgers wat hier gebore is, selfs dié ná 1994, onder al hierdie laste gebuk moet gaan.
Waarnemers is dit eens dat die hele "Chinese eksperiment" omsigtig beplan en krimineel bemagtig word. Groot somme geld is betrokke en invloedryke politici baat daarby.
Die verskynsel moet ook gesien word teen die aandrang in politieke slagkrete dat die minerale rykdomme van die land, tesame met ander bates en eiendom en selfs grond, genasionalisëer moet word. Trouens, dit is presies wat die regering tans deur verskeie stukke wetgewing deur die Parlement stoot.
Die Chinese manifestasie in SA geskied ook volgens die patroon in die res van Afrika, waar China sy fisiese, ekonomiese en politieke invloed al sterker laat geld. Internasioneel word wyd gewaarsku teen Chinese imperialisme in Afrika. As een voorbeeld: Daar word gesê dat die Chinese in Zimbabwe vir pres. Mugabe in die kussings hou - in ruil vir vergoeding komende uit die ryk onwettige Marange-diamantvelde.
Dit gaan egter in SA nog verder: Na raming is daar sowat 500 000 Indiërs, Pakistanis en Bangladesjis en tot soveel as 10 miljoen mense uit Zimbabwe, Nigerië, Mosambiek, Angola, Zambië en ander Afrikalande onwettig in SA.
Dit lyk inderdaad of die aard van die stryd nog dieselfde is as die afgelope sowat vier dekades, nl. dat dit eintlik gaan om die minerale skatkis van SA - op R25 triljard na raming die rykste ter wêreld - en beheer oor die hoogs strategiese ligging van SA en die Kaapse seeroete. In die nuwe internasionale politieke magspel tussen Rusland, China en die VSA kan hierdie faktore des te meer betekenis kry.
Laastens is dit opmerklik dat in hierdie hele situasie die Afrikaner as eens die bewindshebber nou slegs 'n toeskouer is en geen deelnemer nie - dit is nou afgesien van sy moontlike ekonomiese invloed.

Nee, hy lewe nog dat dit vrek, dankie. Só sou oom Frikkie altoos sê, sou jy hom vra hoe dit dan gaan. “Ek lewe nog dat dit vrek.” Of sou jy hom langs die pad raakloop en vra waarheen hy dan op pad is, sou oom Frikkie sê: “Nee, ek stap sommer vir 'n walk.”
Die sêgoed van ons mense gee aan hulle 'n unieke identiteit. Dit is die sêgoed wat ons onthou as ons aan die mense uit ons verlede en ook in ons hede dink. En hierdie taal, Afrikaans, leen hom by uitstek tot die skepping van pittige sêgoed deur die verbeeldingryke mense wat dit praat.
Of my vriend Louw se reaksie toe iemand hom op 'n dag daarop wys dat hy wat Louw is, totaal en al verkeerd is oor 'n sekere saak: “Jaa, maar jy moet onthou,” sê ou Louw,“dit is elke mens se onvervreembare reg om so nou en dan 'n gat van homself te maak.”
En as ek aan 'n gemeenskaplike vriend Keppies dink, dan onthou ek hoe hy homself destyds altyd aan meisies voorgestel het as daar bladgeskud word: “Louis Keppies Roux, as jy my nie glo nie, kan jy proe.”
Ewe pittig was vriend Proppie toe hy op 'n dag in 'n hotel gevra word hoe hy in die oggend van sy eiers hou: “Liggies gekrap met die naels, asseblief.
By die Johannesburgse skou loop ek eendag ná jare weer vir oom Attie by die beesbeoordeling raak. Toe ek wil weet hoe dit dan met hom gaan, kyk hy my stip aan met sy blou oë en sê: “Nee, vader tyd is maar 'n gemene ou bliksem, weet jy?”
Ek onthou ou Wim wat altyd gekla het dat daar “te veel maand oor is aan die einde van sy geld”. En ou Penne, my skooltydse houtwerkonderwyser wat tot vervelens toe gewaarsku het dat ons nie “veiligheidsreëls per ongeluk moet leer nie”.
My oorle oupa Boy het dit gehad teen iemand wat “só onnosel is, dat hy met sy vinger moet voel waar sy agterent is”. En dit was my oom Bob wat gesê het 'n sekere prokureur is so skelm dat hy onder 'n skuilnaam bid.
Oom Koot wat aan Pa gesê het: “Die mielies staan vanjaar so mooi, dit is eintlik lelik om te sien.”
Afrikaans en sy kultuur - enig van sy soort in die wêreld!

Die toekoms van Suid-Afrika én van Afrikaans is in die hande van toekomstige geslagte en daar moet moeite gedoen word om ‘n liefde vir die taal en die land by jongmense te kweek. Dít was die boodskap by die ATKV se algemene jaarvergadering wat verlede maand by ATKV-Klein-Kariba gehou is. Juis vanweë die fokus op jongmense is ‘n groot getal van die ATKV se projekte op die jeug en jong volwassenes gerig, aldus dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur: Kultuur van die ATKV. “Kultuurprojekte, soos dié van die ATKV, slaag daarin om polarisasie natuurlik te deurbreek en om mense bymekaar te bring,” het hy gesê. Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, het in sy toespraak benadruk dat die ATKV ook sterk fokus op onderwys in die land. Volgens Gouws onderpresteer meer as 80% van SA se 24 000 privaat- en openbare skole, of hulle bereik nie die verwagte leeruitkomste nie. ATKV-projekte soos die 1000-skolestrategie, waar ʼn duisend skole oor vier jaar bereik word ten einde die gehalte van dié skole te verbeter, help om dié syfers te verander, het hy gesê. Die ATKV vier vanjaar sy 85ste bestaansjaar. “Hierdie merkwaardige mylpaal is bereik omdat die ATKV oor die jare belangrike strategiese aanpassings gemaak het om relevant te bly. En met meer as 1 000 projekte wat die afgelope jaar deur die ATKV se takke aangepak is, en ‘n 7% toename in ledegetalle, lyk die toekoms van die ATKV, Afrikaans en ‘n gesonde multikulturele samelewing rooskleurig,” aldus ‘n ATKV mediaverklaring.
Bladsy 10 van 13

Tridor Banier web

wow kitsblits