adendorff bannier

'n Reeks snelopvolgende gebeure die afgelope tyd dui onmiskenbaar daarop dat Suid-Afrika oppad is na 'n klassieke Kommunistiese staat waar die rewolusionêre regering al die sê het, private eiendomsreg nie meer bestaan nie en persoonlike vryheid drasties ingekort is.
Van hierdie rigtingsaanduidende verwikkelinge is 'n pakket van nuwe wette in die Parlement, met prominent daarin die wet op onteiening van eiendom; die sweep wat die staatspresident laat klap oor "radikale ekonomiese transformasie"; die huidige kabinet wat gepak is met geswore Kommuniste in sleutelposte; grondgryp wat die formele beleid is van die EVV as nuwe party in die Parlement; en die toekoms van sowat 25 miljoen werklose armoediges in die land wat fisies niks het om te verloor nie.
Die implikasie van die proses is dat die veelgeroemde Grondwet by die deur gaan uitwaai.
Let wel, die stelling is nie SA word of is 'n Kommunistiese staat nie, maar dat die aanduidings is dat daar 'n doelbewuste en gekoördineerde poging is om die land in daardie rigting te dwing.
Wat presies die huidige stand van sake in hierdie verband behels, is goed uiteengesit in 'n artikel deur Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake waarin hy o.a. sê:
"Politieke uitsprake word opgevolg met verskillende beleidsdokumente, wetgewings en selfs regsuitsprake wat, indien jy dit gesamentlik sou lees, die sekerheid van eiendomsreg ondermyn. Dit sluit o.m. die volgende in:
Die Nasionale Ontwikkelingsplan beoog om 20% van 'n distrik se landbougrond aan swart ontvangers oor te dra teen slegs 50% van 'n waarde wat deur die staat ingevolge die Wetsontwerp op Eiendoms-waardasie bepaal sal word.
Die Konstitusionele Hof se uitspraak in April 2013 in die saak tussen AgriSA en die Minister van Minerale en Energie het die begrip "ontneming" onderskei van "onteiening". Ná die hofuitspraak kan die staat eiendom afneem en dit vir 'n ander gee, solank die staat self nie eienaarskap daarvan bekom nie, maar net as 'n sg. bewaarder optree.
Die Groenskrif op Grondhervorming het ten doel om eiendomsreg radikaal te herontwerp, o.a. met 'n vorm van vrypag wat die eienaar se regte drasties sal inperk. Binne hierdie konteks word daar ook ‘n grondbestuurskommissie in die vooruitsig gestel wat diskresionêre magte rakende dispute oor titelaktes verkry.
Minister van Grondhervorming Gugile Nkwinti, se beleidsvoorstel vir die “Versterking van die regte van werkers wat die grond bewerk” beoog om tot 50% van 'n plaas te vervreem en aan werkers op grond van hulle arbeidstermyn toe te deel. Geen vergoeding word hiervolgens aan die eienaar betaal nie.
Die Wetsontwerp op Onteiening stel dat onteiening vir die openbare belang en doel kan plaasvind. Die wetsontwerp is nie net op grond van toepassing nie, maar dek alle vorme van eiendom. Openbare belang en doel word op 'n ad hoc-wyse bepaal en het herverdeling as doelwit.
Die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggings stel staatsingryping in die beleggingskonteks in. Die wetsontwerp maak uitdruklik voorsiening vir onteiening teen minder as markwaarde - dit alles in naam van sg. regstelling van ongelykhede. Enige eiendom wat vir kommersiële doeleindes gebruik word, is in die visier van die wet.
Die Wetsontwerp op Infrastruktuurontwikkeling beoog om sg. ongelykhede in infrastruktuur uit te wis. Die Presidensiële Infrastruktuurkoördinerings-kommissie verkry onteieningsbevoegdheid onderhewig aan die openbare doel en belang.
Die Wet op Ruimtelike Beplanning en die Bestuur van Grondgebruik beoog ‘n gesentraliseerde beplanning van grondeienaarskap. Dit stel sg. ruimtelike geregtigheid van residensiële ontwikkelings voor deur lae- en hoëkoste behuisingsgebiede te integreer.
Die Wysigingswetsontwerp op die Uitbreiding van die Sekerheid van Verblyfreg verbreed die inwoningsregte van okkupeerders en hul afhanklikes. Uitsettings word strenger bestuur en behels 'n beduidende verlies aan seggenskap oor eiendom.
Die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte skep verdere politieke en ekonomiese onsekerheid oor die toekoms van eiendomsreg.
Die Wysigingswetsontwerp op Huurbehuising staan groter regulering van die verhuringsmark voor. Huurtribunale word ingestel om dispute op te los en sal ook bepalings oor huurverhogings kan maak.
Die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Water & Beleidshersiening verbied die verhandeling van waterregte en stel ‘n gebruik-of-verloor-beginsel vir waterregte in. Gelykheid (insluitend rassetrans-formasie) word die kriterium vir die toedeling en hertoedeling van waterregte.

‘n Boek wat pas verskyn het en wat hoogs insiggewend is vir elkeen wat die toekoms van SA bona fide op die hart dra, is A Manifesto for Social Change deur Moeletsi Mbeki,in samewerking met sy niggie Nobantu Mbeki. As navorser, politieke kommentator en geleentheidspreker is Moeletsi Mbeki ‘n swart persoon wat in eie reg onwrikbaar staan vir reg en geregtigheid, nugterheid en balans in SA.

Hy is bekend dat hy nie doekies omdraai nie en meedoënloos kortpad vat na die waarheid. Hoewel hy ‘n broer van oud-pres. Thabo Mbeki is, is hy wat betref politieke sienswyse en optrede presies die teenoorgestelde.

In A Manifesto for Social Change, beslaande slegs 120 bladsye, takel hy die verwoestende impak van korrupsie in die land kaalkop en sê hy dat die werklose en halfopgeleide swartmassa ryp is vir rewolusie. Aan die hand hiervan skets hy vier verwagte toekomsscenarios vir SA wat enige realistiese leser sal skud.

Die boek is gepubliseer deur Picador Africa en kos R160.

In hierdie fokus word in ‘n enkele oogopslag NP van Wyk Louw as skrywer en digter aan die lig gestel wat vanaf die dertiger- tot die laat sestigerjare Afrikaans as ‘t ware oopgeskryf het en in die proses hoekstene gelê het vir die ontwikkeling van Afrikaanse literatuur tot wêreldstatuur. Van Wyk Louw word allerweë aangeslaan as ‘n Afrikaner-intellektueel by uitstek, terwyl hy ‘n besondere konnotasie met sy volk getoon het.

As sodanig is Van Wyk Louw steeds hoogs relevant vir die Afrikaner en verdien sy nalatenskap wel deeglik om voortgedra te word na die jong geslag.

As agtergrond word gemeld dat Nicolaas Petrus van Wyk Louw op 11 Junie 1906 te Sutherland gebore is, waar sy pa prokureur was. Hy was die tweede van vier seuns, met sy jongste broer WEG Louw wat ook ’n bekende digter was. Louw het sy skoolopleiding aan die South African College School (SACS) voltooi, voordat hy aan die Universiteit van Kaapstad studeer het, waar hy ook van 1929 tot 1949 dosent in Opvoedkunde was.

Van 1950 tot 1958 was hy professor in Afrikaans aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam en daarna hoof van die Dept. Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Van Wyk Louw het gedurende sy loopbaan monumentale werke geproduseer soos Die halwe kring (1937), die koorspel Die dieper reg (1938), die epos Raka (1941), die bundel Gestaltes en diere (1942), Nuwe verse (1954), asook dramas soos Dias (1951), Germanicus (1956), Dagboek van ’n soldaat (1961), Kruger breek die pad oop (1964) en Die pluimsaad waai ver, wat die eerste keer in 1966 met die Republiekfees opgevoer is. Dit is om slegs enkeles te noem.

By geleentheid van ‘n promosieplegtigheid by die Universiteit van Pretoria op 17 Maart 1961 het Van Wyk Louw gesê: “’n Intellektueel is iemand wat nie bang is vir die waarheid nie, al bring dit vir jou nadeel (waarom moet alle waarheid juis tot jou voordeel wees? Is die wêreld vir jou gemaak?). Dit is ‘n paar van die dinge wat ‘n mens jou moet voorneem as jy werklik ‘n intellektueel wil wees.”

Hy is op 18 Junie 1970 in Johannesburg oorlede.

Oor die impak van Van Wyk Louw skryf prof. Jaap Steyn: “Louw se invloed op veral die Afrikaner-intellektuele was groot as gevolg van die gehalte van sy werk. Sy gedagtes oor die ‘oop gesprek’, ‘voortbestaan in geregtigheid’ en ‘lojale verset’ het ’n beduidende rol in die politieke debat van die 1970er- en 1980erjare gespeel. Dat Louw as die grootste digter van sy tyd ‘onherroeplik verbind’ was met ‘dié ding wat ons ’n volk noem’ (sy eie woorde in later jare), het help sorg dat Afrikaner-intellektuele getrou gebly het aan hul taal en volk.”

Van Wyk Louw het verskeie toekennigs vir sy werke ontvang, o.a. die Hertzogprys. In 2005 het pres. Mbeki die Orde van Ikhamanga in Goud posthuum aan hom toegeken vir sy uitnemende bydraes tot literatuur en sy voorstand vir die regte van inheemse tale.

Tans funksioneer binne die FAK ‘n NP van Wyk Louw Sentrum wat o.m. navorsing doen en studies publiseer oor Afrikaanse literatuur in algemene verband.

 

Op 25 Maart 1998 het ’n jong, vars-gedebuteerde Afrikaanse digter – maar toe al lankal ’n deurwinterde akteur, sanger, liedjieskrywer, kultusfiguur onder baie (en sedertdien ook gepubliseerde prosaskrywer) – NALN besoek.

Hy het hom veral in die uitstalling oor NP van Wyk Louw verdiep. Goed bekend met Louw se literêre en filosofiese geskrifte en denkbeelde, het Steve Hofmeyr met pen en notaboek verwyl, gelees, geïnspireerd aantekeninge gemaak ...

Vandag is NALN die onbetwiste geheue van die totale Afrikaanse letterkunde, musiek en toneel. Maar toe NP van Wyk Louw in 1970 oorlede is, het NALN nog nie bestaan nie.

Louw se manuskripversameling is destyds na die Universiteit van Stellenbosch verskeep, terwyl die destydse Randse Afrikaanse Universiteit sy boekery gekoop het en daarmee saam sy studeertafel en stoel in bewaring geneem het. Te danke egter aan ruimhartige bydraes deur mev. Louw, die bekende Truida Pohl, hul seun, mnr. Peter Louw, Truida se suster, prof. Anna Neethling-Pohl, en andere, het prof. Petrus Nienaber vir NALN ’n indrukwekkende NP van Wyk Louw-versameling opgebou.

Dit bestaan onder meer uit meublement soos sy skryf-leunstoel waarin hy die meeste van sy gedigte gesit en skryf het, personalia (waaronder sy akademiese drag), boeke, manuskripte, kunswerke en allerlei tipes navorsingsmateriaal. Metterjare is dit steeds aangevul met Louw-relevante materiaal uit ander skrywers se nalatenskappe.

Met Steve se besoek in 1998 was hierdie kosbare materiaal reeds meer as twee dekades lank in NALN se koesterende sorg en vandag is dit al meer as vier dekades in veilige hande. Al kan alles nie altyd uitgestal word nie, sal NALN dit ook in die toekoms veilig bewaar en toeganklik stel as tasbare skakel met die trotse statuur wat NP van Wyk Louw tot die Afrikaanse letterkunde en geesteswêreld toegevoeg het en wat as inspirasie dien vir geslagte wat nog kom.

In ‘n mediavrystelling spesifiek vir hierdie fokus op NP van Wyk Louw sê die ATKV: “Volgens Van Wyk Louw is kultuur ‘die rustelose en vloeibare, die gedurige hervorming en herskepping van die geestelike waardes van die mens’. Kultuur word deur ander omskryf as die geesteslewe of beskawingstoestand van ‘n gemeenskap.

“Die epiese gedig, Raka, word beskou as een van die grootste prestasies van die Afrikaanse letterkunde. NP van Wyk Louw heg in hierdie beroemde werk hoë waarde aan die vergeestelikte mens en die ‘hoë kultuurtrap’ waarop hy staan.

“Soos vir Van Wyk Louw, is dit vir die ATKV belangrik dat mense voortdurend introspeksie sal hou oor die geesteslewe van die kultuurgroep waartoe hy behoort. Is die groei van die taal en die ontwikkeling van die skeppende en uitvoerende kunste inderdaad op die ‘hoë kultuurtrap’? Dis waarvoor die ATKV homself voltyds beywer.

“Vir die rustelose kultuurskepper is die vraag dus altyd of daar ‘n strewe na die ‘hoë kultuurtrap’ is. Vervlakking op alle gebiede lei uiteindelik daartoe dat uitdagings om werklik skeppend en vernuwend te wees en kulturele hoogtepunte te bereik al te maklik lam knieë tot gevolg het. Wil ons maar net gestreel word deur wat ‘mooi’ is en vanuit die eksterne omgewing aan ons opgedis word?

“Dalk moet ons meer besin oor die kenmerke en waarde van die ‘vergeestelikte mens’ as kultuurproduk. In die Van Wyk Louw-styl moet ons altyd rusteloos en vloeibaar wees, want so herskep ons voortdurend ons geestelike waardes en bestyg ons die ‘hoë kultuurtrap’ ”.

Die volgende in ‘n brief van Mariaan Burger aan Volksblad sê dit – in Afrikaans – op ‘n manier wat nie beter kan nie:

Ken jy die taal wat so dans in die Suidland?

Ken jy haar?

Sy dans dwarsoor ons land, want sy is gebore uit die aarde van die veelkleurige suide van Afrika.

Sy is perfek vir elke geleentheid, van die doodgewone gesprek tot die uitnemendste digkuns of vakterme.

Nêrens in die wêreld kan ‘n ander jou so lekker slegsê, laat huil, of laat lag soos sy nie. Nêrens kan jy so opreg bid of vurig vry soos met haar nie.

Haar naam is Afrikaans, want sy is ons moedertaal.

Sy kry seer as sy deur Engels verdryf word, deur haar eie mense misken en verban word. Sy ween as haar kinders in skole en universiteite haar onderrig geweier word, as sy nie as wêreldgehalte beskou word nie.

Dit breek haar hart as sy verwring en verengels word, as awesome beter as asemrowend word.

Sy is tot sterwens toe siek as haar eie mense haar so minag en verneder.

Gaan ons haar red vir die nageslag of begrawe? Die keuse lê by my en jou.

In ‘n mediaverklaring sê dr. Corné Mulder van die VF Plus: “Die beeld van die SA Parlement is aan flarde. Die vlak van debatvoering en die interaksie tussen Parlementslede en –partye was nog nooit so laag as tans nie. Die Parlement het inderdaad die onderwerp van openbare bespotting geword, en alles is te wyte aan ? bloedvete tussen die ANC-regering en die ware ANC-jeugliga wat gedrapeer in rooi en onder die naam EFF in die Parlement sit. Die EFF het dit in 2014 duidelik gemaak dat dit hul doelstelling is om ‘revolusie na die parlement te bring’. Om dit te kan vermag moes hulle van pres. Jacob Zuma ontslae raak en die ANC oorwin. In reaksie daarop het die ANC alles moontlik gedoen om die president en die ANC te beskerm. Hierdie vete is gevoer sonder inagneming van waarheid, wet, Grondwet, Parlement, Suid-Afrika of die eed wat elkeen van hulle afgelê het. Die ANC-lede in hierdie Parlement het twee keer gestem om pres. Zuma te beskerm en twee keer gestem om die Openbare Beskermer se opdragte te minag en in die proses die wet en Grondwet geminag. Dan het hulle die vermetelheid om later te sê die Parlement het in sy plig gefaal. Nee, dis nie almal in die Parlement nie, dit is meerderheid van die ANC wat klaaglik gefaal het. Nie ? enkele lid van die ANC het hulle teen die vergrype uitgespreek nie. Hierdie bloedvete sal voortduur en die publiek sal eindelik daaroor ? oordeel fel.”

Daar is tans allerweë ernstige bedenkinge oor die stelsel van kieserregistrasie van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) vir die komende plaaslike verkiesings op 3 Augustus, in die sin dat die adresse van geregistreerde kiesers heel deurmekaar, verkeerd en onvolledig is. Dit het daartoe gelei dat die Kieshof beslis het dat die OVK verplig is om die adresse van geregistreerde kiesers aan kandidate in verkiesings moet verskaf. Volgens die OVK sal dit beteken dat 7,9 miljoen geregistreerde kiesers nie sal kan stem nie en dat die verkiesing op 3 Augustus nie sal kan voortgaan nie. Die OVK het na die Grondwethof geappelleer teen die beslissing van die Kieshof, waar aangevoer is dat die proses van verskaffing van adresse tot vier jaar kan neem. Hierop het hoofregter Mogoeng Mogoeng gesê dat volgens getuienis is dit egter ‘n proses wat in drie maande afgehandel kan word, voordat uitspraak in die saak voorbehou is.

‘n Selfverduidelikende mediaverklaring van Agri SA lui o.m. soos volg: “Die Gekose Komitee op Ekonomiese en Besigheidsontwikkeling het op 10 Mei die Onteieningwetsontwerp goedgekeur met slegs semantiese wysigings. Die definisie van ‘onteiening’ wat Agri SA hard probeer het om geskrap of verander te kry, is steeds in die wetsontwerp. Die provinsiale verhore oor die wetsontwerp is op kort kennisgewing gehou en daar was min geleentheid vir openbare deelname en insette. Ten spyte van die feit dat Agri SA se provinsiale verteenwoordigers in al die provinsies beswaar gemaak het teen die definisie van onteiening, is hierdie besware nie ingesluit by die provinsiale verslae oor die verhore nie. Daar is goeie argumente uit te maak dat grond en roerende eiendom sterk verskans is, nie net in die SA Grondwet nie maar oor internasionaal in grondwette wat handveste van fundamentele regte insluit.”

AfriForum Jeug het as deel van sy #AfrikaansSalBly-veldtog en om Afrikaans se 91ste bestaansjaar te vier, tydelike taalmonumente uit Jenga-blokke gebou waarop Afrikaanse woorde gedruk is, terwyl 91 ballonne ook by elke geleentheid losgelaat is. Hierdie simboliese aksies is op die hoofkampusse van die Universiteit van Pretoria (UP), Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van die Vrystaat (UV) en die Noordwes-Universiteit Potch-kampus (NWU) gehou, hoewel die reaksies op die verskillende kampusse verskil het. By die UV en NWU het dit sonder ontwrigting en in goeie gees plaasgevind, maar op die US-kampus het die EFF konfrontasie veroorsaak, terwyl op die UP-kampus die kampussekuriteit die strukture gekonfiskeer en die studente aangesê het om die perseel te verlaat.

Bladsy 11 van 13

Tridor Banier web

wow kitsblits