ditsem website banner no 1 2017

Glybanier

-►Ditsem Nuus webwerf www.ditsem.net handhaaf tans sowat 21 000 besoekers per maand -►Matjila van OBK sê nou SAA mag moontlik geld leen -►Beweerde renosterstroper David Mahlobo nou Minister van Energie -►Internasionale besoekers aan Kaapstad groei 27% in eerste semester 2017 -►Adj-pres. Ramaphosa blykbaar moontlik volgende vir Zuma-valbyl

Volgens erkenning van 'n woordvoerder van die Vrystaatse Dept. van Openbare Werke en Infrastruktuur is reeds sowat R36 miljoen vrugteloos gespandeer om die ou Ramkraaltronkgebou in Batho, Bloemfontein voor te berei vir omskepping in 'n nuwe gebou vir die Vrystaatse Wetgewer. Verbeteringe op die perseel is gevandaliseer, terwyl miljoene tevergeefs op konsultante en beplanners bestee is. Volgens die woordvoerder moet honderde miljoene rand nog deur die Vrystaatse regering bekom word om die nuwe gebou tot stand te bring. Hy weerlê gerugte onder regerings- en sakelui dat die uitgawes tot nou reeds meer as R150 miljoen beloop. Die provinsiale regering werk nou saam met verskeie vennote om geld vir die bouery bymekaar te maak. Dié besluit om die gebou by Ramkraal te bou, staan steeds, aldus die woordvoerder.

Die SA Raad van kerke (SARK) het 'n verslag van hul eie oor staatskaping vrygestel, wat grootliks dieselfde lyn volg as die verslag van die voormalige OB Thuli Madonsela verlede jaar. By die bekendstellingsgeleentheid in Soweto het die sekretaris-generaal van die SARK, biskop Malusi Mpumlwana, o.m. gesê (in Afrikaans vertaal): Ons het nou vasgestel dit wat na chaos en onstabiliteit in ons regering lyk, is eintlik 'n sistemiese ontwerp van waansin wat ons regeringsomgewing siek maak – 'n chaotiese ontwerp. Ons doen 'n beroep op die ANC as die regerende party om selfondersoek in te stel en dié maner van regeer stop te sit voordat dit te laat is. In die versigtige ontleding van ons verslag word tendense uitgelig van onvanpaste beheer oor staatstelsels deur 'n magselite wat draai om die president wat die staat se bates stelselmatig opsuig.”

'n Protestants-Christelike kerk met 'n 80 m hoë toring is pas in Changsha, China voltooi, ironies genoeg die stad waar Mao Zedong in die dertigerjare sy Kommunistiese veldtog begin het en waar later Christen-kerke feitlik uitgewis is. In onlangse jare het Protestants-Christelike kerke egter weer begin floreer en is tans 'n golf van Christelike bekerings besig om deur China te spoel. Die kerk in Changsha is twee keer so hoog as die grootste standbeeld vir Mao in China, wat slegs enkele kilometer vanaf die kerk staan.

Die SA regering is oor sy diskriminerende praktyke met regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging deur Solidariteit formeel aangekla by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), ander liggame van die VN in Genève, die Internasionale Menseregtekommissie en die VN Komitee vir die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie (CERD). In 'n verklaring sê Solidariteit: “Ons is almal moeg vir ras en die dubbele standaarde wat geld by die hantering daarvan. Die tyd om daaroor stil te bly, is verby. Ons mag nie toelaat dat minderhede, en spesifiek wit mense, deurlopend gekriminaliseer word nie. Dubbele standaarde in die hantering van ras is nie net verkeerd nie; dit is boonop gevaarlik. Die doel van ons veldtog is om te wys dat die keiser kaal is sodat die situasie genormaliseer kan word. Die regering se stelsel van rassekwotas bevorder nie nie-rassigheid soos vereis deur die Grondwet nie, maar het eerder nuwe rassisme tot gevolg. Dit het niks met regstelling te doen nie, maar alles met ras en dit lei tot geïnstitusionaliseerde rassisme.”

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) het 'n veldtog van stapel gestuur om te veg vir die gebruik van Afrikaans en al die ander inheemse tale in howe ten einde te voorkom dat slegs Engels gebruik word. Dit volg na die onlangse kennisgewing van regter-president Hlope aan die Kaapse Balieraad dat alle howe in die Wes-Kaap met onmiddellike effek slegs Engels as taal van rekord moet gebruik. Dit blyk daar was geen konsultasie met belanghebbende regslui soos die VRA nie en ook nie met die Afrikaanse gemeenskap nie. In effek beteken dit dat Afrikaans en die ander inheemse tale deur hierdie tipe besluite heeltemal uit die howe gedwing en word Engels in die kele van die publiek afgedruk. Inmiddels wat slegs die Wes-Kaap betref, verkies ʼn groot persentasie advokate by die Kaapse Balie verkies om eerder hul hofstukke in Afrikaans op te stel. Regslui wat die VRA in hul veldtog wil steun, kan die nodige vorm by www.vra.co.za voltooi. Vir meer besonderhede, kontak Tiaan van Dyk, voorsitter van die VRA, by 082 825 8876.

Die vlamme is besig om letterlik uit te slaan oor die ANC in die Vrystaat met sy berugte premier en stoere Zuma-lojalis Ace Magashule, met aanhoudende bloedige betogings by die Glaspaleis in Bloemfontein as hoofsetel van die Mangaung Metro Munisipaliteit en met gewelddadige betogings oor gebrekkige of geen munisipale dienslewering op talle Vrystaatse dorpe. Te Frankfort het die Mafube Plaaslike Munisipaliteit, wat ook die dorpe Cornelia, Villiers en Tweeling bedien, platgeval en is die kantore gesluit. Daar is nie meer geld vir salarisse vir amptenare of vir dienslewering nie. Te Cornelia is die ANC kantore afgebrand. Die Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit met hoofkantoor te Theunissen en wat ook Winburg en Brandfort bedien, funksioneer feitlik nie meer nie en word munisipale toerusting op 'n eksekusieveiling verkoop om skulddelging te doen. In feitlik alle ander munisipaliteite in die provinsie lyk die droewige prentjie ongeveer dieselfde, met bv. die Kopanong Plaaslike Munisipaliteit te Trompsburg wat ook die dorpe Gariepdam, Springfontein, Bethulie, Philippolis, Jagersfontein, Fauresmith, Edenburg en Reddersburg bedien, wat so diep in die skuld is by Bloem Water en Eskom dat van die dorpe soms vir tot 'n maand sonder water is. Inmiddels het Thabo Manyoni, uitgeskopte Mangaung-burgemeester, as LP bedank en gesê hy keer terug na die Vrystaat om die ANC sg. te versterk. Dit is bekend dat Manyoni en Magashule nie om dieselfde vuur sit nie.    

In 'n betekenisvolle skuif van siening van grondgebied vir die Boere-Afrikanervolk, sê die Boere-Afrikaner Volksraad in 'n kennisgewing: “Terwyl Suid-Afrika (die erkende swart gebiede uitgesluit) histories aan die witman behoort en geen ander volk ‘n aanspraak daarop het nie, toon demografiese feite en projeksies dat blankes binne afsienbare tyd ‘n onbenullige minderheid van die SA bevolking sal uitmaak. Menslik gesproke is daar geen manier waarop die blankes weer die politieke mag oor SA kan herwin nie - in elk geval nie vreedsaam nie. Bowendien wiI ons nie weer oor andervolkiges regeer nie. In die teenswoordige omstandighede is terugkeer na die oorspronklike Voortrekkerideaal van ‘n eie republiek waar ons onsself onder 'n Christelike grondwet regeer, ‘n Iewensnoodsaaklike voorwaarde vir ons voortbestaan as volk. Die alternatief is versweIging deur die swart massa. Wanneer vryheid vir ons volk op dié basis deel word van die praktiese politieke agenda, sal
nuwe grense getrek word om op die vaderlandse bodem wat ons dan vir onsself afbaken, ‘n ware tuiste vir ons volk te bied, vry van vreemde oorheersing.”

In 'n brief in Volksblad wys die DA-leier in die Vrystaatse Wetgewer Roy Jankielsohn daarop dat tydens die begrotingsdebat van die Dept. van Sport, Kuns en Kultuur in die Vrystaatse Wetgewer het die ANC-hoofsweep, Neels van Rooyen, spottend verwys na sy geskiedenisklasse op skool oor die Voortrekkers en genoem dat “dit nie reg kan wees nie dat elke dorp nog 'n Voortrekkerstraat en 'n Kerkstraat het.” Van Rooyen het ook verwys na Dewetsdorp met die vraag: “...Wie is hierdie De Wet? Hy sit iewers op 'n perd en ons wil nog nie dinge verander nie... Ek kan nie elke keer dat ek deur die Vrystaat ry, herinner word aan my st. 5-geskiedenisboek nie.” Jankielsohn lewer dan self die volgende kommentaar: “Onkundige pogings om byvoorbeeld in die Wetgewer 'n bespotting te maak van gnl. De Wet gaan nie bydra tot gesonde debatte nie. Neels van Rooyen moet geskiedenisboeke lees en nie net staatmaak op sy geheue van ou st. 5-skoolhandboeke uit die 1960’s nie.”

  

Die SA Menseregtekommissie (MRK) het onlangs sy bevinding op die klag van haatspraak en aanhitsing tot rassehaat wat die Volksraad en die HNP op 21 Januarie 2016 teen pres. Jacob Zuma by dié instelling gelê het, bekendgemaak Die klag is aanhangig gemaak na aanleiding van Zuma se uitlating dat die blankes die grond van Suid-Afrika by die Swartes sou gesteel het. Na ‘n beredenering van 12 bladsye het die MRK o.m. bevind: “Upon an in-depth consideration, the Commission is satisfied that the statement is unlikely to cause the serious and significant hurt or harm to White persons as required by the law, and it is further unlikely to promote or propagate hatred. On this basis, the Commission is unable to find that the statement in question constitutes hate speech. In the circumstances of the current complaint, the Commission is unable to make a finding of a human rights violation, and will accordingly proceed to close its file herein.” Die Volksraad het gesamentlik teen die bevinding geappelleer, maar die MRK het gereageer dat dit weens werksdruk ‘n geruime tyd sal duur voordat die appèl oorweeg sal word.

In 'n mediaverklaring roep die Boere-Afrikaner Volksraad “volksgenote op na 'n belangrike volksvergadering op Saterdag 3 Junie 2017 om 10:00 by die Paardekraal Monument in Krugersdorp. By die geleentheid sal die Volksraad DV verslag lewer oor die uitvoering van sy mandaat en die internasionale gemeenskap se reaksie op die uitnodiging om as bemiddelaar toe te tree tot die Boere-Afrikanervolk se dispuut met die ANC-regering oor die uitvoering van die reg op territoriale selfbeskikking. Die Volksraad het sy mandaat afgehandel en daarmee het sy huidige termyn tot ‘n einde gekom. Die volk moet nou besluit hoe verder opgetree moet word om uitvoering van ons onbetwisbare reg op selfbeskikking te verkry.” Meer besonderhede by www.volksraad.co.za of tel. (012) 802 4285.  

Bladsy 8 van 19

Ora betonwerke proef Sept 2017

Artistia Food

Renosterberg lodge