adendorff bannier

Suid-Afrika staan by 'n geskiedkundige kruispad. Meedoënlose dryf na Kommunistiese staat

Terwyl 'n koerant vir sy lesers nuus kan publiseer wat sag op die oor val en wat hulle rustig stem, het Ditsem Nuus besluit om dit wat tans in Suid-Afrika die meeste saak maak, hiermee op die voorblad te plaas. Dit gaan naamlik daaroor dat daar tans 'n aantal gebeure in die land afspeel, wat, indien hulle met spreekwoordelike strepies met mekaar verbind word, 'n prentjie te voorskyn laat kom van 'n meedoënlose dryf om SA in 'n Kommunistiese staat te omskep.

Hierdie gebeure is basies die volgende:

  • Die poging van 'n gekonsolideerde mag met pres. Jacob Zuma aan die spits om beheer oor die natuurlike hulpbronne van die land oor te neem, soos die minerale, grond, water, myne, ens., tesame met die geldkas van die land (Finansiesportefeulje) en die wapenmag (Polisie, Weermag en Staatsveiligheid). Die summiere afdanking van Pravin Gordhan as Minister van Finansies en 'n aantal ander sleutelministers (Polisie, Energie, Vervoer en Kommunikasie) en hul vervanging met lakeie, is 'n omvattende poging om presies dit te bereik.
  • Volgens konsepbeleidsdokumente van die ANC wat verlede maand gepubliseer is met die oog op goedkeuring in Junie vanjaar, moet  die nasionale Presidensie “versterk word as die strategiese sentrum van staatsmag.” Dit beteken groter bevoegdhede gekonsentreer in die Presidensie - effektiewelik in Zuma - dus 'n stap in die rigting van diktatoriale staatsbeheer.
  • Daar is ook skuiwe binne die ANC as regerende party om meer diktatoriaal van bo af te raak en sy sg. demokratiese inslag vanaf grondvlak te verskraal of selfs weg te neem. So is in die jongste ANC beleidsdokumente voorgestel dat “'n rewolusionêre verkiesingskommissie gestig word wat as hekwagters moet dien en moet keer dat verkiesingsprosesse in die party gemanipuleer word. Hierdie kommissie moet alle kandidate eers goedkeur voordat hulle vir verkiesings as partyverteenwoordigers benoem word.” Die ooglopende doelwit hiermee is om slegs kandidate van bo af vooraf goedgekeur, as verteenwoordigers te kry. Terselfdertyd word voorgestel dat die ANC 'n ten volle outomatiese, elektroniese werwing- en lidmaatskapbestuurstelsel kry, wat uit die ANC-hoofkantoor bestuur word en vir strukture laer af slegs met goedkeuring toeganklik sal wees.
  • Gedurende die afgelope twee dekades is d.m.v. twyfelagtige wetgewing alle ondergrondse minerale regte in die land, asook alle waterbronne insluitende selfs natuurlike damme en boorgate, tot eiendom van die staat verklaar. Dit is gedoen sonder enige vergoeding vir private eienaars.
  • Wetsontwerpe oor grond wat tans in die Parlement dien, maak voorsiening vir ernstige inbreuk op private grondeienaarskap en selfs op private besittings soos huishoudelike items, bates, aandele, ens. Dit word beliggaam in die Wetsontwerp op Onteiening en in die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit. Meer besonderhede daaroor elders in hierdie uitgawe.
  • 'n Wetsontwerp dien tans voor die Parlement wat dit verpligtend wil maak vir kerke en kerkgenootskappe om by die staat gelisensieer te word indien hulle as kerke wil funksioneer. Die Wetsontwerp op Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak het dit dus ten doel om kerke in hul bedieninge onder toesig van die staat te plaas. Dit kom in effek neer op skending van geloofsvryheid. Voorts kan hierdie wet ook dien om in die huidige verpolitiseerde klimaat kritiek deur blankes op swartes tot strafregtelike haatspraak te verklaar.
  • Al meer maatreëls om mediavryheid aan bande te lê en druk op koerante, tydskrifte, radio, TV en die Internet te plaas om “positief” oor die regering te berig. Spesifiek het die gepubliseerde “Konsep Aanlyn Reguleringsbeleid van die Film- en Publikasieraad” ten doel om die Internet in SA streng te beheer, soos om epos te monitor en “ongewenste” webwerwe te sluit.
  • Ook op skolevlak woed die veldtog ten gunste van sentralistiese beheer, terwyl leerplanne al meer destruktief vir tradisionele waardes raak, die bevoegdhede van verkose beheerliggame al meer ingekort word en 'n veldtog geloods is om godsdiensonderrig in skole te verbied. 'n Toetssaak in laasgenoemde verband dien vanjaar 15 tot 17 Mei in die Suid-Gautengse hooggeregshof.
  • Die gewelddadige optrede van die EFF in die Parlement wat die normale funksionering van hierdie bakermat van demokrasie onmoontlik maak, is ook 'n manifestasie van die dryf na 'n diktatuur.
  • Dieselfde geld die ongelooflike staatskorrupsie en plundering van die staatskas, die totale bedrag ten opsigte waarvan deur die nuutgestigte Private Vervolgingsgesag van AfriForum beraam word op R700 miljard sedert 1994.

Die grootste struikelblok in die weg van 'n Kommunistiese diktatuur in SA, is die blanke burgers van die land, in besonder die Afrikaner met hul sterk Christelike inslag. Ongeag wat ookal gesê word, was dit die blanke wat beskawing gebring het na wat later Suid-Afrika sou word. Hulle het die wiel gebring, geboue gebou, plase gevestig, voedsel geproduseer, dorpe gestig, mediese en onderwysdienste opgerig, wet en orde te boek gestel en demokratiese regering gevestig.

Nou is die groot aanslag juis teen hulle gemik: SEB, “regstellende aksie”, sportkwotas, studiediskriminasie, inperking van Afrikaans, grondonteiening, wreedaardige moorde en verkragtings van swart op wit, ens. - in effek ‘n onverklaarde burgeroorlog teen die blanke burgers van die land.

Dit is waarom indien hierdie verwikkelinge sinvol met mekaar verbind word, gesien kan word dat SA tans op 'n geskiedkundige kruispad staan van óf behoud van die kosbaarste van alle regte en voorregte, nl. persoonlike vryheid, of alternatiewelik 'n Kommunistiese diktatuur. Dit is harde woorde, maar dit is die realiteit van die dag.

Indien pres. Zuma ontsetel sou word, sou dit nog nie noodwendig die einde van die diktatoriale bedreiging beteken nie, want die gevaar strek verder as slegs een persoon en behels 'n bose mag bestaande uit o.m. 'n verharde ANC-kern, sommige male fide SA burgers, die Guptas, die NWO, sekere Westerse veiligheidsinstansies en dies meer. Ironies genoeg dring die SA Kommunistiese Party tans aan op die onvoorwaardelike bedanking van Zuma, maar dit verander nog nie die kolle van die luiperd nie.

In die finale instansie gaan die stryd om die siel van Suid-Afrika oor die onverbiddelike stryd tussen die Christelike Lig en die bose Duisternis – 'n stryd ten opsigte waarvan elkeen en in besonder die Afrikaner hom- of haarself moet verantwoord.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Tridor Banier web

wow kitsblits