Orastad 2

Glybanier

-►Gruwelike en Godskreiende rassistiese dubbele standaarde -►Plaasmoorde is terreur en nie bloot misdaad nie – AfriForum -►Opstand teen plaasterreur: Landswye vloedgolf -►Dave Miller vinnigste 100tal in T20 krieket – vanaf net 35 balle -►WP Curriebekerkampioene 2017 – steeds die beste SA rugbyreeks -►Nuwe boek “The President’s Keepers” onthul Zuma as “gangster” -►Groot vragmotor ploeg in Swart Maandag-optog in

Die SA Inkomstediens (SAID / SARS), wat 'n politieke slagveld geword het met pres. Zuma wat opponent Minister Pravin Gordhan met Malusi Gigaba vervang het en die departementele hoof Tom Moyane wat as laksman van Zuma en Gigaba 'n suiweringsveldtog ander senior amptenare in die SAID uitgevoer het, is besig om sy inkomsteteikens met miljarde rand te mis.

Vir die eerste kwartaal vanjaar het SAID R13 miljard te min ingesamel en as die tendens voortduur, gaan SAID vir die jaar R50 miljard te kort wees. Dit gaan 'n betekenisvolle impak hê op die nasionale begroting oor die eersvolgende drie jaar, met die begroting vir 2017 wat reeds afgeskop het met 'n tekort van R149 miljard. Dit is gelykstaande aan sowat 3,1% van die BBP.

 

Die skokkende wyse waarop ʼn bejaarde hoësorg-pasiënt in die staatshospitaal op Belfast behandel is, is deur die VF Plus in Mpumalanga onder die aandag gebring in 'n mediaverklaring, wat verder lui: “Mnr. Hennie de Beer (76) het Vrydagaand 'n week gelede uit sy bed geval en moes hy feitlik die hele nag op die vloer lê, waar personeel hom eers die volgende oggend aangetref het. Sy drup is egter nie teruggeplaas nie en daar was ook nie die suurstof wat hy benodig het nie. Die drup is eers die middag weer teruggeplaas.

“Toe mnr. De Beer se seun, Hennie de Beer jnr. by die hospitaal navraag gedoen het oor die voorval, is hy hardhandig uit die hospitaal verwyder en daarvan beskuldig dat hy ʼn rassis is. De Beer jnr. ontken dit.

“Hierdie voorval en optrede is totaal onaanvaarbaar. Wanneer mense met swak diens gekonfronteer word, raak dit toenemend ʼn maklike uitweg om die rassekaart te speel. Wat met mnr. De Beer gebeur het, getuig van skokkende swak diens deur die personeel. Die matrone in beheer was nie bereid om met die VF Plus oor die aangeleentheid te praat nie en het gister selfs versuim om haar foon te beantwoord.”

Kom ons kom uit by iets positiefs. Dinge gaan sleg in SA, om eerlik te wees, maar God is in beheer.

Hierdie interne bakleiery in die ANC is beslis 'n bedekte seën. 'n Huis teen homself verdeeld kan nie standhou nie.

Ons sê steeds daar is nou dringende behoefte – inderwaarheid nood – dat die Afrikaner sy identiteit as volk opneem en begin saamwerk soos nog nooit in die geskiedenis nie. As individue gaan ons nie oorleef nie, maar as volk het ons die enigste kans.

Ons sê ook moenie wag vir een groot leier nie, maar bring 'n leierskap met aanvullende talente bymekaar.

As verligting vir die kernoorlog waarmee Noord-Korea dreig, het die VN Veiligheidsraad met sy 15 lidlande eenparig besluit om strenger sanksies in te stel, o.a. 'n verbod op tekstielgoedere uit Noord-Korea, beperkings op verskaffing van brandstofvoorrade en verklaring dat dit voortaan onwettig gaan wees vir buitelandse maatskappye om besigheid met enige Noord-Koreaanse instansie te doen.

In reaksie het die Noord-Koreaanse ambassadeur by die VN gesê sy land “is gereed om 'n uiterste vorm (van verdediging) te gebruik. Die komende maatreëls (wat Noord-Korea gaan volg) sal die VSA die ergste pyn laat beleef wat dié land tot nog toe in die geskiedenis getref het.”

Intussen hanteer China met sy lang gemeenskaplike grens met Noord-Korea 93% van die buitelandse handel van laasgenoemde. Dit wys hoe sterk hefboom China op Noord-Korea kan hê – en eintlik waarskynlik aandadig is aan die opkoms van Noord-Korea as potensiële kernmag.

Die kleinhandelsreus Star met die Steinhoff Groep as beherende aandeelhouer gaan eenvoudig net van krag tot krag met die een oorname na die ander en het tans o.m. Ackermans, Bradlows, Cape Fin, Dunss, HiFi Corp, PEP, Russels, Shoe City, Tekkie Town, The Tile House en TimberCity in hul stal. Star, die afkorting vir Steinhoff Africa Retail, beplan om op 20 September 2017 vir die eerste keer op die JSE te noteer en wel met 3,45 miljard aandele tussen R18 en R23 per aandeel.

Die uitvoerende hoof van die Steinhoff Groep is Markus Jooste (55).

AfriVriendelik, 'n inisiatief van AfriForum, bied tans 'n Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aan met die oogmerk om entrepreneurs te bemagtig en te motiveer. Die enigste vereistes vir die kompetisie is dat 'n onderneming reeds 'n jaar lank in bedryf moet wees, dat dit kliënte in Afrikaans moet bedien en dat dit 'n teenwoordigheid op sosiale media moet hê.

Inskrywings sluit op 5 Oktober 2017, waarna 10 finaliste aangewys sal word, waarvoor die publiek dan tussen 10 en 20 Oktober kan stem en waarna die finale beoordeling plaasvind. Die volgende pryse is op die spel: ’n Video (advertensie) vir die onderneming se persoonlike verspreiding op sosiale media / ’n Webtuiste (splinternuut óf ’n opgradering van huidige webwerf) en gratis hostingkoste vir een jaar / ’n Mentorsessie / Hulp met die skep van sosiale en aanlynteenwoordigheid / ’n Apple MacBook Air / ’n Artikel in Forum Tydskrif met sy meer as 150 000 eksemplare.

Vir meer besonderhede besoek www.afrivriendelik.co.za.

Twee Suid-Afrikaners het in uithousportsoorte op internasionale vlak die hoogste louere ingeoes. Die afgelope naweek het Hank McGregor sy 10de wêreldtitel in kanovaart verower in die K1-titel oor 30 km by die Wêreldkampioenskapbyeenkoms te Camps Drift naby Pietermaritzburg, met 'n tyd van 2:09:34. Hy het ook saam met sy roeimaat Jasper Mocké goud in die K2 naelrit verower.

Drie maande gelede het Ryan Sandes van Houtbaai die Western States 100 Mile Endurance Run oor 163 km bergagtige terrein in Kalifornië gewen in 'n tyd van 16:19.38 - 29 minute voor sy naaste mededinger, die Amerikaner Alex Nicholls. Sandes het al verskeie prestige ultra uithouwedlope in die wêreld gewen.

'n Voorval op Vrydag 25 Augustus 2017 tussen 13:00 en 14:00 in die Soetdoring wildreservaat 30 km noord van Bloemfontein het vrae laat ontstaan oor moontlike onwettige jag deur senior staatsamptenare. Wat na berig word gebeur het, is dat Tshepo Moremi, adjunk-DG van die Dept. van Omgewingsake, adv. Tumelo Phahlo, hoof van die Regsafdeling, Jeff Motsetse, hoof van Finansies, Kobus Willemse (64), assistent-direkteur Bewaringsdienste, ene Myburgh en ene Mofokeng van dieselfde departement in 'n departementele voertuig was waaruit op wild geskiet is. Daartydens het Willemse skielik 'n hartaanval agter op die bakkie gehad en toe hy val, het 'n skoot afgegaan en is Mofokeng beseer.

Die twee beseerde amptenare moes in die Life Rosepark Hospitaal opgeneem word. Aanvanklik het die LUR vir Omgewingsake Benny Malakoane gesê hy weet nie van die beweerde jagtog nie, maar later het hy gesê dit was wel gemagtig.

In 'n gesamentlike mediaverklaring vra die DA, VF Plus en EFF in die Vrystaat wat gewys kan word van bykans R120 miljoen wat na bewering bestee is om die ou Ramkraal-tronk in Batho, Bloemfontein, te omskep in 'n nuwe doelmatige gebou vir die Vrystaatse Wetgewer. Volgens hulle is hierdie bedrag gespandeer sonder dat 'n sooi gespit is of 'n steen gelê is.

Intussen het vandale die voormalige Ramkraal-tronk so geplunder dat feitlik net 'n murasie oor is. Tydens 'n besoek aan die perseel het die verteenwoordigers van die partye aan die media gesê dit is wat oor is nadat “Orkaan Ace” daardeur is, met verwysing na beweerde grootskaalse korrupsie onder premier Ace Magashule.

In reaksie sê die Vrystaatse Wetgewer in 'n mediaverklaring “dat geld tussen departemente geskuif is, dat ondersoek daarna ingestel word en dat verdere kommentaar nie gelewer kan word alvorens die ondersoek afgehandel is nie.”

Bladsy 4 van 28

Ora betonwerke proef Sept 2017

Artistia Food

Renosterberg lodge