wordpress visitor



Terug

Redaksionele kommentaar

08/2010

Voorgestelde drakoniese mediawet

In media- en opposisiegeledere word tans totale teenkanting gemonster teen die nuwe drakoniese mediawet wat die regering op die wetboek wil plaas. Die wetsontwerp wil voorsiening maak vir die beskerming van sensitiewe inligting om korrupsie en skandes toe te smeer en ondersoekende joernalistiek te dwarsboom.

Die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting kan dus meebring dat inligting oor tenders wat met die afgelope Węreldbeker-sokkertoernooi verbind word, geheim gehou word. Dit kan ook gebruik word om staatskontrakte met senior politici toe te smeer. Die wet sal die staat magtig om inligting in nasionale belang of in die belang van staatsveiligheid te klassifiseer en dit vir tot 20 jaar geheim te hou.

Teenkanting is vervat in geskrewe voorleggings van verskeie belangegroepe wat daarop aandring dat die wetsontwerp onttrek en herskryf word. Selfs die vakverbond Cosatu meen dit is 'n “tree terug vir ons demokrasie”.

Inderdaad is die voorgenome wet ‘n poging om ondersoekende joernalistiek ‘n misdaad te maak.

Skurke in hoë plekker

Wat is die waardeskatting van die ANC as 'n organisasie as dit toelaat dat bewese skurke (rampokkers sou 'n beter woord gewees het) soos Jackie Selebi (hoof van die SA Polisiediens), Khaya Ngqula (hoof van die NOK en later SAL) en Robert McBride (hoof van Ekurhuleni metropolisie en nou kandidaat vir dieselfde pos by Tshwane Munisipaliteit) toegelaat word om deur die range op te beweeg en op topvlak te opereer? Die kaders is mos goed ingelig omtrent mekaar se doen en late en hul moes dus mos goed geweet het van dié persone se integriteit en bedrywighede?

Nog 'n punt: Mense soos hierdie drie opereer nie op hul eie in 'n vakuum nie - hulle het baie "kollegas" in hoë plekke.

Daarby: Die bewyse is daar dat daar nog baie soortgelykes in die sisteem is, terende op belastingbetalersgeld.

07/2010

Geloftevolk

Dit is verseker so dat Andries Pretorius, Sarel Cilliers en die ander betrokke by die gelofte van Bloedrivier die Afrikaner en sy nasate - die volk soos dit ontwikkel het en diegene wat hulself onder die vaandel van die Afrikaner sien - tot die gelofte verbind het.

'n Gelofte is 'n heilige onderneming aan die Drieënige God. Volgens Sy Woord is dit beter dat jy nie belowe nie, as dat jy belowe en nie betaal nie.

Die gelofte van Bloedrivier bepaal basies die volgende: Dat al die eer aan God gaan / Dat 'n huis tot Sy eer gebou sal word / Dat 16 Desember altyd as 'n dankdag gevier sal word. Die gelofte oorspan tyd, met "huis" wat ook beteken 'n samelewingsorde tot Sy eer.

Die Afrikaner is dus 'n Geloftevolk, wat sy gelofte gestand moet doen. Deur die afgelope 172 jaar is die gelofte van Bloedrivier soms gruwelik verwaarloos en vertrap - gewis een van die redes vir die probleme wat die Afrikanervolk opgetel het.

Daarom is 'n aksie soos wat die Geloftevolk Koördineringskomitee (GKK) geloods het, nie slegs te verwelkom nie, dit is noodsaaklik. As sodanig word dit deur Ditsem Vrystaat ondersteun. Ons doen voorts ook 'n beroep op alle Christen-Afrikaners om die GKK aksie te steun.

Terselfdertyd doen ons 'n beroep op die GKK om opreg biddend die volk in hierdie aksie volgens die wil van God te lei.

06/2010

Afrikaners - veel om op trots te wees

Min bevolkingsgroepe / volke in die geskiedenis was nog die voorwerp van verguising en afbreking van selfbeeld soos die Afrikaner. Veral is probeer om die Afrikaner te brandmerk as verdrukker van ander bevolkingsbroepe / volke / rasse, veral die afgelope sowat 30 jaar.

Die feit van die saak is egter dat die Afrikaner, verre van volmaak, veel het om op nederig trots te wees. As begenadigde bevolkingsgroep / volk in Christelike verband, het die Afrikaner 'n evangelisasierekord in Afrika soos geen ander nie.

Daarby het die Afrikaner 'n sleutelrol gespeel in die ontwikkeling van Suid-Afrika tot die voorste moderne staat op die vasteland. Die prestasies in hierdie opsig is ver te veel om hier te noem.

Vandag in SA lewer die Afrikaner steeds 'n onskatbare bydrae om die wiele van die land aan die rol te hou – ver buite hul getalsverhouding. As mens mooi kyk, is hierdie bydrae besig om sterk te groei, die geweldige eietydse rassediskriminasie teen hom ten spyt.

'n Mens kan die versoeking nie weerstaan om te noem van die aandeel in Super 14 en Springbokrugby nie.

Onlangs het die SA Instituut vir Rasseverhoudinge daarop gewys dat blankes oor die algemeen in die land beskik oor drie strategiese vermoëens waarsonder die land nie kan klaarkom nie: Vaardighede / Belastingbydrae / Voedselproduksie.

As die Afrikaner / Boer ootmoedig wandel voor God en sy kaarte reg speel, moet sy beste hoofstuk nog geskryf word.

05/2010

Koers hou

Nuusgebeure is tans besig om mekaar vinnig af te wissel en 'n mens moet kophou om by te hou. Dit word besef indien 'n mens maar net die media dophou.

Die groot uitdaging is natuurlik om altyd die korrels van die kaf te kan onderskei – te besluit wat maak regtig saak en wat nie.

In hierdie tye is daar nie 'n ander sinvolle manier as om op te kyk na God Drieënig, op jou knieë te gaan vir wysheid en hulp en vandaar af jou heil uit te werk.

Dus, koers hou – en tog ook seker maak dat jy jou daaglikse brood geniet – en te besef dat Suid-Afrika 'n wonderlike land is waarop ook jy 'n reg het.

Afrikaans lewend en lewendig!

Jongste gebeure op die węreldpolitieke front laat kommer toeneem dat die posisie van die VSA as leiermoondheid van die vrye węreld steeds verswak onder pres. Barack Obama.

Van die jongste verwikkelinge is die geweldige hoeveelhede wapentuig wat Rusland besig is om in Latyns-Amerika, veral Venezuela, in te pomp. In 2008 het Rusland wapens en vuurpyle ter waarde van $5,5 miljard aan Venezuela, Peru, Brasilië, Mexiko en Columbië verskaf. Venezuela alleen het wapentuig ter waarde van $6,4 miljard aan Hugo Chávez van Venezuela, uitgesproke vyand van die VSA, verskaf.

Verder is 'n Oos-Europese land soos die Oekraďne wat dolgraag by Navo in die Weste wou aansluit, toegelaat om onder 'n nuwe regering dieper in die Russiese invloedsfeer ingetrek te word.

Kommer bestaan ook oor hoe die Obama-bewind die VSA onlangs ingebind het in 'n nuwe kernsperverdrag met Rusland.

Binnelands lyk dit of die nuwe reusagtige gesondheidsplan van Obama, wat die meriete daarvan ookal mag wees, die rekordskuldlas van die Amerikaanse regering aansienlik gaan vergroot.

Voeg daarby die uitmergelende oorloë in Irak en Afghanistan, dan lyk dit of die internasionale statuur en bedingingsmag van die VSA op die afdraendepad is.

Hou dop!

04/2010

Gebeure asembenemend

Gebeure die afgelope maand slaan byna die asem weg: Die ANC sę hulle wil die boere se grond vat / “Skiet die Boere” word die trefferlied van die radikales / Blankes word links en regs deur swartes vermoor en ernstig aangerand / Nigeriese dwelmbase dwing SA meisies, ook blankes, tot dwelm- en seksslawerny / Die Oorlogsmuseum wil 'n monument vir Tommies op sy terrein oprig / Sprake by die UV om weg te doen met die standbeeld van pres. M.T. Steyn / Eeu-oue Afrikaanse plekname in die Vrystaat moet waai / En wat meer!

Wat presies is die boodskap vir die Boere-Afrikaner hieruit?

Wat nie die boodskap is nie, is: Moenie skrik nie, moenie landuit vlug nie en moenie moedeloos word nie.

Ons glo die antwoord is: Behou geloof in die almagtige, genadige God Drie-enig, gebruik gesonde verstand en pak die bul by die horings.

Afrikaans lewend en lewendig!

“Hy is bevoorreg om Afrikaans in sy leeftyd te sien uitsterf,” sę die digter Breyten Breytenbach. Die geskiedkundige Hermann Giliomee meen Breytenbach is reg. Volgens hom loop Afrikaans die gevaar om oor die volgende vyf tot tien jaar as akademiese, tegnologiese en wetenskaptaal “geknak” te word.

“Twak”, is ons kommentaar op die uitsprake van hierdie twee omies.

Afrikaans is onder druk – miskien die ergste sedert sy ontstaan, maar doodgaan – aikona! Kyk maar hoe leef dit in nuwe boeke, in Afrikaanse musiek van verskillende genres, in kunstefeeste, in die monde van geesdriftige Afrikaanse skoliere, studente en jongmense, op die Internet, ens.

Verder is dit 'n feit dat Afrikaans taalkundig, wetenskaplike en tegnies die voorste inheemse taal op sy vasteland van Afrika is. In SA kan – as 'n feit en nie in meerderwaardigheid nie – slegs Engels in taalkundige gehalte met Afrikaans vergelyk word.

Daar rus weliswaar 'n geweldige uitdaging op almal wat Afrikaans as taal in alle lewensfere koester, om dit te beskerm, te handhaaf en uit te bou – en desnoods daarvoor te veg – maar daar is 'n horde redes om optimisties te wees dat die uitdaging die hoof gebied gaan word.

Hou dop!

03/2010

Groter identiteitstrots by Afrikaner

Nuusberigte uit verskeie oorde die afgelope tyd dui op 'n groeiende trots by Afrikaners oor hul identiteit. Reaksie in internetkolomme op die onlangse volkstaatopname deur Beeld en Die Burger en ook reaksie wat Ditsem Vrystaat deurlopend ontvang, dui op 'n toenemende aantal Afrikaners wat nie net ontnugter is oor die verval van SA as staat nie, maar daadwerklik wil begin werk om 'n nuwe bedeling tot stand te bring.

Mense sę ook hulle wil nie heeldag net kritiseer en kla nie, hulle wil, as Afrikaners, begin bou aan iets nuuts. Hulle is ook klaar met enige skuld oor die verlede en is trouens trots op wie hulle is en wat hul bydrae was en is tot ontwikkeling in SA.

Talle blanke meisies in dwelmseksweb

Berigte in o.a. die dagpers die afgelope tyd toon dat 'n groot aantal blanke meisies, sommige so jonk as 13 jaar, in netwerke vasgevang is waar hulle d.m.v. dwelms en met geweld gedwing word om prostitusie vir die sak van hul “base” te bedryf.

Hoewel die meisies oor die algemeen van alle rasse is, is nog nooit in SA op so 'n skaal ervaar dat blanke meisies deur o.a. Nigeriese en ander rampokkers as seksslawe misbruik word nie. Nog erger is die berigte dat Polisiebeamptes o.a. te Bloemfontein, by wie die meisies gaan kla, self die meisies verkrag en mishandel – sonder “vergoeding”.

Wat die aanleidende omstandighede ook al mag wees en watter sienings ook al gehuldig mag word, dit bly in talle gevalle Afrikaner-dogters wat vertrap word op 'n skaal en vlak wat voorheen ondenkbaar was.

Nasionalisme – sterkste menslike mag

Te midde van storms op die internasionale politieke toneel, blyk het, dat nasionalisme menslik gesproke steeds die finale derterminant bly.

Bewyse hiervan is die gesukkel om die Europe Unie onder 'n algemene regering, binne 'n enkele ekonomiese opset en met een monetęre stelsel te laat vlot. Telkens, soos met die Iere, Pole en selfs Britte, staan voorkeur vir eie nasionalisme – trots op eie volksidentiteit en dienooreenkomstige selfbeskikking – in die pad.

Ook in Suid-Afrika bly nasionalisme onder sommige bevolkingsgroepe kop uitsteek. Een hiervan is die nasionalisme van die Afrikaner / Boerevolk, wat in die jongste tyd al sterker sigbaar word en wat waarskynlik, menslik gesproke, die sterkste, onberekenbare faktor in die stormagtige politiek van die land is.

02/2010

DA in die Parlement

Ditsem Vrystaat is op die adreslys van die mediaverklarings wat die Demokratiese Alliansie (DA) in die Parlement uitstuur en hierdie mediaverklarings - tot 10-12 per dag - is indrukwekkend, om die minste te sę. Die navorsing is puik, die feite onberispelik en die toegewydheid tot geregtigheid prysenswaardig.

As sodanig lewer die DA as opposisie 'n onskatbare bydra tot die land.

Omdat die politieke sienings van Ditsem Vrystaat en die DA uiteindelik uiteenlopend is, sal Ditsem Vrystaat nooit die DA by die stembus steun nie, maar vir hul Parlementęre werk salueer ons hulle.

Drank op kampus

In hierdie uitgawe van Ditsem Vrystaat word berig oor die siening op die UV-kampus dat die verbod op drank nadelig is vir geesbou en geesvang en dat dit die "seniors" kan vervreem.

As ons werklik by 'n situasie gekom het dat alkohol noodsaaklik is vir studente om gees te vang en hul behoorlik uit te leef, dan het dit voorwaar laat in hierdie land geword.

Wat sę ons lesers?

12/2009

Tel die gelofte weer op

In die aanloop tot 16 Desember 1838 by Bloedrivier, is 'n gelofte deur sowat 430 man afgelę, ook namens hul nageslag, wat tot 'n wonderwerkoorwinning uit die hand van God gelei het.

Daar is nie 'n ander manier om dit te beskryf nie, al sluk die moderne mens met sy staatmaak op eie krag ook hoe swaar daaraan.

Die gelofte sluit die Boerevolk in en hoewel talle nasate niks daarvan wil weet nie, staan dit soos 'n paal bo water.

Een van die implikasies van die gelofte is dat 'n "huis" / 'n staatkundige bedeling wat die Here welgevallig is, in Suid(elike) Afrika tot stand gebring moet word. Inherent aan so 'n bedeling is verskillende vryhede vir die volke wat dit wil hę, gekoppel aan wedersydse respek en onderlinge samewerking.

Dit alles ter uitbreiding van die Evangelie.

Sonder dat die gelofte nagkom word, het die Afrikaner/Boerevolk nie 'n toekoms toekoms nie.

11/2009

Die ongelooflike raaisel van Mugabe

In hierdie uitgawe gaan dit heelwat oor die situasie waarin die Boere-Afrikaner homself vandag bevind, hoekom dit so is en wat gedoen behoort te word om daaruit te kom en aan te beweeg na 'n aanvaarbare bedeling.

'n Nuuskommentaar op Radio Pretoria het 'n besonder sober siening oor hierdie situasie gegee en verklaar dan soos volg met spesifieke verwysing na die onlangse Reddingsdaadkongres:

“Baie klem is ten regte geplaas op samewerking tussen organisasies, die skep van netwerke, die rol van vestigingsprojekte en die belang van 'n toekomsvisie, asook die stigting van 'n fonds vir die bemagtiging van Afrikaner-kinders.

“Dit is alles baie goeie idees, maar dit gaan net werk as ons almal as volksgenote inklim en betrokke raak. Daar is nie meer tyd vir suur druiwe, onderlinge twis en onbetrokkendheid nie.

“Daar is vanaand 'n kind wat honger gaan slaap, daar is oor 'n maand 'n matrikulant wat gaan werk soek, daar is 'n Afrikaner-winkel op die hoek, daar is 'n gesin sonder blyplek. Dit is waaroor dit gaan.

“Wat doen JY om te help?”

Hierop wil ons net sę: Amen.

10/2009

Die ongelooflike raaisel van Mugabe

Die onlangse nuus dat Robert Mugabe van Zimbabwe en sy vrou Grace 'n reuse melkery bedryf op plase wat van blanke boere afgeneem is en daaruit'n miljoen liter melk per jaar aan die internasionale suiwelreus Nestlé lewer, het die aandag vir die soveelste keer laat val op hierdie ongelooflike raaisel in die węreldpolitiek.

Mugabe is 'n man wat oor bykans drie dekades sy land tot in die grond geruďneer het deur moord diefstal en veragting van die reg.

Die feite van sy wandade is verbysterend: Hy het deur wanbestuur en korrupsie die inflasiekoers van sy landsekonomie so astronomies opgejaag dat Zimbabwe nie meer 'n geldeenheid het nie; siektes en hongersnood onder sy landgenote vier hoogty; sowat 3 miljoen van sy landgenote het al na Suid-Afrika gevlug; hy het vir homself fabelagtige rykdomme in buitelandse bankrekeninge opgebou; hy het die verkiesing teen sy teenstander Morgan Tsvangirai verloor maar klou met geweld aan diktatoriale mag; ens. ens.

Nogtans, desnieteenstaande, ten spyte haal die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap die Zimbabwe-kwessie af van hul sakelys, weier die SA regering om enige stappe teen hom te doen en is hy sopas toegelaat om die Algemene Vergadering van die VN toe te spreek.

Hoe was die vorige SA regering nie die muishond van die węreld nie en hierdie skepsel kom aanhoudend weg met gruwels?

Ongelooflik!

Hoekom?

Dit kan net vele vriende in hoë plekke wees. Wie is hulle almal?

09/2009

Afrikaans - nie sterf nie!

“Afrikaans, soos ander inheemse tale, gaan geleidelik as onderrigtaal in Suid-Afrika uitsterf. Engels sal in die proses geleidelik die enigste amptelike taal in die land wees en alle ander goeie dade en mooi woorde oor Afrikaans is nutteloos”.

Dit was die woorde van prof. Ampie Coetzee, emeritus-professor in Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), in die sesde jaarlikse Marie Luttig-gedenklesing onlangs by die Hugenote-gedenkskool op Kleinbosch in Dal Josafat by die Paarl.

Coetzee was in die sewentigerjare mede-oprigter van die Afrikaanse Skrywersgilde en van die onafhanklike uitgewery Taurus wat gesensureerde skrywers se werk uitgegee het.

Watter twak! Watter loutere snert! Behalwe dat Coetzee nou nie juis as 'n gerekende outoriteit beskou word nie, moet wel van die uitspraak kennis geneem word en gepas daarop gereageer en geageer word.

“Gepas” beteken die besef dat menslik gesproke Afrikaans eenvoudig in die hande van sy moedertaalgebruikers is. Gebruik dit vanaf moedersknie, vir elke sfeer van die samelewing en tot op hoogste wetenskaplike vlak en tot in die hoogste raadsale van die węreld.

Afrikaans is by enige standaard 'n taal van węreldgehalte en het die vermoë om tot die jongste dag te bestaan - mits dit gebruik, ontwikkel en bevorder word.

08/2009

Alternatiewe Suid-Afrika en nuwe alliansies

Dit is 'n dwingende behoefte om die inhoud van die voorbladberig van hierdie uitgawe te beklemtoon: Daar moet nie soseer tyd en energie gespandeer word om die huidige bestel in Suid-Afrika te probeer regruk nie, maar daar moet eerder gefokus word op die daarstelling van 'n nuwe bedeling - 'n “alternatiewe Suid-Afrika”.

Dit is 'n mondvol, maar gelowig, biddend en grondwetlik moet daarheen beweeg word. Dinge skynbaar in beton gegiet, kan baie vinnig verander. Die Ystergordyn bv. het uiteindelik in 'n ommesientjie tot 'n val gekom.

Wat ook belangrik is, is dat die Afrikaner opreg sal moet verenig sover moontlik en dan moet kyk na alliansies met ander bevolkingsgroepe en volke in SA en in Suidelike Afrika. Daar is diesulkes wat die teenoorgestelde is van die revolusionęres, die liberales en die kommuniste en wat ook opreg na eie identiteit en vryheid streef. Met hulle moet saamgewerk word op die basis van neweskikking sonder oorheersing.

Kom ons reik uit na die aanbreek van 'n nuwe dag.

Reddingspoging vir Afrikaans

Dit is duidelik dat niks minder as 'n Nasionale reddingspoging nodig is nie, omdat die aantal skole met Afrikaans as enigste onderrigtaal die afgelope 16 jaar met meer as die helfte afgeneem het. Dit aldus die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).

Net 667 sulke skole is in SA oor. In 1993 was daar 1 396 Afrikaans-enkelmedium skole en in 2003 sowat 839. Verlede maand is 667 getel waaronder 233 hoër- en 434 laerskole. Dit verteenwoordig 175 350 hoër- en 217 100 laerskoolleerlinge.

Voorts is van SAOU se 25 000 lede, van wie 90% Afrikaanssprekend is, gemiddeld 74 jaar oud. Dit beteken baie aftredes binne 10 – 15 jaar en dat dus baie meer jong onderwysers gewerf moet word.

Orania se tyd nog nie gekom nie

Orania is kennelik 'n projek waarmee groot gedink word, maar wat nog nie naastenby na wens gerealiseer het nie. Tog is dinge besig om te gebeur, hoewel dit stadig gaan.

Al wat ons wil sę, is dat die regte bestanddele daar is.

Orania se tyd sal nog kom.

07/2009

Sake van die dag vir debat

Enkele aktuele sake van die dag wat gemeen word konstruktiewe debat nodig het:

Verdeeldheid in Afrikaner-geledere: As die Afrikaner enigsins weer ‘n politieke faktor in die land wil word, sal besef moet word dat dit slegs deur saamstaan bereik sal kan word - al is dit dan vir die eerste keer in die geskiedenis.

Die toekoms van Afrikaans as wetenskapstaal op tersięre vlak word onder enorme druk geplaas deur die kras waarskuwing deur die Minister van Hoër Onderwys en leier van die Kommunistiese Party in SA, dr. Blade Nzimande, dat sg. historiese Afrikaanse universiteite na vereiste moet “transformeer “ of anders kan hul staatsubsidie in die gedrang kom. Hierdie waarskuwing stel die behoud en verdere ontwikkeling van Afrikaans as wetenskapstaal noodwendig voor 'n ongekende uitdaging.

Nuwe alliansies in Suidelike Afrika: ‘n Interessante scenario is besig om op die sub-kontinent te ontvou, met nie noodwendig alle politieke magte wat met die oud-rewolusionęres soos die ANC, ZANU-PF, SWAPO ens, saamstem nie. Daar is bv. die MDC in Zimbabwe, pres Ian Kgama van Botswana, opposisiepartye in Namibië, ens. wat nuwe denkrigtings openbaar in die rigting van werklike ekonomiese vryheid en maatskaplike opheffing van hul mense.

05/2009

Afrikaner-verdeeldheid - en moontlike oplossing

Gebeure die afgelope twee maande het getoon dat die Afrikaners in die land so verdeeld is as nooit tevore nie.

Wat betref gesprek met die ANC en mnr. Jacob Zuma doen groeperinge oor ‘n wye front, soos Solidariteit, die VF Plus, Orania ens. geesdriftig mee, terwyl groeperinge soos die Afrikaner Volksparty, die GHA en die HNP sę daar is “geen heil te vind in die kraal van Dingaan nie.”

Die Volksraads-verkiesings-kommissie (VVK) wat wel aan samesprekings deelgeneem het, sę die doel is om aan Zuma te sę dat niemand wat by die ontmoeting was Afrikaners se leiers is nie en dat die Afrikaners inderdaad leierloos is.

Op hul beurt praat Solidariteit, die VF+, Orania, ens elk op hul eie met die ANC en Zuma. Toe laasgenoemde sę die Afrikaners is die enigste ware wit stam van Afrika, was talle Afrikaners daaroor die josie in en het die FW de Klerk Stigting selfs 'n klag by die MRK gelę.

In die afgelope verkiesing was die Afrikaner-stem behoorlik versplinter tussen die DA, COPE en die VF Plus, asook in klein mate die ACDP, CDA, ANC en Inkhata. Daarby het HNP-Afrikaners die verkiesing geboikot.

Dan is daar nog die derduisende Afrikaners wat die land verlaat het en ‘n heenkome oor die węreld heen gaan soek het.

Is daar ‘n oplossing vir hierdie verdeeldheid?

Dit lyk as daar ‘n oplossing is, drie voorvereistes geld: Eerstens, die Afrikaner moet ‘n gemeenskaplike visie / doel / ideaal kry; die Afrikaner, of die meerderheid daarvan, sal sy volkskap - inderwaarheid Boerevolkskap - moet ondek / herondek / erken; en, derdens, ‘n sterk selfstandige kerngroep van leiers sal bymekaar moet kom en ferm leiding gee.

‘n Mondvol, maar in ‘n neutedop die doelwitte waarvoor Ditsem Vrystaat homself op beskeie wyse beywer.

Steeds ‘n wonderlike land!

Hierdie land Suid-Afrika waarin ons leef en dikwels soveel trauma en terugslae ondervind, bly steeds ‘n wonderlike land om in te woon.

Nęrens in die wereld is die lug so blou en skyn die son so helderwit nie.

Hoewel deel van dikwels ‘n droewe kontinent, is dit so ryk aan natuurlike hulpbronne dat ongelooflike geleenthede en uitdagings gebied.

Daarom moet die lewe in hierdie fantastiese land van ons met oorgawe geleef word en ook met styl geniet word.

Ons kan dit doen in die geloof dat Hy wat ons hier geplant het, ons nie sal versaak nie mits ons Sy aangesig soek.

04/2009

Zuma op die preekstoel

Veel is al gesę oor die Rhema Kerk in Randburg wat die president van die ANC, mnr. Jacob Zuma, genooi het om tydens 'n erediens 'n toespraak vanaf die preekstoel te maak. Vir Christen-gelowiges wat hul leiding put uit die riglyne van die Heilige Skrif, bly dit vreemd dat so 'n reëling getref word vir iemand wat bloot 'n politieke leier is, wat kinders by heelwat vrouens het, wat in die hof moet tereg staan op aanklagte van korrupsie en wat 'n voorstaander is van ‘n beleid wat aborsies en dobbelary wettig. Alles inaggenome, is die optrede in die Rhema Kerk onaanvaarbaar.

Wat voer ANC ion die mou?

Die Polokwane-verkiesing, die huidige verkiesingsmanifes van die ANC en die aard van die kandidatelys van die party, dui op 'n radikalisering en swaai na links. Voeg daarby die sterk figurering van die SAKP en Cosatu-alliansie, die onderskraging van Mugabe in die Zimbabwe-tragedie en die lae profiel wat Kgalema Motlanthe as staatspresident moet handhaaf, dan kom die vraag outomaties op, wat presies voer die ANC vir Suid-Afrika in die mou?

Draai na God

Hierdie maand die 22ste is die vyfjaarlikse algemene verkiesing in Suid-Afrika en volgens alle aanduidings van kritieke belang vir die toekoms van die land. Gebeure op verskillende fronte die afgelope tyd maak dit die belangrikste verkiesing nóg in die post-1994 Suid-Afrika.

Hierdie uitgawe van Ditsem Vrystaat staan dan ook in die teken van die verkiesing, met o.a. direkte boodskappe van verskillende politieke partye aan spesifiek die Afrikaner-kieserspubliek, insluitend, op hul eie inisiatief, van die regerende party. Ons vertrou dit alles help ons lesers om op 22 April 2009 die beste kruisie te trek.

Bokant die politieke partye, die politiek en die verkiesing, is daar egter een groot boodskap wat Ditsem Vrystaat wil oordra en dit is om die boodskap van beide die Ester-konferensie en die Daniël-konferensie verlede maand by die kerk van die Morelettapark gemeente in Pretoria te eggo: Suid-Afrika (insluitend die Vrystaat) draai na God.

Ons kan ons in hierdie land nie totaal van mekaar losmaak nie, maar moet ons individuele sowel as gesamentlike heil met Christelike magneming van mekaar uitwerk – almal die oog gerig op Hom wat was, wat is en wat weer kom.

02/2009

Terug na die basiese

Almal weet ons leef in stormagtige tye, in Suid-Afrika sowel as węreldwyd.

Magtige globale maatskappye stort een na die ander in duie, miljoene mense węreldwyd verloor hul werk, polities raak dit al moeiliker om tussen reg en verkeerd te te onderskei, morele waardes is in die spervuur, ens.
In hierdie tye is dit goed om koelkop te bly en terug te gaan na die basiese beginsels: Hou vas aan God en Sy Woord, koester jou gade, hou jou gesin in stand, wees bedagsaam teenoor jou naaste, raak sover moontlik ontslae van finansiële skuld, leef binne jou vermoë, werk hard en onthou dat die lewe 'n gawe is wat geniet moet word.


12/2008

Dagsę!

Dagsę met hierdie eerste uitgawe van die Ditsem Vrystaat – ons vertrou u vind dit informatief oor dit wat saakmaak vir 'n beter lewe en dat dit u sal help om beter besluite te kan neem.

Die koerant het die Afrikaner / blanke / Boer as teikenmark, maar ons weet deeglik ons is in 'n land waarin verskillende bevolkings- identiteite moet leef en laat leef.

So, terwyl ons trots is op ons eie identiteit en die beste daarvoor wil sien, so gun ons dit ook aan ander identiteite, sonder dat die een die ander oorheers.

As ons verskil, laat ons die beskaafd doen.

Die kleure van die Ditsem Vrystaat is duidelik en of u met ons saamstem of nie, vertrou ons dat u dit altyd sal geniet om die koerant te lees.

Laat ons gerus weet wat u dink!