10 April 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Image

Halaal-teken in SA R45 miljard vir Islam


Bykans alle kosprodukte vandag te koop in Suid-Afrikaanse supermarkte en winkels dra die Halaal-teken, wat ingevolge 'n ooreenkoms tussen Moslem-instansies en die regering 'n bepaalde oorbetaling in 'n Moslem-fonds meebring. Volgens inligting bedra hierdie oorbetaling nagenoeg R45 miljard per jaar. 


In 'n mediaverklaring vestig die klein Christen Demokratiese Party (CDP) weereens die aandag op hierdie ingrypende praktyk wat normaalweg sonder ophef aangaan. In die mediaverklaring word gesê: “Die CDP ondersteun Christen-verbruikers in hulle veldtog teen die Halaal-teken wat in restaurante en op produkte in supermarkte verskyn. 


“Dis hoog tyd dat aandag gegee word aan hierdie onbillike en diskriminerende praktyk en dat die CRL Kommissie die saak deeglik ondersoek. Ons bevraagteken die verklaring dat hierdie bedrag minimaal is, aangesien dit R45 miljard per jaar beloop. 


“Om te sê dat die hierdie koste nie op die verbruiker afgewentel word nie, is ook lagwekkend, aangesien besighede in die reël altyd kosteverhogings op verbruikers afwentel.  Na ons oordeel is dit ’n verdere rede vir die buitengewone styging in voedselpryse. "Die verklaring van die Halaal Sertifikasieraad dat die teenaksie 'Islamofobies' is, is nie slegs voorspelbaar nie, maar tewens belaglik. Die ervaring bewys dat Moslems meer 'Christofobies' is as wat Christene  'Islamofobies' is. 


Gerapporteerde verklarings dat aantygings oor hoe hierdie fondse  moontlik aangewend word, is ’n saak vir die CRL Kommissie om te bepaal.  Dit is nodig dat ’n onafhanklike forensiese oudit  gedoen word meer as net ’n oudit deur n 'gerespekteerde ouditfirma. 


“Ons benodig antwoorde oor hoe hierdie R45 miljard per jaar spandeer word.  Ons maak verder beswaar teen die feit dat die fondse gebruik kan word om moskees te bou of om Islamitiese 'kerklui' te betaal. So ’n aksie sou sekerlik neerkom op blatante diskriminasie teen die Christelike gemeenskap.


“Ons maak verder beswaar teen die verklaring wat na bewering deur SANHA woordvoerder, Ebi Lockhat gemaak is waarin hy sê dat Moslems nie aan die Heilige Drie-eenheid glo nie, en dan insinueer dat Christene se geloof in die Vader, Seun en Heilige Gees op aanbidding van afgode neerkom. Die CDP beoog om ’n beswaar teen hierdie stelling by die Menseregte Kommissie in te dien dat SANHA ’n besliste Christofobiese standpunt handhaaf.”  


Vir meer besonderhede, kontak eerw. Theunis Botha, CDP-leier by 083 657 2482 of theunis@cdp.org.za

Image

Sprake van diepe verdeeldheid in ANC


Voormalige ANC-LP Fytjie Mentor het die kat in die duiwehok gegooi op haar Facebookblad met 'n plasing dat oud-pres. Jacob Zuma op 14 Februarie 2018 nie wou bedank as staatshoof nie ondanks druk van die top ses van die ANC. Volgens Mentor het Zuma in sy ampswoning met senior offisiere van die SANW vergader om 'n staatsgreep te beplan, maar Minister  van Verdediging en Oorlogsveterane  Nosiviwe Noluthando Mapisa-Nqakula en Minister van Polisie Fikile Mbalula het nie die plan gesteun nie, waarna dit skipbreuk gely het.  


Mentor skryf voorts dat Zuma steeds in KZN met Zoeloe-lojaliste 'n komplot beplan om die land te destabiliseer, die komende verkiesing in wanorde te dompel en om van pres. Cyril Ramaphosa as staatshoof ontslae te raak. Hierdie bewering van Mentor is gister in 'n berig van The Witness, Natalse koerant, bevestig. Daarvolgens sou die Zuma-faksie nie tevrede wees met die huidige gematigde standpunt van die regering oor grondonteiening sonder vergoeding en oor radikale ekonomiese transformasie nie.  


Intussen wil dit voorkom of pres. Ramaphosa en sy regering nog stewig in die saal sit, hoewel verskeie regeringswoordvoerders nie vir kommentaar bereik kon word oor die gerugte nie.  

Image

Parlement in reses vir lang tyd


Volgens 'n berig in Daily Maverick beplan die ANC om môre 'n mosie in die Parlement ter tafel te lê dat die Parlement die einde van Mei in reses gaan tot middel-Augustus ten einde politieke partye sg. tyd te gee om voor te berei vir die algemene verkiesing volgende jaar. Daar is sprake dat die ANC opdrag kan gee aan die OVK vir 'n vervroegde verkiesing vroeg in 2019.  


Die tydsberekening van die skielike reses van die Parlement word bevraagteken aangesien ingrypende gebeure tans in die land besig is om af te speel en dat opposisiepartye geleentheid moet hê om die regering in die Parlement tot verantwoording te roep. Daarby het die Parlement tans 'n druk wetgewende program wat deurgevoer moet word met 33 wetsontwerpe in die Nasionale Vergadering wat nog gedebatteer en aanvaar moet word en 14 wetsontwerpe voor die Nasionale Raad van Provinsies.

Image

SAPD MK-bevorderingsprojek met interdik gestuit 


Die vakbond Solidariteit het ʼn interdik in die Noord-Gautengse Hooggeregshof bekom teen die SA Polisiediens (SAPD) en wat lg. dwing om alle inligting rakende hul omstrede NSF-projek (“Non-Statutory Forces”-projek) op die ys te plaas en besonderhede daaromtrent bekend te maak.


Solidariteit sê hulle was genoodsaak om die hof te nader, nadat die SAPD voortgegaan het met ongrondwetlike bevordering van 628 MK-lede en die uitsluiting van 150 000 ander professionele SAPD-lede. Die aansoek van Solidariteit is met kostes toegestaan. Vir meer besonderhede, kontak Anton van der Bijl by 083 291 6855.

Image

Seminaar oor sosiale media


‘n Seminaar oor die konstruktiewe gebruik van Sosiale media word op 17 April 2018 om 09:00 deur die Vooruit projek van AfriForum te Orania aangebied in die ouditorium van die Tegniese Sentrum van die CVO Skool. Die seminaar fokus ook op die gebruik van sosiale media vir sakedoeleindes. 


Alle belangstellendes is welkom, in besonder entrepreneurs. Die koste is R120 pp en dit sluit middagete en ligte verversings in. Vir meer besonderhede, kontak vooruit@afriforum.co.za.

Image

DitsemBlits unieke nuuspakket in Afrikaans


Die weeklikse elektroniese nuusbrief wat Ditsem Nuus uitstuur, tesame met die daaglikse Nuushooftrekke, alles gefokus op nuus wat saakmaak vir die Afrikaner, vorm 'n unieke nuuspakket in Afrikaans. Beskikbaar op 'n intekenpakket van slegs R240 per jaar, bied die nuusdiens vinger op die pols kontak met nuusgebeure soos wat dit ontvou.     


Om in te teken is maklik: Doen ‘n inbetaling van R240 in die volgende bankrekening: Standard Bank / Rekeningnaam: DitsemBlits / Rekeningnommer: 140 320 105 (Spaarrekening) / As verwysing: Jou naam en van. Volg dit dan op met ‘n epos na web@ditsem.net met jou naam en van, die eposadres waarop jy die DitsemBlits wil ontvang, asook  bewys van betaling.  


By ontvangs van hierdie besonderhede word jou naam op die DitsemBlits adreslys geplaas vir die volgende 12 x maande.

Ditsem Nuus en ander digitale platforms


Die gedrukte weergawe van Ditsem Nuus word maandeliks versprei op die volgende twee stede en 12 dorpe: Bloemfontein, Kimberley, Modderrivier, Hopetown, Orania, Boshof, Dealesville, Brandfort, Philippolis, Luckhoff, Vanderkloof, Colesberg, Hanover en De Aar. Die gedrukte formaat van die koerant word ook aanlyn gepubliseer op die webwerf www.ditsem.net – vir die April 2018 uitgawe, volg hierdie skakel. Alle advertensies in die digitale formaat van die koerant het elk ‘n interaktiewe skakel na die webwerf of die Facebookblad van die adverteerder.  


Ditsem Nuus bedryf ook ‘n Facebookblad en Twitter met daaglikse opdaterings. Sodoende beskik die koerant oor ‘n sterk aanlyn teenwoordigheid, wat aangewend word om aan adverteerders in die koerant uitgebreide gratis blootstelling te gee.  


Om dus in Ditsem Nuus met sy digitale platforms te adverteer en sodoende ‘n strategiese segment van die Afrikaanssprekende teikenmark te bereik, skakel 082 773 2150 of epos advertensies@ditsem.net

SAKENUUS

Image

Sakeredding vir SAA beplan 


Solidariteit beplan regstappe ten einde langs wetlike kanale 'n hofaansoek te bring dat SA Airways, wat al vir jare aanhoudend verliese van miljarde rand ly en wat in die eerste nege maande van die laaste finansiële jaar 'n verlies van R3,7 miljard getoon het, in sakeredding te laat plaas. Meer inligting oor die planne van Solidariteit word op 12 April 2018 bekend gemaak.

Image

Manufacturing Indaba 19-20 Junie 2018


Met vervaardiging wat in enige ekonomie die grootste drywer van ekonomiese groei is, is die aandag wat Suid-Afrika betref met verwagting gevestig op die Manufacturing Indaba wat beplan word vir 19-20 Junie 2018 by die Sandton Konvensiesentrum. Die hooffokus by die indaba is op outomatisasie volgens die nuutste tegnologie in die wêreld en hoe Suid-Afrikaners daarby kan baat.  


Behalwe vir uitstallings en demonstrasies, sal daar by die indaba ook lesings en seminare aangebied word. As sulks is die indaba 'n moet vir enige een wat op hoogte wil kom van die nuutste in die lyn van vervaardiging.  


Vir meer besonderhede, volg hierdie skakel.

Image

Eerste bio-raffinadery vir SA 


Die eerste bio-raffinadery in Suid-Afrika vir die verwerking van bio-afvalstowwe is pas in Durban geopen vir dienslewering aan die bosbou-, agroverwerking- en ander bio-bedrywe. Bekend as die Biorefinery Industry Development Facility (BIDF) gaan dit aanvanklik fokus op afvalstowwe van pulp en papier wat gewoonlik in stortingsterreine eindig, of grootskaalse verbranding verg om van ontslae te raak. 


Die projek is 'n gesamentlike poging van die WNNR en die Dept. van Wetenskap en Tegnologie en span tegnologie in vir die verwerking van hierdie gespesialiseerde afval soos dit nog nooit in Suid-Afrika gedoen is nie. Daarby is die nuwe aanleg ook gestruktureer om sekondêre produkte vir ekonomiese aanwending te lewer. Vir meer besonderhede volg hierdie skakel.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Steun in Australië


Verrassend, maar welkom, die steun wat SA boere in Australië kry ná die manmoedige verklaring van hul minister van binnelandse sake Peter Dutton. Hy het gesê spesiale immigrasiereëlings word getref vir SA boere om in Australië as 'n “beskaafde” land te vestig.  


Die afgelope naweek het sowat 3 000 mense in Perth ter ondersteuning van SA boere betoog. Ons sê baie dankie daarvoor, dit is nodig, maar van ons beskeie kant sê ons, ons het geen plan om SA te verlaat nie.  


Hierdie land is ook ons s'n – kaart, bloed en transport. Ons gaan nêrens heen nie. Ons het as Afrikanervolk 'n reg op minstens 'n deel van hierdie land as ons eie en daarop gaan ons ons selfbeskikking tot volle konsekwensies uitoefen. Steun ons asb. ook daarin!

SKEP MOED!

Image

In 'n tyd waarin die kultuurerfenis van die Afrikaner in die land verguis word, kan by hierdie skakel moed geskep word oor die prestasies en heldedade wat onder die vorige landsvlag – die Oranje-Blanje-Blou – gelewer is.

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net