15 Maart 2018

Lyk die epos nie reg nie? Lees dit aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Image

Drakoniese wetsontwerp oor die Internet


Die Film- en Publikasieraad Wysigingswetsontwerp wat tans gesirkuleer word vir openbare kommentaar, bevat drakoniese maatreëls wat ernstig inbreuk maak op basiese menseregte, soos vryheid van spraak en mediavryheid. So bv. is daar 'n klousule wat bepaal dat alle materiaal wat die publiek op die Internet wil laai, eers deur die regering goedgekeur moet word. Dit alles geskied onder die dekmantel van sg. beskerming van vrouens en kinders teen ongewenste inligting en materiaal.


In aanloop tot die opstel van die wetsontwerp het die regering sowat twee jaar gelede in China gaan kers opsteek by Chinese owerhede wat streng sensuur toepas t.o.v. die Internet As sulks weerspieël die wetsontwerp suiwer kommunistiese beheer en is dit ook in lyn met die werklike doelstellings van grondonteiening sonder vergoeding. 


In 'n mediaverklaring lewer die VF Plus soos volg kommentaar op die wetsontwerp: “Daar is geen twyfel nie dat skadelike inhoud weggehou moet word van kinders en dat die vervaardiging en verspreiding daarvan gestop moet word. Daar is egter meer sinvolle wyses om dit te doen, soos om die SAPD Kinderbeskermingseenheid te versterk ten einde die vervaardiging, verspreiding en besit van kinderpornografie en ander onwettige inhoud die nek om te draai. Daarom is dit belangrik dat nuwe tegnologiese platforms in lyn gebring moet word met hierdie doelwit. 


“Twee rooi ligte flikker: Die eerste is die bepalings wat voorafgoedkeuring van Internet-inhoud vereis voordat dit aanlyn geplaas kan word en die tweede dat Internet-inhoud nie werklik gereguleer kan word nie. Reëls kan gemaak word vir inhoud wat op SA bedieners gelaai word, maar niks kan gedoen word aan inhoud van buite die landsgrense nie, behalwe om dit bloot aan buitelandse owerhede te rapporteer.”

Image

Pres. Ramaphosa ander deuntjie oor grondbesettings


In die Parlement gister het pres. Cyril Ramaphosa afgewyk van sy vroeëre stelling dat grond summier sonder vergoeding onteien gaan word en teruggegee word aan die sg. regmatige eienaars en gesê dat die onwettige grondbesettings in veral Gauteng en die Wes-Kaap onaanvaarbaar is en dat wetstoepassing kragdadig daarmee sal handel. Hy het ook gesê dat grondonteiening sonder vergoeding is slegs een van die aspekte van die voortgaande proses van grondhervorming.  


Oor die Parlementêre debat gister sê die VF Plus in 'n mediaverklaring: “Pres. Ramaphosa het die belangrike toegewing vandag gemaak dat die Polisie nie net kan toekyk terwyl grond onwettig beset word nie, dit is onwettig en hulle moet mense in hegtenis neem. Dit was in antwoord op ʼn pertinente vraag van dr. Pieter Groenewald.    


“Laasgenoemde het ook aan die president gesê daar kan eers ʼn beredeneerde gesprek oor grondhervorming plaasvind indien die uitgangspunt aanvaar word dat bestaande, wit eienaars van grond hul grond op ʼn regmatige, eerlike en hardwerkende manier verkry het. Daar moet ook erkenning daarvoor wees dat boere hard werk om Suid-Afrika te voed.  


“Die voormalige Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Gugile Nkwinti het vroeër in die Parlement erken dat 93% van restitusie-begunstigdes nie die grond wou hê nie, maar eerder geld. Hy het ook erken dat die staat in besit is van 99% van die titelaktes van alle grond wat tot dusver in grondhervormingsprogramme verkry is.  


“Indien die president werklik ʼn sukses van grondhervorming wil maak sal die meer as 4 000 plase wat tans in besit van die staat is, eers aan mense gegee moet word. Die president het ook hieroor erken dat die staat en staatsentiteite in besit van groot hoeveelhede grond is wat wel deel van die grondhervormingproses gaan wees.”

Image

Spel so speel-speel!


'n  Spel-en-Speel-kompetisie vir laerskoolleerders in die Vrystaat word jaarliks deur AfriForum aangebied, met die fokus spesifiek daarop om kinders se lees- en spelvaardighede in hul moedertaal op ’n prettige manier te bevorder. Boonop is groot pryse op die spel.  


Vanjaar is die kompetisie in samewerking met die gasheerskool, die Onafhanklike Skool Eduplus, asook Volksblad aangebied. Altesaam 113 leerders van 11 laerskole het deelgeneem in die twee afsonderlike afdelings vir graad 4- tot 7-leerders, naamlik Afrikaans huistaal en Afrikaans addisionele taal.  


Die wenners in die onderskeie afdelings is soos volg: Graad 4: Huistaal: Mia Greeff (Laerskool Universitas); Addisionele taal: Neilke Maree (Onafhanklike Skool Eduplus) / Graad 5: Huistaal: Lisa Botha (Laerskool Fichardtpark):                 Addisionele taal: Quistynn Veldschoen (St. Michael’s School for Girls); / Graad 6: Huistaal: Elseri Venter (Laerskool President Brand); Addisionele taal: Jacole Spangenberg (Eunice Primary School) / Graad 7: Huistaal: Clarissa Venter (Onafhanklike Skool Eduplus); Addisionele taal: Alexia Coetzee (Onafhanklike Skool Eduplus).  


Die Laerskool Fichardtpark het die prys gewen vir die skool met die meeste huistaalinskrywings, terwyl die Eduplus Onafhanklike Skool en die Laerskool Zastron die prys gedeel het vir die skool met die meeste inskrywings vir addisionele taal.  


Later vanjaar bied AfriForum die onvoorbereide Dink-of-Sink-debatkompetisie aan vir hoërskoolleerders. Vir meer inligting hieroor, besoek

Image

Voorgestelde nasionalisering van Reserwebank van die tafel


‘n Mosie van die ANC Parlementêre koukus dat die Reserwebank genasionaliseer word, is ter elfder ure deur die voorstellers teruggetrek . Die mosie het gelui: Acknowledging the role, mandate and independence of the South African Reserve Bank, in line with international practice, to ensure full public ownership of the Bank


Inmiddels het die graderingsagentskap Moody’s, wat tans in die land is om die moontlikheid te ondersoek om die nasionale ekonomiese opset af te gradeer na rommelstatus, verklaar dat …any developments which cast further doubt over the independence and credibility of core institutions including the National Treasury and Reserve Bank would be strongly credit negative.

Image

Realiteit omtrent onteiening en huise in SA


In 'n artikel op sosiale media skets bekende ekonoom Mike Schussler aan die hand van statistiek van die General Household Survey 2016  'n verbasende prentjie oor huise in SA en hoe dit moontlik deur onteiening sonder vergoeding geraak kan word. Volgens Schussler besit swartmense 7,66 miljoen huise (slegs eerste huise) en blankes 730 000 huise.


Die ander twee bevolkingsgroepe saam besit ook ongeveer 730 000 huise.   Die gevolgtrekking dat met enige onteiening van huise sonder vergoeding sou 10 keer  meer huise van swartmense in die slag bly as van blankes. Verder, 56% van die waarde van eerste huise behoort aan swartmense en slegs 33% aan blankes. Daarby besit 22% van swartmense 'n tweede huis, terwyl dit die geval is in slegs 10% van blankes.  

Image

Net span nouer om Ace Magashule


Verlede maand is Isaac “Blacky” Seoe, sakeman en jarelange sakevennoot van Vrystaat premier Ace Magashule in die Vrystaatse hooggeregshof skuldig bevind aan bedrog van R30 miljoen i.v.m. 'n provinsiale onderwystender waarin sy maatskappy Mabolela Distributors ‘n begunstigde was. Volgens die DA was Magashule en Seoe sedert 2011 vennote in 'n maatskappy Sambal Investment wat 'n regeringskontrak t.o.v. die Business Partners Gebou in die Bloemfonteinse middestad bekom het vir die Vrystaatse Dept. van Sport, Kuns en Kultuur ter waarde van R115 miljoen.  


Volgens die VF Plus is Seoe, die voormalige voorsitter van die Vrystaat Ontwikkelingskorporasie (FDC) in 2014 saam met Magashule by ‘n Shell-vulstasie in Phuthaditjhaba opgemerk, welke vulstasie bekom is deur ‘n dogter van Magashule, Thoko Malembe, d.m.v. ‘n omstrede ooreenkoms met die FDC. 'n Seun van Magashule, Tshepiso, was ook op 'n stadium 'n vennoot in van hierdie saketransaksies. 


Intussen het dit  aan die lig gekom dat Seoe as uitvoerende direkteur van Robs Properties ook die eienaar is van die gebou waarin die kantore van die Vrystaatse Wetgewer gesetel is. Robs Properties het sedert 1 Junie 2017 vir 10 jaar 'n huurkontrak met die Wetgewer teen 'n maandelikse bedrag van sowat R820 000. Op 5 Maart 2018 is die kragtoevoer na die gebou afgesny omdat Robs Properties na bewering agterstallig is by die elektrisiteitsverskaffer, Centlec.   


Dit het meegebring dat die kantore van die Wetgewer in die gebou, wat in 'n ellendige toestand is, in duisternis gehul is met geen krag vir rekenaars, Internet, ens. nie. Sodoende  staan die administratiewe werksaamhede van die Wetgewer letterlik stil, met ook. belangrike begrotings- en oorsigkomiteevergaderings en vergaderings van swepe wat nie gehou kan word nie. 


Intussen broei die yslike geval van staatskaping met die Vrede Estina-suiwelprojek van minstens R220 miljoen, waarin Magashule en voormalige LUR vir Landbou Msobenzi Zwane sleutelfigure was, steeds voort. Die halfgebakte verslag daaroor deur OB Busisiwe Mkhwebane is pas in die Parlementêre portefeuljekomitee uitmekaar getrek en is dit duidelik dat die waarheid in die saak nog wag om uit te kom.  


Die Vrystaat is sedert 2009 vir alle praktiese doeleindes op talle terreine feitlik verlam deur ongelooflike korrupsie van Magashule en sy provinsiale bewind en hoewel hy tans knus sit in die pos van sekretaris-generaal van die ANC, lyk dit of die net van die langarm van die gereg al nouer begin span.

Image

Syfers oor plaasaanvalle


Volgens statistiek van die Transvaalse Landbou Unie (TLU) was daar einde Februarie 2018, 42 aanvalle en ses moorde op plase. Op 14 Februarie is Athol Harvey (80) en sy vrou Colleen (78) op hul plaas Weltevrede naby Spitskopdam in die Noord-Kaap aangeval, aangerand en beroof. Drie weke later het Athol aan sy beserings beswyk.  


Net in die laaste week van Februarie is twee bejaardes wreed vermoor - die 72-jarige me. Hentie van der Vyver wat in haar plaashuis naby Ermelo oorval en verwurg is en die 68-jarige Hannes Christie van Coligny wat met vermoedelik ʼn byl doodgekap is.  


Tot dusver in Maart is die land geruk deur die teregstelling van die 72-jarige Dirk Steenkamp net buite sy plaashuis by Vredefort op Sondagoggend 4 Maart. Steenkamp was 'n gerekende leierboer en gemeenskapsleier.  


Verlede jaar was daar 423 plaasaanvalle in SA waarin 82 mense vermoor is en talle in aanvalle ernstig beseer is en 'n aantal vroue verkrag is. Dit kom neer op 35,25 aanvalle per maand – meer as een per dag oftewel elke 4,3 dae 'n plaasmoord.

Image

Nuwe premiers vir Vrystaat en Noordwes


Die ANC as meerderheidsparty het twee nuwe premiers aangewys, nl. Sisi Ntombela vir die Vrystaat en Refilwe Mtshweni vir Mpumalanga. Ntombela was tot nou die LUR vir COGTA en voorheen LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, in albei poste waarvan  sy 'n bedenklike diensleweringrekord agtergelaat het. Inmiddels het die stof nog nie gaan lê oor die ANC-tweespalt in die Vrystaat nie en sit die adjunk-voorsitter van die party Thabo Manyoni sy verbete stryd voort teen die korrupte nalatenskap van Ace Magashule. 


Mtshweni neem die plek in van David Mabuza wat aangewys is as ANC adjunk-president en adjunk-president van die land en wat eweneens 'n bedenklike rekord in Mpumalanga agterlaat. Sy is op hierdie stadium 'n onbekende kaart in die pak en hoe sy die nalatenskap van Mabuza gaan hanteer, is 'n ope vraag. 


Oor die aanstelling van Ntombela sê die VF Plus in 'n mediaverklaring: “Enige kandidaat is meer aanvaarbaar as Ace Magashule, maar Ntombela se bewese rekord van swak bestuur in die departemente van Samewerkende Regering, wat in beheer is van die munisipaliteite in die Vrystaat, asook die provinsiale departement van Maatskaplike Ontwikkeling, is kommerwekkend. Vrystaatse munisipaliteite is in ʼn benarde toestand weens wanbestuur en onbevoegdheid en onder Ntombela se bestuur het hulle net verder verval.”

Image

SAPD getakel oor MK-bevorderingsprojek


Solidariteit het  ʼn aansoek in die Noord-Gautengse Hooggeregshof gebring teen die SA Polisiediens oor beweerde ongrondwetlike en diskriminerende bevordering van huidige en oud-MK lede en vra daarin dat alle inligting t.o.v. die sg. “Non-Statutory Forces”-projek (NSF) geopenbaar word. Dit volg op ‘n SAPD-proses om sekere militêre veterane selektief onder die NSF-projek te hergradeer en te bevorder.   


Volgens Solidariteit ontvang slegs lede wat deel vorm van sg. nie-statutêre magte oftewel “vryheidsvegters” bepaalde pensioenvoordele en bevorderings, terwyl lede wat deel gevorm het van gewone statutêre magte, soos die SA Weermag, nie daarvoor “kwalifiseer” nie. Die projek kom neer op blatante rassisme, was nooit bedoel onder die Grondwet nie en druis in teen verskeie internasionale konvensies waarby SA 'n party is, aldus Solidariteit.  


Solidariteit sê dat terwyl gesê word dat die projek nog in ʼn onderhandelingsfase is, dit reeds geïmplementeer word en dit sonder dat relevante vakbonde soos Solidariteit gekonsulteer is. “Dit is weereens vir ons duidelik dat die SAPD slegs ʼn uitverkore groep werknemers se belange bevorder ten koste van ander.  Ons dra die belange van alle loopbaangerigte Polisielede op die hart en daarom gaan ons voort om vir ons lede in die SAPD te veg.”  


Op ‘n wyer front is daar 'n sterk vermoede dat die NSF-projek 'n onderduimse poging van die ANC is om die SAPD vir sy eie doeleindes te kaap en daarom word die verloop van die hofaansoek met belangstelling gevolg.

Image

Mangaung Metro dieper in die rooi


Die Mangaung Metro wat ageer oor Bloemfontein, Van Stadensrus, Wepener, Dewetsdorp en Soutpan sink al diep in die rooi in en word talle sleuteldienste nie meer gelewer weens 'n gebrek aan finansies. Een van die gevolge is dat raad pas van sy Aansuiweringsbegroting gebruik moes maak om van die tekorte ten bedrae van R48 miljoen aan te vul.     


Terselfdertyd is bepaalde items op die begroting met miljoene rand verhoog, soos Soliede afval onder Vullisverwydering met R11 miljoen, Veiligheid met R28 miljoen, Onderhoud van hysbakke met R9 miljoen en Reproduksie en verspreiding van raadstukke soos agendas en notules met R6 miljoen. Volgens die VF Plus is hierdie aansuiwerings bloot die resultaat van wanbestuur.  


Onder sleuteldienste en infrastruktuur wat al ernstig skade gely het a.g.v. die groterwordende negatiewe kontantvloei van die metro, is dat die opgradering van Walter Sisuluweg (voorheen Haldonweg) vir twee jaar halfpad onvoltooid gelaat moes word weens wanbetaling aan die kontrakteurs, vullisverwyderingsvoertuie wat feitlik almal onklaar staan en selfs die paaiemente op die ampsmotor van die uitvoerende burgermeester wat agterstallig geraak het.  


Die verteenwoordiger van die EFF in die Metroraad het gesê dat “the metro is being managed like a spaza shop”.

SAKENUUS

Image

Ekonomiese bemagtiging van die Afrikaner


Ditsem Nuus beplan om in die April 2018 uitgawe van die koerant te begin met 'n fokus op ekonomiese bemagtiging van die Afrikaner, met spesifieke verwysing na wedersydse ondersteuning, die bevordering van entrepreneurskap en die handhawing van Afrikaans as besigheidstaal. Gekoppel aan hierdie fokus is die doelwit om 'n databasis van goedgesinde besighede op te bou en hulle te kry om elektronies met mekaar te kommunikeer. 


Terselfdertyd is die breër doelwit om 'n kontaklys te vestig van regsinnige en welwillende Afrikaners en wel d.m.v. die uitbreiding van die intekenarelys van DitsemBlits as weeklikse elektroniese nuusbrief met inligting wat saakmaak spesifiek vir die Afrikaner.  


Dit is so dat daar reeds georganiseerde pogings bestaan om Afrikaner-sakelui saam te bring op georganiseerde platforms of in sakekamers en die doel van Ditsem Nuus is om op 'n breë front met hierdie persone en instansies saam te werk.  


Vir verdere inligting in hierdie verband of vir navrae en voorstelle, kan Johann Dannhauser by Ditsem Nuus geskakel word by 082 773 2150 of redakteur@ditsem.net.

Image

Inteken op DitsemBlits


Aangesien DitsemBlits 'n nuuskommoditeit is wat teen betaling beskikbaar is, word intekenare versoek om uit 'n wetlike en morele oogpunt die nuusbrief nie gratis aan te stuur aan kontakte nie. Vandaar die versoek om hierdie praktyk en beginsel te respekteer en instede van DitsemBlits gratis aan te stuur, eerder te help om nog intekenare te werf.  


Sodoende kan Ditsem Nuus ondersteun word om te groei en sterker te word 'n Afrikaanse medium op sy eie wat bona fide die saak van die Afrikaner na beste van vermoë dien.  


Soos gesien kan word, bevat DitsemBlits kort berigte en artikels kompak verpak onder die rubrieke Aktueel / Sakenuus / Internasionale Nuus / Redaksionele kommentaar / Skep moed! By die intekenpakket van R240 per jaar is ingesluit ‘n daaglikse elektroniese nuusbrief met net die belangrikste Nuushooftrekke van die dag.  


Om in te teken is maklik: 


Doen ‘n inbetaling van R240 in die volgende bankrekening:

• Standard Bank, Brandwag tak

• Takkode: 05-55-34 Rekeningnaam: DitsemBlits

• Rekeningnommer: 140 320 105 (Spaarrekening)

• Verwysing: Jou naam en van.  


Volg dit asb. op met ‘n epos na web@ditsem.net met jou naam en van, die eposadres waarop jy die DitsemBlits wil ontvang, asook  bewys van betaling. By ontvangs van hierdie besonderhede sal ons jou naam / die naam van die intekenaar op die DitsemBlits adreslys plaas vir die volgende 12 x maande. 


Ondersteun ons om 'n regsinnige, op die man af en ewewigtige Afrikaner-medium te vestig.

Image

Suider-Afrikaanse lugdienste op rand van bankrotskap

Daar word wyd gespekuleer dat Air Namibia op die rand van bankrotskap is en dat dit teen 'n lopende verlies bedryf word. Die lugdiens is die nasionale lugkarweier van Namibië, met die regering van Namibië as enigste aandeelhouer.  


Sedert 2000 is al sowat N$6 miljard in staatsubsidies in die lugdiens ingepomp, maar skynbaar tevergeefs om dit swaai na 'n winsgewende onderneming. Die laaste 13 jaar het Air Namibia nog nie 'n finansiële jaarverslag uitgereik nie.  


Vir die huidige finansiële jaar beloop die begroting van die lugdiens N$4 miljard, waarvan die Namibiese regering N$486 miljoen bydra. Vir die 2018/19 finansiële jaar is 'n regeringsubsidie begroot ter waarde van N$494 miljoen en vir 2019/20 N$498 miljoen. 


Aan die positiewe kant word egter daarop gewys dat Air Namibia betekenisvolle kapitaalbesteding doen in die nasionale ekonomie, terwyl dit 'n sleutelrol speel om buitelandse betrokkenheid in Namibië te bevorder, o.a. sover dit toerisme aangaan. Feit van die saak egter is dat die Namibiese mark relatief klein is en dat Air Namibië sy 12 vliegtuie huur en oor geen bates beskik nie, wat beteken dat dit uiters swak beleggingspotensiaal is.  


Wat Suid-Afrika betref, het SAL sopas so 'n swak verslag van die OG ontvang dat hoop laat vaar is dat die lugdiens nog enigsins gered kan word. Die lugdiens is die afgelope ..jaar aan die lewe gehou met staatsubsidies ten totale bedrag van sowat R... miljard. Uit die OG-verslag blyk dit dat wanbestuur en korrupsie eenvoudig feitlik uitsluitlik die twee redes is vir die mislukking van die lugdiens as besigheid is. 


Nog slegte nuus is dat Mango lugdiens ook 'n swak OG-verslag ontvang het en dat ook hierdie klein lugdiens sukkel om in die lug te bly.  

Image

Idees om Eskom te privatiseer 


Die Nasionale Beplanningskommissie (NPC) het onlangs volgens riglyne van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) 'n besprekingsdokument uitgereik waarin opsies behandel word om Eskom in geheel of gedeeltelik te privatiseer. Hierdie dokument word tans gesirkuleer as deel van 'n openbare deelnameproses en terwyl dit nie spesifieke voorstelle op die tafel plaas nie, opper dit idees vir verdere bespreking en sinergie.  


Die besprekingsdokument hou ook veral rekening met internasionale patrone betreffende energie en die omgewing, soos die Parys Ooreenkoms van 2015, wat onteenseglik neig in die rigting van hernubare energie en rehabilitasie van die omgewing. Die dokument kom ook teen die agtergrond van die onlangse R5 miljard lening vir Eskom uit die fondse van die Openbare Beleggingskorporasie (PIC) ten einde die kragvoorsiener kop bo water te laat hou. 


Dit is binne hierdie raamwerk dat in die dokument idees geopper word dat wat betref Eskom privatisering in die prentjie gebring word, hetsy om dele van Eskom te privatiseer soos bv. opwekking, transmissie, instandhouding, lewering, ens., of andersyds die hele entiteit. Ander opsies behels groter rolle en aandele in die mark vir bv. son- en windaanlegte. In dit alles word volhoubare en bekostigbare kraglewering vir SA as hoogste norm gestel. 


Die dokument waai beslis as 'n vars bries deur die energiesektor in die land, maar uiteraard is daar baie belange, belangegroepe en geld op die spel, wat almal en alles groot impak sal hê op die uiteindelike uitkoms van die idees in die besprekingsdokument. Vir meer besonderhede, volg hierdie skakel.

INTERNASIONALE NUUS

Image

Sondag presidentsverkiesing in Rusland


Komende Sondag 18 Maart gaan in Rusland sowat 110 miljoen geregistreerde kiesers uit 'n bevolking van 142 miljoen stem vir wie die president van die land moet wees vir die volgende vyf jaar. Daar is op hierdie stadium agt kandidate, insluitende sittende president Vladimir Putin, maar sluipmoorde en inhegtenisnames die afgelope drie jaar rakende presidentskandidate, gooi 'n skadu oor die verkiesing.  


Oor die algemeen egter blyk dit dat pres. Putin, ondanks kontroversies, oorweldigend gewild is en dat sy herverkiesing 'n uitgemaakte saak is. Putin is sedert 1999 in beheer van Rusland óf as premier of as president en daar is redelike eenstemmigheid dat hy die uitgestrekte en gediversifiseerde land opnuut gevestig het as 'n supermoondheid in die wêreld.  


Op die internasionale toneel het Rusland die afgelope twee jaar 'n sleutelrol gespeel om ISIS in die Midde-Ooste 'n nekslag toe te dien, terwyl Rusland ook 'n kalmerende invloed op wêreldgebeure uitoefen. Dit wil voorkom of Putin nie deel van die Nuwe Wêreldorde vorm nie en of hy en die nasionalistiese pres. Trump van die VSA mekaar verstaan.

Image

Brittanje sit 23 Russiese diplomate uit


In reaksie op die poging tot vergiftiging van 'n dubbele Russiese spioen Sergei Skripal en sy dogter Yulia in die Engelse stad Salisbury op 4 Maart vanjaar met die senugas Novichok en waartydens 36 ander mense ook aangetas is, het die Britse regering van Theresa May besluit om 23 Russiese diplomate in die land summier uit te sit. Dít nadat die Putin-regering in gebreke gebly het om voor 'n spertyd 'n aanvaarbare verduideliking vir die voorval te gee. 


Hoewel die voorval 'n terugslag vir Brits-Russiese verhoudings is, word op sosiale media gesê dat die Britse reaksie meer vertoon as substansie is en dat albei regerings deeglik bewus is van wat werklik agter die voorval sit. In wese word verwag dat die redelike goeie verstandhouding tussen May en Putin ongeskonde is.

Image

Jerusalem as hoofstad – vier Amerikaanse presidente


Internasionaal gons dit steeds omdat pres. Donald Trump vroeg vanjaar gesê het die VSA erken Jerusalem as hoofstad van Israel en dat die Amerikaanse ambassade ook soontoe verskuif gaan word vanaf Tel Aviv. Intussen is dit ironies dat nie minder as vier voormalige Amerikaanse presidente almal uitdruklik gesê het Jerusalem is die hoofstad, maar dat geeneen van hulle die moed gehad het om die woord by die daad te voeg nie.  


Om op 'n kort videogreep te sien wie die vier presidente was en hoe hulle dit gesê het, kliek op hierdie skakel.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Dryf om Afrikaners te kriminaliseer


Daar is tans in die volgende opsigte kennelik 'n dryf onderweg om alles van die Afrikaner in die land te kriminaliseer: 


• Einde verlede jaar het die Grondwethof in die saak van die Universiteit van die Vrystaat beslis dat t.o.v. Afrikaans daar nie 'n reg tot moedertaalonderrig op tersiêre vlak is nie.


• Vanjaar het dit begin met die betogings teen Hoërskool Overvaal in Vereeniging, oor die ontkenning van die reg van Afrikaners om die skool van hul keuse te bedryf.


• Dit is gevolg deur die verklaarde voorneme deur die ANC-regering, die EFF en ander swart politieke radikalisme om grond in die land sonder vergoeding te onteien – uitdruklik gemik op blankes / Afrikaners, onder die strydkreet die grond is gesteel en moet gratis teruggegee word en dat sg. apartheid 'n misdaad teen die mensdom was.


• Tans word 'n verbete veldtog gevoer teen die private koshuis De Goede Hoop vir Tuks-studente wat verklaar dat hulle slegs Afrikaans en Christelik is. Vir hierdie standpunt is hulle deur die UP-owerheid geskors uit kampusbedrywighede. In dieselfde asem loop die Sonop Manskoshuis ook deur omdat dit nie sg. genoegsaam transformeer nie.


• Pas het die Nelson Mandela Stigting 'n aansoek by die Gelykheidshof ingedien om die vertoon van die ou landsvlag tot haatspraak, onregverdige diskriminasie en teistering te verklaar en sodanige vertoning te kriminaliseer.


• By 'n onlangse Varsitybeker-wedstryd tussen die Shimlas en die Universiteit van Johannesburg op Shimlapark, Bloemfontein, het videomateriaal opslae gemaak van twee blanke mansstudente wat tydens die speel van die volkslied gesit het met die eerste deel, maar toe opgestaan en hul pette afgehaal het met die tweede deel. Die UV het 'n ondersoek na die voorval gelas.


• Ook sopas word in 'n voorlopige verslag van 'n taakspan van die Dept. van Kuns en Kultuur aanbeveel dat omdat dit aanstoot gee, standbeelde van sg. koloniale en apartheidsfigure vanaf prominente openbare plekke verwyder word en in sg. temaparke geplaas word. Dit is nie duidelik presies watter standbeelde almal in die visier is nie.   


Ons pertinente vraag aan die Afrikaner is: Het julle nog die wil om as volk van jul eie voort te bestaan en, indien wel, wat gaan julle omtrent bostaande doen?  

Vrae


Ons vra dat ons gehelp word met die volgende vrae:


• Hoekom simpatiseer die ANC-regering nooit met die oorlewende slagoffers en/of die naasbestaandes van 'n plaasaanval nie, veral gegee die wreedheid wat slagoffers verduur?


• Hoekom weier die regering konsekwent om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar?


• Hoekom word wreedaardige plaasmoorde deur swart op wit deur die regering en die hoofstroommedia as bloot “misdaad” behandel, maar as 'n blanke net hardhandig teenoor 'n swarte optree, is dit rassisties en krimineel?


• Waar is die konkrete bewyse dat blankes in SA grond van swart en bruin mense gesteel het?


• Hoekom geld swart ekonomiese bemagtiging (SEB) net t.o.v. blanke ondernemings en nie t.o.v. ondernemings van Chinese, Pakistani’s en Bangladesjies wat onlangs in die land gevestig het nie?


• Hoekom betaal Chinese, Pakistani, Bangladesji en Nigeriese sakelui nie BTW en inkomstebelasting nie?


• Hoekom is letterlik alle fondsinsamelings vir kinders waaroor die media berig, t.b.v. behoeftige swart of gekleurde kinders en nooit t.b.v. behoeftige blanke kinders nie?


• Wat presies is, soos beweer word, krimineel aan die vorige landsvlag, Die Stem en moedertaalonderrig?


• Hoekom skel swart radikales kolonialisme uit, maar hulle praat Engels en verkies onderrig in Engels?


Help ons asb., ons wil die SA van vandag beter verstaan

SKEP MOED!

Die tinteling van ware Springbokrugby


Kom ons skep moed uit die era toe Springbokrugby nog Springbokrugby was – kyk gerus na hierdie kort videogreep! 


Dit is glorie wat weer herwin kan word!

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net