17 April 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Image

Christene span saam teen halaal-verpakking


Die tydskrif Juig! berig dat Christene in SA oor die grense van denominasies heen saamstaan teen die absurde massiewe bedrag wat Moslems nasionaal sowel as internasionaal maak uit die halaal-teken wat ongevraagd op bykans alle kosprodukte in die land verskyn.  Volgens die berig maak Moslems amptelik slegs 2,6% van die SA bevolking uit, maar toenemend word halaal-verpakking op feitlik alle voedselprodukte op winkelrakke regdeur die land aangetref. 


Hierdie halaal-handelsmerk voeg bykomende koste by vir die verbruiker en die inkomste gaan direk na die ondersteuning van Islamitiese gemeenskappe. Gevolglik begin Christene kragte saam te span teen hierdie verskynsel en bedryf en word die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte (KGT) oorval met boodskappe van Christene wat hierdie verskynsel sterk teenstaan op grond daarvan dat dit hul reg op vryheid van keuse skend. 


Klagtes sluit ook in dat kopers gemanipuleer word om Islam te befonds sonder dat hulle daarvan bewus is. Sommige klaers voer aan dat die koop van halaal-gesertifiseerde voedsel Christene indirek dwing om aan die sharia-wet gehoor te gee en te betaal vir die vervolging van ander Christene in Moslem-lande, om die bou van moskees te finansier en selfs om finansieel by te dra tot terroristegroepe soos ISIS en Hamas.


Volgens syfers van Statistiek SA was daar in 2016 in SA 892 685 Moslems; 43,4 miljoen Christene; 5,9 miljoen mense sonder enige godsdiensaffiliasie; 2,4 miljoen tradisionele Afrika-godsdiensaanhangers; 561 268 Hindoes; 52 598 ateïste; 49 470 Jode en 32 944 agnostici. Dit beteken dat Moslems slegs 2,6% van die bevolking uitmaak.


Die halaal-bedryf in SA word geraam op R45 miljard en daar word geskat dat reeds tot 90% van alle voedselprodukte in die land halaal- gesertifiseer is.


Thoko Mkhwanazi-Xaluva, die voorsitter van KGT, het bevestig dat talle klagtes oor halaal-kosse ontvang is en dat die saak ondersoek word. Sy het bygevoeg dat selfs gebottelde water is halaal- of kosjer-gesertifiseer en sê: “As ek kosjer- of halaal-gesertifiseerde produkte aankoop, beteken dit dat ek ‘n ander godsdiens subsidieer. Ek betaal indirek vir iets wat nie my geloof is nie. Ons het hierdie beswaar met die Moslem Regterlike Raad opgeneem, terwyl ons in gesprek is met die Verbruikersraad.”

Image

Eerste Afrikaanse digitale TV kanaal


Die Bloudruk Groep van die Wes-Kaap het aangekondig dat hulle die eerste Afrikaanse digitale TV kanaal op 1 September 2018 gaan loods. ‘n Mediaverklaring lui soos volg: “Met ‘Die Waarheid’ as leuse, beloof dié nuwe opwindende kanaal om bekostigbare programme met vermaak en inligting te verskaf wat familievriendelik en op Christen-waardes geskoei is. Dit sluit in vars, nuwe plaaslik vervaardigde programme, kindervermaak, asook internasionale rolprente.


RoepTV.com gaan toeganklik wees vanaf enige televisiestel of slimtoestel, terwyl bekendes soos Retief Burger, Lindie Strydom, Michael Mol, Nico Pinagio, Gretha Wiid, Regardt van den Berg en Frank Rautenbach ‘n diverse programskedule gaan aanbied. Die eksklusiewe inhoud van RoepTV.com kan op aanvraag enige tyd, enige plek vir onbeperkte tyd gekyk word! Kykers kan o. m. uitsien na ‘n sitkom, televisiereeks, speletjiesprogram, ‘n verskeidenheid aktuele programme en selfs internasionale films.”

Die Bloudruk Groep, met Hardus Zevenster as hoofuitvoerende beampte, is reeds die eienaar van media soos Tygerberg 104FM, Groot FM90, Die Groot Ontbyt, ens.

Image

Akademia nuwe visuele identiteit 


Die universiteit Akademia het op 11 April 2018 sy nuwe visuele identiteit onthul wat weerspieëlend is van die nuwe toekomsplanne van die instelling. Dit sluit in o.m. groter toegang tot gehalte onderrig in Afrikaans d.m.v. hoëtegnologie-onderrig. 
Akademia, reeds sewe jaar oud beleef tans snelle groei en vooruitgang. 
 
Met die nuwe visuele identiteit het Akademia ook nuwe kleure aangeneem, nl. vlootblou en brons, wat onderskeidelik spreek van statigheid en die klassieke. Verder is die embleem ontwikkel om die strategiese rigting van die instelling simbolies te ondersteun – 'n A-simbool, ʼn diamant, ʼn olyfkrans en ʼn skild. 

Die A-simbool verwys eerstens na die A van Akademia en tweedens daarna dat die instelling, Afrikaanse moedertaalonderrig bied;  die diamant dui daarop dat die instelling deel van die Solidariteit Beweging vorm; die skild verteenwoordig tradisie en standvastigheid; terwyl die olyfkrans Christenskap simboliseer en na die Griekse tydperk verwys waaruit die klassieke universiteitswese ontstaan het.
 
Hierdie simbole word saamgevat in ʼn sirkel om aan te toon dat die onderskeie elemente nie in isolasie bestaan nie, maar as ʼn eenheid funksioneer. Die Latynse treflyn Ad futurum per fontes verwys daarna dat Akademia sy oorsprong vind in die Westers-Christelike beskawing. 

Vir meer besonderhede, besoek www.akademia.ac.za.

Image

LUR Lesufi op missie teen Afrikaanse skole 


Die Gauteng LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi het pas die doelpale verskuif in sy missie om Afrikaanse skole in die provinsie te vernietig. Hy het naamlik eensydig aangekondig dat die registrasiestelsel vir graad 1 en graad 8 leerlinge vir 2019 aangepas word sodat taal geen faktor meer is nie. Hy het gesê ouers moet aansoek doen by die naaste skool aan hul huis of werk en dat dit nie saak maak wat die taalbeleid van die skool is nie.
 
Volgens die VF Plus dek Lesufi weer die tafel vir openbare geweld by skole en is hy besig om moedertaalonderrig uit skole te forseer en pleeg hy daardeur nie net ‘n gruwelike daad teen Afrikaans nie, maar teen alle amptelike landstale van die land. Daarom gaan die VF Plus hom  aankla  in terme van artikel 135 van die Grondwet, gelees saam met Bylae 2 artikel 5, nl. dat hy artikel  29 van die Grondwet geminag het. 

 Laasgenoemde artikel stel dit duidelik dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of taal van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Lesufi het ook die gedragskode van ampsbekleërs in die Gautengse wetgewer oortree.
 
Die VF Plus in Gauteng wys in 'n mediaverklaring daarop dat hulle reeds in 2016 gewaarsku het dat leerlinge in skole handuit sal ruk en ‘n situasie sal skep waar jeugdiges volwassenes gaan hiet en gebied indien gedragskodes in skole in die slag sou bly. Inmiddels het Lesufi begin om gedragskodes by alle skole op te skort.
 
Nou het 'n verslag verskyn wat aandui hoe erg leerlinge in skole handuit ruk en dat te veel leerlinge reeds in ‘n staat van misdaad verval het. Luidens die verslag was ‘n totaal van 479 leerlinge betrokke by verskeie misdade soos die besit van onwettige middels en die handeldryf daarin, boelie en kuberboelie, aanranding van onderwysers of personeel, aanranding van leerlinge met die doel om ernstig te beseer, bedrog, besit van gevaarlike wapens, seksuele teistering, diefstal en poging tot moord.

Image

Vrystaatse Jongboer van die Jaar aangewys


Nelius Ferreira (37), van die plaas Grootdraai naby Harrismith is aangewys as die Vrystaatse Jongboer van die Jaar. Ferreira stap onder meer weg met ’n oorsese reis danksy Case IH/Northmec en sal ook outomaties aan die Toyota Agri SA nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie deelneem.

Ferreira die o.a. op die bestuur van die Eeram boerevereniging en is voorsitter van die Rooivleis Produsente Organisasie in die Vrystaat.  Hy boer met stoet- en kommersiële Bonsmara-kuddes, appels en 'n voerkraal en  boer reeds 15 jaar as deel van ’n familiebesigheid.

Image

Die Thaba War Room


Te Thabazimbi is die Thaba War Room of ‘n geestelike oorlogskamer ingerig o.l.v. Gisela Joubert, met ‘n ope uitnodiging aan  alle Christen-kerke en denominasies om saam deel te neem aan geloofsaksies, aanbidding en gebed. ‘n Belangrike doelwit is om mense te ondersteun wat persoonlike probleme en noodsituasies ondervind.  Hulle kan inkom vir berading waartydens ‘n Geesvervulde bidder hulle bystaan. 


Daar word ook gereeld gebid vir Suid-Afrika en al sy uitdagings, asook vir Thabazimbi en omgewing.  Op 3 Maart vanjaar het gelowiges by al die ingange van Thabazimbi bymekaar gekom en gebid dat die poorte van die dorp gesluit word vir die vyand en dat, soos Dawid gedoen het in Psalm 24:8-9, die poorte van die dorp oopgemaak vir die Erekoning..


Vir 5 Mei word ‘n gebedsaksie in die vorm van ‘n deurnagmarathon beplan.  Die Thaba War Room is n geregistreerde, nie-winsgewende organisasie, toegang is gratis en bedieners is vrywilligers.  Donasies word gebruik om die huur van die kamers te betaal.  Die War Room is nie beskikbaar vir eredienste of funksies van ‘n spesifieke kerk of denominasie nie en is ook nie oop op Sondae nie.


Vir meer inligting, kontak Gisela by 078 855 4345.

Image

Twee nuwe publikasies oor Grensoorlog


Twee nuwe publikasies oor die Grensoorlog het onlangs by Kraal Uitgewers verskyn, nl. Ratels aan die Lomba: Die storie van Charlie-eskadron deur Leopold Scholtz en From Cunene to Cabo Delgado deur Louis Lubbe.


Ratels handel oor die groep jong dienspligtiges wat in Oktober 1987 aan ’n kritieke geveg aan die Lombarivier, in die suide van Angola, deelgeneem het, bekend as Charlie-eskadron, die sg. ystervuis van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep. Met soveel wat teen hulle getel het – die terrein, die getalsoorwig van die Angolese mag en wapentuig – het hulle tog daarin geslaag om die Goliat te oorwin en die Angolese 47 Brigade so te sê uit te wis.


Die fotoboek From Cunene bevat nagenoeg 500 foto’s van elke aspek van die oorloë wat oor ’n tydperk van 28 jaar in Suidwes-Afrika, Angola, Rhodesië en Mosambiek gewoed het en is die produk van lang en deeglike navorsing.  


Vir meer besonderhede, besoek www.kraaluitgewers.co.za

Image

Fokus op Die Stem 100 jaar oud: Ditsem Nuus: Ondersteuning 


 Dit is vanjaar 100 jaar gelede dat CJ Langenhoven Die Stem gedig het, soos dit in daaropvolgende jare in al sy verse voltooi is en deur ML de Villiers getoonset is. As sulks bly dit steeds ‘n literêre en musikale produk van sowel diepe as hoëre kwaliteit, sprekende van die psige van ‘n volk en ‘n kosbare kultuurerfenis. Daarom word dit regmatig gekoester, sonder om afbreuk te doen aan respek vir die huidige amptelike volkslied.
 
Teen hierdie agtergrond doen Ditsem Nuus in sy Mei 2018 uitgawe ‘n spesiale fokus op die ontstaan, rol en betekenis van Die Stem, ‘n basiese uitleg waarvan ter illustrasie by hierdie skakel besigtig kan word. Vir ‘n kort klank- en visuele beeld van Die Stem, soos geproduseer deur die FAK, kliek op hierdie skakel. 
 
Soos gesien kan word op die uitleg van die fokus, is daar verskillende spasies met pryse van so min as R300 beskikbaar vir instansies en besighede ter ondersteuning van die fokus en waarin hulle hul korporatiewe besonderhede, kontakdetail en kort boodskap kan plaas. 
 
Teen hierdie agtergrond word besighede en instansies wat positief is oor Die Stem as Afrikaner-kultuurerfenis genooi om van hierdie geleentheid gebruik te maak om ‘n spasie in die fokus te neem volgens die grootte en prys van keuse. Indien vir hierdie doel Ditsem Nuus voorsien word van die basiese inligting vir die advertensie, sal die koerant ‘n proef saamstel en voorlê ter finalisering. Alternatiewelik kan drukgereed materiaal in Pdf formaat voorsien word. 

As agtergrondsinligting word bevestig dat die gedrukte formaat van Ditsem Nuus as volkleur koerant, in bedryf sedert 2008, gratis versprei word te Kimberley, Bloemfontein en 12 dorpe in die sentrale deel van SA. Die gedrukte formaat van die koerant word ook aanlyn gepubliseer op die webwerf www.ditsem.net, met alle advertensies in die digitale formaat wat elk ‘n interaktiewe skakel het na óf die webwerf of die Facebookblad van die adverteerder.
 
Voorts stuur Ditsem Nuus ook die elektroniese nuuspakket DitsemBlits uit met sy weeklikse Nuusbrief en daaglikse Nuushooftrekke, terwyl die koerant ‘n uitgebreide Facebookblad gekoppel aan Twitter bedryf, albei wat daagliks opgedateer word. 
 
Dus is Ditsem Nuus 'n onafhanklike Afrkaanse nuusmedium, in gedrukte formaat sowel as met digitale platforms, met nuus wat saakmaak spesifiek vir die Afrikaner. Dit is waarom hierdie fokus op Die Stem dan ook gedoen word en waarom vrymoedigheid geneem word om hierdie ope uitnodiging aan goedgesinde besighede en instansies te rig vir ondersteuning.


Om hierdie fokus op Die Stem te ondersteun, kontak Johann Dannhauser by 082 773 2150 of advertensies@ditsem.net.

Image

Denel betaal vlieglesse vir premierskind 


Die vakbond Solidariteit het onthul dat die Denel verlede jaar R1,1 miljoen betaal het vir ʼn “beurs” vir vlieglesse vir die seun van Noordwes premier Supra Mahumapelo, Supra Oarabile Mahumapelo. Denel, wat aan die einde van verlede jaar finansieel in die knyp was en moes spook om salarisse aan sy werknemers te betaal, het ʼn kontrak met Mahumapelo jr. aangegaan om te betaal vir sy vlieglesse, verblyf, kos en wasgoed.


Hierdie ooreenkoms is veral omstrede omdat die beursprogram van Denel in die verlede slegs vir studies in IT, ingenieurswese, finansies en sakebestuur gegeld het. Volgens Solidariteit is hierdie “beurs” net nog ʼn bewys van hoëvlakkorrupsie in  SA openbare ondernemings en gaan hulle die saak verder opneem.  

SAKENUUS

Image

Stappe teen stroping van die Staatspensioenfonds 


In 'n mediaverklaring deur die VF Plus word daarop gewys dat terwyl groot vrae hang oor die beoogde notering van ʼn nuwe mediamaatskapppy wat straks deels moontlik gemaak kan word met geld van die Staatsdienspensioenfonds (SDPF), raak dit al hoe duideliker dat geld van die SDPF in 'n proses is om d.m.v. velerlei bedenklike transaksies gestroop te word. Die nuwe mediagroep Sagarmatha Technologies, word hoofsaaklik besit deur ʼn familietrust van Iqbal Survé, die uitvoerende voorsitter van Independent Media.
 
Die SDPF hou reeds deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat die fonds bestuur, ʼn aandeel van 25% in Independant Media. Luidens mediaberigte in Business Day is Independant Media in ʼn geldelike verknorsing en hoop word geplaas op die verkope van aandele vir Sagarmatha Technologies nadat die maatskappy komende Vrydag op die Johannesburgse Aandelebeurs genoteer is, om hom te red. Dit blyk dat Independent Media deel van Sagarmatha Technologies sal word en sodoende befonds sal word deur die nuwe genoteerde maatskappy.
 
Daar is egter ‘n probleem met die notering, aangesien Sagarmatha Technologies volgens berigte tegnies insolvent is en dus eers privaat befondsing moet ontvang voordat dit voldoen aan die vereistes van die Wet op Finansiele Markte. Die maatskappy sal moet bewys dat dit gekapitaliseer is met minimum R500 miljoen en dit is goed moontlik dat die OBK weer versoek is om in hierdie konteks in nog ‘n Iqbal Survé-avontuur te belê.
 
Die VF Plus het daarom ʼn skrywe gerig aan Deon Botha, korporatiewe hoof van die OBK,  waarin hy gevra word of die OBK wel sodanige aandele gaan aankoop. Nog geen antwoord is op hierdie navraag ontvang nie. Indien die OBK wel van plan is om aandele in Sagarmata Technologies te bekom, wil die VF Plus SDPF-pensioenarisse adviseer om onmiddellik ‘n interdik teen die transaksie te bring.
 
Die VF Plus wys dan op die volgende voorbeelde van bedenklike wyses waarop die SDPF oor die laaste paar jaar gestroop is, 'n fonds, met ʼn oorspronklike bate van R1,87 triljard as die grootste belegger in die landsekonomie: 


⦁ Februarie 2018:  OBK leen R5 miljard aan Eskom vir oorbruggingsfinansiering. 


⦁ Maart 2018:  Die Reserwebank plaas VBS Mutual Bank onder kuratele. Die OBK besit sowat 30% aandele in VBS. Dit is ook bekend dat VBS ʼn lening van R8 miljoen aan pres. Jacob Zuma toegestaan het vir sy skuld by Nkandla. 


⦁ OBK het ʼn reuse belegging in Steinhoff gehad en in Desember verlede jaar is die vrees uitgespreek dat die SDPF ʼn verlies van sowat R12 miljard met dié belegging kan ly. 


⦁ In 2015 het die OBK Lonmin van ondergang gered deur, buiten sy bestaande aandele, ʼn verdere 25% van dié platinumprodusent te bekom teen 'n bedrag van R1,9 miljard. Van belang is egter dat dit gedoen is nadat Lonmin se aandeelprys in die voorafgaande jaar met 80% gedaal vanaf byna R35 tot skaars R3. Wat markwaarde betref, het dit binne een jaar gedaal vanaf R29 miljard tot R3,5 miljard. 


⦁ In 2014 is berig oor ʼn transaksie waar die OBK sowat R3 miljard belê het in ʼn feitlik bankrot oliemaatskappy, Camac Energy. Daar is berig dat ene Kase Lawal, ʼn Amerikaner van Nigeriese afkoms en kennis van voormalige pres. Zuma, in beheer was van die maatskappy, maar niks is sedertdien van hom of sy maatskappy verneem nie. 


⦁ In 2016 was daar groot ontevredenheid oor ʼn ekonomiese ontwikkelingsplan vir Tshwane/Pretoria met geld van die OBK en die aankondiging dat ‘slegs swart mense’ daarby baat sal vind.

Image

Talle plase landswyd in die mark


Plaasmoorde, die voortdurende gesanik oor grondonteiening sonder vergoeding en allerhande wetgewing om sg. swartbemagtiging in die landbou te bevorder ten koste van vrye blanke eienaarskap, is duidelik besig om sy tol te eis met plase wat in die mark is vanaf Limpopo tot die Boland en vanaf Venterdorp tot KZN. Dit blyk bv. uit die spogplase wat binne die volgende twee maande deur Van’s Auctioneers opgeveil gaan word. 

Op 19 April kom ‘n uitstekende beesplaas van 367 ha in die Springbokvlakte onder die hamer, terwyl die volgende dag ‘n ideale Bosveldplaas van 670 ha naby Koedoeskop in Limpopo opgeveil word. Op 11 Mei kom ‘n ontwikkelde wildsplaas van 880 ha in die Thabazimbi-distrik aan die beurt, terwyl plase by Bainsvlei, Bloemfontein en in die Ventersdorp distrik in die volgende 10 dae onder die hamer kom. Al hierdie plase bevat uitstekende ontwikkelde infrastruktuur en lewende hawe. 

Image

Tegnologie transformeer kleinhandel


Die bedryf van kleinhandelwinkels in verskillende ekonomiese sektore word tans radikaal getransformeer deur nuwe tegnologiese ontwikkelings en toepassings. Waar selfoon die gom is wat tans digitaal en fisiese kleinhandel konnekteer, vorm stemtegnologie die basis van die kleinhandelervaring van die toekoms.

Histories was ligging die sleutelaspek van kleinhandel, maar die koms van die Internet het die belangrikheid van ligging erg verminder, want met aanlyn aankope is ligging nie meer so ‘n faktor nie. Al meer beweeg kleinhandelaars na ‘n multi-kanaalbedryf wat ‘n naatlose kombinasie behels van aanlyn, sosiale media, selfoon en in-winkel.


Terselfdertyd word wegbeweeg van prys ten alle koste en van prysoorlog, na promosie van leefstyl – as jy by ‘n sekere winkel of winkelgroep of bepaalde tipe produkte koop, dan val jy in ‘n sekere positiewe leefstylkategorie.  M.a.w sekere wikels of produkte bepaal of jy “in” is en verskaf dit die beeld waarmee die verbruiker graag geïdentifiseer wil wees en gevolglik word bemarkingstrategie dienooreenkomstig gestruktureer en gedryf.   


Wat voorts ‘n radikale invloed op die kleinhandel gehad het en steeds het, is die vermoë en gerief van die selfoon of slimfoon. Die verbruiker en die kleinhandelaar kan nou enige tyd en op enige plek met mekaar kommunikeer – by die gim, werksplek, sportveld en waar ookal. So bv. in Australië besit 88% van die bevolking slimfone en het aankope via selfone in 2017 met 25% gestyg. In die VSA word voorspel dat teen 2020 die helfte van alle aanlyn verkope deur selfone, sg. m-commerce, sal geskied.


Nog ‘n verwikkeling is dat Instagram toenemend geïntegreerd word met aanlynverkope in besonder in die vorm van sg. mobiele punt-van-verkope terminale. Die pas vir die toekoms in hierdie verband word moontlik ook in Australië aangegee met ongeveer 9 miljoen gebruikers van Instagram per maand en 81% van Australiërs wat toegang tot sosiale media deur hul slimfone beoefen. 


Die nuutste neiging is ‘n swaai terug na ligging, maar nie die ligging van die winkel nie, maar van die verbruiker. Laasgenoemde word nou deur ‘n “app” of toep outomaties verwittig van die jongste aanbiedinge en waar dit beskikbaar is binne, sê, 400 m vanwaar ‘n persoon hom- of haarself op enige gegewe tydstip bevind. ‘n Horde aanbiedinge loop as’t ware die verbruiker of potensiële verbruiker agterna en hou hom of haar voortdurend op hoogte.


Wat meer is, die wyse van kommunikasie in hierdie opsig is stem – dit is ‘n stem op die selfoon wat die kommunikasie doen, ‘n stem wat in detail verduidelik, ens. Dit is waarom gesê word dat slimfoon stemtegnologie dié toekomsrigting van kleinhandel is.


Hierdie is slegs enkele basiese lyne op die tekenbord om die transformasie wat tegnologie vir die kleinhandel meebringt, te illustreer. Vir meer besonderhede, besoek www.bizcommunity.com of Google.

Image

Jongste hernubare projekte geoormerk vir SEB 


Dit blyk dat die jongste 27 hernubare energieprojekte wat deur die regering goedgekeur is, hoofsaaklik of uitsluitlik geoormerk is vir swart ekonomiese bemagting (SEB). Minister van Energie Jeff Radebe het verlede week in ‘n toespraak by die loodsing van die Black Energy Professionals Association (Bepa), gesê dat hierdie instansie die enigste voertuig is om deelname deur swart beleggers in die energiesektor te bewerkstellig.


Radebe het gesê dat ‘n minimum van 64,2% in swart eienaarskap en maatskaplike bevoordeling vir swartes is as vereistes ingebou in die houermaatskappye van hierdie 27 projekte ten totale waarde van sowat R56 miljard. Sowat 86% van die top bestuursposte in hierdie projekmaatskappye is ook gereserveer vir swart beroepslui. 


Radebe het voorts gesê dat die 27 projekte is so gestruktureer dat dit SEB bevorder in selfs verwante sektore, soos ingenieurswese, konstruksie en instandhouding, asook verkryging van produkte en dienste. Volgens hom sal hierdie energieprojekte sowat R9,8 miljard bydra tot maatskaplike opheffing van plaaslike swart gemeenskappe op die terreine van onderwys, gesondheid, vaardigheidsontwikkeling, ens., terwyl sowat R3,39 miljard geoormerk is vir die bevordering van swart kleinsake.


Inmiddels is dit bekend dat Radebe sterk familiebande het in die energiesektor en ook verder in ander ekonomiese sektore, met o.a. hy en pres. Cyril Ramaphosa wat getroud is met die susters van mynmagnaat Patrice Motsepe. 

INTERNASIONAAL

Image

Onduidelikheid oor wat in Sirië aangaan


Groot onduidelikheid en botsende berigte heers oor die beweerde chemiese aanvalle in Sirië en die daaropvolgende weerwraak bombarderings wat gesamentlike Amerikaanse, Britse en Franse lugmagte uitgevoer het. Aan die een kant word gesê dat pres. Assad en sy regeringsmagte chemiese aanvalle op teenstanders en burgerlikes uitgevoer het, maar aan die anderkant beweer die Siriërs en Rusland, wat Assad steun teen ISIS-terroriste, dat die chemiese aanvalle inderwaarheid bedekte aanvalle deur Westerse geheime dienste was. Dan is daar ook nog berigte van skeptisisme of die chemiese aanvalle werklik plaasgevind het.


Pres. Trump van die VSA, eerste minister May van Brittanje en pres. Macron van Frankryk hou egter vol dat daar ernstige chemiese aanvalle uitgevoer is deur die Siriese magte en dat hul lugaanvalle daarop gemik was om Assad ‘n les te leer en terselfdertyd chemiese arsenale in Sirië te vernietig. Inmiddelswoed ‘n diplomatieke oorlogin die VN Veiligheidsraad, waar die drie Westerse bondgenote geroskam word omdat hulle opgetree het sonder ‘n magtigingsresolusie van die Veiligheidsraad.


Die hele episode het die drie Westerse bondgenote ook in ‘n ernstige kop-aan-kop konfrontasie met pres.Putin van Rusland gebring en wel in die mate dat gepraat word van ‘n hernude Koue Oorlog. Wat egter seker is, is dat die hand van die Nuwe Wêreldorde (NWO) met hul strewe na wêreldoorheersing in die situasie gesoek moet word en dat dit kan help om eventueel die korrels van die kaf te skei.

Image

Palestyne en Hamas sak toe op Israel


Duisende Palestyne te voet en in burgerlike drag sak in massa toe op die grens tussen Gaza en Israel, met laasgenoemde met geen keuse gelaat as om te skiet ten einde hul grens en gebiedsintegriteit te bewaar. Na berig word, is reeds meer as 100 
Palestyne gedood en sowat 1 100 beseer en gewond tydens massa-aksies by die veiligheidsgrens rondom die Hamas-beheerde gebied in die Gazastrook. 

Die gewelddadige protesaksies het van die kant van die Israeli’s traangas, rubberkoeëls en lewendige ammunisie genoodsaak ten einde wet en orde te herstel.
Volgens ʼn skatting van die Israelse weermag neem sowat  20 000 Palestyne aan die demonstrasies deel wat deur Hamas aangevuur word. 

Die oproeriges het petrolbomme en klippe na die soldate gegooi en buitebande gebrand. Intussen ontdek die Israeli’s lang tonnels wat Hamas onderdeur die grens grawe of probeer grawe en moet dit telkens opgeblaas word. 

Die aanslag op die grens het veral tydens tydens die Heilige Week (Pasga) stoom opgetel, te midde van toenemende spanning met Amerika wat voorberei om sy ambassade in Israel vanaf Tel Aviv na Jerusalem te verskuif.

Image

China stop aanlynverkope van Bybels 


Die tydskrif Juig! berig dat daar in China skielik nie meer Bybels via die Internet te koop is nie, omdat die regering sogenaamd ‘n nuwe vertaling wil hê wat hulle as geskik ag. ‘n Paar Nederlandse sendelinge in die land  het die afgelope dae probeer om hul voorraad  Bybels aan te vul, maar was onsuksesvol.


Die nuwe maatreël word as in pas beskou met die beleid van pres. Xi Jinping, wat godsdiensvryheid wil inperk en nie meer buitelandse invloed wil duld nie. Na berig word gaan die Chinese Ministerie van Godsdienstige Sake hom oor die volgende vyf jaar beywer vir ‘n nuwe vertaling en interpretasie van die Bybel wat “beter pas by die Chinese konteks, sosialisme en Chinese tradisie.”

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Nie vrees aanjaag nie


Op sosiale media, veral deur WhatsApp, wemel dit deesdae van berigte in Afrkaans oor sg. slagting van blankes in SA wat op hande sou wees. Dikwels word dit gekoppel aan bepaalde datums en word dit bewoord in boodskappe wat duidelik van vrees spreek of daarop gemik is om vrees in te boesem. Dit kom ook gewoonlik in die vorm van videogrepe deur anonieme individue.


Terwyl ons onder geen illusie verkeer omtrent die gevaar wat blankes, in besonder Afrikaners, in die gesig staar nie, veral soos dit vervat is in die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) van die ANC/EFF en ander radikales en hul meesters, die NWO, moet ons ernstig waarsku teen vreesbevange berigte. Daarenteen is dit ‘n tyd om kalm en gelowig te bly, te bid tot God-Drieënig, aan te gaan met ons dagtake, paraatheid met spoed te ontwikkel en baie wakker te wees. 


As ons gelowig en paraat is, sal God vir ons op Sy tyd ‘n uitkoms gee waarvan ons nie eens kan droom nie. 

Afrikaner ekonomiese bemagtiging


Deel van die ontwikkeling van paraatheid, is duidelik dat die tyd aangebreek het vir ekonomiese bemagtiging van die Afrikaner soos nog nooit tevore nie. Soos blyk uit die berig hierbo oor die hernubare energieprojekte en wat daarmee saamgaan, het die Afrikaner as volk geen keuse  as om sy eie alternatiewe ekonomie in die land te begin ontwikkel nie.


Na ons mening is dit tyd dat Afrikaner-besighede doelgerig mekaar moet begin ondersteun, ons poste skep vir werklose Afrikaners en dat Afrikaner-entrepreneurskap en kleinsake gestruktureerd bevorder word. Veel meer kan natuurlik nog oor hierdie onderwerp gesê word, soos bv. oor die kwessie van Afrikaner-belastinggeld wat blatant teen ons aangewend word, maar ons wil  hier nou net hierdie saadjie saai.


Om hierdie onderwerp verder te bespreek, kan Johann Dannhauser by 082 773 2150 of redakteur@ditsem.net gekontak word.

SKEP MOED!

Weer so ‘n Polisiemag!


In hierdie videogreep word ‘n uitpasseringsparade van die SA Polisie in 1991 gewys – kyk gerus die trots, paraatheid en dissipline wat daar uitstraal en vergelyk dit met wat deesdae in die blou uniforms in die land gesien word. Moed kan daaruit geskep word met die vaste voorneme dat die Afrikanervolk weer by so ‘n Polisiemag moet uitkom.

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net