17 Mei 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Tydperk vir grondvoorleggings verleng

Image

Die Gesamentlike Komitee oor Grondwethersiening het aangekondig dat die sluitingsdatum vir skriftelike voorleggings oor die beplande wettiging van grondonteiening sonder vergoeding verleng is tot 15 Junie 2018. Voorts sal openbare vergaderings oor die aangeleentheid vanaf 26 Junie tot 6 Augustus 2018 in alle provinsies gehou word.  


Die voorsitter van die komitee, Vincent Smith, het gesê dat soveel voorleggings en kommentare teen onteiening sonder vergoeding ontvang is dat dit die “proses verstop het”. Hy het ook gesê dat vermoed word dat instansies soos AfriForum misbruik die geleentheid om hul eie agenda te bevorder.  


Om kommentaar te lewer op die voorstel, is egter nie maklik nie en lewer 'n Google-soektog nie veel op nie. Die beste skyn te wees, om die webwerf www.ruraldevelopment.gov.za te besoek.  


Inmiddels het die Dept. van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming bekendgemaak dat tot op datum 80 664 grondeise teen sowat R40 miljard geskik is. Daardeur is 2,1 miljoen begunstigdes op sowat 3,5 miljoen ha bevoordeel. Die plan is om in 2018/19 nog 1 151 grondeise teen sowat R2 miljard te skik.  


Die departement sê ook dat deur die program vir die herverspreiding van grond sedert 1994 'n bykomende 4,8 miljoen ha grond teen sowat R17 miljard aangekoop is. Daarbenewens is sowat 1 675 plase (sowat 1,5 miljoen ha) ook teen 'n koste van R4,8 miljard geherkapitaliseer.  


In reaksie hierop sê dr. Pieter Groenewald van die VF Plus: “Die regering het in die Parlement erken dat in 93% van gevalle waar grondeise toegestaan is, die begunstigdes verkies het om eerder geld te neem, en nie die grond nie. Waar die staat bv. R5 miljoen vir ʼn plaas betaal, moet hy ʼn verdere R5 miljoen aan die eiser gee wat nie die grond wil hê nie. Dit beteken dat R10 miljoen van belastingbetalersgeld eindelik vir die grond betaal word wat net R5 miljoen werd is. 


“Die regering mislei die mense van Suid-Afrika verder deur te sê onteiening sonder vergoeding sal grondhervorming bespoedig. Die waarheid is dat die staat erken hy besit tans 4 000 plase. Waarom word hierdie plase nie eerste aan die mense gegee nie? Met die eerste restitusie-proses wat in 1998 gesluit het, is 80 000 eise ingedien. Dit is nou twintig jaar later en van hierdie eise is steeds nie afgehandel nie.  


“Daarbenewens het die staat erken hy besit 17 miljoen ha grond in SA - waarom gee die staat nie hierdie grond, buiten die 4 000 plase in sy besit, vir die mense wat grond wil hê nie? Die regering het ook erken dat 90% van vorige herverdelingsprogramme misluk het. Hierdie plase, wat reeds in die staat se besit is, kan ook gebruik word.”

Plan om Vanderkloofdam te hernoem na Mandela-dam

Image

'n Aankondiging deur die Minister van Energie Jeff Radebe lui dat die Vanderkloofdam na oud-pres. Nelson Mandela hernoem gaan word. In reaksie hierop sê dr. Wynand Boshoff van die VF Plus Noord-Kaap: “Dit is niks minder nie as diefstal van die geskiedenis.”    

“Dié dam, die tweede grootste in Suid-Afrika, is eers na die destydse minister van waterwese, PK le Roux, vernoem. Dit was nie 'n ydele verering nie, maar erkenning vir Le Roux se reusewerk om die verbeeldingryke Oranjerivier-besproeiingskema ʼn werklikheid te maak. Die vernietigende droogtes van die afgelope paar jaar sou 'n veel groter impak gehad het, as versiende leiers nie reeds in die jare sestig met hierdie skema begin het nie. 


“Die grootste dam in die skema en in Suid-Afrika, is destyds na HF Verwoerd genoem, omdat hy die dryfkrag agter hierdie grootse onderneming was. Die Verwoerddam is destyds deur 'n buitelandse konsortium gebou, aangesien die kundigheid vir so 'n reuse onderneming nie in Suid-Afrika beskikbaar was nie. 


“Een van die kontrakvoorwaardes was dat Suid-Afrikaners in die proses opgelei moes word. Dit het daartoe gelei dat die departement van waterwese self die bou van die PK le Rouxdam kon onderneem. Talle ander projekte kon daarop volg. 


“Kort na die oorgang van 1994 is die twee damme hernoem na neutrale name, nl. die Gariepdam en die Vanderkloofdam. Dit is eintlik lagwekkend dat daar geen vergelykbare projek sedert 1994 onderneem is, om na oud-president Mandela te vernoem nie.”

Vrystaat Landbou loods Die Plaaswag

Image

Meer akkurate statistieke, ’n vinniger reaksietyd ná bedreigings en die monitor van misdaad in jou omgewing, is van die funksies wat ’n nuwe veiligheidstoepassing, genaamd Die Plaaswag van Vrystaat Landbou (VL) bied. Die toep is in samewerking met ’n tegnologiemaatskappy Piri ontwikkel en kos slegs R24.99 per maand. Dit kan by die Google Play Store of die App Store afgelaai word.  


Die toep is egter nie net vir landbouers van waarde nie en enige lid van die publiek kan dit aflaai en dit ook in stede en dorpe gebruik. Wanneer die paniekknoppie gedruk word, word boodskappe aan 25 gekose nommers vanaf die selfoon gestuur. Die selfoon bel ’n noodnommmer van die gebruiker se keuse en terselfdertyd skakel die beheerkamer ook vier gekose noodnommers.  


Dit gee aan die betrokke mense ook die GPS koördinate van waar die persoon in nood is. Verder maak dit ook voorsiening vir die laai van misdaad-insidente op landbougrond en kan jy ook versoek om in ’n sekere radius, bv. van 10-300 km, al die ander misdade in jou omgewing waar te neem.  


Met die toep kan die gebruiker ook ’n selfoon deur die beheerkamer laat volg wanneer hy of sy op reis is. Om die toepassing af te laai en vir meer inligting, besoek www.dieplaaswag.co.za.

Al meer kinders in SA slagoffers

Image

Volgens 'n skrifftelike antwoord van die SAPD op 'n Parlementêre vraag van die DA blyk dit dat in die laaste drie finansiële jare van 124 526 verkragtingsake wat aangemeld is, was 41% van die slagoffers kinders. Voorts blyk dit dat gedurende dieselfde tydperk is meer 2 600 kinders vermoor, oftewel 5% van alle aangemelde moorde.  


Dit beteken dat elke dag in SA 46 kinders verkrag word en 2 kinders vermoor word. Die syfers toon ook dat slegs 21% van inderverkragtingsake eindig in skuldigbevindings en slegs 1 uit elke 3 kindermoorde.  


Vir meer besonderhede oor die Parlementêre antwoord, kliek hier.

Belge besoek slagoffers van blanke armoede en plaasaanvalle

Image

'n Groep sakemanne vanuit België het Suid-Afrika verlede week besoek om hulself op hoogte te stel van blanke armoede en plaasmoorde. Die groep, wat nie van 'n politieke organisasie is nie, het spontaan besluit om self met 'n bewusmakingsveldtog in Europa te begin oor wat werklik met minderhede in Suid-Afrika aan die gang is en hoe o.m. SEB en ander rassistiese wetgewing blanke Suid-Afrikaners die afgelope 24 jaar in armoede gedompel het en ook hoe plaasboere aangeval en vermoor word.  


Die afvaardiging het by die VF Plus in Gauteng kom aanklop, wat hulle toe gaan wys het hoe lyk blanke armoede in die weste van Pretoria, die Meyerton-omgewing asook blanke plakkerskampe aan die Wes-Rand van Gauteng.  


Slagoffers wat plaasaanvalle oorleef het in die provinsie, is ook besoek en het slagoffers die afvaardiging meegedeel dat die aanvallers heeltyd woorde aan hul geuiter het soos:  "We are going to kill you! You stole our land! You will be taught a lesson!".  


Die besoekers het aangedui dat hulle 'n opvolgbesoek later in die jaar beplan met 'n groter afvaardiging. Die besoek volg ook op besoeke deur die VF Plus die afgelope tyd aan Europa, Amerika en Australië. Vir meer besonderhede, kontak Philip van Staden by 060 556 4347.

Busstaking uiteindelik verby

Image

Die verlammende en verarmende nasionale busstaking is ná 'n maand beëindig sonder dat dit lyk asof die vakbonde, in besonder Numsa, hul sin gekry het. Details oor die finale ooreenkoms is steeds nie duidelik nie – die eis was 9% loonverhoging vir een jaar en 8% verhoging vir jaar 2, tesame met toelaes, asook dat dit terugwerkend van 1 April moet wees.  


Feite van die saak is egter dat die reël Geen werk, geen betaling gegeld het en dat dit busbestuurders met hul huishoudings swaar getref het. Dit wil voorkom asof die vakbonde geen keuse gehad het as om die staking te beëindig nie. Daar was sprake dat groot aantal stakers nie die vakbondleiers gesteun het nie, maar dat hulle hul by 'n meerderheidsbesluit moes neerlê. 


Daar is bereken dat die staking minstens R589 miljoen per week gekos het, d.w.s. meer as R2 miljard in totaal. Daarby was die staking ontwrigtend vir pendelaars en vir werkgewers en word op sosiale media bespiegel dat die tyd van tradisionele vakbonde en hul eise verby is. 

Grondseminaar van Vryemark Stigting

Image

Die Vryemark Stigting bied op 23 Mei 2018 'n seminaar aan oor grondonteiening onder die opskrif Betrayal of the struggle en waarin beplan word om aan te toon dat grondonteiening sonder vergoeding neerkom op verraad van die sg. vryheidstryd van die ANC. Die seminaar word gehou by die kantore van die Stigting te Blok 5 Bryanston Gate, Curzonweg 170, Bryanston (regoor Sandton Medi-Clinic).  


Vir meer besonderhede, kliek op hierdie skakel.

Waarskuwing teen reg in eie hande

Image

In ‘n mediaverklaring waarsku adv. Anton Alberts van die VF Plus teen 'n situasie van 'n falende regstelsel waar die publiek gedwing word om geen ander opsie te hê as om self die reg in eie hande te neem nie. Hy sê: “Die effektiewe en ewewigtige administrasie van justisie is ‘n belangrike onderdeel van enige moderne demokrasie en daarsonder kan die staat nie die reg opeis om orde te handhaaf nie. Dit kan die staat se monopolie op geweld in reaksie op misdadige optrede in die gedrang bring. 


“Daar word tans in hierdie verband met kommer kennis geneem van ʼn groeiende afstand tussen die groter samelewing en die staat en is daar toenemend wantroue in die strafregstelsel, soos ook blyk uit die lae skuldigbevindingsyfer in strafsake. Navorsing wat die ekonoom Mike Schüssler gedoen het aan die hand van president Cyril Ramaphosa se ontwikkelingsaanwysers, toon dat die veroordelingsyfer van alle misdade die afgelope 10 jaar net 6% is. Terselfdertyd word misdaad al hoe minder aangemeld. 


“Volgens Schüssler vorder net die helfte van aangemelde misdade tot op die hofrol. Dit beteken dat die gehalte van ondersoeke ook afneem. Gegewe hierdie situasie kan ʼn mens verstaan waarom vigilante-geregtigheid – alhoewel dit in beginsel verkeerd is – toenemend voorkom en waarom private sekuriteitsfirmas so sterk in die middelklas groei.  
“Dit is ironies dat die private sektor 'n rol in die gemeenskap oorneem wat die staat se plig is. Dit skep ʼn gevaarlike omgewing en moet dringende aandag kry. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet ook dringend reggeruk word. Daar is 'n geldige siening dat die NVG selektief vervolg en dat sommige mense immuun is teen vervolging. Waarom het dit byvoorbeeld so lank geneem om op te tree op verskillende aanklagte van korrupsie teen oud-president Jacob Zuma en die EFF-leier Julius Malema?


“Nog ʼn kwessie wat dringend aandag verdien is die hantering van al die amptelike tale in howe. Ons verstaan dat die hoër howe Afrikaans as taal uitfaseer. Die probleem is egter nie beperk tot Afrikaans nie, maar raak al die ander amptelike tale buiten Engels. 


“Die vraag is hoe ‘n persoon wat Engels glad nie, of net gedeeltelik magtig is, hom- of haarself kan handhaaf in die howe? Daar is geen rede waarom vertalingstegnologie, benewens tolke, nie ingespan kan word om te sorg dat justisie oop is vir alle amptelike taalsprekers nie. Daar bestaan ook geen rede waarom uitsprake nie in alle tale beskikbaar gestel kan word nie. Tegnologie laat dit toe. Daar is dus geen rede om nie die reg te laat geskied in al ons land se amptelike tale nie. 


“Wat haatspraak-wetgewing aanbetref wil die VF Plus die minister waarsku om toe te sien dat dit ewewigtig toegepas moet word. Dit gaan tot groot polarisasie tussen rasse lei indien daar selektief hieroor vervolg word.”

Kommer oor groot aantal afhanklikes van welsyn 

Image

‘n Selfverduidelikende mediaverklaring van die VF Plus lui o.m. soos volg: “Die ANC beskou die groot aantal mense in Suid-Afrika wat welsynstoelaes ontvang, as ʼn prestasie terwyl dit in werklikheid ʼn skande is en as bewys dien van die regering se onvermoë om te regeer, die land se ekonomie te laat groei en werk te skep. Dit is eweneens ʼn skande vir ʼn regering om mense deur maatskaplike toelaes afhanklik van hom te maak bloot om politieke gewin. 


“Daarbenewens het die regering deur blote onbevoegdheid toegelaat dat die departement van maatskaplike ontwikkeling verval in ʼn chaotiese toestand wat die welsyn van sowat 18 miljoen mense wat van toelaes afhanklik is vir oorlewing, in gevaar stel. Die ANC het op die kantlyn gesit en het sonder om ʼn vinger te verroer toegekyk hoe ʼn totaal onbevoegde minister Bathabile Dlamini die departement feitlik eiehandig vernietig. Die departement het onder haar disfunksioneel geraak sonder enige noembare organisatoriese struktuur.


“Sosiale werkers wat ʼn baie belangrike rol in die samelewing speel, is tot so ʼn mate aan hul eie lot oorgelaat dat hulle magteloos was om hul werk na behore te doen. Die ANC se wanbestuur, onbevoegdheid en korrupsie herinner aan die boek Animal Farm van George Orwell waar die diere in opstand teen die boer kom en die mag op die plaas oorneem. Die varke, wat die leiersgroep onder die diere is, raak later meer despoties en genadeloos as die boer en onderdruk die ander diere wreed met die leuse dat alle diere gelyk is, maar dat sommige meer gelyk is as die res. 


“Dit is wat die ANC aan die mense van Suid-Afrika doen, en die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika se ANC-Animal Farm-verhaal dringend ʼn nuwe wending neem om die land en sy mense van ondergang te red.”

Parlementêre inset oor SAUK

Image

Tydens die bespreking van die begrotingspos van die Dept. van Kommunikasie in die Parlement, het adv. Anton Alberts van die VF Plus o.a. gesê: “Dit is verblydend om te sien dat die nuwe SAUK-bestuur probeer om sy Titanic seevaardig te hou nadat mense soos Hlaudi Motsoeneng dit teen ʼn ysberg van onbevoegdheid en korrupsie laat vasloop het. Wat egter in dié tydperk by die uitsaaier gebeur het, kan nou nie net in die vergetelheid verdwyn nie. Daar heers ʼn dawerende stilte oor die strafregtelike vervolging van mense rakende die SAUK 8-aangeleentheid. Diegene wat die joernalis Suna Venter tot met haar dood geviktimiseer het, mag nie wegkom nie en moet opgespoor en van moord aangekla word. 


“Nog ‘n belangrike kwessie is die Film en Publikasiewysigingswetsontwerp se poging om die internet te reguleer met die pretensie om vroue en kinders te beskerm. Die wysigingswetsontwerp sal uiteindelik nie uitvoerbaar wees nie juis omdat die internet – ‘n globale dier - nie deur ‘n plaaslike wet alleen effektief gereguleer kan word nie. Natuurlik is hierdie wysigingswetsontwerp boonop daarop gerig om meer regulasies te skep ter wille van sentrale beheer in lyn met die Sowjet-etos van die ANC. Aangesien hierdie wysigingswetsontwerp nie in lyn is met die werklikheid nie, sal dit uiteindelik faal.”

Hulp gevra met SP Engelbrecht Museum, Pretoria

Image

Die museumbeampte van die SP Engelbrecht Museum van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria, ds. Johann de Bruin, vra per epos volgens 'n wenslys uitgebreide ondersteuning met die opgradering van die museum. Die museum is te Eloffstraat 243, Eloffsdal, Pretoria-Moot (net oos van h/v Mansfieldlaan en Eloffstraat).  


Vir meer besonderhede kontak ds. De Bruin by 082 733 3951 of cjdb@telkomsa.net.

Inteken op DitsemBlits

Image

Die weeklikse elektroniese nuusbrief wat Ditsem Nuus uitstuur, tesame met die daaglikse Nuushooftrekke, alles gefokus op nuus wat saakmaak vir die Afrikaner, vorm 'n unieke nuuspakket in Afrikaans. Beskikbaar op 'n intekenpakket van slegs R240 per jaar, bied die nuusdiens vinger op die pols kontak met nuusgebeure soos wat dit ontvou.     


Om in te teken is maklik: Doen ‘n inbetaling van R240 in die volgende bankrekening: Standard Bank / Rekeningnaam: DitsemBlits / Rekeningnommer: 140 320 105 (Spaarrekening) / As verwysing: Jou naam en van. Volg dit dan op met ‘n epos na web@ditsem.net met jou naam en van, die eposadres waarop jy die DitsemBlits wil ontvang, asook  bewys van betaling. 


By ontvangs van hierdie besonderhede word jou naam op die DitsemBlits adreslys geplaas vir die volgende 12 x maande.

SAKENUUS

Nampo Oesdag 2018

Image

Die jaarlikse Nampo Oesdag het eergister begin en duur tot Vrydag met nagenoeg 740 uitstallers en met Effektiwiteit met tegnologie as tema. Die uitstallers strek vanaf landbou-implemente tot veevertonings en vanaf huisvlyt tot die modernste tegnologiese kommunikasie. Onder die uitstallers is ook landboumaatskappye en handels- en beleggingsagentskappe van verskeie lande, o.m. Rusland, Italië en Brittanje.  


Verlede jaar is die skou deur 'n totaal van 78 648 mense bygewoon. Vir meer besonderhede besoek www.nampo.co.za.  

Pickvest-bom bars uiteindelik

Image

Na gesloer van jare oor wat werklik aangegaan het met die Pickvest-beleggingskema as sindikasiemaatskappye van die Georgiou Eiendomsgroep met hoofkantoor te Bloemfontein, het die bom verlede week uiteindelik in die Appèlhof in Bloemfontein gebars toe die eiendomsgroep handdoek ingegooi het teen die hofaansoek van die Highveld Syndication Action Group (HSAG).  


Dit baan die weg vir eise van sowat 18 000 beleggers, merendeels pensioenarisse, ten totale bedrag van sowat R4,6 miljard. HSAG het hul groepsgeding reeds in Oktober 2014 begin, nadat talle beleggers hul lewensonderhoud in die skema verloor het. Dit het ook sowat 1 200 finansiële makelaars nadelig getref en dit blyk dat van hulle slegs nog sowat 300 in die beroep staan.  

Sprake van nog R5 miljard vir SAA

Image

Na berig word, wat nog nie bevestig kon word nie, bestaan die moontlikheid dat die Nasionale Tesourie nog 'n reddingsboei van R5 miljard vir die bankrot SAA gaan gooi – die derde soortgelyke bedrag binne 12 maande. Volgens die regruk-strategie van die SAA sal die lugdiens eers teen 2021 gelyk breek nadat oor die volgende drie jaar 'n verdere sowat R12 miljard ingesluk sal wees. 


Inmiddels het Solidariteit aangekondig dat dit voortgaan met ‘n hofaansoek om die SAA onder besigheidsredding te plaas. Solidariteit sê: “Dit is nie reg of regverdig teenoor die belastingbetaler om met die huidige strategie voort te gaan nie. Met elke hulppakket word die belastingbetaler armer. Sedert 2012 het die SAA geen wins getoon nie en het dit die belastingbetaler al R32 miljard in opgehoopte verliese gekos.

INTERNASIONAAL

Wêreld in beroering oor Jerusalem

Image

Die wêreld is behoorlik in beroering oor die verskuiwing van die Amerikaanse ambassade in Israel vanaf Tel Aviv na Jerusalem en die amptelike opening eergister in Jerusalem. Daarmee het pres. Donald Trump sy verkiesingsbelofte gestand gedoen en gedoen wat drie Amerikaanse presidente voor hom erken het, nl. dat Jerusalem inderdaad die hoofstad van Israel is.  


Die Europese Unie het die skuif sterk veroordeel en nog geeneen van Wes-Europese lande het die Amerikaanse voorbeeld gevolg nie en so ook nie Kanada, Rusland, China, Japan en Indië nie. Die volgende lande het egter die amptelike opening van die Amerikaanse ambassade bygewoon: Albanië, Angola, Oostenryk, Kameroen, Kongo, die DR Kongo, Ivoorkus, Tsjeggiese Republiek, Dominikaanse Republiek, El Salvador, Ethiopië, Georgië, Guatemala, Honduras, Hongarye, Kenia, Macedonië, Burma, Nigerië, Panama, Peru, die Filippyne, Roemenië, Rwanda, Serwië, Suid-Soedan, Thailand, Oekraïne, Viëtnam, Paraguay, Tanzanië en Zambië.   


Die VSA is amptelik by die opening verteenwoordig deur die dogter van pres. Trump, Ivanka en skoonseun Jared Kushner, asook minister van finansies Steven Mnuchin. Die bekende Amerikaanse pastoor en pro-Israeli aktivis John Hagee van Cornerstone Church in Texas het o.a. ook boodskappe by die opening gebring.  


Terwyl die regering van Benjamin Netanyahu in ekstase was saam met hul landgenote oor die groot stap, het Arabiere regdeur die Midde-Ooste moord en doodslag geskree. Die Israeli weermag was deurentyd op uiterse gereedheidsgrondslag, o.a. op die grens met Gaza waar 'n massa Palestynse stormloop die hoof gebied moes word met skerppunt ammunisie en waarin meer as 60 mense gedood is en honderde gewond. Drie dae gelede het Israeli vegvliegtuie ook sowat 16 reuse Iranese militêre basisse in Sirië uitgeknikker.

Botswana prioritiseer militarisering

Image

Volgens die webwerf www.defenceweb.co.za word in die 2018/19 nasionale begroting van Botswana van sowat R90 miljard die uitbouing van die militêre vermoë van die land geprioritiseer, met o.a. nuwe vegvliegtuie, lugafweergeskut, gepantserde troepedraers en militêre rivierbote. In 2016 het Botswana reeds aansienlike militêre hardeware vanaf Frankryk aangekoop, insluitende Mistral-missiele. Daar word ook beplan om die wapentuig van die Botswana polisie grootskaals op te gradeer.

Merkel-regering deur wyer oop vir immigrante

Image

Die Merkel-regering het wetgewing voorgestel dat immigrante uit die Midde-Ooste en Turkye nou hul volle gesinne ook na Duitsland mag inbring sonder spesiale vergunning. Tans kan hulle dit net doen met spesiale toestemming in uitsonderlike gevalle. 


Die wetsontwerp moet nog in die Bundestag gedebatteer word waar die Groen Party en Die Linke Party die wetsontwerp nog wyer wil formuleer, die FDP die status quo gehandhaaf wil hê en die AfD hewiglik daarteen gekant is

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Nie polities gekoppel nie


In hierdie nuusbrief word heelwat aangehaal uit mediaverklarings van die VF Plus en wel bloot omdat dit huidige nuuswaardighede vir die Afrikaner goed bewoord. Ons beklemtoon dat Ditsem Nuus nie gekoppel is aan enige politieke party nie en dat ons beriggewing alleenlik deur onsself bepaal word.  

Kole witwarm op Afrikaners wat opstaan


Opmerklik dat in 'n tyd waarin Afrikaners in SA in hul eie land meer verguis word as ooit in die geskiedenis, is die kritiek wat van liberale blankes en “Afrikaners” en swart en bruin radikales oor hul koppe uitgegiet word, ook witwarm van verguising. Terwyl in SA op elke lewensterrein grensloos teen blankes en Afrikaners gediskrimineer word en moorde deur swart op wit al gruweliker word, word Kallie Kriel en Ernst Roets wat dit in die VSA effektief bekendstel, uitgekryt as verraaiers. 


Die ANC en hul radikale meelopers sien dat hul morele hoëgrond in die buiteland besig is om weg te kalwe en daarom is hul ontsteltenis te verstane, maar die kritiek wat uitgespoeg word deur mense met die name soos Elmien du Plessis, Anton van Niekerk, Max du Preez, Trichardt Pansegrouw e.s.m. laat 'n mens sprakeloos.  


Wel, ons sê dit is tyd om op te staan en heel polities inkorrek die waarheid te spreek. Die Afrikaner het in SA en in die wêreld 'n rekord om op trots te wees en ons gelowige voorgeslagte het met lewe en bloed opgeoffer sodat ons kan hê wat ons vandag het.  


Onsself het hard en eerlik gewerk en niks gesteel nie en daarom kan ons almal vierkantig in die oë kyk en onwrikbaar vashou aan wat regmatig aan ons behoort. Ons val niemand aan nie, maar as jy ons aanvat, moet jy die gevolge dra, al is dit ten koste van jou lewe.

Verkragtings skiet hoogte in


Die syfers wat stuksgewys oor verkragtings in SA na vore kom, is ontstellend, veral dié oor kinders in die berig hierbo in die nuusbrief. Daarby moet kennis geneem word dat na berig word, het 37% van mans in die land wat nie in die tronk is nie, in 'n opname erken dat hulle al iemand verkrag het. Voorts is daar 'n goeie kans dat 1 uit elke 4 vroue in die land verkrag gaan word.  


Nog 'n syfer is dat beraam word dat daar tans in SA minstens 300 reeksverkragters is, verreweg die meeste waarvan buite die tronk is. Getuienis is dat die SAPD nie oor die forensiese kapasiteit beskik om behoorlike vervolging in verkragtingsake in te stel nie.  


Verkragtings is natuurlik die simptome van 'n uiters siek gemeenskap. Word egter gelet op die vrye beskikbaarheid van pornografie in die land, veral op TV en op die Internet, dan kom die ontstellende toename en werklikheid van verkragtings nie as 'n verrassing nie.  


Voorts moet die fout – en remedie – ook gesoek word by 'n toenemende gesekulariseerde samelewing wat al meer ankerloos wegdryf van Christelike waardes. Tesame daarmee loop gesinsverbrokkeling, sedeloosheid, vaderlose gesinne, dwelms, ens.  


Ons sê, terug na die Woord van God en Sy beginsels is die enigste oplossing vir 'n beskaafde, vrye en vooruitstrewende samelewing. 

SKEP MOED!

Los ons grond uit!  


“Die grond van my volk is die grond van my volk – los dit uit en as jy dit wil vat, sal ek dit teen alle koste verdedig!” Dit is die boodskap van die jong Israeli oor sy land op hierdie kort videogreep. Hierin is ook ʼn les vervat vir die Boerevolk en sy grond en kan daaruit ook moed geskep word.

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net