20 Januarie 2018

Lyk die epos nie reg nie? Lees dit aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Image

Hoërskool Overvaal sover so goed


Ná die gewelddadige en haatsprekende betogings deur die EFF en ANC buite die Hoërskool Overvaal in Vereeniging die eerste drie dae van die nuwe skooljaar en wat gedreig het om in gewelddadige konfrontasie met ouers te ontaard, was die situasie gisteroggend relatief kalm met 'n kleiner groep betogers. Die SAPD het die vorige dae die hoogs uittartende betogers effektief hokgeslaan en toe dit nodig was, hulle met skokgranate en rubberkoeëls uiteengejaag.

 

Ouers en ondersteuners van die skool, sowel as die beheerliggaam en personeel het met ysere selfbeheersing opgetree. Van die ondersteuners wat teenwoordig was, was swaar gewapen en duidelik gereed om enige oorspoelende geweld met geweld teen te staan.

Smiddae het ouers en ondersteuners  die bemorste en gevandaliseerde straat voor die skool opgeruim – vir twee kort videogrepe volg hierdie skakel.

 

Intussen is dit duidelik dat die eintlike instigeerder agter die geweld die Gautengse LUR vir Onderwys, Panyasa Lesufi, is, uiters teleurgesteld in die uitspraak van die Gautengse hooggeregshof dat daar eenvoudig nie plek is in Hoërskool Overvaal vir 55 Engelssprekende leerders nie en dat daar inderdaad in minstens twee nabygeleë Engelssprekende skole wel plek vir hulle is. Op hul beurt het Fedsas daarop gewys dat die leerlingtal in openbare skole in Gauteng die afgelope 10 jaar met sowat 348 000 toegeneem het, wat veronderstel is dat 348 nuwe skole gebou moes word, maar dat slegs 85 hiervan voorsien is.

 

Daarby het die e-registrasiestels van die Gautengse Onderwysdepartement platgeval, met die gevolg dat duisende leerders met die aanvang van die skooljaar nog nie geplaas was nie. Volgens Fedsas word die rassekaart gespeel teen funksionele Afrikaanssprekende skole ten einde die patetiese dienslewering van die Gautengse Onderwysdepartement te verbloem.

Image

Ongelooflike rassistiese dubbele standaarde


Die ongelooflike dubbele standaarde wat in terme van beweerde rassisme in SA tans toegepas word, blyk veral uit die misdaadverhaal in die land.. Die gruwelikste swart geweld op wit haal kwalik die hoofstroomnuus, terwyl dit internasionaal weergalm indien 'n blanke sy vinger lig teen 'n anderskleurige, of selfs net met woorde impliseer.

 

Enkele voorbeelde tot dusver vanjaar: Op 4 Januarie word 'n 88-jarige blanke vrou te  Maretsane in Noordwes aangeval, haar heup afgeslaan, een arm  gebreek en albei arms potblou geslaan soos wat sy verskeie houe probeer keer het. Sy het wonderbaarlik oorleef en is in die hoësorgeenheid opgeneem.

 

Volgens Maroela Media berig het op Vrydag 12 Januarie in Ermelo 'n man (55) en sy vrou omstreeks 22:00 na 'n kafee in 'n stil buurt gestap toe 'n motor met drie mans by hulle stilgehou het, hulle met 'n vuurwapen aangehou het en vir die man gesê het: “Run or we will kill you”. Toe die man hom teensit, is hy in sy been geskiet, die vrou in die motor gedwing en is met haar weggery.

 

Later is die vrou 2 km buite die dorp langs 'n grondpad na ‘n plakkerskamp ernstig beseer in die gras gevind. Agt van haar tone was afgekap en sy het 'n skedelfraktuur opgedoen. Sy is hospitaal toe geneem en het ná 'n lang operasie oorleef.

  Albei hierdie gevalle het omtrent nie die hoofstroomnuus gehaal nie en het nie 'n haan daarna gekraai nie, maar toe die EFF volgens hul eie vertolking gemeen het “monkey” verwys na swart mense, het amok en verwoesting losgebars en is winkels geplunder en malls totstilstand gedwing.

Image

Ramaphosa wil alle blanke stelsels uitroei

Tydens die begrafnis verlede week van die digter-aktivis Keorapetse Kgositsile het adjunk-pres, Cyril Ramaphosa in 'n huldeblyk gesê dat hy en die ANC-leierskap alle stelsels sal uitroei wat blanke heerskappy in stand hou en wat swart pyn oor eeue veroorsaak het. Volgens hom is dit waarvooer Kgositsile onwrikbaar gestaan het.

  Ramaphosa het voorts gesê dat soos Kgositsile en sy “woordbataljonne” wou gehad het, “sal die uitbuiters van die grond ontdek dat 16 Junie as die Jaar van die Spies voortduur. Ons sal ons eed van lewe en bestaan eis – ons verbintenis om die grond aan ons mense terug te gee. Die regering sal nuwe lewe blaas in die rewolusionêre idee dat kultuur 'n wapen is om 'n regverdige en menslike samelewing mee te skep.”

Image

Beoogde grondgryp – nie net plase nie


In 'n mediaverklaring wys die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) daarop dat art. 25 van die Grondwet nie net verwys na grond alleen nie, maar na alle eiendom en dat dit impliseer dat ook alle eiendom sou ressorteer onder die beoogde onteiening  sonder vergoeding. Volgens die IRR kan dus met die nodige woordspeling  art. 25 so aangepas word dat dit ook insluit dorpshuise, besighede, roerende eiendom, aandele en selfs bankrekenings.

  Die IRR meen dat onteiening sonder vergoeding tans slegs die dun ent van die wig kan wees en dat toenemende politieke druk dit later kan uitbrei na alle ander eiendom in besit van blankes, onder die voorwendsel van “herverdeling van rykdom”. Vir meer besonderhede, besoek www.irr.org.za.

Image

Landbou-reaksie op beoogde grondgryp 

In reaksie op die besluit van die ANC om grondonteiening sonder vergoeding in te stel, sê Agri SA dit verwelkom “die realisme wat deurskemer” in die uitsprake van adjunk-pres. Cyril Ramaphosa. Laasgenoemde het in 'n TV-onderhoud gesê “grondhervorming is 'n breë en komplekse kwessie wat versigtig en met sensitiwiteit hanteer moet word. Daar moet 'n balans getref word tussen diegene wat grond verloor en dié wat dit verkry.” 

  Van hul kant het die Vereniging van Swart Boere (Afasa) die aankondiging van onteiening sonder vergoeding verwelkom en gesê die historiese ongeregtigheid van grondeienaarskap moet met groter dringendheid aangepak word. Volgens Afasa is daar oorweldigende steun hiervoor, hoewel hulle waarsku dat dit nie ekonomiese ontwikkeling en voedselsekerheid moet skaad nie.

Image

Staatskaping: Lasbrief vir Zwane dalk ook


Dit lyk of die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke skielik lewe gekry het en aktief besig is met aanklagte teen en vervolging van diegene betrokke by staatskaping van na bewering minstens R50 miljard. Hoewel inligting weerhou word ten einde die planne van die instansies nie in die wiele te ry nie, blyk dit dat beslagleggingsbevele bekom is op bates van die Gupta-beheerde maatskappye Trilian Capital Partners en Linkway Trading, asook van die internasionale konsultasiemaatskappy McKinsey,

  Sover vasgestel kan word, is lasbriewe vir die inhegtenisname van twee van die Gupta-broers uitgereik, asook een vir Minister van Minerale Bronne Mosebenzi Zwane – vir laasgenoemde oor sy beweerde fasilitering van die Gupta-korrupsie saam met Vrystaatse premier Ace Magashule in die mislukte Vrede-suiwelplaasprojek ten bedrae van sowat R84 miljoen.

Image

Vrystaat 10 topmatrieks 2017


Hoe die topmatriekuitslae vir 2017 lyk in verhouding met die demografie van die land, blyk o.m. uit die volgende lys van die 10 topmatriekleerlinge in die Vrystaat vir verlede jaar:

  • Stehann van Jaarsveld (St. Andrews School)
  • Janneke Venter (Hoërskool Witteberg)
  • Johannes van Graan (Hoërskool Witteberg)
  • Ansuné Naudé (Eunice High School)
  • Soné du Pisanie (Hoërskool Sentraal)
  • Minee van den Berg (Meisieskool Oranje)
  • Carike Moolman (Meisieskool Oranje)
  • Phole Mofokeng (Mampoi High School)
  • Franco Marais (Grey Kollege)
  • Johanna van Wyk (Hoërskool Voortrekker)

  Uit die SA bevolking van sowat 60 miljoen is 4,5 miljoen blank oftewel 7,5%.

SAKENUUS

Image

Vooruit  suksesvolle seminaar te Orania


Vooruit as 'n projek van AfriForum wat opleidingsessies en -seminare vir eienaars van sake-ondernemings, entrepreneurs, werknemers en werkgewers in Afrikaans aanbied, het op 6 Desember 2017 'n suksesvolle seminaar te Orania aangebied. Bygewoon deur sowat 50 entoesiastiese persone betrokke in die sakesektor, is dit gehou in die moderne ouditorium van die Tegniese Sentrum van die Orania CVO Skool.


Aanbiedings by die seminaar is deur die volgende gedoen:
•    Linda Cronjé,  hoof van AfriForum Lede-administrasie, oor waarom goeie dienslewering van kardinale belang is vir die sukses van enige onderneming.

•    Juran van den Heever, kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging, oor die waarde van bemarking op sosiale media.

•    Rolanda McLean, ’n geregistreerde psigometris en hulpbronbestuurder, oor persoonlike ontwikkeling.
•    Die gasspreker was Meyer le Roux, een van die vennote van die Buffelsfontein Baardolie-handelsmerk, oor die uitdagings en bevrediging van entrepreneurskap.


Vir volgende jaar beplan die Vooruit-span om vier seminare aan te bied - idees en voorstelle daarvoor kan gestuur word na vooruit@afriforum.co.za.

Image

Bedryfsregte in voertuigsektor styg


Die netto aantal bedryfsregte oftewel franchises in die voertuigsektor het gestyg vanaf 60 in 2012 tot 79 in 2017. Bedryfsregte in hierdie sektor kom en gaan egter en 30 van die huidige 79 bedryfsregte is nuwes op die mark. Die geraamde omset van hierdie 79 bedryfsregte is R32 miljard – 'n toename van sowat 66% sedert 2012.

 

Volgens die webwerf Franchise Factor floreer bedryfsregte tydens moeilike ekonomiese tye, want dan vind entrepreneurs veiligheid in groepsverband. Interessant is dat 40% van bedryfsregte in die voertuigbedryf is eggenoot-eggenote-spanne, terwyl 13% van die bedryfsregte vroue aan die stuur het en 30% swart eienaars.


Die voertuigbedryf sluit o.a. in duikklop en verwante dienste, glasherstelwerk, motorwas, onderdele, bandedienste, batterydienste en opsporingsdienste. Van die huidige 79 bedryfsregte in die voertuigbedryf het 28 van hulle 10 of minder winkels, terwyl slegs twee 251 of meer winkels het.

Image

TLU SA oor SEB in landbou


“n Selfverduidelikende mediaverklaring van TLU SA oor nuwe swart ekonomiese bemagtigingsvereistes vir die landbousektor lui soos volg: “Die aankondiging deur die regering in die Staatskoerant in Desember 2017 dat die Kode vir Swart Ekonomiese Bemagtiging aangepas word sodat minstens ‘n kwart van elke boerdery voortaan in swart besit moet wees indien daar produkte aan die regering verskaf word, het ‘n bepaalde uitwerking op kleiner boerderye met ‘n omset tussen R10 miljoen en R50 miljoen.


“TLU SA is oortuig dat kos nie kleur het nie, en gevolglik produseer ons lede voedsel aan alle verbruikers in die land en selfs aan inwoners van buurstate sonder om voorwaardes te stel. Ons is uitgesproke voorstanders van die vryemarkstelsel en van privaatbesit en gevolglik is ons van mening dat hierdie nuutste bepaling dwang impliseer op individuele entrepreneurs ten opsigte van hul voorkeur ekonomiese keuse en reg tot assosiasie - ‘n direkte indruising teen art 18 en art 22 van die Grondwet.”

Image

Kwetter oor getransformeerde hoenderplaas


Die volgende is gekwetter deur dr.Dirk Hermann van Solidariteit: “Tragies, was by skoonpa se ou spog hoenderplaas, twee jaar na bemagtigingtransaksie. Gras, onkruid bedek skoonma se mooi tuin en kinders se herinnering. Hoenderhuise se sinkplaatdakke val in en is verlate. Geen teken van 40 000 hoenders en 24 lojale werkers. Plaas is doodbemagtig.”

Image

Ramaphosa gee wit eienaars die skuld


In sy 8 Januarie-toespraak met die ANC-viering in Oos-Londen, het adjunk-pres. Cyril Ramaphosa gesê die konsentrasie van eienaarskap van ekonomie in die land in die hande van die wit-minderheid beperk volhoubare groei en transformasie. Daarom sal die regering werk om die eienaarskapstruktuur van die ekonomie te verander deur o.m. eienaarskap van swartmense, die jeug en vroue van veral finansiële instellings te verhoog. As sulks vorm dit deel van radikale transformasie.

  Om dit te bewerkstellig, sal volgens Ramaphosa nuwe benaderings verg tot die regulering en lisensiëring van die finansiële sektor ten einde gediversifiseerde eienaarskap en mededinging daar te stel. Ramaphosa het egter ook positiewe ekonomiese uitsprake gemaak, soos dat dit van kritiese belang is dat nuwe lewe in die vervaardigingsektor geblaas moet word.

INTERNASIONALE NUUS

Image

Massale humanitêre krisis in Jemen


Nadat eertydse president van Jemen, Ali Abdullah Saleh, in 2012 gedwing is om die mag aan sy adjunk Abdullah Mansour Hadi te oorhandig, het Jemen, een van die armste Arabiese lande in 'n uitmergelende burgeroorlog met Houthi-rebellemagte verval, hoofaaklik a.g.v. weifelende leierskap deur Hadi. Laasgenoemde het in 2015 landuit gevlug en toe het 'n koalisie van Arabiese state o.l.v. Saoedi-Arabië ingegryp en Jemen d.m.v.lugaanvalle feitlik platgeskiet ten einde die Moslem-ekstremistiese Houthi-rebelle te stuit.

 

Sedertdien is Jemen die toneel van onbeskryflike ellend, met na raming sowat 10 000 mense wat reeds gesterf het, die oorgrote meerderheid waarvan burgerlikes en kinders is. Die burgeroorlog woed steeds voort, met Hadi wat steeds in ballingskap is en Saleh wat weer op die toneel verskyn het en gesê het hy is bereid om die leisels weer op te neem.

 

Met aanduidings dat die Houthi’s aan IS ook 'n vastrapplek in Jemen gee, het die koalisie van buitelandse magte hul bombardemente verhewig en ook 'n blokkade van alle invoere naJemen ingestel. Dit het o.m. verhoed dat internasionale noodleniging o.a. van VN-agentskappe die land binnekom. Die gevolg op die huidige stadium is dat na raming meer as 20 miljoen mense in Jemen op die rand van hongersnood is.

 

Die jongste is dat Amerikaanse skepe met noodlediging wel toegelaat is om Jemen-hawens binne te gaan en voorrade af te laai. Die vraag is egter of dit voldoende is om betekenisvolle verligting te bring, terwyl daar bedenkinge is of die verwoeste infrastruktuur effektiewe verspreiding van voorrade sal kan hanteer.

 

Waarskynlik is tans in Jemen besig om die grootste enkele humanitêre krisis op die aardbol af te speel.

 

Image

Furore oor Trump-opmerking oor Haiti en Afrika


'n Internasionale furore het losgebars oor die opmerking van pres. Donald Trump dat Haiti en lande in Afrika “shithole countries” is. Wat is egter die feite?

 

Wat Haiti betref, die volgende:

  • Die 3de hongerste land ter wêreld
  • Armste land in die Westelike Halfrond
  • Gemiddelde lewensverwagting 50 jaar
  • Geen sanitasie en geen riolering
  • 80% van die bevolking leef op $2 per dag
  • Onveilige drinkwater

 

Trump het gunstig na Noorweë verwys – in Haiti is die moordsyfer 219 moorde per 1 000 van die bevolking, in Noorweë is die ooreenstemmende syfer 0,56. Die BNP per capita van Haiti is $739,60, dié van Noorweë  $70 812,48.

 

Sover dit Afrika aangaan, kan natuurlik oorvloedige statistieke aangehaal word ter stawing van die Trump-beskrywing, maar omtrent Suid-Afrika kan slegs na die inhoud van hierdie nuusbrief verwys word – 'n land waar 'n onskuldige vrou ontvoer word en agt van haar tone  afgekap word, onskuldige mense se kele in hul wonings afgesny word, miljarde rand deur staatskaping gebuit word, die regering verklaar dat hy eerlike mense se grond gaan afvat sonder vergoeding – dan is die woord van Trump kru maar waar.

 

Image

Iran kookpot


Die ergste opstande teen die ekstremistiese Islamitiese diktatuur in Iran sedert 2009 het losgebreek met die gevolg dat in vier provinsies in slegs drie dae sowat 450 mense in hegtenis geneem. Hulle staar aanklagte in die gesig van “opstande teen God”, waarvoor die doodstraf opgelê kan word. Desondanks woed die opstande landswyd voort en beloop die ongevallesyfer reeds tientalle.

 

Die bewind in Teheran beweer die VSA sit agter die opstande, maar Nikky Haley, Amerikaans ambassadeur by die VN, sê: “Ons weet almal dis nonsens. Die betogings is spontaan en feitlik in elke stad in Iran”. Intussen weier pres. Trump steeds om die internasionale ooreenkoms oor Iran en sy kernprogram te ratifiseer, terwyl hy inteendeel skerper Amerikaanse sanksies teen Iran ingestel het, tot ontsteltenis van Brittanje, Frankryk, Duitsland, Rusland en China.

 

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Onderwys: Verwoerd en ANC


Die bekende bruin joernalis en politieke kommentator Rhoda Kadalie, wat destyds ‘n vebete sg. anti-apartheidsaktivis was, skryf o.m. soos volg in ‘n rubriek in Volksblad onder die opskrig Verwoerd klop ANC-onderwys:

 

Ek kan met die beste wil ter wêreld nie verstaan hoekom die ANC nie ons onderwysstelsel kan verbeter nie. ‘n Vinnige kykie na die 2017-resulate toon dié party het selfs die “die goeie dinge” wat met Bantoe-onderwys onder Hendrik Verwoerd en daaropvolgende NP-regerings behaal is, ongedaan gemaak.

 

Hierdie yslike erkenning klink onsmaaklik, maar word bevestig deur grondige bewyse wat in 2012 deur Hermann Giliomee en Laurie Schlemmer gepubliseer is. Hulle het die uitgawes vir en resultate van Bantoe-onderwys onder Verwoerd en daaropvolgende regimes nagespoor en bevind dat, ondanks apartheid meer geldelike en vaardige menslike hulpbronne in swart onerwys gestort is soos wat meer swart meer swart mense die mark betree het. Selfs verbasender is dat die gehalte van die Bantoe-onderwys hoër was as dié in die meeste huidige swart skole.

 

Hierdie is ‘n aanklag wat moeilik aanvaar word deur diegene wat apartheid in al sy vorms verag het. In teenstelling met die algemene opvatting, het onderwys vir swart mense sedert die demokratiese verkiesing van die ANC in 1994 agteruit gegaan. Dit gebeur maklik wanneer die regering die slaagsyfer so laag stel dat leerlinge én onderwysers laag mik – en vakbonde onderwysers desondanks beskerm.

 

Beter resultate vereis groter nougesetheid van onderwysers, inspeksies, beter beleggings van kapitaal en menslike hulpbronne en gedissiplineerde vakbonde.

 

In konteks beskou, skets die syfers ‘n somber prentjie. Die matriekslaagsyfer is niks om oor trots te wees nie, in ag genome die jaarlikse ritueel van “massering” van resultate.

 

Ek wed dat minstens 50% van die 153 610 leerlinge wat met universiteitstoelating geslaag het, nie geskik is nie.

 

Die Afrikaner


Iemand skryf, heel gepas, soos volg oor die Afrikaner:

  Ons is 8%, maar ons het die invloed van 80%. Aan die suidpunt van Afrika bly daar ’n spesiale klomp mense. Al tel hulle slegs  8% van die bevolking, is hierdie mense merkwaardig:

 

  • Só merkwaardig dat die ANC-meerderheidsregering amper daagliks wette moet skep of wysig om hierdie klein minderheidsgroepie te kriminaliseer, te marginaliseer en te penaliseer.
  • Só merkwaardig dat hul sonder parlement, polisie, stemkrag en staatshulp elke dag aan ’n toekoms bou omdat hul glo dat God hulle hier geplaas het met ’n spesifieke doel en roeping; en
  • Só merkwaardig dat hul vir bykans vier eeue hier oorleef – geboelie deur die magtige Brittanje, die Groot Depressie, die onregverdige ANC en barbaarse plaasaanvalle

 

 

 

Die omstandighede waarin hierdie mense leef, is ontwerp om hulle te vernietig, maar hulle word net sterker en sterker, en hul geloof in God net groter. Hulle eet biltong en beskuit, drink moerkoffie en gaan Sondae kerk toe. Hulle sing “Ou ryperd” en hou vakansie by die see; hulle hou van braai (met mieliepap of patats); hulle help mekaar; en hulle help graag ook ander. Hulle is trotse Afrikaners – en ek  is ook een!

Mag ons 2018 steeds van krag tot krag groei!

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net