21 Maart 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Image

Nog 'n terroriste-aanval


Nog 'n terroriste-aanval op 'n plaas het op 19 Maart 2018 plaasgevind toe 'n plaasbestuurder (40) op die plaas Brandenburg sowat 5km vanaf Ladybrand aangeval en met messe doodgesteek is en sy vrou (39) verkrag is. Die aanvallers het met die motor en selfone van die egpaar gevlug, maar na 'n ongeluk met die motor te voet verder gevlug, vermoedelik na Lesotho toe.  


Die vrou, wat vasgebind was, het daarin geslaag om los te kom en 4 km deur sonneblomlande gehardloop om hulp te ontbied. Die egpaar het drie kinders, ʼn dogter van 14 en twee seuns van 11 en 7 onderskeidelik.   Die name van die egpaar word weerhou hangende die ondersoek na die seksuele misdaad wat gepleeg is.

Image

Esidimeni: Regter praat hard


Die voorsitter in die maandelange arbitrasieverhoor oor die behandeling van gestremde pasiënte in die Life Esidimeni-saak in Gauteng, voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, het in sy uitspraak eergister harde woorde gehad oor die sterftes van 144 pasiënte. Hy het o.a. die Minister van Gesondheid en die Gautengse regering en Gesondheidsdepartement gestriem oor die patetiese hantering van die pasiënte en hul verskuiwings en gesê dat hulle in lewe en in dood van hul waardigheid gestroop is.

Moseneke het gevolglik skadevergoeding van R1 ,2 miljoen aan die naasbestaandes van elk van die gestorwe pasiënte toegeken en gelas dat dit nie later as 19 Julie vanjaar uitbetaal moet word nie. Hy het ook beveel dat ‘n monument moet ter ere van die slagoffers opgerig word sodat hulle onthou kan word.

Dit word bereken dat die skandaal die Gautengse regering sowat R200 miljoen sal kos, die verhoorkoste ingesluit. Politieke partye en kommentators is dit eens dat die Esidimeni-skandaal 'n klad is op die ANC-regering en dat hulle verantwoordelikheid dra vir die sterftes.

Image

Pad uiteindelik oop vir Zuma-vervolging


Op 16 Maart het die hoof van die Openbare Vervolgingsgesag Shaun Abrahams aangekondig dat bevind is dat daar redelike gronde vir suksesvolle vervolging is van oud-president Jacob Zuma op 783 aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery, ens. Dit het die kroon gespan op nege jaar van ontsettende regstryde om die weg te baan vir die verhoor van Zuma op hierdie aanklagte – 'n stryd wat die DA spesifiek onverpoosd gevoer het.  


Inmiddels het die prokureur van Zuma, Michael Hulley, in 'n kort verklaring gesê die besluit van die Vervolgingsgesag word nog bestudeer en dat die moontlikheid om dit teen te staan oorweeg word. Aan die ander kant het AfriForum aangedui dat hul regsafdeling onder adv. Gerrie Nel gereed sou wees om private vervolging teen Zuma in te stel indien die proses van die Vervolgingsgesag nie na wense verloop nie.  


Die mening word ook op sosiale media gehuldig dat Zuma nie net krimineel vervolg moet word nie, maar dat hy vanweë sy sleutelrol in staatskaping volgens die getuienis in die verslag van die vorige OB Thuli Madonsela SA belange aan buitelanders verkwansel het, ook vir hoogverraad aangekla behoort te word.

Image

Perspektiewe op beoogde grondgryp


Aanvanklik met die aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa aan die begin van die jaar dat grond onteien gaan word sonder vergoeding en aan “ons mense teruggegee gaan word’ en dit ook op voorstel van die EFF / ANC in die Parlement bekragtig is, het dit geklink asof dit ’n eenvoudige proses kan wees om uitgevoer te word, maar sedertdien het verskeie ander perspektiewe uitvoering in die weegskaal geplaas Trouens dit wil tans voorkom asof daar soveel struikelblokke is dat dit waarskynlik nie uitgevoer sal word nie.  


So bv. word op feitelike gronde daarop gewys dat die gebiedsoppervlakte van SA beslaan 122 miljoen ha, maar dat die Dept. van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming amptelik bevestig het dat hiervan slegs 26,6 miljoen ha oftewel 22% deur blanke boere besit word.  In die lig hiervan word gevra na die eienaarskap van die restant van 95,4 miljoen ha en hoekom dit dan juis die 26,6 miljoen ha in  blanke besit is wat geteiken word vir onteiening sonder vergoeding?  


Voorts word op sowel wetlike as morele en godsdienstige gronde onteiening sonder vergoeding verwerp en dit blyk veral uit grondige kommentaar wat op sosiale media gelewer word, soos bv. die kommentaar by hierdie stemgreep, terwyl in hierdie stemgreep 'n woordvoerder van die AP Kerk 'n Bybels-beredeneerde standpunt bied.     


Vir meer menings in hierdie verband, sien Internasionalisering onder Internasionaal hieronder.

Image

NGK verklaring oor pres. Ramaphosa


Vir die teks van 'n brief van dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, waarin hy pres. Cyril Ramaphosa namens die kerk bestempel as 'n “visionary leaders’ strategist, businessman and negotiator” en hom gelukwens met sy verkiesing as president van SA, volg hierdie skakel.

Image

Die Stem verhewe kultuurerfenis


Om ter bevestiging ‘n idee te kry van die verhewendheid van Die Stem as die vorige volkslied van SA en wat dit simboliseer, kan gerus geluister word na die treffende kort videogreep by hierdie skakel.

Image

Krisis by SABS


Selfs by die SA Buro van Standaarde, gestig in die vorige bedeling en bedryf met onberispelike rekord tot voordeel van die hele samelewing in die land, het ‘n krisis in volhoubare dienslewering en standaarde ontstaan, soos blyk uit die feit dat Minister van Handel en Nywerheid Rob Davies pas geëis het dat die raad van die SABS ‘urgently oversee a detailed process to develop a turnaround strategy for SABS’. Volgens ‘n mediaverklaring blyk dit dat die SABS nie in staat is om rekenskap te gee van die operasionele bates van die organisasie nie.  


In 'n Parlementêre vraag het die DA die minister gevra om dringend 'n verslag voor te lê oor die huidige funksionering van die SABS as 'n statutêre liggaam gestig ingevolge die Wet op Standaarde, 1945. In die vraag vra die DA ook dat die minister beweringe ondersoek dat die SABS betrokke was by onreëlmatige sertifisering van sub-standaard steenkool vir Gupta-beheerde myne ten einde die weg te baan vir die uitvoering van die Tegeta-kontrak met Eskom.

Image

SA elke 48 uur R1 miljard rente


In ‘n onlangse verklaring deur Goolam Ballim, hoofekonoom van Standard Bank, sê hy met verwysing na die nasionale begroting vir 2018/19 die onderste deel van die bevolking dra 4c by tot elke R1 van belasting, maar kry in ruil daarvoor 59c van die besteding. Daarteenoor betaal die boonste 50% van die bevolking 72c van elke R1 belasting, maar kry slegs 6c van die besteding.   Voorts het hy gesê SA het nie meer ruimte om verder geld op internasionale markte te leen nie. Soos dit tans staan, bestee die land reeds elke 48 uur R1 miljard aan rente op skuld.

Image

Imagine Christelike jeugfees


Die jaarlikse #Imagine Christelike fees vir jongmense landswyd word vanjaar landswyd vanaf 6-8 April gehou te Nampopark Bothaville, Megapark Bredasdorp en Zwartkloof Warmbad. Die eerste fees in 2014 is deur 6 200 jongmense bygewoon en verlede jaar het meer as 10 000 jongmense uit 299 dorpe en van talle kerke en denominasies die saamtrekke bygewoon.  


Vir meer inligting, besoek www.imaginemovement.co.za.

Image

Rosenkowitz-stoeltjies na Orania


Op 11 Januarie 1974 was SA en die wêreld verstom oor die geboorte van die Rosenkowitz sesling in Kaapstad – die eerste sesling ter wêreld wat almal oorleef het - drie dogters en drie seuns. In Mei 1974 het 'n mnr. GP van Wyk van Pietersburg by die gesin opgedaag en vir hulle 'n pragtige stel handgemaakte ses houtstoeltjies met tafeltjie geskenk.  


Pas het Susan, nou Wilson, besluit om die stoeltjies aan die Orania Museum te skenk omdat dit 'n Afrikaner was wat destyds die stel gemaak en geskenk het. Op 17 Maart 2018 het sy op Orania die stel aan die Museum oorhandig – op meegaande foto tydens die geleentheid van links Carel Boshoff (president van die Orania Beweging), Susan Wilson en Jan Joubert (kurator Orania Museum).  


Susan het gesê dat sy elkeen van die sesling geraadpleeg het oor die stel en dat almal ingestem het dat dit aan die Orania Museum geskenk word. Tans is die sesling, nou 44 jaar oud, soos volg oor die wêreld versprei: David in Australië, Nicollette en Grant in Kaapstad, Jason in Ierland en Emma en Elizabeth in Londen.

SAKENUUS

Image

Studie oor omskakeling van binnebrand na elektries


Oorspronklik voorgestel deur die Dept. van Handel & Nywerheid en gerugsteun deur die SA Nasionale Energie-Ontwikkelingsinstituut, die United Nations Industrial Development Organisation (UNIDO), die World Wide Fund for Nature en die Global Environment Facility, word 'n studie tans gedoen oor die moontlike transformasie van die SA vervoersektor vanaf binnebrandenjins na elektriese voertuie. Die studie, wat teen Augustus vanjaar voltooi moet wees, word gefasiliteer deur Change Pathways in samewerking met die Universiteit van Kaapstad. 


Die navorsing fokus op sowel ekonomiese as maatskaplike risiko’s verbonde aan so 'n moontlike transformasie en word aandag gegee aan aspekte soos implikasies vir elektrisiteitstariewe, toepaslike wetgewing, werkverskaffing, omgewingsimpak, die handelsbalans van die land, ens. Die studie dek ook benewens passasiersmotors, die vragbedryf en openbare vervoer.  


Wêreldwyd is daar 'n dramatiese verskuiwing na omgewingsvriendelike vervoerwese en die doel is om SA in lyn hiermee te bring. Internasionale studies raam dat teen 2040 sal na verwagting 54% van alle nuwe motorverkope wêreldwyd uit elektries-aangedrewe voertuie bestaan, terwyl dit die geval behoort te wees met 33% van alle ligte vragvoertuie.

Image

Staatsondernemings is swart ekonomiese bemagtiging


By die onlangse jaarkonferensie van die sg. B-BBEE Commission  te Gallaghar Konvensiesentrum in Midrand het Minister van Handel en Nywerheid Rob Davies gesê alle staatsondernemings en staatsdepartemente is verplig om die Broad-Based Black Economic Empowerment (B-BBEE) Act te implementer – dit is nie opsioneel nie maar verpligtend. Hy het gesê dat uit die 195 voldoeningsverslae wat die kommissie ontvang het was hoogs teleurstellend slegs agt van staatsondernemings en geen van die SETA’s nie.  


Die betrokke wet is baie streng dat besigheid slegs direk of indirek na swartmense gekanaliseer moet word, maar in die praktyk word probleme met frontmaatskappye, skynvoorstellings en bloot nie-voldoening ondervind. Daarom word beplan om die skroewe deur verifikasie-agentskappe en ander moniterende instansies skerper aan te draai.

Image

Feite omtrent nuwe hernubare energieprojekte 


Terwyl dit opvallend is dat die nuwe kabinet van pres. Cyril Ramaphosa met Minister van Energie Jeff Radebe nie gras onder hul voete laat groei het met ‘n groenlig vir 27 nuwe hernubare energieprojekte ter totale waarde van sowat R56 miljard nie,  word daarop gewys dat bepaalde feite omtrent die situasie insiggewend is. So bv. word beweer dat die maatskappy Shanduka van Douglas Ramaphosa, broer van die president, na bewering belang van miljarde rand in die hernubare energiesektor het,  terwyl Patrice Motsepe van African Rainbow Energy & Power na bewering R300 miljoen in wind- en sonkragprojekte gaan belê.  


Cyril Ramaphosa is getroud met die suster van Patrice Motsepe, Tshepo, terwyl Jeff Radebe getroud is met ‘n ander suster van Patrice en Tshepo, Bridgette. Laasgenoemde, met ander uitgebreide mynbelange in die land, word gereken as een van die rykste vroue in SA.

INTERNASIONALE NUUS

Image

Internasionalisering van grondgryp en plaasmoorde


Dit lyk of die bewusmaking van die Internasionale gemeenskap van plaasmoorde en nou ook van dreigende grondgryp deur verskillende SA instansies soos AfriForum, die VF Plus en andere bo verwagting vrugte afwerp. Normaalweg was die internasionale gemeenskap bra apaties teenoor blanke Suid-Afrikaners en besonder Afrikaners a.g.v. sg. apartheid, maar deesdae lyk dit of die aakligheid van plaasmoorde en die blatantheid van dreigende onteiening sonder vergoeding te dik vir ‘n daalder vir bepaalde Westerse en ander regdenkende lande raak. 


‘n Deurbraak het gekom in die geval van Australië waar hul minister van binnelandse sake Peter Dutton SA blanke boere na sy “beskaafde land” verwelkom het. Dit het die ANC regering op hul agterpote gebring, maar die Australiese regering het nie hul woorde teruggetrek nie. 


AfriForum  het ook vir een van hul amptenare  Ernst Roets na die UN Forum on Minority Issues vir minderhede gestuur om ‘n persoonlike voorlegging te maak – om na ‘n kort videogreep daaroor te kyk en ook te hoor hoe hy deur die amptelike verteenwoordiger van die SA regering daar aangeval is, kliek hier.  Gister het AfriForum tydens ‘n mediakonferensie aangekondig dat hulle die internasionalisering van vergrype teen blanke Suid-Afrikaners gaan uitbrei deur afvaardigings te stuur na o.a. die VSA, Europa en Australië.  


Terselfdertyd was dit opvallend dat die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake Rex Tillerson onlangs vyf strategiese Afrika state vir die VSA besoek het, maar dat Suid-Afrika met sy strategiese ligging aan die suidpunt van die vasteland nie daarby ingesluit was nie. Daar  is inderwaarheid onbevestigde berigte dat die Trump-administrasie die ANC en die EFF op hul lys van terroristiese organisasies geplaas het en dat hulle selfs beperkte boikotmaatreëls in die oog het sou voortgegaan word met onteiening sonder vergoeding in SA.   Vir ‘n kort dvd-inset oor die narratief plaasaanvalle en -moorde / terroriste-aanvalle, volg hierdie skakel.     


Inmiddels is aangekondig dat die leier van die VF Plus dr. Pieter Groenewald vandag na Brussel in België vertrek waar hy o.m. die Unrepresented Nations & Peoples Organization (UNPO) sal toespreek oor voornemende onteiening sonder vergoeding. Die geleentheid is die 26ste presidensievergadering van UNPO op 23 en 24 Maart. Op 22 Maart spreek Groenewald die Vlaamse Belang Jeugaksie in Gent toe. Dit vorm deel van ʼn deurlopende aksie van die VF Plus om die internasionale gemeenskap oor vergrype in SA in te lig.    


 Suid-Afrika is ‘n ondertekenaar van die VN Verklaring oor Menseregte en onteiening sonder vergoeding is ‘n uitdruklike oortreding van artikel 17 van hierdie verklaring. Daarby is die reg op selfbeskikking van 'n volk verskans in artikel 2 (7) van die VN Handves, terwyl dit in die Internasionale Deklarasie op Burgerlike en Politieke Regte verklaar word as “'n reg van alle mense."

Image

Putin wen ver in presidentsverkiesing


Pres. Vladimir Putin (65) van Rusland het pas die presidentsverkiesing in sy land met ‘n meerderheid van 76,7% stemme gewen ten einde ‘n vierde sesjaartermyn te bekom. Sy naaste teenstander was Pavel Grudinin van die Kommunistiese Party met 11,7%.  


Hoewel daar besware was van onreëlmatighede tydens die verkiesing, blyk dit relatief onbelangrik te wees. Wat wel egter ‘n skadu oor die verkiesing gegooi het is dat die Russiese regering vooraf die felste teenstander van Putin, Alexei Navalny, belet het om as ‘n kandidaat te staan. Nietemin, is Putin onteenseglik gewild in sy land en regeer hy binnelands en buitelands met ‘n vaste hand.   In die internasionale politiek word hy nie as ‘n proponent van die NWO beskou nie en volg hy ‘n redelik onafhanklike beleidslyn. Putin en sy Russiese lugmag was in Sirië en Irak die laaste twee jaar deurslaggewend om die rug van die ekstremistiese ISIS te gebreek het. 


Putin en pres. Trump van die VSA sien klaarblyklik ook redelik oog tot oog oor die wêreldpolitiek. Daarenteen heers ‘n kil verhouding tussen Putin en Angela Merkel van Duitsland, ‘n situasie wat volgens sosiale media nie deur minstens ‘n groot deel van die Duitse bevolking gedeel word nie.

Image

Brits-nasionalistiese siening  oor Brexit 


Terwyl die hoofstroom internasionale media soos die BBC die agenda van die NWO bevorder en daarom Brexit soveel as moontlik afkam, is dit insiggewend om eerstehands die mening van iemand soos die regse Nigel Farage, voormalige leier van die United Kingdom Independence Party (UKIP) te verneem. In ‘n kort videogreep gee hy sy siening van die Europese Unie (EU), hoe hulle diktatoriaal sake van lidlande dikteer en hoe Brittanje o.a. hierin ernstig te na gekom word.

Kyk video

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Tyd vir politieke inkorrektheid


Een van die belangrikste positiewe aspekte wat Donald Trump in die wêreldpolitiek gebring het en iets waaroor daar weinig te verskil is, is dat hy die konsep van politieke inkorrektheid gevestig het. Talle sake wat “normaalweg” as taboe beskou word, het hy omgekeer en feitelik bewys dat dit nie geldig is nie en dus nie werd is om as norm beskou te word nie.  


Een van die sake wat hy op sy kop omgekeer het, is dat die internasionale hoofstroommedia 'n spesifieke agenda het waarvolgens hulle nuus rapporteer en dat dit dikwels geskied aan die hand van halwe waarhede, verdraaiings en selfs leuens. Die agenda wat hulle dien, is hoofsaaklik dié van die NWO en in hierdie kategorie val media soos CNN, New York Times, BBC, ens.  


Dit is egter nie net internasionale media wat hierdie agenda dien nie, maar ook nasionale media, soos bv. die meeste media in Suid-Afrika, Afrikaans sowel as Engels. 


Daarteenoor het die ontsaglike uitbreiding van sosiale media en die vryheid van spraak vir die gewone persoon in die straat wat daarmee gepaardgaan, alternatiewe mediakommunikasie geskep waardeur die waarheid soos wat dit is baie meer tot sy reg kom. Geen wonder dus dat pres. Donald Trump Twitter gebruik as sy hoofmedium om sy mening en beleidsrigting weer te gee.  


Dit is juis deur sosiale media dat ons 'n brief van 'n onbekende skrywer gekry het wat die hele aspek van politieke inkorrektheid uitstekend verwoord, soos wat dit deur Trump geïnisieer is en dan ook op Suid-Afrika van toepassing gemaak word. Die artikel is getiteld Hoekom Trump? en om 'n idee van die aard en strekking daarvan te gee, word slegs 'n enkele paragraaf aangehaal:      


“Nog nooit in die geskiedenis van die demokrasie het 'n demokraties-verkose president meer demokrate so ondemokraties gemaak as die 71-jarige Donald Trump nie. Ek word gelooi vir my lof vir die windgatste president in menseheugenis. En dit is hy beslis. Hy is bruusk, baldadig en aweregs. Hier egter is my redes hoekom ek aan Trump gehoor gee:”

Lees die volledige artikel hier

SKEP MOED!

Image

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net