28 Maart 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Image

Sg. nasionale grondberaad – hoe verteenwoordigend?


Groot vraagtekens hang oor die sg. nasionale grondberaad oftewel National Forum for Dialogue on Land wat tans by die Gordon Institute of Business Science in Johannesburg gehou word, vanweë die kort kennisgewing daarvoor, die lae profiel wat dit handhaaf en die relatief min publisiteit wat dit ontvang. Daarby wil dit voorkom of dit bygewoon word deur slegs pro-onteiening sonder vergoeding persone, met geen of min anti-onteieningsverteenwoordigers nie.   Die ANC is natuurlik sterk verteenwoordig by die beraad deur o.a. Minister van Minerale Gwede Mantashe en Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Maite Nkoana-Mashabane, terwyl Roelf Meyer van Codesa-faam een van die hooforganiseerders is. Hoewel die president van Agri SA Dan Kriek, die besturende direkteur van die ZZ2 Groentemaatskappy in Limpopo Tommie van Zyl en Theuns Eloff van die FW de Klerk Stigting ook teenwoordig is, is daar nie regtig iemand wat die Afrikaner en die feit van gronddiefstal verteenwoordig nie.  


Op die beraad het Mantashe reeds gesê dat onteiening sal begin by die boere met groot plase terwyl Nkoana-Mashabane gesê het die regering berei hom voor vir 'n toetssaak oor grondonteiening sonder vergoeding en gaan nie wag vir die grondwetlike hersieningsproses  nie. Sy het ook gesê grond vir onteiening is reeds geïdentifiseer, maar wil nie sê watter grond nie, “omdat sy die eienaars nie tyd wil gee om solank met regstappe te begin nie”. Sy het ook gesê dat die “oersonde” moet getakel word waarvolgens swart mense as tweedeklas burgers behandel is.   Oor die beraad sê TLU SA in 'n mediaverklaring o.m.: “Die landbouers, wat hulle grond wettig besit, sal self besluit oor die status van hulle grond en raak moeg daarvoor dat rolspelers buite die landboubedryf voorskriftelik probeer wees oor wat met landbougrond moet gebeur. Dit is ons reaksie nadat TLU SA ter elfder ure kennis geneem het van die Nasionale Forum vir Dialoog se konferensie wat op 27 en 28 Maart 2018 aangebied word in Johannesburg en wat handel oor onteiening sonder vergoeding. Die integriteit van die konferensie word ernstig bevraagteken. 


“Die vertrekpunt is 'n algemene stelling dat grond deur kolonialisme of apartheid van swartmense gesteel is. TLU SA bepleit al lank ‘n konferensie oor die geskiedenis van grondbesit, waar alle stawende bewyse oor grondbesit op die tafel geplaas word. Die versoek val op dowe ore, want die regering is skynbaar te bang om die feite te hoor. Die leuen dat landbouers grond gesteel het, moet nou tot die been oopgevlek word, sodat die geskiedenis vir eens en vir altyd geboekstaaf kan word en die toekoms sonder onsekerheid aangedurf kan word.”  


Op hul beurt sê die HNP in 'n mediaverklaring: “Dit is skokkend dat niemand die Afrikaner en die blanke boere by die nasionale grondberaad gister en vandag by die Gordon Instituut, verteenwoordig nie. Die doel van die beraad is om sleutel rolspelers bymekaar te bring sodat die publiek se mening gevorm kan word oor hoe die grondwet gewysig moet word.  


“Die deelnemers by die beraad sluit onder andere adv Tembeka Ngcukaitobi (skrywer van die boek The Land is Ours), oud-pres. Kgalema Motlanthe, regter Dikgang Moseneke, Albie Sachs en die sg. grondhervormingsakademici Ruth Hall en Ben Cousins, asook Roelf Meyer, Theuns Eloff (FW de Klerk Stigting) en Dan Kriek van Agri SA in. Kriek is reeds op rekord dat hy gesê het ‘dat hy graag ’n volhoubare oplossing vir grondhervorming met die beraad wil deel’.   


“Niemand by die beraad, veral nie Roelf Meyer, verteenwoordig die blanke en die Afrikaner nie en is hulle ook geensins die geleentheid gebied om verteenwoordigers aan te wys nie. Dat die uitslag van die beraad eensydig en onsimpatiek teenoor die Afrikanervolk sal wees, is reeds ’n voldonge feit. Soos by Kodesa is dit maar net nog ’n rookskerm om aan die Kommuniste se doelstellings te voldoen en ook die blanke grondbesit weg te gee.”

Image

Vrystaat Landbou en Cope oor art. 25 van Grondwet 


In 'n mediaverklaring sê Vrystaat Landbou (VL): ”Die leiers van VL, wat 'n apolitieke organisasie is, het ’n versoek van Mosiuoa Lekota, president van die Congress of the People (Cope), aanvaar om oor kwessies waaroor albei partye besorg is, te vergader. Lekota en afgevaardigdes van Cope het op 23 Maart 2018 VL se kantore besoek om kwessies oor onder meer grond- en voedselsekuriteit te bespreek. Dit het die onderwerp van grondonteiening sonder vergoeding en die moontlike wysiging van art 25 van die Grondwet van SA ingesluit.  


“Volgens Cope deel hulle en VL ’n kollektiewe plig om ’n inklusiewe Suid-Afrika te help bou, gegrond op die oppergesag van die reg en deur die Grondwet ondersteun word. Nog ’n raakpunt is dat albei partye ook saamstaan in die stryd teen plaasaanvalle en moorde.”

Image

Terroriste-aanvalle en plaasveiligheid


AfriForum het verlede week sy Plaasveiligheidsassessering bekend gestel as hulpmiddel vir mense in plattelandse gebiede om hulself en hul eiendomme te beveilig. Dit volg ná sowat 110 plaasaanvalle en -moorde landswyd reeds vanjaar.  


Onder die jongste gevalle – wat eintlik terroriste-aanvalle op plaasbewoners is – is Martin Louw, bekende boer en plaasbestuurder van Tulbagh wat op 14 Maart op sy plaas doodgesteek is. Die twee aanvallers het met huisware gevlug.  


Op 23 Maart is 'n 44-jarige ma van drie kinders om middernag op 'n plaas in die distrik Hankey, Oos-Kaap, deur 'n inbreker gewond, toe verkrag en toe gedwing om hom met haar motor na die kitsbank te neem om geld te trek. Die vrou en haar kinders is erg getraumatiseer. Haar man was weg op 'n jaguitstappie. 'n 30-jarige verdagte is oor die voorval in hegtenis geneem. 


Inmiddels sê AfriForum in 'n mediaverklaring oor hul Plaasveiligheidsassessering: “Dit bied ’n instrument aan die landelike gemeenskap om te meet hoe veilig hulle is en ook wat hulle kan doen om veiliger te wees. Ons kan reeds die helfte van die stryd wen deur voorbereid te wees en seker te maak dat elkeen doen wat hul kan om veiliger te wees.”  


Die assessering kan bekom word deur ’n versoek te stuur na veiligheid@afriforum.co.za.

Image

Opsienbare inligting oor private weermag in SA


Die webwerf timeslive.co.za berig dat private navorser Gareth van Onselen in ‘n verslag getitteld South Africa’s Secret Police opsienbare inligting openbaar aak oor 'n private weermag in SA 6 600 man sterk en wat gefinansier uit belastingbetalergeld teen R2,6 miljard per jaar. Die private weermag en die finansiering daarvan geskied onder die dekmantel van “BBP beskerming”. 


Dit het begin onder die ampstermyn van Thabo Mbeki teen 'n totale bedrag van R4,3 miljard, maar die afgelope dekade onder die presidentskap van Jacob Zuma het dit gesneeubal na 'n totale bedrag van R18,2 miljard. In sy verslag sê Van Onselen dat die konsep van BBP beskerming gehul is in “bureaucratic obfuscation”, wat dit ook al beteken, maar die bedoeling is dat dit wegraak in vertroebelde woordspeling.   Van die inligting wat Van Onselen aanhaal as feite, is die volgende: 6 585 persone is in diens onder die term BBP beskerming / Gemiddeld ten minste 4,4 wagte is geallokeer aan elk van 450 SA en buitelandse  hoogwaardigheidsbekleërs / gemiddeld 24,6 beskermers bewaak elk van 137 wonings en persele / 47 wagte is toegewys aan elk van die 18 ampsbekleërs betrokke by “presidensiële beskermingsdienste” / 88 wagte is toegewys aan net die president. 


Van Onselen wys dan daarop dat hierdie syfers in skrille kontras is met een polisiebeampte toegewys vir elke 346 gewone burgers. Dit beteken dat die president meer as 30 keer meer beskerm word as 'n gewone SA burger.  


Die BBP beskerming is sigbaar wanneer hulle in die vorm van blouligbrigades deur gewone verkeer teen hoë spoed blits om hul beskermlinge by hul bestemmings te besorg. In die proses is hulle bokant die wet verhewe en skynbaar verantwoordelik aan niemand nie. In aansluiting hierby is die kwessie van beskerming tydens vlugte van BBP’s, wat rofweg beraam word op sowat R108 miljoen per jaar.  


Volgens Van Onselen sal BBP beskerming die belastingbetaler vanjaar R2,6 miljard kos, vergeleke met R 234 miljoen in 2001 toe dit vir die eerste keer as item in die nasionale begroting verskyn het, dus 'n toename van 1 011%. Die groot kwessie bly egter die gebrek aan verantwoordbaarheid wat met die konsep van BBP beskerming gepaardgaan.  


Dat die verslag van Van Onselen water hou en inderwaarheid groot kommer wek, blyk uit die feit dat Volksblad berig dat sedert 2014 'n totale bedrag van R7,4 miljoen bestee is aan veiligheidstelsels by die wonings van premier Ace Magashule, Vrystaatse LUR’e en die speaker en adjunk-speaker van die Vrystaatse Wetgewer. Daarvan het meer as R3,3 miljoen gegaan net vir die beveiliging van die woning van Magashule.

Image

55 000 handtekeninge vir Afrikaans by NWU Potch


Meer as 55 000 mense het reeds 'n petisie onderteken vir die behoud van Afrikaans as onderrigmedium by die NWU Potch. Dit is reeds ses keer hoër as deelname aan die konsultasieproses rondom die verandering van die NWU se kleur en handelsmerk. 


In reaksie daarop het prof. Johannes Froneman, woordvoerder van die rektor en vise-kanselier prof. Dan Kgwadi, in ʼn onderhoud op PretoriaFM gesê dat dit ongehoord sal wees indien die kommentaar ʼn meerderheid ignoreer word. Diegene wat die petisie onderteken het, eis die volgende: Behou die huidige taalbeleid wat wêreldwyd erken word as een van die bestes / Moet geen taalaanbod verminder nie / Ontwikkel Afrikatale as onderrigtale en nie net as hulpmiddeltale nie.  


Om nog kommentaar te lewer of die petisie te onderteken, volg hierdie skakel.

Image

Menseregtedag 2018: Sluise oop vir grondgryp


Die viering van Menseregtedag op 21 Maart vanjaar is gekenmerk deur “the question of land” en wel verkryging sonder vergoeding wat soos ‘n goue draad deur bykans al die byeenkomste van swartmense geloop het. Dit het ingesluit die hoofbyeenkoms wat by die Sharpville-terrein gehou is en toegespreek is deur o.m. adjunk-pres David Mabuza, opvallend met ‘n ANC-das by ‘n amptelike staatsgeleentheid.  


Op verskeie ander byeenkomste was die sg. menseregte van gays en lesbiërs, die sg. LGBT-gemeenskap, aan die orde, terwyl in Kaapstad betoog is vir die regte van mense wat destyds uit Distrik Ses uitgesit is. In die nuus is egter geen rapportering gesien van aandag aan die regte van slagoffers van plaasaanvalle nie.

Image

Grondbesettings slaan landswyd uit


As nasleep van die verklarings deur pres. Cyril Ramaphosa en van sy kabinetskollegas dat grond in die land onteien gaan word sonder vergoeding  en die daaropvolgende Parlementêre aanvaarding van die EFF/ANC voorstel dat implementering van onteiening sonder vergoeding gedurende die volgende ses maande ondersoek gaan word, is besetting van oop grond deur plakkers besig om landswyd uit te slaan. Hoewel die regering sedertdien teruggekrabbel het en gesê het dat onder huidige wetgewing is besetting onwettig, het die Polisie en munisipale wetstoepassers hul hande vol met onwettige plakkery.  


Dit is duidelik dat politici en swart radikales 'n miernes oopgesteek het, wat moeilik weer toegemaak sal kan word. In die Wes-Kaap, Gauteng, Oos-Kaap en KZN o.a. het plakkers eenvoudig opgedaag en begin erwe uitmeet en boumateriaal aanry. Te Hermanus en Midrand het dit oorgeslaan in grootskaalse openbare geweld, die omvang waarvan op sosiale media baie erger geskets word as in die hoofstroommedia.

Image

Nuwe minister wil munisipaliteite regruk


Die nuwe Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake dr. Zweli Mkhize het op ‘n mediakonferensie reguit gepraat oor die patetiese toestand van munisipaliteit in die land en gesê dat net 7% van die 266 munisipaliteite behoorlik funksioneer. Hy het erken daar is ‘n groot gebrek aan kundige mense in munisipaliteit veral wat betref siviele ingenieurs, konstruksie-en projekbestuurders, ouditeurs en finansiële personeel, stads- en streeksbeplanners en persone met administratiewe ondervinding.  


Volgens Mikhize is 31% van munisipaliteite totaal wanfunksioneel, 31% is feitlik wanfunksioneel en die res funksioneer “redelik goed”. Die afgelope vyf jaar het munisipaliteite R8,2 miljard van die fondse aan hulle toegewys, nie gespandeer nie en gevolglik word hierdie fondse hertoegewys aan munisipaliteite waar dit hopelik aangewend sal word.  


Munisipaliteite het einde verlede jaar in totaal R16.2 miljard en R7.3 miljard geskuld aan onderskeidelik Eskom en die waterrade. As dit kom by uitstaande skuld aan munisipaliteite, is Vrystaatse provinsiale departemente die grootste sondebokke in die land met ʼn allemintige 25% oftewel R919 miljoen van die totale R3.7 miljard wat deur al die provinsies geskuld word. 

Image

VF Plus Jeug terug as party op Tukkie-kampus


'n Selfverduidelikende mediaverklaring lui soos volg: “Honderde studente het verlede Donderdag in lang rye in gietende reën te staan om die VF Plus as ‘n minderheidsregte-politieke party by die Universiteit van Pretoria te help registreer. Die boodskap hiermee is dat die tyd aangebreek het om terug te veg teen die vooroordeel, onverdraagsaamheid en die klimaat van rassespanning op kampus.  


“Ons studente het ‘n behoefte aan ‘n veilige en stimulerende omgewing waar verskille gerespekteer word en dit nie ontaard in ‘n pynigende smeltkroes telkens wanneer studente van minderheidsgroepe die ANC en EFF aanvat oor hul haatspraak en rassistiese propaganda op kampus nie. Die volgende studente is eenparig verkies om die VF Plus Jeug op Tuks te verteenwoordig:       


Voorsitter  Daniel Viljoen / Onder-voorsitter Brendan Jordaan / Sekretaris Natasha Labuschagne / Tesourier Kyla-Marie Kraemer / Transformasie  Denine Rudolph.  


“Ons missie is: Om te verseker dat toelating tot dié universiteit op meriete geskied /  Dat die reg op moedertaalonderrig geprioritiseer en nie gedemoniseer word nie / Om te veg vir studente van minderheidsgroepe se reg tot kultuur- en godsdiensvryheid op kampus. Ons het vir te lank toegelaat dat radikale elemente ons tradisies en kultuur op universiteit onteien.”  


Vir meer besonderhede, skakel Jean Kriek by 079 224 7321 of Daniel Viljoen by 072 432 3754.

Image

SASSA-CPS-sage duur voort


Hoewel SASSA deur die Grondwethof vergunning gegee is dat Cashmaster Payment Services (CPS) vir die volgende ses maande vanaf 1 April 2018 steeds die landswye uitbetaling van toelaes aan begunstigdes mag hanteer, blyk dit dat die hof die vergunning slegs toegestaan het ten einde ‘n katastrofe te voorkom. Vroeër het hoofregter Mogoeng Mogoeng SASSA gestriem omdat hulle hul voete gesleep het in die verkryging van ‘n plaasvervangende diensverskaffer in die plek van CPS, wie se kontrak as onwettig verklaar is.  


Inmiddels het die Gautengse hooggeregshof t.o.v. ‘n aansoek gelas dat CPS ‘n bedrag van R316 miljoen terugbetaal aan SASSA omdat hulle fooie gehef het op opgeblaasde syfers van begunstigdes. Midde in die hele SASSA-CPS-sage staan vorige Minister van Maatskaplike Ontwikkeling Bathabile Dlamini, wat haar weinig gesteur het aan hofuitsprake en Parlementêre verhore. Haar rol word steeds deur die organisasie Corruption Watch ondersoek.  

Image

Konsentrasiekerkhof opgegradeer


Rudie Rousseau wat bekend is vir sy passie vir die restourasie en instandhouding van die 126 konsentrasiekerkhowe uit die Anglo-Boere-oorlog, berig van die werk wat gedoen is by die kerkhof van die Standerton-konsentrasiekamp. In ‘n brief aan Ditsem Nuus skryf hy o.m.: “In hierdie kerkhof is die grafte van 856 Boervroue en kinders, waarvan 831 kinders onder 15 jaar was. Die een foto hierby toon die haglike omstandighede waarin die kerkhof verkeer het.  


“Genadiglik het 'n barmhartige samaritaan Marius Marais en sy vrou my gekontak om die plek te gaan skoonmaak. Dit was n spanpoging aangesien ek in Roodepoort bly en hy op Springs, maar op 10 Maart 2018 het ons die kerkhof herstel en 50 sakke gras en vullis verwyder. Verskeie lampies in die monument is herstel, terwyl vir die eerste keer in 118 jaar die name van die vroue en kinders op die monument aangebring is. Dit blyk dat in die kamp was ‘n mev. Swart wat in twee weke se tyd al agt haar kinders in die moordkamp aan die dood afgestaan het.  


“As mense weet van ‘n erfenis van ons volk wat in ‘n erge toestand is, moet hulle my asb laat weet. Ons kan  dit gaan skoonmaak, maar net soos alles het ons donasies / skenkings nodig. Ons het egter reeds ‘n borg om name op ‘n bord aan te bring.  


“Kontak my gerus by: 082 536 1917 of safariafrica954@gmail.com.”

Image

FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo


Die FAK het pas hul jaarlikse Internasionale Afrikaans-Ekspo bekendgestel, ’n opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Die tema vanjaar is Erfenis en wel met  “erfenis dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur, asook musiekerfenis, koserfenis, taalerfenis en selfs ou Huisgenootjies.”  


Die FAK moedig alle graad 6- tot 12-leerders en studente, Afrikaanse huistaalsprekers of sprekers wat Afrikaans as nie-moedertaal het, in enige land, om hulle erfenis te deel d.m.v. ’n dagboekinskrywing, ’n resensie, ’n opstel, ’n kortverhaal, poësie, fotografie en skilderkuns. 


Inskrywings kan op 3 maniere ingedien word: Klik hier om aanlyn in te skryf / Per epos na ekspo@fak.org.za / Per hand by die FAK-kantoor op die Voortrekkermonumentterrein, Pretoria. Alle inskrywings moet teen 31 Julie 2018 ingehandig wees. Geen inskrywingsgeld word gevra nie.  


Groot pryse van duisende rand is op die spel. Vir meer inligting besoek www.fak.org.za.


Inteken op DitsemBlits


Aangesien DitsemBlits 'n nuuskommoditeit is wat teen betaling beskikbaar is, word intekenare versoek om uit 'n wetlike en morele oogpunt die nuusbrief nie gratis aan te stuur aan kontakte nie. Vandaar die versoek om hierdie praktyk en beginsel te respekteer en instede van DitsemBlits gratis aan te stuur, eerder te help om nog intekenare te werf.

Sodoende kan Ditsem Nuus ondersteun word om te groei en sterker te word 'n Afrikaanse medium op sy eie wat bona fide die saak van die Afrikaner na beste van vermoë dien.

Soos gesien kan word, bevat DitsemBlits kort berigte en artikels kompak verpak onder die rubrieke Aktueel / Sakenuus / Internasionale Nuus / Redaksionele kommentaar / Skep moed! By die intekenpakket van R240 per jaar is ingesluit ‘n daaglikse elektroniese nuusbrief met net die belangrikste Nuushooftrekke van die dag.

 

Om in te teken is maklik: Doen ‘n inbetaling van R240 in die volgende bankrekening:

•         Standard Bank, Brandwag tak

•         Takkode: 05-55-34

•         Rekeningnaam: DitsemBlits

•         Rekeningnommer: 140 320 105 (Spaarrekening)

•         Verwysing: Jou naam en van.

 

Volg dit asb. op met ‘n epos na web@ditsem.net met jou naam en van, die eposadres waarop jy die DitsemBlits wil ontvang, asook  bewys van betaling. By ontvangs van hierdie besonderhede sal ons jou naam / die naam van die intekenaar op die DitsemBlits adreslys plaas vir die volgende 12 x maande.

SAKENUUS

Image

Laat Afrikaans vir jou belasting werk


Dit is moontlik dat Afrikaans vir jou belasting kan werk en wel met ’n Artikel 18A- belastingvrystellingssertifikaat vir individue en organisasies wat die FAK se Internasionale Afrikaans-Ekspo finansieel ondersteun. Die FAK sê in 'n mediaverklaring: “Deur jou belasting vir ’n slag Afrikaans te laat praat, help jy nie net om ons Afrikaanse erfenis onder ons jeug te bevorder nie, maar gee die keiser jou boonop belastingafslag daarvoor!”  


Kontak Ziegfried van Huyssteen by zieg@fak.org.za om jou Artikel 18A-belastingvrystellingssertifikaat te kry.

Image

“Ekonomie bly in die weegskaal”


“Die SA ekonomie bly in die weegskaal, met ambivalente mark- en politieke tendense wat ʼn rol speel en wat ekonomiese heil in die komende jare aansienlik kan bepaal,” aldus Solidariteit met die bekendstelling van die SA Arbeidsmarkindeks (AMI) vir die vierde kwartaal van 2017. Die AMI, wat deel uitmaak van die Arbeidsmarkverslag wat in samewerking met ETM Macro Advisors saamgestel word, is ʼn aanwyser van werk- en loonsekerheid in die arbeidsmark. Die AMI het tot net onder ʼn neutrale vlak van 50 gestyg, wat daarop dui dat sowel positiewe as negatiewe kragte die SA arbeidsmark beïnvloed.

Image

Syngenta meer sensitief vir markomgewing


Volgens ‘n mediaverklaring raak Syngenta internasionaal meer sensitief vir die markomgewing wêreldwyd waarbinne dit funksioneer  deur o.m. kweekhuisgasvrystellings met 14% te verminder per eenheid wat geproduseer word, die aanwending van insekdoders wat met 14,2% verminder word per eenheid wat geproduseer word en 25 miljoen boere wêreldwyd wat opgelei is in veiligheidspraktyke. Terselfdertyd is die gemiddelde opbrengs op verwysingsplase met 10,9% verhoog en op hoewes met 21,6%.   Dit vorm deel van die globale Good Growth Plan van Syngenta, 'n omvattende en intensiewe program om volhoubare groei in landbouproduksie te bevorder, met spesiale fokus op landelike gebiede. Dit behels meer as 1 400 verwysingsplase en 22 verskillende landbougewasse in 41 lande.   Vir meer inligting, volg hierdie skakel.

INTERNASIONALE NUUS

Image

Internasionale Vredesindeks


Volgens die internasionale Vredesindeks van die Institute for Economics and Peace (IEP) met hul Global Peace Index, het globale vrede die kreeftegang gegaan a.g.v. die feit dat die ekonomiese impak op nasionale en internasionale geweld in 2017 geëskaleer het tot $14,3 triljard oftewel R178 triljard per jaar, 'n skerp toename vanaf $9,8 triljard in 2014. Vir meer inligting, volg hierdie skakel. 


Hierdie koste om geweld te bekamp, sluit in militêre besteding ($3 triljard), in binnelandse veiligheidsbesteding $1,3 triljard, verliese a.g.v. misdaad en interpersoonlike geweld ($2 triljard) en verliese a.g.v. gewapende konflikte ($817 miljard). Vir Suid-Afrika stel die indeks die ekonomiese impak om geweld te bekamp op $66,7 miljard.  


Die 10 vreedsaamste lande in die wêreld, toptien op die Vredesindeks is in volgorde: Ysland, Denemarke, Oostenryk, Nieu-Zeeland, Switserland, Finland, Kanada, Japan, Australië en die Tsjeggiese Republiek. Daarenteen is die 10 gewelddadigste lande, in volgorde: Sirië, Irak, Afganistan, Suid-Soedan, Sentraal Afrikaanse Republiek, Somalië, Soedan, Demokratiese Republiek van die Kongo, Pakistan en Noord-Korea.  
Suid-Afrika het op die Vredesindeks 14 plekke teruggesak vanaf nr. 122 in 2014 tot 136 in 2015. As dit kom by gemeenskapsveiligheid, is SA die 15de gevaarlikste plek in die wêreld en die 8ste mees gewelddadige met 'n moordkoers van 31 per 100 000 inwoners.

Image

Kataloniese leier in hegtenis oor onafhanklikheidstrewe


Die leier van Katalonië wat in 2017 as president van die provinsie eensydig onafhanklikheid van Spanje uitgeroep het, Carles Puigdemont, is in Duitsland in hegtenis geneem. 'n Internasionale lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik deur  Spanje en die Europese Unie op aanklagte van sedisie, rebellie en korrupsie van staatsgeld.   Dit is nie bekend waar in Duitsland Puigdemont aangehou word nie, maar 25 ander Kataloniese leiers staar saam met hom dieselfde aanklagte in die gesig, met die moontlikheid van tronkstraf tot 25 jaar. Puigdemont het sedert verlede jaar uitgewyk na België waar hy tydelik gewoon het en was nou op besoek aan Finland en Denemarke voordat hy in Duitsland gearresteer is.

Image

44 Afrikalande teken vryehandelsooreenkoms


Op 21 Maart 2018 het 44 staatshoofde in Kigali, Rwanda, die African Continental Free Trade Area (AfCFTA) onderteken waardeur die grootste enkele handelsblok in die wêreld tot stand gekom het. Pres. Cyril Ramaphosa het namens SA ook geteken, hoewel met bepaalde voorbehoude, maar hy het by die geleentheid gesê dat die grense van SA oop is vir Afrika om handel te dryf en dat hy ten gunste is van ‘n enkele geldeenheid vir die vasteland.   Opvallend was dat Nigerië as die land met die grootste bevolking en die grootste ekonomie op die vasteland, nie die ooreenkoms geteken het nie.  Ander lande wat ook nie geteken het nie, sluit in Botswana, Lesotho, Namibië en Zambië.   Daar word gesê dat die potensiaal van AfCFTA behels ‘n enkele totale mark vir 1,2 miljard mense met ‘n gesamentlike BNP van meer as $2 triljard en dat dit in die toekoms buitelandse beleggings van sowat $3,6 miljard kan inbring. Voorts kan dit intr-Afrikahandel teen 2022 met 52% laat toeneem vergeleke met 2010. Tans maak intra-Afrikahandel slegs 16% uit van die totale handel op die vasteland.

Image

Ooreenkoms oor Brexit bereik


Britanje en die Europese Unie het pas ooreengekom oor die “grootste gedeelte” van die ooreenkoms wat uiteindelik moet lei tot die ordelike onttrekking van Britanje uit die EU. Die twee hoof onderhandelaars, Michel Barnier van die EU en David Davis van Brittanje, het eenstemmigheid bereik dat die oorgangstydperk sal strek van 29 Maart 2019 tot 31 Desember 2020; EU-burgers wat in Brittanje aankom in hierdie tydperk sal dieselfde regte en waarborge geniet as diegene wat dit gedoen het voor Brexit en dat dieselfde geld vir Britse burgers in Europa; Brittanje sal tot en met Brexit ‘n party wees in alle EU handelstransaksies met ander lande; en EU visvangregte sal op Brittanje van toepassing wees tot en met die einde 2020.   ‘n Enkele uitstaande aspek bly die kwessie van die grens tussen Brittanje en Ierland. Oor die algemeen word gemeen dat die ooreenkoms ‘n groot stap vorentoe is om Brexit ‘n werklikheid te maak.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Beoogde grondgryp op die keper


Enkele punte oor die beoogde grondgryp wat tans die wolke van rewolusie oor SA laat opsteek:

  • Blankes het nie die grond van swartmense of enige ander mense van kleur gesteel nie. Dit is ‘n leuen dat dit sg. gesteel is.
  • Dit is een ding om te skreeu die grond is gesteel, maar die uitdaging nou en hier is: Bring die bewyse! Sit die feite op die tafel, ons wag daarvoor. . . . .
  • Ondanks wat reeds gebeur, moet blankes en ander regsinniges nie praat asof grondgryp 'n voldonge feit is nie. Praat positief. Daar is reeds gebid dat dit gebreek moet word en nie gaan gebeur nie. Glo dit en tree so op.
  • Die grondgrypers en hul aanstokers is boos, van die duiwel. Hulle gaan nie wegkom daarmee nie en hulle gaan nie wen nie. Want ons kan niks doen teen die waarheid nie, maar wel vir die waarheid –II Kor. 13:8
  • Blankes moenie ‘n skuldkompleks hê nie. Soos enige mense, het ons foute gemaak, maar wie maak nie foute nie. As ons God in Christus om vergifnis vra, word ons vrygespreek en kan niemand ons verder aankla nie.
  • Ons het Christelike voorouers gehad, wat in die breë Christelike opgetree het en hierdie land op Christelike manier mak gemaak het. Laat ons daarop trots wees, daarop voortbou en ons gelowige voorgeslagte waardig wees.

Sg. nasionale grondberaad: Uitverkoop? 


Die sg. nasionale grondberaad tans in Johannesburg wek groot agterdag dat dit bloot 'n witwas is van grondsteel. Verteenwoordigers is feitlik almal pro-onteiening sonder vergoeding, terwyl daar geen of min anti-onteiening sonder vergoeding teenwoordig is.   Ons vraag is: Gaan die Afrikaner weer met slappap gevang word en van sy wettig verkreë, swaarverdiende grond ontneem word? Of gaan die Afrikaner – die regsinniges en welwillendes onder hulle – opstaan en sê dis diefstal en basta, los ons eiendom?   Wat reg is, is reg en daar is nie grys na enige kant toe nie. Die oomblik van waarheid het vir die Afrikaner aangebreek.

SKEP MOED!

Jerigo-mure gaan verkrummel


Die diepere betekenis van die val en verkrummeling van die mure van Jerigo, soos verhaal in Josua 6, word uitstekend uiteengesit in die videogreep getiteld The Wall, wat by hierdie skakel gekyk kan word. Enige een wat voel hy of sy staar vas teen ondeurdringbare mure van watter soort ookal, kan moed skep uit hierdie treffende boodskap.

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net